Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 15

’n Les om goedhartig te wees

’n Les om goedhartig te wees

WEET jy wat vooroordeel is?— Wel, vooroordeel is wanneer jy nie van iemand hou nie net omdat hy dalk anders lyk of ’n ander taal praat. Om vooroordeel te hê, of om bevooroordeeld te wees, beteken dan dat jy nie van iemand hou nie of iets slegs van hom dink nog voordat jy hom regtig leer ken.

Dink jy dit is reg om nie van iemand te hou nie nog voordat jy regtig weet watter soort persoon hy is of sommer net omdat hy anders is?— Nee, vooroordeel is nie reg nie, en dit is ook nie liefdevol nie. Ons moet nie lelik wees met iemand net omdat hy miskien anders is as ons nie.

Dink ’n bietjie hieraan. Ken jy iemand wie se vel ’n ander kleur as joune is of wat ’n ander taal as jy praat?— Miskien ken jy selfs mense wat anders lyk omdat hulle seergekry het of ’n siekte het. Is jy goedhartig en liefdevol teenoor mense wat anders is as jy?—

Hoe moet ons mense behandel wat miskien anders is as ons?

As ons na die Groot Onderwyser, Jesus Christus, luister, sal ons goedhartig wees teenoor almal. Dit moet glad nie vir ons saak maak van watter land iemand kom of watter kleur sy vel is nie. Ons moet goedhartig wees teenoor hom. Hoewel nie alle mense dit glo nie, is dit ’n les wat Jesus vir mense geleer het. Kom ons praat ’n bietjie hieroor.

’n Jood wat bevooroordeeld was teenoor ander mense, het na Jesus toe gekom en die vraag gevra: ‘Wat moet ek doen om vir ewig te lewe?’ Jesus het geweet die man wou heel moontlik hê hy moet sê dat ons net goedhartig moet wees teenoor mense van ons eie ras of nasionaliteit. Daarom het Jesus nie self die vraag beantwoord nie, maar vir die man gevra: ‘Wat sê God se Wet moet ons doen?’

Die man het geantwoord: ‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Jesus het gesê: ‘Jy het reg geantwoord. Hou aan om dit te doen en jy sal die ewige lewe kry.’

Maar die man wou nie goedhartig of liefdevol wees teenoor mense wat anders was as hy nie. Daarom het hy ’n verskoning gesoek. Hy het vir Jesus gevra: “Wie is dan my naaste?” Hy wou moontlik hê Jesus moet sê: “Jou naaste is jou vriende” of “Dit is mense wat soos jy lyk”. Om die vraag te beantwoord, het Jesus ’n storie oor ’n Jood en ’n Samaritaan vertel. Hier is die storie.

’n Man was op pad van die stad Jerusalem af na Jerigo toe. Hierdie man was ’n Jood. Terwyl hy geloop het, het rowers hom gegryp. Hulle het hom platgeslaan en sy geld en klere gevat. Die rowers het hom aanhou slaan en hom toe halfdood langs die pad gelos.

’n Kort rukkie later het ’n priester met daardie pad langs gekom. Hy het die man gesien wat erg beseer was. Wat sou jy gedoen het?— Wel, die priester het eenvoudig aan die ander kant van die pad verbygeloop. Hy het nie eens gestop nie. Hy het nie ’n vinger verroer om die man te help nie.

Toe het ’n ander baie godsdienstige man met die pad langs gekom. Hy was ’n Leviet wat by die tempel in Jerusalem gedien het. Sou hy stop om te help?— Nee. Hy het presies dieselfde as die priester gedoen.

Uiteindelik het ’n Samaritaan gekom. Kan jy hom daar om die draai in die pad sien kom?— Hy het die erg beseerde Jood daar sien lê. Wel, die meeste Samaritane en Jode het glad nie van mekaar gehou nie (Johannes 4:9). Sou hierdie Samaritaan dan die man daar los sonder om hom te help? Sou hy vir homself sê: ‘Hoekom moet ek hierdie Jood help? Hy sou my nie gehelp het as ek beseer was nie’?

Hoekom was die Samaritaan ’n goeie naaste?

Wel, die Samaritaan het na die man gekyk wat langs die pad gelê het en hy het hom jammer gekry. Hy kon hom nie net daar los en hom laat doodgaan nie. Daarom het hy van sy esel afgeklim, na die man toe gegaan en sy wonde begin versorg. Hy het olie en wyn daarop gegooi. Dit sou die wonde help om te genees. Toe het hy die wonde met ’n lap verbind.

Die Samaritaan het die beseerde man versigtig opgetel en hom op sy esel gesit. Toe het hulle stadig met die pad afgegaan totdat hulle by ’n herberg, of ’n klein hotel, gekom het. Daar het die Samaritaan vir die man plek gekry om te bly, en hy het goed vir hom gesorg.

Toe het Jesus vir die man met wie hy gepraat het, gevra: ‘Wie van hierdie drie manne dink jy was ’n goeie naaste?’ Wat sou jy sê? Was dit die priester, die Leviet of die Samaritaan?—

Die man het geantwoord: ‘Die man wat gestop en die beseerde man versorg het, was ’n goeie naaste.’ Jesus het gesê: ‘Jy is reg. Gaan en doen dieselfde.’—Lukas 10:25-37.

Was dit nie ’n mooi storie nie? Dit wys duidelik wie ons naaste is. Dit is nie net ons beste vriende nie. En dit is nie net mense wie se vel dieselfde kleur as ons s’n is of wat dieselfde taal as ons praat nie. Jesus het ons geleer om goedhartig te wees teenoor mense, ongeag waar hulle vandaan kom, hoe hulle lyk of watter taal hulle praat.

Dit is hoe Jehovah God is. Hy is nie bevooroordeeld nie. ‘Julle Vader wat in die hemel is, laat sy son oor slegte mense en goeie mense opkom’, het Jesus gesê. ‘En hy laat die reën op goeie mense val en op dié wat nie goed is nie.’ Net soos God moet ons dan goedhartig wees teenoor almal.—Matteus 5:44-48.

Hoe kan jy ’n goeie naaste wees?

Wat sal jy doen as jy iemand sien wat seergekry het?— Sê nou hy is van ’n ander land of sy vel is nie dieselfde kleur as joune nie? Hy is nog steeds jou naaste, en jy moet hom help. As jy voel dat jy te klein is om te help, kan jy ’n ouer persoon vra om hom te help. Of jy kan ’n polisieman of ’n onderwyser gaan roep. Dan is jy goedhartig, soos die Samaritaanse man.

Die Groot Onderwyser wil hê ons moet goedhartig wees. Hy wil hê ons moet ander help, ongeag wie hulle is. Daarom het hy die storie oor die goedhartige Samaritaan vertel.

Lees in verband met hierdie les om goedhartig te wees teenoor mense ongeag hulle ras of nasionaliteit, ook Spreuke 19:22; Handelinge 10:34, 35 en 17:26.