Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 24

Moet nooit ’n dief word nie!

Moet nooit ’n dief word nie!

HET iemand al ooit iets van jou gesteel?— Hoe het jy daaroor gevoel?— Die een wat dit gesteel het, was ’n dief, en niemand hou van ’n dief nie. Hoe dink jy word iemand ’n dief? Word hy so gebore?—

Ons het nou net geleer dat mense met sonde gebore word. Daarom is ons almal onvolmaak. Maar niemand word as ’n dief gebore nie. ’n Dief kan uit ’n goeie huis kom. Sy ouers, sy broers en sy susters is dalk eerlik. Maar dit is ’n persoon se eie begeerte na goed soos geld en wat geld kan koop wat hom ’n dief kan laat word.

Wie sou jy sê was die eerste dief?— Kom ons dink daaroor. Die Groot Onderwyser het daardie persoon geken toe Hy in die hemel was. Daardie dief was ’n engel. Maar hoe het daardie engel ’n dief geword, aangesien God alle engele volmaak gemaak het?— Wel, soos ons in Hoofstuk 8 van hierdie boek geleer het, wou hy iets hê wat nie syne was nie. Onthou jy wat dit was?—

Nadat God die eerste man en vrou geskep het, wou daardie engel hê dat hulle hom moet aanbid. Hy het nie die reg gehad om hulle aanbidding te kry nie. Hulle aanbidding het aan God behoort. Maar hy het dit gesteel! Die engel het ’n dief geword deur Adam en Eva te kry om hom te aanbid. Hy het Satan die Duiwel geword.

Wat laat iemand ’n dief word?— ’n Begeerte na iets wat nie aan hom behoort nie. Hierdie begeerte kan so sterk word dat dit selfs goeie mense slegte dinge kan laat doen. Dit gebeur partykeer dat mense wat diewe word, nooit verander en weer doen wat reg is nie. Een van Jesus se apostels was so iemand. Sy naam was Judas Iskariot.

Hoekom het Judas gesteel?

Judas het geweet dat dit verkeerd is om te steel, want vandat hy ’n klein seuntjie was, is hy God se Wet geleer. Hy het geweet dat God selfs eenkeer uit die hemel gepraat het en vir sy volk gesê het: ‘Julle mag nie steel nie’ (Eksodus 20:15). Toe Judas grootgeword het, het hy die Groot Onderwyser ontmoet en een van sy dissipels geword. Later het Jesus selfs vir Judas gekies om een van sy 12 apostels te wees.

Jesus en sy apostels het saam gereis. Hulle het saam geëet. En al die geld wat die groepie gehad het, is in ’n kissie gehou. Jesus het daardie kissie vir Judas gegee om op te pas. Die geld het natuurlik nie aan Judas behoort nie. Maar weet jy wat Judas ná ’n rukkie gedoen het?—

Judas het geld uit die kissie begin haal wanneer hy dit nie moes gedoen het nie. Hy het dit gevat wanneer die ander nie gekyk het nie, en hy het selfs maniere gesoek om meer geld te kry. Hy het heeltyd aan geld begin dink. Kom ons kyk wat hierdie verkeerde begeerte hom laat doen het net ’n paar dae voordat die Groot Onderwyser doodgemaak is.

Maria, ’n suster van Jesus se vriend Lasarus, het baie goeie olie gevat en dit op Jesus se voete uitgegooi. Maar Judas het daaroor gekla. Weet jy hoekom?— Hy het gesê dit is omdat hulle liewer die olie moes verkoop het en die geld vir arm mense moes gegee het. Maar hy wou eintlik meer geld in die kissie kry sodat hy dit kon steel.—Johannes 12:1-6.

Jesus het vir Judas gesê om nie vir Maria, wat so goedhartig was, lastig te val nie. Judas het nie daarvan gehou toe Jesus dit vir hom sê nie, en daarom het hy na die hoofpriesters toe gegaan, wat vyande van Jesus was. Hulle wou Jesus in hegtenis neem, maar hulle wou dit in die nag doen sodat die mense hulle nie kon sien nie.

Judas het vir die priesters gesê: ‘As julle vir my geld gee, sal ek vir julle sê hoe julle Jesus in die hande kan kry. Hoeveel sal julle my gee?’

‘Ons sal vir jou dertig silwerstukke gee’, het die priesters geantwoord.—Matteus 26:14-16.

Judas het die geld gevat. Dit was asof hy die Groot Onderwyser aan daardie manne verkoop het! Kan jy dink dat enigiemand so ’n verskriklike ding sal doen?— Wel, dit is wat gebeur wanneer iemand ’n dief word en geld steel. Hy is liewer vir geld as wat hy vir ander mense of selfs vir God is.

Miskien sê jy: ‘Ek sal nooit vir enigiets liewer wees as vir Jehovah God nie.’ Dit is goed dat jy so voel. Toe Jesus vir Judas gekies het om ’n apostel te wees, is dit heel moontlik hoe Judas gevoel het. Ander mense wat diewe geword het, het dalk ook so gevoel. Kom ons praat oor party van hulle.

Aan watter slegte dinge dink Agan en Dawid?

Een van hulle was ’n kneg van God met die naam Agan, wat gelewe het lank voordat die Groot Onderwyser gebore is. Agan het ’n pragtige kleed, ’n goudstaaf en ’n klompie silwerstukke gesien. Dit het nie aan hom behoort nie. Die Bybel sê dat dit aan Jehovah behoort het, want dit is weggeneem by vyande van God se volk. Maar Agan wou dit so graag hê dat hy dit gesteel het.—Josua 6:19; 7:11, 20-22.

Hier is nog ’n voorbeeld. Lank gelede het Jehovah vir Dawid gekies om koning te wees oor die nasie Israel. Eendag het Dawid na die pragtige vrou Batseba begin kyk. Hy het aangehou om na Batseba te kyk en daaraan te dink om haar saam met hom huis toe te vat. Maar sy was Uria se vrou. Wat moes Dawid eintlik gedoen het?—

Hoe was Absalom ’n dief?

Dawid moes opgehou het om daaraan te dink om Batseba vir hom te vat. Maar hy het nie. Daarom het Dawid haar na sy huis toe gevat. En toe het hy Uria laat doodmaak. Hoekom het Dawid hierdie slegte dinge gedoen?— Omdat hy ’n vrou bly begeer het wat aan iemand anders behoort het.—2 Samuel 11:2-27.

Omdat Dawid jammer was, het Jehovah sy lewe gespaar. Maar van toe af het Dawid baie moeilikheid gehad. Sy seun Absalom wou in Dawid se plek koning wees. Daarom het Absalom sy arms om mense gesit wat na Dawid toe gekom het en hulle gesoen. Die Bybel sê: “Absalom het die hart van die manne van Israel bly steel.” Hy het daardie mense laat dink dat hulle eerder vir hom as vir Dawid as hulle koning wou hê.—2 Samuel 15:1-12.

Was daar al ooit iets wat jy baie graag wou hê, soos Agan, Dawid en Absalom?— As dit aan iemand anders behoort, steel jy as jy dit sonder toestemming vat. Onthou jy wat die eerste dief, Satan, wou hê?— Hy wou hê dat mense eerder vir hom as vir God moes aanbid. Satan het dus gesteel toe hy Adam en Eva gekry het om aan hom gehoorsaam te wees.

Wanneer iets aan iemand behoort, het hy die reg om te sê wie dit mag gebruik. Byvoorbeeld, jy gaan speel dalk by ander kinders in hulle huis. Sal dit reg wees om iets daar te vat en dit na jou huis toe te bring?— Nee, tensy hulle pa of ma sê dat jy dit mag doen. As jy iets huis toe vat sonder om hulle te vra, steel jy.

Hoekom kom jy dalk in die versoeking om te steel?— Omdat jy iets wil hê wat nie aan jou behoort nie. Selfs al sien geen ander mens jou wanneer jy dit vat nie, wie sien jou?— Jehovah God. En ons moet onthou dat God stelery haat. Liefde vir God en jou naaste sal jou dan help om nooit ’n dief te word nie.

Die Bybel wys duidelik dat dit verkeerd is om te steel. Lees asseblief Markus 10:17-19; Romeine 13:9 en Efesiërs 4:28.