Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Is Jesus in Desember gebore?

Is Jesus in Desember gebore?

DIE Bybel sê nie vir ons wanneer Jesus gebore is nie. Maar dit gee ons wel goeie rede om tot die gevolgtrekking te kom dat hy nie in Desember gebore is nie.

Dink aan die weerstoestande daardie tyd van die jaar in Betlehem, waar Jesus gebore is. Die Joodse maand Kislef (wat ooreenstem met November/Desember) was ’n maand met koue en reënerige weer. Die maand daarna was Tebet (Desember/Januarie). Dit was die maand met die laagste temperature in die jaar, en sneeu het van tyd tot tyd in die hooglande geval. Kom ons kyk wat die Bybel vir ons oor die klimaat van daardie streek sê.

Die Bybelskrywer Esra bevestig dat die maand Kislef bekend was vir koue en reënerige weer. Nadat hy gesê het dat ’n skare in Jerusalem bymekaargekom het “in die negende maand [Kislef], op die twintigste dag van die maand”, sê Esra dat die mense “bewend [was] . . . weens die reënbuie”. Aangaande weerstoestande gedurende daardie tyd van die jaar het die vergaderde mense self gesê: “Dit is die tyd van reënbuie, en dit is nie moontlik om buite te staan nie” (Esra 10:9, 13; Jeremia 36:22). Dit is geen wonder dat herders in daardie deel van die wêreld gesorg het dat hulle en hulle kuddes teen Desember nie meer snags buite was nie!

Die Bybel sê egter dat herders die nag van Jesus se geboorte in die veld was en hulle kuddes opgepas het. Om die waarheid te sê, die Bybelskrywer Lukas toon dat herders daardie tyd naby Betlehem “in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het” (Lukas 2:8-12). Let daarop dat die herders in die oop veld gebly het, nie net bedags buite rondgeloop het nie. Hulle het hulle kuddes snags in die oop veld gehad. Pas hierdie beskrywing van die lewe in die buitelug by die koue en reënerige weerstoestande wat in Desember in Betlehem algemeen was? Nee, beslis nie. Die omstandighede ten tye van Jesus se geboorte toon dat hy nie in Desember gebore is nie. *

God se Woord sê vir ons presies wanneer Jesus gesterf het, maar dit gee nie juis ’n direkte aanduiding van wanneer hy gebore is nie. Dit laat ons dink aan koning Salomo se woorde: “’n Naam is beter as goeie olie, en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word” (Prediker 7:1). Dit is dus nie verbasend nie dat die Bybel baie besonderhede oor Jesus se bediening en dood voorsien, maar min besonderhede oor die tyd van sy geboorte.

Toe Jesus gebore is, was herders en hulle kuddes snags in die veld

^ par. 1 Vir meer inligting, sien bladsye 400-3 van Redenering uit die Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies.