Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 32

Hoe Jesus beskerm is

Hoe Jesus beskerm is

PARTYKEER doen Jehovah dinge op ’n wonderlike manier om dié te beskerm wat jonk is en hulleself nie kan beskerm nie. As jy in die veld gaan stap, sal jy moontlik een manier sien waarop Jehovah dit doen. Maar aan die begin sal jy miskien nie regtig verstaan wat gebeur nie.

Jy sien ’n voël wat op die grond naby jou kom sit. Dit lyk of hy seergekry het. Een van sy vlerke sleep op die grond en hy beweeg weg wanneer jy nader aan hom probeer kom. Terwyl jy die voël volg, bly hy net ’n entjie voor jou. Dan vlieg die voël skielik weg. Sy vlerk was nooit eens seer nie! Weet jy wat die voël gedoen het?—

Wel, nie ver van die plek af waar die voël naby jou kom sit het nie, is daar kleintjies in die bosse waar jy hulle nie kan sien nie. Hulle ma was bang dat jy hulle dalk sal kry en sal seermaak. Daarom het sy gemaak asof sy seergekry het en jou weggelei. Weet jy wie kan ons beskerm soos ’n mavoël haar kleintjies beskerm?— In die Bybel word Jehovah met ’n voël vergelyk wat ’n arend genoem word en wat sy kleintjies help.—Deuteronomium 32:11, 12.

Hoe beskerm hierdie mavoël haar kleintjies?

Jehovah se geliefde Seun, Jesus, is vir hom die dierbaarste. Toe Jesus in die hemel was, was hy ’n magtige geespersoon soos sy Vader. Hy kon vir homself sorg. Maar toe Jesus as ’n baba op die aarde gebore is, was hy hulpeloos. Hy moes beskerm word.

Om God se wil vir hom hier op die aarde te doen, moes Jesus grootword en ’n volmaakte, volwasse man word. Maar Satan het Jesus probeer doodmaak voordat dit kon gebeur. Die pogings om Jesus dood te maak toe hy ’n kind was en hoe Jehovah hom beskerm het, is ’n opwindende storie. Wil jy dit graag hoor?—

Kort nadat Jesus gebore is, het Satan iets wat soos ’n ster gelyk het, in die Ooste in die hemel laat skyn. Sterrewiggelaars, manne wat die sterre bestudeer, het die ster honderde kilometers tot by Jerusalem gevolg. Daar het hulle gevra waar die een gebore sou word wat die koning van die Jode sou wees. Toe hulle mense vra wat geweet het wat die Bybel hieroor sê, het hulle geantwoord: “In Betlehem.”—Matteus 2:1-6.

Watter waarskuwing wat God vir die sterrewiggelaars gegee het, het Jesus gered?

Nadat Herodes, die slegte koning in Jerusalem, gehoor het van hierdie nuwe koning wat kort tevore in die nabygeleë dorp Betlehem gebore is, het hy vir die sterrewiggelaars gesê: ‘Soek en vind die kind, en kom dan terug en vertel vir my.’ Weet jy hoekom Herodes wou weet waar om Jesus te kry?— Dit was omdat Herodes jaloers was en hom wou doodmaak!

Hoe het God sy Seun beskerm?— Wel, toe die sterrewiggelaars Jesus kry, het hulle vir hom geskenke gegee. Later het God die sterrewiggelaars in ’n droom gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad huis toe gegaan sonder om weer na Jerusalem toe te gaan. Toe Herodes uitvind dat die sterrewiggelaars weg is, was hy baie kwaad. Herodes het Jesus probeer doodmaak deur al die seuntjies in Betlehem onder twee jaar te laat doodmaak! Maar teen daardie tyd was Jesus nie meer daar nie.

Weet jy hoekom Jesus nie doodgemaak is nie?— Nadat die sterrewiggelaars teruggegaan het huis toe, het Jehovah Maria se man, Josef, gewaarsku om op te staan en na Egipte toe te vlug. Daar kon die slegte Herodes niks aan Jesus doen nie. Jare later, toe Maria, Josef en Jesus teruggekom het van Egipte af, het God vir Josef nog ’n waarskuwing gegee. Hy het in ’n droom vir hom gesê om na Nasaret toe te trek, waar Jesus veilig sou wees.—Matteus 2:7-23.

Hoe is die jong Jesus weer eens gered?

Sien jy hoe Jehovah sy Seun beskerm het?— Wie sou jy sê is soos die klein voëltjies wat deur hulle ma in die bosse weggesteek is of soos Jesus toe hy ’n klein kindjie was? Is jy nie soos hulle nie?— Daar is mense wat jou ook wil seermaak. Weet jy wie dit is?—

Die Bybel sê Satan is soos ’n brullende leeu wat ons wil opeet. En net soos leeus baiekeer klein diertjies aanval, val Satan en sy demone baiekeer kinders aan (1 Petrus 5:8). Maar Jehovah is sterker as Satan. Jehovah kan sy kinders beskerm of enige slegte ding regmaak wat Satan aan hulle doen.

Kan jy uit Hoofstuk 10 van hierdie boek onthou wat die Duiwel en sy demone ons probeer kry om te doen?— Ja, hulle probeer ons kry om die soort geslagsomgang te hê wat God sê verkeerd is. Maar wie is die enigste mense wat geslagsomgang mag hê?— Ja, twee grootmense van die teenoorgestelde geslag wat met mekaar getroud is.

Maar ongelukkig hou party grootmense daarvan om geslagsomgang met kinders te hê. Wanneer dit gebeur, kan seuns en meisies slegte dinge begin doen wat hulle by hierdie grootmense geleer het. Hulle begin ook om hulle geslagsorgane op ’n verkeerde manier te gebruik. Dit is wat lank gelede in die stad Sodom gebeur het. Die Bybel sê die mense daar, “seun sowel as ou man”, het probeer om geslagsomgang te hê met mans wat vir Lot kom kuier het.—Genesis 19:4, 5.

Net soos Jesus beskerm moes word, moet jy ook beskerm word teen grootmense—en selfs teen ander kinders—wat probeer om geslagsomgang met jou te hê. Hierdie mense sal gewoonlik maak asof hulle jou vriende is. Hulle sê miskien selfs dat hulle vir jou iets sal gee as jy belowe om nie vir ander te vertel wat hulle met jou wil doen nie. Maar hierdie mense is selfsugtig, net soos Satan en sy demone, en hulle wil net hulle eie begeertes bevredig. En hulle probeer dit doen deur geslagsomgang met kinders te hê. Dit is baie verkeerd!

Weet jy wat hulle partykeer sal doen om hulle begeertes te bevredig?— Wel, hulle sal dalk probeer om jou geslagsorgane te streel. Of hulle sal selfs hulle geslagsorgane teen joune vryf. Maar jy moet nooit toelaat dat enigiemand met jou penis of vulva speel nie. Nie eens jou eie broer of suster of jou ma of pa nie. Hierdie dele van jou liggaam is privaat.

Wat moet jy sê en doen as iemand op ’n verkeerde manier aan jou probeer vat?

Hoe kan jy jou liggaam teen mense beskerm wat sulke slegte dinge doen?— Eerstens moet jy niemand toelaat om met jou geslagsorgane te speel nie. As iemand dit probeer doen, moet jy in ’n harde stem ferm sê: “Hou op! Ek gaan sê wat jy doen!” En moet dit nie glo as daardie persoon sê dit is jou skuld dat dit gebeur het nie. Dit is nie waar nie. Gaan sê wat hy gedoen het, maak nie saak wie dit is nie! Jy moet dit doen al sê hy dat wat julle doen, ’n geheim tussen julle is. Al belowe die persoon om vir jou mooi geskenke te gee of al dreig hy jou, jy moet van hom af weghardloop en nog steeds gaan vertel wat hy doen.

Jy hoef nie bang te wees nie, maar jy moet versigtig wees. As jou ouers jou teen mense of plekke waarsku wat vir jou gevaarlik kan wees, moet jy na hulle luister. As jy na hulle luister, gee jy ’n slegte mens nie ’n kans om jou seer te maak nie.

Lees hoe jy jou teen verkeerde geslagsomgang kan beskerm, in Genesis 39:7-12; Spreuke 4:14-16; 14:15, 16; 1 Korintiërs 6:18 en 2 Petrus 2:14.