Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

Jesus se mag oor die demone

Jesus se mag oor die demone

KAN jy onthou hoekom een van God se engele Satan die Duiwel geword het?— Sy selfsugtige begeerte om aanbid te word, het hom teen God laat draai. Het ander engele volgelinge van Satan geword?— Ja, hulle het. Die Bybel noem hulle ‘Satan se engele’, of demone.—Openbaring 12:9.

Glo hierdie slegte engele, of demone, in God?— ‘Die demone glo dat God bestaan’, sê die Bybel (Jakobus 2:19). Maar nou is hulle bang. Dit is omdat hulle weet dat God hulle gaan straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het. Wat het hulle verkeerd gedoen?—

Die Bybel sê hierdie engele het hulle regte woonplek in die hemel verlaat en aarde toe gekom om soos mense te lewe. Hulle het dit gedoen omdat hulle geslagsomgang met die mooi vroue op die aarde wou hê (Genesis 6:1, 2; Judas 6). Wat weet jy van geslagsomgang?—

Geslagsomgang is wanneer ’n man en ’n vrou op ’n baie spesiale manier naby mekaar kom. Daarna kan ’n baba binne-in die ma groei. Maar dit is verkeerd vir engele om geslagsomgang te hê. God wil hê dat net ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is, geslagsomgang moet hê. Wanneer ’n baba dan gebore word, kan die man en vrou vir hom sorg.

Wat het hierdie engele gedoen wat sleg was?

Toe engele vir hulleself menseliggame gemaak het en geslagsomgang met vroue op die aarde gehad het, het hulle babas reuse geword. Hulle was baie wreed en het mense seergemaak. Daarom het God ’n groot vloed gebring om die reuse en al die slegte mense te vernietig. Maar hy het Noag ’n ark, of ’n groot boot, laat bou om die paar mense te red wat gedoen het wat reg is. Die Groot Onderwyser het gesê dat dit belangrik is om te onthou wat by die Vloed gebeur het.—Genesis 6:3, 4, 13, 14; Lukas 17:26, 27.

Weet jy wat met die slegte engele gebeur het toe die Vloed gekom het?— Hulle het opgehou om die menseliggame wat hulle gemaak het, te gebruik en het teruggegaan hemel toe. Maar hulle kon nie meer God se engele wees nie, en daarom het hulle engele van Satan, of demone, geword. En wat het van hulle kinders, die reuse, geword?— Hulle het in die Vloed gesterf. En so ook al die ander mense wat nie aan God gehoorsaam was nie.

Hoekom is daar nou meer moeilikheid op aarde as ooit tevore?

Van die tyd van die Vloed af het God die demone nie meer toegelaat om soos mense te word nie. Maar selfs al kan ons hulle nie sien nie, probeer die demone nog steeds om mense te kry om dinge te doen wat baie sleg is. Hulle veroorsaak meer moeilikheid as ooit tevore. Dit is omdat hulle uit die hemel na die aarde neergewerp is.

Weet jy hoekom ons nie die demone kan sien nie?— Dit is omdat hulle onsigbaar is. Maar ons kan seker wees dat hulle lewe. Die Bybel sê Satan ‘mislei mense regoor die wêreld’, en sy demone help hom.—Openbaring 12:9, 12.

Kan die Duiwel en sy demone ons ook mislei?— Ja, hulle kan as ons nie versigtig is nie. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Die Groot Onderwyser het gesê: ‘Die Duiwel het geen houvas op my nie.’ As ons na aan God bly, sal hy ons teen die Duiwel en sy demone beskerm.—Johannes 14:30.

Die demone sal ons probeer verlei om slegte dinge te doen, en dit is belangrik dat ons weet wat hierdie dinge is. Dink ’n bietjie hieraan. Watter slegte dinge het die demone gedoen toe hulle aarde toe gekom het?— Voor die Vloed het hulle geslagsomgang met vroue gehad, iets wat engele nie mag doen nie. Vandag hou die demone daarvan as mense nie God se wet oor geslagsomgang gehoorsaam nie. Kom ek vra jou: Wie alleen mag geslagsomgang hê?— Jy is reg, net getroude mense.

Vandag het party jong seuns en meisies geslagsomgang, maar dit is verkeerd. Die Bybel praat van die manlike “geslagsorgaan”, of penis (Levitikus 15:1-3). Die vroulike geslagsdele word die vulva genoem. Jehovah het hierdie dele van die liggaam vir ’n spesiale doel geskep wat net deur getroude mense geniet mag word. Dit maak die demone bly as mense dinge doen wat Jehovah sê ’n mens nie mag doen nie. Die demone hou byvoorbeeld daarvan as ’n seun en ’n meisie met mekaar se penis of vulva speel. Ons wil nie die demone gelukkig maak nie, nè?—

Daar is iets anders waarvan die demone hou, maar wat Jehovah haat. Weet jy wat dit is?— Geweld (Psalm 11:5). Geweld is wanneer mense wreed is en ander seermaak. Onthou, dit is wat die reuse, die seuns van die demone, gedoen het.

Die demone hou ook daarvan om mense bang te maak. Partykeer maak hulle asof hulle mense is wat doodgegaan het. Hulle maak dalk selfs die stemme na van dié wat doodgegaan het. Op hierdie manier lei die demone baie mense om die bos sodat hulle glo dat dooie mense lewendig is en met lewendige mense kan praat. Ja, die demone laat baie mense in spoke glo.

Daarom moet ons oppas dat Satan en sy demone ons nie om die bos lei nie. Die Bybel waarsku: ‘Satan probeer om homself soos ’n goeie engel te laat lyk, en sy knegte doen dieselfde’ (2 Korintiërs 11:14, 15). Maar eintlik is die demone sleg. Kom ons kyk hoe hulle dalk sal probeer om ons te kry om soos hulle te wees.

Waar leer mense baie van geweld, verkeerde geslagsomgang, geeste en spoke?— Is dit nie wanneer hulle na sekere televisieprogramme en rolprente kyk, rekenaar- en videospeletjies speel, die Internet gebruik en strokiesverhale lees nie? Bring dit ons nader aan God of nader aan die Duiwel en sy demone as ons hierdie dinge doen? Wat dink jy?—

Wat kan gebeur as ons na geweld kyk?

Wie dink jy wil hê ons moet na slegte dinge luister en kyk?— Ja, Satan en sy demone. Wat moet ek en jy dan doen?— Ons moet dinge lees wat vir ons goed is en wat ons sal help om Jehovah te dien en ook na sulke dinge luister en kyk. Kan jy aan party van hierdie goeie dinge dink wat ons kan doen?—

Wat sal dit vir ons goed wees om te doen?

As ons doen wat goed is, is daar geen rede om vir die demone bang te wees nie. Jesus is sterker as hulle, en hulle is bang vir hom. Die demone het eendag vir Jesus gevra: “Het jy gekom om ons te vernietig?” (Markus 1:24). Sal ons nie bly wees wanneer die tyd kom dat Jesus vir Satan en sy demone vernietig nie?— Totdat dit gebeur, kan ons seker wees dat Jesus ons teen die demone sal beskerm as ons na aan hom en sy hemelse Vader bly.

Kom ons lees wat ons moet doen, in 1 Petrus 5:8, 9 en Jakobus 4:7, 8.