Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SES

‘Hy het gehoorsaamheid geleer’

‘Hy het gehoorsaamheid geleer’

1, 2. Waarom is ’n liefdevolle pa bly as hy sien dat sy seun aan hom gehoorsaam is, en hoe weerspieël sy gevoelens dié van Jehovah?

 ’N PA kyk by die venster uit na sy jong seun wat met ’n paar maats speel. Hulle bal bons uit die erf tot in die straat. Die seun kyk dit verlangend agterna. Een van sy maats spoor hom aan om in die straat in te hardloop en dit te gaan haal, maar die seun skud sy kop. “Ek mag nie”, sê hy. Die pa glimlag by homself.

2 Waarom is die pa so in sy skik? Omdat hy vir sy seun gesê het om nie alleen in die straat uit te gaan nie. Wanneer die seun gehoorsaam is—al weet hy nie dat sy pa hom sien nie—weet die pa dat sy seun gehoorsaamheid leer en as gevolg daarvan baie veiliger is. Daardie pa voel soos ons hemelse Vader, Jehovah. God weet dat ons moet leer om op hom te vertrou en om aan hom gehoorsaam te wees as ons getrou wil bly en die wonderlike toekoms wil geniet wat hy vir ons in die vooruitsig stel (Spreuke 3:5, 6). Om daardie rede het hy die allerbeste menseonderrigter na ons toe gestuur.

3, 4. In watter sin het Jesus “gehoorsaamheid geleer” en is hy “tot volmaaktheid gebring”? Lig toe.

3 Die Bybel sê iets verbasends oor Jesus: “Hoewel hy ’n Seun was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het; en nadat hy tot volmaaktheid gebring is, het hy verantwoordelik geword vir die ewige redding van almal wat hom gehoorsaam” (Hebreërs 5:8, 9). Hierdie Seun het tallose eeue in die hemel bestaan. Hy het gesien hoe Satan en die ander opstandige engele ongehoorsaam was, maar die eersgebore Seun het nooit by hulle aangesluit nie. ’n Geïnspireerde profesie het hierdie woorde op hom toegepas: “Ek was nie opstandig nie” (Jesaja 50:5). Hoe kon die woorde ‘hy het gehoorsaamheid geleer’ dan op hierdie volmaak gehoorsame Seun toegepas word? Hoe kon so ’n volmaakte skepsel “tot volmaaktheid gebring” word?

4 Dink aan ’n illustrasie. ’n Soldaat het ’n ysterswaard. Hoewel dit nog nooit in die stryd getoets is nie, is dit volmaak gevorm en goed gemaak. Maar hy ruil daardie swaard vir een wat van ’n sterker metaal gemaak is, van verharde staal. Hierdie nuwe swaard is al baie in gevegte gebruik. Is dit nie ’n verstandige ruiltransaksie nie? Net so was die gehoorsaamheid wat Jesus getoon het voordat hy aarde toe gekom het, onberispelik. Maar nadat hy hier was, was sy gehoorsaamheid van ’n heeltemal ander kaliber. Dit was nou beproef, as ’t ware verhard, en getoets deur beproewinge wat Jesus nooit in die hemel sou ondervind het nie.

5. Wat het Jesus se gehoorsaamheid so belangrik gemaak, en wat sal ons in hierdie hoofstuk ondersoek?

5 Gehoorsaamheid was van die grootste belang in Jesus se sending om na die aarde toe te kom. As “die laaste Adam” het Jesus hierheen gekom om te doen wat ons eerste ouer nie gedoen het nie—om gehoorsaam te bly aan Jehovah God, selfs onder beproewing (1 Korintiërs 15:45). Maar Jesus se gehoorsaamheid was nie werktuiglik nie. Jesus was met sy hele verstand, hart en siel gehoorsaam. En hy het dit met vreugde gedoen. Om sy Vader se wil te doen, was vir hom belangriker as om te eet! (Johannes 4:34). Wat sal ons help om Jesus se gehoorsaamheid na te volg? Kom ons kyk eers na sy beweegredes. As ons beweegredes soos syne aankweek, sal dit ons help om versoekings te weerstaan en God se wil te doen. Daarna sal ons ’n paar belonings hersien wat die resultaat is van Christelike gehoorsaamheid.

Jesus se beweegredes vir gehoorsaamheid

6, 7. Wat was party van Jesus se beweegredes vir gehoorsaamheid?

6 Jesus se gehoorsaamheid het voortgespruit uit wat in sy hart was. Soos ons in Hoofstuk 3 gesien het, was Christus nederig van hart. Arrogante trots laat mense neersien op gehoorsaamheid, terwyl nederigheid ons help om gewilliglik aan Jehovah gehoorsaam te wees (Eksodus 5:1, 2; 1 Petrus 5:5, 6). Verdere redes vir Jesus se gehoorsaamheid was die dinge waarvoor hy lief was en wat hy gehaat het.

7 Bowenal het Jesus sy hemelse Vader, Jehovah, liefgehad. Daardie liefde sal in Hoofstuk 13 in groter besonderhede bespreek word. Hierdie soort liefde het aanleiding gegee tot Jesus se godvrugtige vrees. Sy liefde vir Jehovah was so sterk en sy eerbied so diepgewortel dat hy gevrees het om sy Vader te mishaag. Godvrugtige vrees was een rede waarom Jesus se gebede verhoor is (Hebreërs 5:7). Vrees vir Jehovah is ook ’n besondere kenmerk van Jesus se heerskappy as Messiaanse Koning.—Jesaja 11:3.

Toon jou keuse van vermaak dat jy haat wat sleg is?

8, 9. Hoe het Jesus volgens die profesie oor regverdigheid en goddeloosheid gevoel, en hoe het hy daardie gevoelens geopenbaar?

8 Liefde vir Jehovah verg ook dat ons haat wat Jehovah haat. Let byvoorbeeld op hierdie profesie wat tot die Messiaanse Koning gerig is: “U het regverdigheid liefgehad en u haat goddeloosheid. Daarom het God, u God, u met vreugdeolie gesalf, meer as u metgeselle” (Psalm 45:7). Jesus se “metgeselle” was die ander konings in die geslagslyn van koning Dawid. Jesus het, meer as enigeen van hulle, ’n rede tot groot vreugde oor sy salwing. Waarom? Sy beloning is veel groter as hulle s’n, sy koningskap oneindig voordeliger. Hy word beloon omdat sy liefde vir regverdigheid en sy haat vir goddeloosheid hom beweeg het om in alle dinge aan God gehoorsaam te wees.

9 Hoe het Jesus sy gevoelens oor regverdigheid en goddeloosheid geopenbaar? Hoe het Jesus byvoorbeeld gereageer toe sy volgelinge sy instruksies in die predikingswerk gehoorsaam het en as gevolg daarvan geseën is? Hy het oorgeloop van vreugde (Lukas 10:1, 17, 21). En hoe het Jesus gevoel toe die bewoners van Jerusalem keer op keer ’n ongehoorsame gees geopenbaar het en sy liefdevolle pogings om hulle te help, verwerp het? Hy het gehuil oor daardie stad se opstandige weg (Lukas 19:41, 42). Jesus het baie diep gevoelens gehad oor goeie sowel as slegte gedrag.

10. Watter gevoelens moet ons aankweek ten opsigte van regverdige gedrag en verkeerde dade, en wat sal ons help om dit te doen?

10 As ons oor Jesus se gevoelens peins, help dit ons om ons eie beweegredes vir gehoorsaamheid aan Jehovah te ondersoek. Al is ons onvolmaak, kan ons ’n opregte liefde vir goeie dade en ’n intense haat vir verkeerde gedrag aankweek. Ons moet tot Jehovah bid en hom vra om ons te help om gevoelens aan te kweek wat soos syne en soos dié van sy Seun is (Psalm 51:10). Terselfdertyd moet ons invloede vermy wat sulke gevoelens sal ondermyn. Dit is noodsaaklik dat ons ons vermaak en omgang versigtig kies (Spreuke 13:20; Filippense 4:8). As ons Christelike beweegredes aankweek, sal ons gehoorsaamheid nie net ’n blote formaliteit wees nie. Ons sal doen wat reg is omdat ons daarvoor lief is. Ons sal verkeerde dade vermy, nie omdat ons bang is om betrap te word nie, maar omdat ons sulke gedrag haat.

“Hy het geen sonde begaan nie”

11, 12. (a) Wat het vroeg in Jesus se bediening met hom gebeur? (b) Hoe het Satan Jesus die eerste keer versoek, en watter listige taktiek het hy gebruik?

11 Jesus is vroeg in sy bediening getoets met betrekking tot sy haat vir sonde. Nadat hy gedoop is, het hy 40 dae en nagte sonder kos in die wildernis deurgebring. Aan die einde van daardie tydperk het Satan gekom om hom te versoek. Kyk net hoe listig was die Duiwel.—Matteus 4:1-11.

12 Satan het eers gesê: “As jy ’n seun van God is, sê vir hierdie klippe om brode te word” (Matteus 4:3). Hoe het Jesus gevoel ná sy lang vastyd? Die Bybel sê baie duidelik: ‘Hy was honger’ (Matteus 4:2). Satan het dus die natuurlike begeerte na kos uitgebuit en het ongetwyfeld gewag totdat Jesus fisies swak was. Let ook op Satan se tartende woorde: “As jy ’n seun van God is.” Satan het geweet dat Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” is (Kolossense 1:15). Maar Jesus het nie toegelaat dat Satan hom tot ongehoorsaamheid verlok nie. Jesus het geweet dat dit nie God se wil is dat hy sy mag vir selfsugtige doeleindes gebruik nie. Hy het geweier om dit te doen en getoon dat hy nederig op Jehovah staatgemaak het om hom te voed en te lei.—Matteus 4:4.

13-15. (a) Hoe het Satan Jesus ’n tweede en derde keer versoek, en hoe het Jesus daarop gereageer? (b) Hoe weet ons dat Jesus nooit sy waaksaamheid teen Satan kon laat verslap nie?

13 Vir sy tweede versoeking het Satan Jesus na ’n hoë plek op die tempelmuur geneem. Satan het God se Woord op slinkse wyse verdraai en Jesus probeer versoek om ’n groot vertoon te maak deur van daardie hoë plek af te spring sodat engele hom sou moes red. As die skares by die tempel so ’n wonderwerk gesien het, sou enigiemand dit daarna gewaag het om twyfel uit te spreek of Jesus die beloofde Messias is? En as die skares Jesus op grond van hierdie soort vertoon as die Messias aanvaar het, sou Jesus nie baie ontberinge en moeilikhede vermy het nie? Miskien. Maar Jesus het geweet dat dit Jehovah se wil vir die Messias is om sy werk op ’n nederige manier uit te voer, nie om mense deur ’n skouspelagtige vertoon oor te haal om in hom te glo nie (Jesaja 42:1, 2). Jesus het weer eens geweier om ongehoorsaam te wees aan Jehovah. Roem het hom glad nie aangetrek nie.

14 Maar wat van die aantrekkingskrag van mag? In sy derde poging het Satan Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied as Jesus ’n enkele daad van aanbidding aan Satan sou verrig. Het hy Satan se aanbod ernstig oorweeg? “Gaan weg, Satan!” was sy antwoord. Hy het bygevoeg: “Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Matteus 4:10). Niks sou Jesus ooit sover kon kry om ’n ander god te aanbid nie. Geen aanbod van mag of invloed in hierdie wêreld sou hom daartoe oorhaal om enige daad van ongehoorsaamheid te pleeg nie.

15 Het Satan moed opgegee? Hy het op Jesus se bevel weggegaan. Maar Lukas se Evangelie sê dat die Duiwel “tot ’n ander geskikte tyd van hom gewyk” het (Lukas 4:13). Trouens, Satan sou tot die einde toe ander geleenthede vind om Jesus te beproef en te versoek. Die Bybel sê vir ons dat Jesus “in alle opsigte . . . op die proef gestel is” (Hebreërs 4:15). Jesus kon dus nooit bekostig om sy waaksaamheid te laat verslap nie; en ons kan ook nie.

16. Hoe versoek Satan God se knegte vandag, en hoe kan ons sy pogings weerstaan?

16 Satan hou vandag nog aan om God se knegte te versoek. Ongelukkig is ons dikwels maklike teikens weens ons onvolmaakthede. Satan maak listig gebruik van selfsug, trots en magsug. Deur materialisme as lokaas in te span, kan Satan selfs van hulle almal tegelyk gebruik maak! Dit is noodsaaklik om soms ’n bietjie stil te staan en ’n eerlike selfondersoek te doen. Dit sal goed wees as ons oor die woorde in 1 Johannes 2:15-17 peins. Wanneer ons dit doen, kan ons ons afvra of die vleeslike begeertes van hierdie stelsel van dinge, die hunkering na materiële besittings en die begeerte om ander te beïndruk ons liefde vir ons hemelse Vader in sekere mate ondermyn het. Ons moet onthou dat hierdie wêreld sy einde nader, soos ook die geval is met die heerser daarvan, Satan. Laat ons sy listige pogings weerstaan om ons tot sonde te verlok! Mag ons deur ons Heer se voorbeeld besiel word, want “hy het geen sonde begaan nie”.—1 Petrus 2:22.

‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’

17. Hoe het Jesus oor gehoorsaamheid aan sy Vader gevoel, maar watter beswaar opper party dalk?

17 Gehoorsaamheid behels veel meer as om net sonde te vermy; Christus het elke bevel van sy Vader ywerig uitgevoer. Hy het verklaar: ‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’ (Johannes 8:29). Hierdie gehoorsaamheid het vir Jesus groot vreugde meegebring. Party maak dalk beswaar en sê dat dit nie vir Jesus so moeilik was om gehoorsaam te wees nie. Hulle dink dalk dat hy net aanspreeklik was teenoor Jehovah, wat volmaak is, terwyl ons dikwels aanspreeklik is teenoor onvolmaakte mense in gesagsposisies. Die waarheid is egter dat Jesus wel aan onvolmaakte mense in gesagsposisies gehoorsaam was.

18. Watter voorbeeld van gehoorsaamheid het Jesus as ’n jongmens gestel?

18 Terwyl Jesus grootgeword het, was hy onder die gesag van sy onvolmaakte menseouers, Josef en Maria. Hy kon waarskynlik in groter mate as die meeste kinders foute in sy ouers raaksien. Het hy opstandig geraak en sy godgegewe rol verontagsaam deur hulle te vertel hoe om gesinsake te behartig? Let op wat Lukas 2:51 van die 12-jarige Jesus sê: “Hy het aan hulle onderdanig gebly.” Sy gehoorsaamheid is ’n uitstekende voorbeeld vir Christenjongmense, wat daarna strewe om hulle ouers te gehoorsaam en die verskuldigde respek aan hulle te betoon.—Efesiërs 6:1, 2.

19, 20. (a) Voor watter unieke uitdagings met betrekking tot gehoorsaamheid aan onvolmaakte mense het Jesus te staan gekom? (b) Waarom moet ware Christene vandag gehoorsaam wees aan dié wat die leiding onder hulle neem?

19 Wat gehoorsaamheid aan onvolmaakte mense betref, het Jesus voor uitdagings te staan gekom waarvoor ware Christene van vandag nooit te staan sal kom nie. Dink aan die unieke tye waarin hy geleef het. Die Joodse godsdiensstelsel, met sy tempel in Jerusalem en sy priesterdom, het lank Jehovah se goedkeuring geniet, maar was op die punt om verwerp te word en vervang te word deur die Christengemeente (Matteus 23:33-38). Intussen het baie van die godsdiensleiers valshede verkondig wat uit Griekse filosofieë afkomstig was. In die tempel het korrupsie so algemeen geword dat Jesus dit “’n rowerspelonk” genoem het (Markus 11:17). Het Jesus van daardie tempel en die sinagoges af weggebly? Nee! Jehovah het daardie reëlings nog gebruik. Totdat God ingetree het en veranderinge aangebring het, was Jesus gehoorsaam en het hy na die feeste by die tempel en na die sinagoge gegaan.—Lukas 4:16; Johannes 5:1.

20 As Jesus onder daardie omstandighede gehoorsaam was, hoeveel te meer moet ware Christene vandag gehoorsaam bly! Ons lewe immers in tye wat baie anders is—die langvoorspelde tyd van die herstel van rein aanbidding. God verseker ons dat hy Satan nooit sal toelaat om sy herstelde volk te verderf nie (Jesaja 2:1, 2; 54:17). Ons sien weliswaar sondes en onvolmaakthede in die Christengemeente. Maar moet ons die tekortkominge van ander as ’n verskoning gebruik om ongehoorsaam te wees aan Jehovah, moontlik deur weg te bly van Christelike vergaderinge of krities te word teenoor die ouer manne? Nooit! Ons gee eerder ons hartlike ondersteuning aan diegene wat die leiding neem in die gemeente. Uit gehoorsaamheid woon ons Christelike vergaderinge en byeenkomste by en pas ons die skriftuurlike raad toe wat ons daar ontvang.—Hebreërs 10:24, 25; 13:17.

Ons pas gehoorsaam toe wat ons by Christelike vergaderinge leer

21. Hoe het Jesus gereageer op druk van mense om aan God ongehoorsaam te wees, en watter voorbeeld het hy vir ons gestel?

21 Jesus het nooit toegelaat dat mense, selfs welmenende vriende, hom keer om aan Jehovah gehoorsaam te wees nie. Die apostel Petrus het byvoorbeeld sy Heer probeer oorreed dat dit nie nodig was dat hy moes ly en sterf nie. Jesus het Petrus se goed bedoelde maar ongepaste raad om goed te wees vir homself, met beslistheid verwerp (Matteus 16:21-23). Vandag kry Jesus se volgelinge dikwels te doen met welmenende familielede wat hulle moontlik probeer ontmoedig om God se wette en beginsels te gehoorsaam. Soos Jesus se eerste-eeuse volgelinge bly ons by die beginsel om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.

Belonings vir Christelike gehoorsaamheid

22. Op watter vraag het Jesus die antwoord voorsien, en hoe?

22 Net voordat Jesus doodgemaak is, is sy gehoorsaamheid tot die uiterste getoets. Gedurende daardie donker dag het hy in die volste sin “gehoorsaamheid geleer”. Hy het sy Vader se wil gedoen, nie sy eie nie (Lukas 22:42). Hy het terselfdertyd ’n volmaakte rekord van onkreukbaarheid opgebou (1 Timoteus 3:16). Hy het die antwoord voorsien op die vraag wat al lank bestaan het: Kan ’n volmaakte mens, selfs wanneer hy getoets word, aan Jehovah gehoorsaam bly? Adam het hierin misluk, en so ook Eva. Toe het Jesus gekom, gelewe, gesterwe en die saak reggestel. Die grootste van al Jehovah se skepsele het die oortuigendste antwoord moontlik gegee. Hy was gehoorsaam al het hy ’n hoë prys vir sy gehoorsaamheid betaal.

23-25. (a) Hoe hou gehoorsaamheid verband met onkreukbaarheid? Lig toe. (b) Waaroor handel die volgende hoofstuk?

23 Onkreukbaarheid, of heelhartige toegewydheid aan Jehovah, word deur gehoorsaamheid getoon. Omdat Jesus gehoorsaam was, het hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf en die hele mensdom bevoordeel (Romeine 5:19). Jehovah het Jesus ryklik beloon. As ons aan ons Heer, Christus, gehoorsaam is, sal Jehovah ons ook beloon. Gehoorsaamheid aan Christus lei tot “ewige redding”!—Hebreërs 5:9.

24 Daarbenewens is onkreukbaarheid op sigself ’n beloning. Spreuke 10:9 sê: “Hy wat in onkreukbaarheid wandel, sal in veiligheid wandel.” As onkreukbaarheid vergelyk kan word met ’n pragtige huis wat van goeie bakstene gebou is, kan elke daad van gehoorsaamheid met ’n enkele baksteen vergelyk word. ’n Baksteen lyk dalk onbeduidend, maar elkeen het sy plek, sy waarde. En wanneer baie saamgevoeg word, word iets van veel groter waarde gebou. Wanneer gehoorsame dade saamgevoeg word, een na die ander, dag na dag en jaar na jaar, bou ons as ’t ware die pragtige huis van ons onkreukbaarheid.

25 ’n Weg van gehoorsaamheid wat oor ’n lang tyd strek, laat ons aan ’n ander eienskap dink—volharding. Die volgende hoofstuk handel oor hierdie aspek van Jesus se voorbeeld.