Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 21

Moet ons met enigiets spog?

Moet ons met enigiets spog?

WAT beteken dit om te spog? Weet jy?— Hier is ’n voorbeeld. Het jy al ooit probeer om iets te doen waarmee jy nie baie goed is nie? Miskien het jy ’n bal probeer skop. Of dalk het jy probeer touspring. Het iemand al ooit gesê: “Ha! Ha! Ha! Ek kan dit beter doen as jy”?— Wel, daardie persoon het gespog.

Hoe voel jy wanneer ander dit doen? Hou jy daarvan?— Hoe dink jy voel ander dan wanneer jy met jouself spog?— Is dit liefdevol om vir iemand anders te sê: “Ek is beter as jy”?— Hou Jehovah van mense wat dit doen?—

Die Groot Onderwyser het mense geken wat gedink het hulle is beter as ander. Hulle het met hulleself gespog en op alle ander mense neergekyk. Daarom het Jesus eendag vir hulle ’n storie vertel om vir hulle te wys hoe verkeerd dit is om met hulleself te spog. Kom ons luister daarna.

Die storie is oor ’n Fariseër en ’n belastinggaarder. Wel, die Fariseërs was godsdiensonderrigters, wat baiekeer gemaak het asof hulle regverdiger of heiliger as ander mense is. Die Fariseër in Jesus se storie het na God se tempel in Jerusalem opgegaan om te bid.

Hoekom het die belastinggaarder God bly gemaak maar die Fariseër nie?

Jesus het gesê dat ’n belastinggaarder ook na die tempel toe opgegaan het om te bid. Die meeste mense het nie van belastinggaarders gehou nie. Hulle het gedink dat die belastinggaarders hulle probeer kul het. En dit is waar dat baie belastinggaarders nie altyd eerlik was nie.

By die tempel het die Fariseër so tot God begin bid: ‘O God, ek dank u dat ek nie ’n sondaar soos ander mense is nie. Ek kul mense nie en doen nie ander slegte dinge nie. Ek is nie soos daardie belastinggaarder nie. Ek is ’n regverdige man. Ek bly twee keer per week sonder kos sodat ek meer tyd het om oor u te dink. En ek gee ’n tiende van alles wat ek kry aan die tempel.’ Die Fariseër het regtig gedink dat hy beter is as ander mense, nè?— En hy het dit ook vir God gesê.

Maar die belastinggaarder was nie so nie. Toe hy gebid het, het hy nie eens opgekyk na die hemel toe nie. Hy het op ’n afstand bly staan, met sy kop gebuig. Die belastinggaarder was baie jammer oor sy sondes, en hy het uit droefheid op sy bors geslaan. Hy het nie probeer om vir God te vertel hoe goed hy is nie. Hy het eerder gebid: ‘O God, wees goedhartig teenoor my, ’n sondaar.’

Watter een van hierdie twee manne dink jy het God bly gemaak? Was dit die Fariseër, die een wat gedink het dat hy so goed is? Of was dit die belastinggaarder, die een wat jammer was oor sy sondes?—

Jesus het gesê dat die belastinggaarder die een was wat God bly gemaak het. Hoekom? Jesus het verduidelik: ‘Want elkeen wat probeer maak asof hy beter is as ander mense, sal verneder word. Maar hy wat nederig is, sal verhef word.’—Lukas 18:9-14.

Watter les het Jesus met sy storie geleer?— Hy het geleer dat dit verkeerd is om te dink dat ons beter is as ander mense. Ons sê miskien nie dat ons dink ons is beter nie, maar die dinge wat ons doen, kan wys dat ons dink ons is beter. Het jy al so gemaak?— Kyk byvoorbeeld na die apostel Petrus.

Toe Jesus vir sy apostels gesê het dat almal van hulle hom sou verlaat wanneer hy in hegtenis geneem word, het Petrus gespog: ‘Selfs al verlaat almal u, ek sal dit nooit doen nie!’ Maar Petrus was verkeerd. Hy was te seker van homself. Hy het Jesus wel verlaat. Maar hy het teruggekeer, soos ons in Hoofstuk 30 van hierdie boek sal leer.—Matteus 26:31-33.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld vir vandag. Miskien vra die onderwyseres vir jou en ’n klasmaat vrae by die skool. Sê nou jy kan sommer dadelik die antwoorde gee, maar die ander kind kan nie? Jy sal natuurlik goed voel as jy die antwoorde ken. Maar sal dit liefdevol wees om jou te vergelyk met die een wat nie so gou kan antwoord nie?— Is dit reg om jouself goed te laat lyk deur die ander persoon sleg te laat lyk?—

Dit is wat die Fariseër gedoen het. Hy het gespog dat hy beter is as die belastinggaarder. Maar die Groot Onderwyser het gesê dat die Fariseër verkeerd was. Dit is waar dat iemand miskien iets beter kan doen as iemand anders. Maar dit beteken nie dat hy regtig ’n beter mens is nie.

Is dit dan ’n goeie rede om te spog as ons meer as iemand anders weet?— Dink ’n bietjie daaraan. Het ons ons eie brein gemaak?— Nee, God het vir elkeen van ons ’n brein gegee. En die meeste van die dinge wat ons weet, het ons by iemand anders geleer. Miskien het ons dit in ’n boek gelees. Of dalk het iemand ons daarvan vertel. Al het ons iets self uitgewerk, hoe het ons dit gedoen?— Ja, deur die brein te gebruik wat God vir ons gegee het.

Maak dit van jou ’n beter mens as jy meer as iemand anders weet?

Wanneer iemand hard probeer, sal dit liefdevol wees as jy iets sê wat hom goed laat voel. Sê vir hom jy hou van wat hy gedoen het. Miskien kan jy hom selfs help om beter te doen. Dit is mos wat jy wil hê mense vir jou moet doen, is dit nie?—

Hoekom is dit verkeerd om te spog as ons sterker is as iemand anders?

Party mense is sterker as ander. Sê nou jy is sterker as jou boetie of sussie? Is dit ’n rede om te spog?— Nee, dit is nie. Dit is die kos wat ons eet wat ons laat sterk word. En dit is God wat die sonskyn en die reën en al die ander dinge gee wat nodig is om plante te laat groei, waarvandaan ons kos kry, is dit nie?— Dan is dit mos eintlik God vir wie ons moet dankie sê as ons sterk word.—Handelinge 14:16, 17.

Nie een van ons hou daarvan om te hoor hoe iemand met homself spog nie, nè?— Ons moet Jesus se woorde onthou: ‘Net soos julle wil hê dat ander mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.’ As ons dit doen, sal ons nooit soos die Fariseër wees wat met homself gespog het in die storie wat die Groot Onderwyser vertel het nie.—Lukas 6:31.

Iemand het Jesus eenkeer goed genoem. Het die Groot Onderwyser gesê: ‘Ja, ek is goed’?— Nee, hy het nie. Hy het eerder gesê: “Niemand is goed nie, behalwe een, God” (Markus 10:18). Al was die Groot Onderwyser volmaak, het hy nie met homself gespog nie. Hy het eerder al die eer aan sy Vader, Jehovah, gegee.

Is daar dan enigiemand met wie ons kan spog?— Ja, daar is. Ons kan spog met ons Skepper, Jehovah God. Wanneer ons ’n pragtige sonsondergang of ’n ander skeppingswonder sien, kan ons vir iemand sê: ‘Ons wonderlike God, Jehovah, het dit gemaak!’ Ons moet altyd gereed wees om te praat oor die wonderlike dinge wat Jehovah alreeds gedoen het en nog in die toekoms gaan doen.

Waarmee spog hierdie seun?

Lees wat die Skrif oor spoggery sê en leer hoe ons dit moet vermy om met onsself te spog: Spreuke 16:5, 18; Jeremia 9:23, 24; 1 Korintiërs 4:7 en 13:4.