Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat kinders van hulle ouers nodig het

Wat kinders van hulle ouers nodig het

ALLE ouers neem deel aan ’n gebeurtenis wat geen mens heeltemal kan begryp nie. Albei dra iets van hulleself by. Gevolglik ontwikkel ’n ten volle gevormde, lewende mens binne-in die ma. Dit is dus nie verbasend dat mense, wanneer ’n baba gebore word, na die gebeurtenis verwys as “die wonder van geboorte” nie.

Om kinders voort te bring, is natuurlik net die begin van die ouers se verantwoordelikheid. Aan die begin is mensebabas vir amper alles van hulle ouers afhanklik, maar namate hulle groter word, het hulle meer as fisiese aandag nodig. Hulle het hulp nodig om verstandelik, emosioneel, sedelik en geestelik te ontwikkel.

Vir gesonde ontwikkeling het kinders veral die liefde van hulle ouers nodig. Hoewel liefdesbetuigings belangrik is, moet dade die woorde ondersteun. Ja, kinders het ’n goeie voorbeeld van hulle ouers nodig. Hulle het sedelike leiding nodig, dit wil sê beginsels waarvolgens hulle kan lewe. En hulle het dit van kleins af nodig. Hartverskeurende dinge kan gebeur en gebeur wel wanneer kinders te laat hulp ontvang.

Die beste beginsels wat daar is, word in die Bybel gevind. Onderrigting wat op die Bybel gegrond is, het unieke voordele. Deur middel van hierdie onderrigting besef kinders dat wat vir hulle gesê word, nie is wat ’n blote mens sê nie, maar wat hulle Skepper, hulle hemelse Vader, sê. Dit verleen ongeëwenaarde krag aan die raad.

Die Bybel moedig ouers aan om hard te werk om die regte beginsels in die verstande van hulle kinders in te prent. Maar namate kinders ouer word, vind ouers dit dikwels moeilik om met hulle oor die allerbelangrikste dinge te praat. Hierdie boek, Leer by die Groot Onderwyser, is saamgestel om so ’n situasie te help voorkom. Dit voorsien jou en jou kinders van geestelike materiaal wat julle saam kan lees. Maar nog belangriker, dit behoort gesprekke aan te wakker tussen kinders en diegene wat hierdie boek saam met hulle lees.

Jy sal oplet dat die boek antwoorde by die kinders uitlok. Daar is talle gepaste vrae in die gedrukte teks. Wanneer jy daarby kom, sal jy ’n aandagstreep (—) sien. Dit is ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek. Kinders hou daarvan om betrek te word. Sonder sulke betrokkenheid sal ’n kind gou belangstelling verloor.

Wat egter belangriker is, is dat hierdie vrae jou sal help om uit te vind wat in die kind se gedagtes omgaan. Die kind sal wel soms verkeerde antwoorde gee. Maar die gedrukte materiaal wat op elke vraag volg, is bedoel om die kind te help om gesonde denkpatrone te vorm.

’n Spesiale kenmerk van die boek is die meer as 230 prente. Die meeste daarvan het byskrifte wat ’n antwoord by die kind uitlok, gegrond op wat hy sien en gelees het. Hersien dus die prente met die kind. Dit kan ’n goeie leermiddel wees wat die lesse wat geleer word, sal beklemtoon.

Wanneer die kind leer lees, moet jy hom aanmoedig om die boek vir jou te lees sowel as op sy eie. Hoe meer hy dit lees, hoe dieper sal die goeie raad daarin in sy verstand en hart ingeprent word. Maar om die bande van liefde en respek tussen jou en jou kind te versterk, moet julle die boek saam lees, en julle moet dit gereeld doen.

Die mate waarin kinders nou aan ongeoorloofde seks, spiritisme en ander verderflike gebruike blootgestel word, was ’n paar dekades gelede amper ondenkbaar. Hulle het dus beskerming nodig, wat hierdie boek op ’n waardige maar openhartige manier help voorsien. Maar kinders moet in die besonder gerig word na die Bron van alle wysheid, ons hemelse Vader, Jehovah God. Dit is wat Jesus, die Groot Onderwyser, altyd gedoen het. Ons hoop van harte dat hierdie boek jou en jou gesin sal help om julle lewens so te vorm dat dit vir Jehovah welgevallig sal wees, tot julle ewige seën.