Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

Hoekom ons moet vergewe

Hoekom ons moet vergewe

HET iemand al ooit iets teen jou gedoen?— Het hy jou seergemaak of iets leliks vir jou gesê?— Moet jy hom net so onvriendelik behandel soos wat hy jou behandel het?—

Baie mense sal iemand wat hulle seergemaak het, seermaak om hom terug te betaal. Maar Jesus het geleer dat ons die mense moet vergewe wat iets teen ons gedoen het (Matteus 6:12). Sê nou iemand is baiekeer lelik met ons? Hoeveel keer moet ons hom vergewe?—

Wat wou Petrus oor vergifnis weet?

Dit is wat Petrus wou weet. Daarom het hy eendag vir Jesus gevra: ‘Moet ek hom tot sewe keer vergewe?’ Sewe keer is nie genoeg nie. Jesus het gesê: ‘Jy moet sewe-en-sewentig keer vergewe’ as die persoon soveel keer teen jou sondig.

Dit is baie, nè? Ons sou nie eens soveel verkeerde of slegte dinge wat iemand aan ons gedoen het, kan onthou nie, sou ons? En dit is wat Jesus vir ons gesê het: Ons moenie al die verkeerde dinge wat ander aan ons doen, probeer onthou nie. As hulle ons vra om hulle te vergewe, moet ons hulle vergewe.

Jesus wou vir sy dissipels wys hoe belangrik dit is om te vergewe. Daarom het hy vir sy dissipels ’n storie vertel nadat hy Petrus se vraag beantwoord het. Wil jy dit graag hoor?—

Daar was eens op ’n tyd ’n goeie koning. Hy was baie goedhartig. Hy het selfs vir sy slawe geld geleen wanneer hulle hulp nodig gehad het. Maar toe het die dag gekom waarop die koning wou hê dat sy slawe die geld wat hulle hom geskuld het, moes terugbetaal. Wel, een slaaf is voor die koning gebring wat hom 60 miljoen geldstukke geskuld het. Dit is baie geld!

Wat het gebeur toe die slaaf die koning gesmeek het om hom meer tyd te gee om te betaal?

Maar die slaaf het al die koning se geld uitgegee en kon nie die koning terugbetaal nie. Toe het die koning beveel dat hy verkoop moes word. Die koning het ook gesê dat die slaaf se vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop moes word. Dan moes die koning betaal word met die geld wat hulle so sou kry. Hoe dink jy het die slaaf hieroor gevoel?—

Hy het voor die koning gekniel en gesmeek: ‘Gee my asseblief meer tyd en ek sal alles terugbetaal wat ek u skuld.’ Wat sou jy met die slaaf gedoen het as jy die koning was?— Die koning het jammer gevoel vir sy slaaf. Daarom het die koning hom vergewe. Hy het vir die slaaf gesê hy hoef niks van die geld terug te betaal nie, nie eens een van die 60 miljoen geldstukke nie. Hoe bly moes dit die slaaf tog gemaak het!

Maar wat het hierdie slaaf toe gedoen? Hy het uitgegaan en ’n ander slaaf gevind, een wat hom maar net eenhonderd geldstukke geskuld het. Hy het hierdie medeslaaf aan die keel gegryp en hom begin wurg en gesê: ‘Betaal terug die honderd geldstukke wat jy my skuld!’ Kan jy jou voorstel dat iemand so iets kan doen, veral nadat die koning hom soveel vergewe het?—

Hoe het die slaaf sy medeslaaf behandel wat hom nie kon betaal wat hy geskuld het nie?

Wel, die slaaf wat net eenhonderd geldstukke geskuld het, was arm. Hy kon nie die geld dadelik terugbetaal nie. Daarom het hy by die voete van sy medeslaaf neergeval en gesmeek: ‘Gee my asseblief meer tyd en ek sal terugbetaal wat ek jou skuld.’ Moes die man sy medeslaaf meer tyd gegee het?— Wat sou jy gedoen het?—

Hierdie man was nie so goedhartig soos die koning nie. Hy wou sy geld dadelik hê. En omdat sy medeslaaf dit nie kon betaal nie, het hy hom in die tronk laat gooi. Ander slawe het dit alles sien gebeur, en hulle het nie daarvan gehou nie. Hulle het jammer gevoel vir die slaaf wat in die tronk was. Daarom het hulle na die koning toe gegaan en hom daarvan vertel.

Die koning het ook nie gehou van wat gebeur het nie. Hy het baie kwaad geword vir die slaaf wat nie wou vergewe nie. Daarom het hy hom geroep en gesê: ‘Jou slegte slaaf, het ek jou nie vergewe wat jy my geskuld het nie? Moes jy dan nie jou medeslaaf vergewe het nie?’

Wat het die koning gedoen met die slaaf wat nie wou vergewe nie?

Die slaaf wat nie wou vergewe nie, moes ’n les by die goeie koning geleer het. Maar hy het nie. Daarom het die koning hierdie slaaf toe in die tronk laat gooi totdat hy die 60 miljoen geldstukke kon terugbetaal. En in die tronk kon hy natuurlik nooit die geld verdien om die koning terug te betaal nie. Hy sou dus daar bly totdat hy doodgaan.

Toe Jesus aan die einde van sy storie kom, het hy vir sy volgelinge gesê: “Net so sal my hemelse Vader ook met julle handel as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”—Matteus 18:21-35.

Jy sien, ons almal skuld God baie. Om die waarheid te sê, ons lewe kom van God af! In vergelyking met wat ons God skuld, skuld ander mense ons maar min. Wat hulle ons skuld, is soos die eenhonderd geldstukke wat die een slaaf vir die ander een geskuld het. Maar wat ons God skuld as gevolg van die verkeerde dinge wat ons doen, is soos die 60 miljoen geldstukke wat die slaaf die koning geskuld het.

God is baie goedhartig. Al het ons verkeerde dinge gedoen, vergewe hy ons. Hy laat ons nie betaal deur ons lewe vir ewig van ons weg te neem nie. Maar dit is die les wat ons moet onthou: God vergewe ons net as ons mense vergewe wat iets teen ons doen. Dit is iets om aan te dink, nè?—

Wat sal jy doen as iemand jou vra om hom te vergewe?

Wat sal jy dan doen as iemand lelik met jou was maar dan sê dat hy jammer is? Sal jy hom vergewe?— Sê nou dit gebeur baiekeer? Sal jy hom nog steeds vergewe?—

As ons die persoon is wat vra om vergewe te word, sal ons mos wil hê die ander persoon moet ons vergewe, nè?— Daarom moet ons dieselfde vir hom doen. Ons moenie net sê dat ons hom vergewe nie, maar ons moet hom regtig uit ons hart vergewe. As ons dit doen, wys ons dat ons regtig volgelinge van die Groot Onderwyser wil wees.

Om te verstaan hoe belangrik dit is om te vergewe, kom ons lees ook Spreuke 19:11; Matteus 6:14, 15 en Lukas 17:3, 4.