Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

Jesus leer ons bid

Jesus leer ons bid

PRAAT jy met Jehovah God?— Hy wil hê jy moet met hom praat. Wanneer jy met God praat, noem ons dit gebed. Jesus het baiekeer met sy Vader in die hemel gepraat. Partykeer wou hy alleen wees wanneer hy met God gepraat het. Eenkeer, sê die Bybel, “het hy . . . alleen teen die berg opgegaan om te bid. Hoewel dit laat geword het, was hy alleen daar.”—Matteus 14:23.

Waarheen kan jy gaan om alleen tot Jehovah te bid?— Miskien kan jy alleen wees om met Jehovah te praat voordat jy saans gaan slaap. Jesus het gesê: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader” (Matteus 6:6). Bid jy elke aand tot Jehovah voordat jy gaan slaap?— Jy behoort dit te doen.

Jesus het gebid wanneer hy alleen was . . . en wanneer hy saam met ander was

Jesus het ook gebid wanneer ander mense saam met hom was. Toe sy vriend Lasarus doodgegaan het, het Jesus saam met ander gebid by die plek waar hulle Lasarus neergelê het (Johannes 11:41, 42). En Jesus het ook gebid wanneer hy vergaderinge met sy dissipels gehad het. Gaan jy na vergaderinge toe waar daar gebid word?— ’n Ouer persoon sal gewoonlik daar bid. Luister mooi na wat hy sê, want hy praat namens jou met God. Dan sal jy “Amen” kan sê op die gebed. Weet jy wat dit beteken om aan die einde van ’n gebed “Amen” te sê?— Dit beteken dat jy van die gebed hou. Dit beteken dat jy daarmee saamstem en dat jy wil hê dit moet ook jou gebed wees.

Hoekom moet jy mooi luister na die gebede by vergaderinge?

Jesus het ook by etes gebid. Hy het vir Jehovah dankie gesê vir sy kos. Bid jy altyd voordat jy jou kos eet?— Dit is goed as ons vir Jehovah dankie sê vir die kos voordat ons begin eet. Iemand anders bid dalk wanneer julle saam eet. Maar sê nou jy eet op jou eie? Of sê nou jy eet saam met mense wat nie vir Jehovah dankie sê nie?— Dan moet jy self bid.

Moet jy altyd hardop bid? Of kan Jehovah jou hoor as jy saggies vir jouself bid?— Ons kan die antwoord kry as ons kyk na wat met Nehemia gebeur het. Hy was ’n aanbidder van Jehovah wat in die paleis van die Persiese koning Artasasta gewerk het. Eendag het Nehemia baie hartseer geword, want hy het gehoor dat die mure van Jerusalem, die hoofstad van sy volk, stukkend lê.

Wanneer kan jy, soos Nehemia, saggies bid?

Toe die koning vir Nehemia vra hoekom hy hartseer is, het Nehemia eers saggies gebid. Daarna het Nehemia vir die koning gesê hoekom hy hartseer is en gevra of hy na Jerusalem toe kon gaan om die mure te herbou. Wat het gebeur?—

Ja, God het Nehemia se gebed verhoor. Die koning het gesê dat hy kan gaan! Die koning het selfs vir Nehemia ’n klomp bome gegee wat hy kon gebruik om die mure te bou. God kan dus regtig ons gebede verhoor, selfs wanneer dit stil gebede is.—Nehemia 1:2, 3; 2:4-8.

Dink nou hieraan. Moet jy jou kop laat sak wanneer jy bid? Moet jy kniel? Wat dink jy?— Jesus het partykeer gekniel wanneer hy gebid het. Ander kere het hy regop gestaan. En partykeer het hy sy kop na die hemel opgelig wanneer hy gebid het, soos toe hy vir Lasarus gebid het.

Wat wys dit dan?— Ja, dit wys dat die posisie waarin jy is, nie die belangrikste is nie. Partykeer is dit goed om jou kop te laat sak en jou oë toe te maak. Ander kere wil jy dalk selfs kniel, soos Jesus gedoen het. Maar onthou, ons kan enige tyd gedurende die dag of nag tot God bid, en hy sal ons hoor. Die belangrike ding omtrent gebed is dat ons regtig glo dat Jehovah luister. Glo jy dat Jehovah jou gebede hoor?—

Waaroor kan jy met God in jou gebede praat?

Wat moet ons in ons gebede tot Jehovah sê?— Sê bietjie vir my: Waaroor praat jy met God wanneer jy bid?— Jehovah gee vir ons so baie goeie dinge, en is dit dan nie net reg om vir hom daarvoor dankie te sê nie?— Ons kan vir hom dankie sê vir die kos wat ons eet. Maar het jy al ooit vir hom dankie gesê vir die blou lug, die groen bome en die mooi blomme?— Hy het dit ook gemaak.

Jesus se dissipels het hom eenkeer gevra om hulle te leer hoe om te bid. Die Groot Onderwyser het dit gedoen, en hy het vir hulle gewys wat die belangrikste dinge is om voor te bid. Weet jy wat hierdie dinge is?— Kry gou jou Bybel en maak dit oop by Matteus hoofstuk 6. In verse 9 tot 13 kry ons wat baie mense die Onse Vader noem. Kom ons lees dit saam.

Hier leer ons dat Jesus vir ons gesê het om oor God se naam te bid. Hy het gesê ons moet bid dat God se naam geheilig, of as iets heiligs beskou, moet word. Wat is God se naam?— Ja, dit is Jehovah, en ons moet daardie naam liefhê.

Tweedens het Jesus ons geleer om te bid dat God se Koninkryk moet kom. Hierdie Koninkryk is belangrik omdat dit vrede vir die aarde sal bring en dit ’n paradys sal maak.

Derdens het die Groot Onderwyser gesê ons moet bid dat God se wil op die aarde gedoen moet word net soos dit in die hemel gedoen word. As ons hiervoor bid, moet ons doen wat God wil hê.

Hierna het Jesus ons geleer om te bid vir die kos wat ons elke dag nodig het. Hy het ook gesê ons moet vir God sê dat ons jammer is as ons verkeerde dinge gedoen het. En ons moet vir God vra om ons te vergewe. Maar voordat hy dit sal doen, moet ons eers ander mense vergewe as hulle iets teen ons gedoen het. Is dit vir jou maklik om dit te doen?—

Laastens het Jesus gesê ons moet bid dat Jehovah God ons teen die bose—Satan die Duiwel—sal beskerm. Dit is alles goeie dinge waaroor ons tot God kan bid.

Ons moet glo dat Jehovah ons gebede hoor. Ons moet hom nie net vra om ons te help nie; ons moet ook altyd vir hom dankie sê. Hy is bly as ons bedoel wat ons sê wanneer ons bid en as ons vir hom die regte dinge vra. En hy sal daardie dinge vir ons gee. Glo jy dit?—

Daar is nog goeie raad oor gebed in Romeine 12:12; 1 Petrus 3:12 en 1 Johannes 5:14.