Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 47

Hoe ons weet dat Armageddon naby is

Hoe ons weet dat Armageddon naby is

JY WEET mos wat ’n teken is, nè?— In Hoofstuk 46 het ons gelees van die teken wat God gegee het dat hy nooit weer die wêreld deur ’n vloed sal vernietig nie. Die apostels het ook vir ’n teken gevra sodat hulle kon weet wanneer Jesus teruggekom het en wanneer die einde van die wêreld, of stelsel van dinge, naby is.—Matteus 24:3.

Omdat Jesus onsigbaar sou wees in die hemel, was ’n teken wat mense kon sien, nodig om te wys dat hy begin regeer het. Daarom het Jesus dinge genoem waarvoor sy dissipels hier op die aarde moes uitkyk. Wanneer hierdie dinge gebeur, sou dit beteken dat hy teruggekom het en as Koning in die hemel begin regeer het.

Om sy dissipels te leer hoe belangrik dit is om waaksaam te bly, het Jesus vir hulle gesê: “Let op die vyeboom en al die ander bome: Wanneer hulle reeds in bot staan, weet julle self, deurdat julle dit sien, dat die somer nou naby is.” Jy weet wanneer die somer naby is. En jy sal weet wanneer Armageddon naby is wanneer jy die dinge sien gebeur waarvan Jesus gepraat het.—Lukas 21:29, 30.

Watter les het Jesus geleer toe hy oor die vyeboom gepraat het?

Op hierdie bladsy en die volgende een gaan ons kyk na prente van dinge wat Jesus gesê het deel sou wees van die teken dat God se Koninkryk naby is. Wanneer al hierdie dinge gebeur, sal God se Koninkryk met Christus as Heerser al die ander regerings verbrysel, soos ons in Hoofstuk 46 gelees het.

Kyk nou mooi na die prente op die vorige twee bladsye, en dan praat ons daaroor. In Matteus 24:6-14 en Lukas 21:9-11 kan jy lees oor wat jy in hierdie prente sien. En kyk na die klein nommertjie op elke prent. Dieselfde nommer is aan die begin van die paragraaf wat daardie prent verduidelik. Kom ons kyk nou of al die dele van die teken wat Jesus gegee het, vandag vervul word.

(1) Jesus het gesê: “Julle sal van oorloë en berigte van oorloë hoor; . . . nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.” Het jy al berigte van oorloë gehoor?— Die Eerste Wêreldoorlog is van 1914 tot 1918 geveg, en toe was daar die Tweede Wêreldoorlog, van 1939 tot 1945. Daar was nooit voorheen wêreldoorloë nie! Nou is daar oorloë regoor die wêreld. Dit voel asof ons elke dag op die TV, oor die radio en in die koerant van oorloë hoor of lees.

(2) Jesus het ook gesê: “Daar sal voedseltekorte . . . op die een plek na die ander wees.” Soos jy dalk weet, het nie almal genoeg kos om te eet nie. Daar gaan elke dag duisende mense dood omdat hulle nie genoeg kos het nie.

(3) Jesus het bygevoeg: ‘Op die een plek na die ander sal daar pessiektes wees.’ Weet jy wat ’n pessiekte is?— Dit is ’n siekte wat baie mense doodmaak. Een groot pessiekte wat die Spaanse griep genoem word, het omtrent 20 miljoen mense in net ’n jaar of so doodgemaak. In ons dag sal seker meer as dit aan vigs doodgaan. En dan is daar kanker, hartsiekte en ander siektes wat baie duisende mense elke jaar doodmaak.

(4) Jesus het nog ’n deel van die teken gegee en gesê: “Daar sal . . . aardbewings op die een plek na die ander wees.” Weet jy wat ’n aardbewing is?— Aardbewings laat die grond onder jou voete skud. Huise val inmekaar, en baiekeer gaan mense dood. Van 1914 af was daar elke jaar baie aardbewings. Het jy al van aardbewings gehoor?—

(5) Jesus het gesê dat nog ’n deel van die teken ‘al hoe meer slegtheid’ sal wees. Dit is hoekom daar soveel stelery en geweld is. Oral in die wêreld is mense bang dat iemand sal probeer om in hulle huise in te breek. Daar was nog nooit tevore soveel misdaad en geweld in die hele wêreld soos nou nie.

(6) Jesus het ’n baie belangrike deel van die teken gegee toe hy gesê het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). As jy “hierdie goeie nuus” glo, moet jy met ander daaroor praat. So kan jy help om hierdie deel van die teken te vervul.

Party mense sê dalk dat die dinge wat Jesus voorspel het, nog altyd gebeur het. Maar al hierdie dinge het nog nooit op dieselfde tyd in soveel dele van die wêreld gebeur nie. Verstaan jy dan wat die teken vir ons sê?— Dit sê dat wanneer ons al hierdie dinge sien gebeur, hierdie slegte wêreld binnekort deur God se nuwe wêreld vervang gaan word.

Toe Jesus hierdie teken gegee het, het hy ook van ’n spesifieke seisoen van die jaar gepraat. Hy het gesê: “Hou aan bid dat julle vlug nie in die winter plaasvind nie” (Matteus 24:20). Wat dink jy het hy hiermee bedoel?—

Wel, wat kan gebeur as ’n mens in die winter as gevolg van ’n ramp moet vlug, wanneer die weer dit baie moeilik of selfs gevaarlik maak om te reis?— As ’n mens dit wel regkry om te vlug, sal dit baie moeilik wees. Sou dit nie jammer wees as iemand in ’n winterstorm doodgaan net omdat hy so besig was om ander dinge te doen dat hy nie sy reis vroeër begin het nie?—

Watter les het Jesus geleer toe hy gesê het dat ’n mens nie in die winter moet probeer vlug nie?

Sien jy die punt wat Jesus gemaak het deur te sê dat ’n mens nie tot die winter moet wag voordat jy vlug nie?— Hy het vir ons gesê dat ons, omdat ons weet dat Armageddon naby is, nie moet wag om te wys dat ons God liefhet deur hom te dien nie. As ons uitstel, kan dit dalk vir ons te laat wees. Ons sal dan net soos die mense in die tyd van die groot Vloed wees wat Noag gehoor het, maar nie in die ark ingegaan het nie.

Kom ons praat volgende oor hoe dit sal wees wanneer die groot oorlog van Armageddon verby is. Ons sal leer wat God gaan doen vir almal van ons wat hom nou liefhet en dien.

Die volgende is nog tekste wat wys dat Armageddon naby is: 2 Timoteus 3:1-5 en 2 Petrus 3:3, 4.