Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

Hulp van God se engele

Hulp van God se engele

PARTY mense sê hulle glo net wat hulle kan sien. Maar dit is dwaas. Daar is baie dinge wat regtig bestaan wat ons nog nooit met ons oë gesien het nie. Kan jy een noem?—

Wat van die lug wat ons inasem? Kan ons dit voel?— Hou jou hand en blaas daarop. Voel jy iets?— Ja, maar jy kan nie die lug sien nie, kan jy?—

Ons het alreeds van geespersone gepraat wat ons nie kan sien nie. Ons het geleer dat party goed is, maar dat ander sleg is. Noem ’n paar goeie geespersone wat ons nie kan sien nie.— Ja, daar is Jehovah God, daar is Jesus en daar is goeie engele. Is daar ook slegte engele?— Die Bybel sê daar is. Vertel vir my wat jy oor hulle geleer het.—

Een ding wat ons weet, is dat goeie sowel as slegte engele sterker is as ons. Die Groot Onderwyser het baie van engele geweet. Dit was omdat hy ’n engel was voordat hy as ’n baba op die aarde gebore is. Hy het saam met ander engele in die hemel gelewe. Hy het miljoene van hulle geken. Het al hierdie engele name?—

Wel, ons het geleer dat God die sterre name gegee het. Ons kan dan seker wees dat al die engele ook name het. En ons weet hulle kan met mekaar praat, want die Bybel praat van die ‘taal van engele’ (1 Korintiërs 13:1). Waaroor dink jy praat engele? Praat hulle oor ons op die aarde?—

Ons weet dat Satan se engele, die demone, ons probeer kry om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Hulle praat dan sekerlik oor hoe hulle dit kan doen. Hulle wil hê ons moet soos hulle wees sodat Jehovah ook nie van ons sal hou nie. Maar wat van God se getroue engele? Dink jy hulle praat ook oor ons?— Ja. Hulle wil ons help. Kom ek vertel jou hoe party van God se engele mense gehelp het wat Jehovah liefgehad en gedien het.

Daar was byvoorbeeld die man Daniël wat in Babilon gewoon het. Baie mense daar het Jehovah nie liefgehad nie. Die mense het selfs ’n wet gemaak wat enigeen sou straf wat tot Jehovah God gebid het. Maar Daniël het nie opgehou om tot Jehovah te bid nie. Weet jy wat hulle aan Daniël gedoen het?—

Ja, slegte mense het Daniël in ’n leeukuil laat gooi. Daar was Daniël alleen saam met ’n paar honger leeus. Weet jy wat het toe gebeur?— “God het sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit,” het Daniël gesê. Hy het glad nie seergekry nie! Engele kan wonderlike dinge doen vir die mense wat Jehovah dien.—Daniël 6:18-22.

Wat het God gedoen om Daniël te red?

Dan is daar die keer toe Petrus in die tronk was. Jy sal onthou dat Petrus ’n vriend van die Groot Onderwyser, Jesus Christus, was. Party mense het nie daarvan gehou toe Petrus vir hulle gesê het dat Jesus die Seun van God is nie. Daarom het hulle Petrus in die tronk gesit. Soldate het Petrus bewaak om seker te maak dat hy nie ontsnap nie. Was daar enigiemand wat hom kon help?—

Petrus het tussen twee wagte geslaap, en daar was kettings aan sy hande. Maar die Bybel sê: ‘Kyk! Jehovah se engel het gekom, en ’n lig het in die tronksel geskyn. Die engel het aan Petrus se sy geraak om hom wakker te maak en gesê: “Staan gou op!”’

Hoe het ’n engel Petrus gehelp om uit die tronk te kom?

Toe het die kettings van Petrus se hande afgeval! En die engel het vir hom gesê: ‘Trek jou klere en jou sandale aan en volg my.’ Die wagte kon hulle nie keer nie, want die engel het Petrus gehelp. Toe het hulle by ’n ysterhek gekom, en ’n vreemde ding het gebeur. Die hek het vanself oopgegaan! Daardie engel het Petrus vrygelaat sodat hy kon aanhou preek.—Handelinge 12:3-11.

Kan God se engele ons ook help?— Ja, hulle kan. Beteken dit dat hulle nooit sal toelaat dat ons seerkry nie?— Nee, engele keer nie dat ons seerkry as ons dwase dinge doen nie. Maar selfs al doen ons nie dwase dinge nie, kan ons nog steeds seerkry. Dit is nie die engele se werk om te keer dat dit gebeur nie. God het hulle eerder ’n spesiale werk gegee om te doen.

Die Bybel praat van ’n engel wat vir mense regoor die aarde sê om God te aanbid (Openbaring 14:6, 7). Hoe doen die engel dit? Roep hy hard uit die hemel sodat almal hom kan hoor?— Nee, Jesus se volgelinge op aarde praat met ander oor God, en die engele help hulle in hulle werk. Die engele maak seker dat die mense wat regtig van God wil leer, ’n kans kry om te hoor. Ons kan aan hierdie predikingswerk deelneem, en die engele sal ons help.

Maar sê nou mense wat God nie liefhet nie, maak dit vir ons moeilik? Sê nou hulle sit ons in die tronk? Sal die engele ons vrylaat?— Hulle kan. Maar hulle doen dit nie altyd nie.

Wat sê die engel vir Paulus?

Jesus se volgeling Paulus was eenkeer ’n gevangene. Hy het gedurende ’n kwaai storm op ’n skip gereis. Maar die engele het hom nie dadelik vrygelaat nie. Dit was omdat daar ander mense was wat nog van God moes hoor. ’n Engel het gesê: “Moenie vrees nie, Paulus. Jy moet voor die keiser staan.” Ja, Paulus sou na die wêreldheerser, die keiser, geneem word sodat hy vir hom kon getuig. Die engele het altyd geweet waar Paulus was, en hulle het hom gehelp. Hulle sal ons ook help as ons God regtig dien.—Handelinge 27:23-25.

Daar is nog ’n groot werk wat die engele binnekort gaan doen. God se tyd om slegte mense te vernietig, is baie naby. Almal wat nie die ware God aanbid nie, sal vernietig word. Die mense wat sê dat hulle nie in engele glo omdat hulle die engele nie kan sien nie, sal uitvind hoe verkeerd hulle is.—2 Tessalonisense 1:6-8.

Wat sal dit vir ons beteken?— As ons aan dieselfde kant as God se engele is, sal hulle ons help. Maar is ons aan hulle kant?— Ons is as ons Jehovah dien. En as ons Jehovah dien, sal ons vir ander mense sê om hom ook te dien.

Om meer te leer oor hoe die engele mense se lewens raak, lees Psalm 34:7; Matteus 4:11; 18:10; Lukas 22:43 en Handelinge 8:26-31.