Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 8

Josia het goeie vriende gehad

Josia het goeie vriende gehad

Dink jy dit is moeilik om te doen wat reg is?​— Die meeste mense dink so. Volgens die Bybel was dit vir ’n seun met die naam Josia nie maklik om te doen wat reg is nie. Maar hy het goeie vriende gehad wat hom gehelp het. Kom ons leer meer van Josia en sy vriende.

Josia se pa was Amon, ’n koning van Juda. Amon was baie sleg en het afgode aanbid. Ná Amon se dood het Josia koning van Juda geword. Maar hy was net agt jaar oud! Dink jy hy was sleg soos sy pa?— Nee, hy was nie!

Sefanja het die mense gewaarsku om nie afgode te aanbid nie

Toe Josia nog baie jonk was, wou hy al gehoorsaam wees aan Jehovah. Daarom het hy net mense wat lief is vir Jehovah, as sy vriende gekies. En hulle het Josia gehelp om te doen wat reg is. Wie was party van Josia se vriende?

Een van sy vriende was Sefanja. Sefanja was ’n profeet wat die mense van Juda gewaarsku het dat slegte dinge met hulle sal gebeur as hulle afgode aanbid. Josia het na Sefanja geluister en het Jehovah aanbid, nie afgode nie.

Nog ’n vriend van Josia was Jeremia. Hy was omtrent net so oud soos Josia, en hulle het naby mekaar gewoon toe hulle kinders was. Hulle was sulke goeie vriende dat Jeremia ná Josia se dood ’n spesiale lied geskryf het oor hoeveel hy Josia mis. Jeremia en Josia het mekaar gehelp om te doen wat reg is en om gehoorsaam te wees aan Jehovah.

Josia en Jeremia het mekaar gehelp om te doen wat reg is

Wat kan jy uit Josia se voorbeeld leer?— Toe Josia nog net ’n seuntjie was, wou hy al doen wat reg is. Hy het geweet dat hy vriende moet wees met mense wat lief is vir Jehovah. Maak seker dat jy vriende kies wat lief is vir Jehovah en wat jou kan help om te doen wat reg is!