Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWE

“Let noukeurig” op Jesus se volharding

“Let noukeurig” op Jesus se volharding

1-3. (a) Hoe intens is Jesus se sielsangs in die tuin van Getsemane, en wat is die oorsaak daarvan? (b) Wat kan gesê word oor Jesus se voorbeeld van volharding, en watter vrae ontstaan?

 DIE druk is intens. Jesus het nog nooit tevore sulke verstandelike en emosionele pyn verduur nie. Dit is die laaste ure van sy lewe op die aarde. Hy kom saam met sy apostels by ’n bekende plek, die tuin van Getsemane. Hy het dikwels hier tyd saam met hulle deurgebring. Maar op hierdie nag het hy tyd alleen nodig. Hy verlaat sy apostels en gaan dieper in die tuin in, kniel en begin bid. Hy bid so ernstig en raak in sulke sielsangs dat sy sweet “soos bloeddruppels [word] wat op die grond val”.—Lukas 22:39-44.

2 Wat kwel Jesus so? Hy weet weliswaar dat hy binnekort vreeslike fisiese lyding sal moet deurmaak, maar dit is nie die rede vir sy angs nie. Sake van veel groter belang druk swaar op sy gemoed. Hy is baie besorg oor sy Vader se naam en besef dat die toekoms van die mensegesin daarvan afhang dat hy getrou bly. Jesus weet hoe belangrik dit is dat hy volhard. As hy misluk, sal hy Jehovah se naam groot oneer aandoen. Maar Jesus misluk nie. Later daardie dag, oomblikke voordat hy sy laaste asem uitblaas, roep die man wat die allerbeste voorbeeld van volharding op die aarde gestel het, triomfantlik uit: “Dit is volbring!”—Johannes 19:30.

3 Die Bybel spoor ons aan om ‘noukeurig te let’ op Jesus se volharding (Hebreërs 12:3). Party belangrike vrae ontstaan dus: Wat is van die beproewinge wat Jesus verduur het? Wat het hom in staat gestel om te volhard? Hoe kan ons sy voorbeeld volg? Maar voordat ons hierdie vrae beantwoord, kom ons ondersoek eers wat volharding behels.

Wat is volharding?

4, 5. (a) Wat beteken “volharding”? (b) Hoe kan ons illustreer dat volharding meer behels as net om ontberinge te ondervind wat nie vermy kan word nie?

4 Van tyd tot tyd word ons almal “deur allerhande beproewinge bedroef” (1 Petrus 1:6). Beteken die feit dat ons ’n beproewing ondergaan, noodwendig dat ons volhard? Nee. Die Griekse naamwoord vir “volharding” beteken “die vermoë om uit te hou of moed te hou ondanks moeilikheid”. Aangaande die soort volharding waarvan Bybelskrywers praat, verduidelik een geleerde: “Dit is die gesindheid wat dinge kan verdra, nie bloot met berusting nie, maar met vurige hoop . . . Dit is die eienskap wat ’n man laat staande bly wanneer hy die wind van voor kry. Dit is die deug wat die swaarste beproewing in heerlikheid kan verander omdat dit die doelwit anderkant die pyn sien.”

5 Om te volhard, beteken dus nie bloot dat ’n mens ontberinge ondervind wat nie vermy kan word nie. In die Bybelse sin behels volharding standvastigheid, om die regte geestesgesindheid en ’n hoopvolle uitkyk te behou ondanks beproewinge. Dink aan ’n illustrasie: Twee mans is in die gevangenis, in soortgelyke omstandighede, maar om heeltemal verskillende redes. Die een, ’n gewone misdadiger, dien sy vonnis teësinnig en met ’n lang gesig uit. Die ander, ’n ware Christen wat vir sy getroue lewensweg in die gevangenis is, bly standvastig en behou ’n positiewe gesindheid omdat hy sy situasie beskou as ’n geleentheid om bewys te lewer van sy geloof. Die misdadiger kan sekerlik nie as ’n voorbeeld van volharding beskou word nie, terwyl die lojale Christen die toonbeeld van hierdie pragtige eienskap is.—Jakobus 1:2-4.

6. Hoe kweek ons volharding aan?

6 Volharding is noodsaaklik as ons redding wil verkry (Matteus 24:13). Maar ons word nie met hierdie lewensbelangrike eienskap gebore nie. Volharding moet aangekweek word. Hoe? ‘Verdrukking bring volharding voort’, sê Romeine 5:3. Ja, as ons werklik volharding wil aankweek, kan ons nie vreesbevange terugdeins van alle toetse van geloof nie. Ons moet dit eerder trotseer. Volharding is die resultaat wanneer ons dag na dag groot en klein beproewinge aandurf en oorkom. Elke toets wat ons deurstaan, gee ons krag vir die volgende een. Ons bou natuurlik nie sonder hulp volharding op nie. Ons is “afhanklik van die krag wat God verskaf” (1 Petrus 4:11). Om ons te help om standvastig te bly, het Jehovah ons die beste moontlike hulp gegee—die voorbeeld van sy Seun. Kom ons ondersoek Jesus se vlekkelose rekord van volharding ’n bietjie van naderby.

Wat Jesus verduur het

7, 8. Wat het Jesus verduur toe die einde van sy aardse lewe naby gekom het?

7 Toe die einde van Jesus se aardse lewe nader gekom het, het hy die een wreedheid ná die ander verduur. Gedurende sy laaste nag het hy onder ontsettende geestespanning verkeer, maar dink ook aan die teleurstelling wat hy ervaar het en die vernedering wat hy moes verduur. Hy is deur ’n intieme metgesel verraai, deur sy beste vriende in die steek gelaat en aan ’n onwettige verhoor onderwerp, waartydens lede van die hoogste godsdienshof in die land hom bespot het, op hom gespoeg het en hom met hulle vuiste geslaan het. En tog het hy dit alles met stille waardigheid en innerlike krag verduur.—Matteus 26:46-49, 56, 59-68.

8 In sy laaste ure het Jesus geweldige fisiese lyding verduur. Hy is gegesel, met ander woorde wreed geslaan op ’n manier wat blykbaar “diep skeurwonde en aansienlike bloedverlies” veroorsaak het. Hy is aan ’n paal gehang, tereggestel op ’n manier wat “’n stadige dood met die grootste pyn en lyding” meegebring het. Dink aan die pyn wat hy moes gevoel het toe groot spykers deur sy hande en voete geslaan is om hom aan die paal vas te nael (Johannes 19:1, 16-18). Stel jou die hewige pyn voor wat hy moes gevoel het toe die paal regop getel is en sy hele liggaamsgewig aan die spykers gehang het en toe sy rou rug teen die paal geskuur het. En hy het hierdie uiterste fisiese lyding verduur terwyl hy die las moes dra wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is.

9. Wat is daarby betrokke om ons “folterpaal” op te neem en Jesus te volg?

9 Watter beproewinge moet ons as volgelinge van Christus dalk verduur? Jesus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy . . . sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Die uitdrukking “folterpaal” word hier figuurlik gebruik om lyding, skande of selfs die dood voor te stel. Om Christus te volg, is nie ’n maklike weg nie. Ons Christelike standaarde maak ons anders. Hierdie wêreld haat ons omdat ons geen deel daarvan is nie (Johannes 15:18-20; 1 Petrus 4:4). Nietemin is ons gewillig om ons folterpaal op te neem—ja, ons is bereid om te ly, selfs te sterf, eerder as om op te hou om ons Voorbeeld te volg.—2 Timoteus 3:12.

10-12. (a) Waarom het die onvolmaakthede van diegene om Jesus sy volharding getoets? (b) Wat was van die moeilike situasies wat Jesus verduur het?

10 Gedurende sy bediening het Jesus voor ander toetse te staan gekom wat deur die onvolmaakthede van diegene om hom veroorsaak is. Onthou dat hy die “meesterwerker” was wat deur Jehovah gebruik is om die aarde en alle lewe daarop te skep (Spreuke 8:22-31). Jesus het dus geweet wat Jehovah se voorneme met die mensdom is; hulle moes Sy eienskappe weerspieël en die lewe in volmaakte gesondheid geniet (Genesis 1:26-28). Toe Jesus op die aarde was, het hy die tragiese gevolge van sonde uit ’n ander hoek gesien—hy was self ’n mens en kon menslike gevoelens en emosies ervaar. Hoe moes dit hom tog seergemaak het om eerstehands te sien hoe ver mense agteruitgegaan het van die oorspronklike volmaaktheid van Adam en Eva! Jesus het dus voor ’n toets van volharding te staan gekom. Sou hy mismoedig raak en opgee omdat hy sondige mense as ’n verlore saak beskou het? Kom ons kyk.

11 Die onverskilligheid van die Jode het Jesus so ontstel dat hy openlik gehuil het. Het hy toegelaat dat hulle onverskillige houding sy ywer laat verflou of hom laat ophou preek? Inteendeel, hy “het elke dag in die tempel geleer” (Lukas 19:41-44, 47). Hy was “diep bedroef” oor die ongevoeligheid van die harte van die Fariseërs wat hom fyn dopgehou het om te sien of hy ’n sekere man op die Sabbat sou genees. Het hy toegelaat dat daardie eiegeregtige teenstanders hom intimideer? Beslis nie! Hy het vasgestaan en die man genees—boonop daar in die middel van die sinagoge!—Markus 3:1-5.

12 Daar is nog iets wat ’n beproewing vir Jesus moes gewees het—die swakhede van sy naaste dissipels. Soos ons in Hoofstuk 3 gesien het, het hulle knaend ’n begeerte na vernaamheid geopenbaar (Matteus 20:20-24; Lukas 9:46). Jesus het hulle meer as een keer raad gegee oor die nodigheid om nederig te wees (Matteus 18:1-6; 20:25-28). Maar hulle het nie gou gereageer nie. Selfs op sy laaste nag saam met hulle het hulle in “’n driftige woordewisseling” gewikkel geraak oor wie die grootste onder hulle was! (Lukas 22:24). Het Jesus moed opgegee met hulle en geredeneer dat hulle nie kon verbeter nie? Nee. Hy was altyd geduldig en het positief en hoopvol gebly en die goeie in hulle bly raaksien. Hy het geweet dat hulle Jehovah in hulle hart liefhet en dat dit werklik hulle begeerte is om Sy wil te doen.—Lukas 22:25-27.

Sal ons toelaat dat teenstand ons gees demp, of sal ons aanhou om ywerig te preek?

13. Voor watter toetse wat soortgelyk is aan dié wat Jesus moes verduur, kom ons dalk te staan?

13 Ons kom dalk voor toetse te staan wat soortgelyk is aan dié wat Jesus verduur het. Byvoorbeeld, ons kom moontlik mense teë wat onverskillig is teenoor die Koninkryksboodskap of wat dit selfs teëstaan. Sal ons toelaat dat sulke negatiewe reaksies ons gees demp, of sal ons aanhou om ywerig te preek? (Titus 2:14). Ons kan getoets word deur die onvolmaakthede van ons Christenbroers. ’n Onnadenkende woord of ’n onbesonne daad maak dalk ons gevoelens seer (Spreuke 12:18). Sal ons toelaat dat die tekortkominge van medegelowiges ons laat moed opgee met hulle, of sal ons aanhou om hulle foute te verdra en na die goeie in hulle te soek?—Kolossense 3:13.

Waarom Jesus kon volhard

14. Watter twee faktore het Jesus gehelp om standvastig te bly?

14 Wat het Jesus gehelp om standvastig te bly en sy onkreukbaarheid te handhaaf ten spyte van al die vernederings, teleurstellings en lyding wat hy moes verduur? Daar is twee besondere faktore wat Jesus onderskraag het. Eerstens het hy na bo gekyk en ’n beroep gedoen op “die God wat volharding . . . verskaf” (Romeine 15:5). Tweedens het Jesus vorentoe gekyk en sy aandag gevestig gehou op die einddoel van sy volharding. Kom ons bespreek hierdie faktore een op ’n slag.

15, 16. (a) Wat toon dat Jesus nie op sy eie krag gesteun het om te volhard nie? (b) Watter vertroue het Jesus in sy Vader gehad, en waarom?

15 Hoewel Jesus die volmaakte Seun van God was, het hy nie op sy eie krag gesteun om te volhard nie. Hy het hom eerder tot sy hemelse Vader gewend en gebid vir hulp van bo. Die apostel Paulus het geskryf: “Christus [het] smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red” (Hebreërs 5:7). Let daarop dat Jesus nie net bedes nie maar ook smekinge “opgedra” het. Die woord “smeking” verwys na ’n besonder opregte en ernstige versoek—ja, om as ’t ware om hulp te pleit. Die gebruik van die meervoud, “smekinge”, toon dat Jesus Jehovah meer as een keer gesmeek het. Trouens, in die tuin van Getsemane het Jesus herhaaldelik en vurig gebid.—Matteus 26:36-44.

16 Jesus het die volste vertroue gehad dat Jehovah sy smekinge sou verhoor, want hy het geweet dat sy Vader die “Hoorder van die gebed” is (Psalm 65:2). Gedurende sy voormenslike bestaan het die eersgebore Seun gesien hoe sy Vader die gebede van lojale aanbidders verhoor. Die Seun was byvoorbeeld ’n ooggetuie in die hemel toe Jehovah die opregte gebed van die profeet Daniël verhoor het en ’n engel na hom toe gestuur het—selfs nog voordat Daniël klaar gebid het (Daniël 9:20, 21). Hoe kon die Vader dan nalaat om te reageer toe sy enigverwekte Seun sy hart “met sterk uitroepe en trane” uitgestort het? Jehovah het gehoor gegee aan die versoeke van sy Seun en het ’n engel gestuur om hom te versterk sodat hy die beproewing kon verduur.—Lukas 22:43.

17. Waarom moet ons hemelwaarts kyk as ons wil volhard, en hoe kan ons dit doen?

17 As ons wil volhard, moet ons ook hemelwaarts kyk—na die God “wat . . . krag gee” (Filippense 4:13). As die volmaakte Seun van God gevoel het dat dit nodig is om Jehovah om hulp te smeek, hoeveel te meer moet ons so voel! Soos Jesus, moet ons Jehovah dalk herhaaldelik smeek (Matteus 7:7). Al verwag ons nie dat ’n engel ons sal besoek nie, kan ons van een ding seker wees: Ons liefdevolle God sal gehoor gee aan die versoeke van die lojale Christen wat “nag en dag [volhou] met smekinge en gebede” (1 Timoteus 5:5). Ongeag die beproewinge wat ons moet verduur—hetsy swak gesondheid, die dood van ’n geliefde of vervolging deur teenstanders—Jehovah sal ons vurige gebede vir wysheid, moed en krag om te volhard, verhoor.—2 Korintiërs 4:7-11; Jakobus 1:5.

Jehovah sal ons vurige gebede vir hulp om te volhard, verhoor

18. Hoe het Jesus verby sy lyding gekyk na wat voorlê?

18 Die tweede faktor wat Jesus in staat gestel het om te volhard, is dat hy vorentoe, verby die lyding, gekyk het na wat vir hom voorlê. Die Bybel sê van Jesus: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur” (Hebreërs 12:2). Jesus se voorbeeld lig toe hoe hoop, vreugde en volharding saam werk. Dit kan soos volg opgesom word: Hoop lei tot vreugde en vreugde tot volharding (Romeine 15:13; Kolossense 1:11). Jesus het wonderlike vooruitsigte gehad. Hy het geweet dat getrouheid van sy kant sou help om sy Vader se soewereiniteit te regverdig en hom in staat sou stel om die mensdom van sonde en die dood terug te koop. Jesus het ook die hoop gehad om as Koning te heers en as Hoëpriester te dien, sodat hy verdere seëninge vir gehoorsame mense sou kon meebring (Matteus 20:28; Hebreërs 7:23-26). Deur te fokus op sy vooruitsigte en toekomshoop, het Jesus onbeskryflike vreugde gevind, en daardie vreugde het hom weer gehelp om te volhard.

19. Wanneer ons voor toetse van geloof te staan kom, hoe kan ons hoop, vreugde en volharding tot ons voordeel laat saam werk?

19 Soos Jesus, moet ons hoop, vreugde en volharding tot ons voordeel laat saam werk. “Verbly julle in die hoop”, het die apostel Paulus gesê. Daarna het hy bygevoeg: “Volhard onder verdrukking” (Romeine 12:12). Het jy op die oomblik met ’n ernstige toets van geloof te kampe? Hou dan aan om vorentoe te kyk. Moenie uit die oog verloor hoe jou volharding lof sal bring aan Jehovah se naam nie. Hou die kosbare Koninkrykshoop duidelik voor oë. Sien jouself in God se komende nuwe wêreld, en stel jou voor hoe jy die seëninge van die Paradys geniet. As jy uitsien na die vervulling van die wonderlike dinge wat Jehovah belowe het—met inbegrip van die regverdiging van sy soewereiniteit, die einde van goddeloosheid op die aarde sowel as die verwydering van siekte en die dood—sal dit jou hart met vreugde vervul, en daardie vreugde kan jou help om te volhard ongeag watter beproewinge oor jou kom. Wanneer dit vergelyk word met die verwesenliking van die Koninkrykshoop, is enige lyding in hierdie stelsel van dinge inderdaad “kortstondig en lig”.—2 Korintiërs 4:17.

‘Volg sy voetstappe noukeurig’

20, 21. Wat verwag Jehovah van ons wat volharding betref, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Jesus het geweet dat dit ’n uitdaging sou wees om hom te volg, dat dit volharding sou verg (Johannes 15:20). Hy was bereid om die voorbeeld te stel, in die wete dat sy voorbeeld ander sou versterk (Johannes 16:33). Jesus het weliswaar die volmaakte voorbeeld van volharding gestel, maar ons is allesbehalwe volmaak. Wat verwag Jehovah van ons? Petrus verduidelik: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Jesus het, deur die manier waarop hy beproewinge die hoof gebied het, vir ons “’n voorbeeld” gelaat, ’n patroon wat ons kan volg. a Die rekord van volharding wat hy opgebou het, kan vergelyk word met “voetstappe”. Ons kan daardie voetstappe nie volmaak volg nie, maar ons kan hulle “noukeurig” volg.

21 Laat ons dan vasbeslote wees om Jesus se voorbeeld na die beste van ons vermoë te volg. Laat ons nooit vergeet nie dat hoe noukeuriger ons Jesus se voetstappe volg, hoe beter toegerus ons sal wees om te volhard “tot die einde toe”—die einde van hierdie ou stelsel van dinge of die einde van ons teenswoordige lewe. Ons weet nie wat eerste sal kom nie, maar ons weet dít: Jehovah sal ons tot in alle ewigheid vir ons volharding beloon.—Matteus 24:13.

a Die Griekse woord wat met “voorbeeld” vertaal word, beteken letterlik “onderskrif”. Die apostel Petrus is die enigste skrywer van die Christelike Griekse Geskrifte wat hierdie woord gebruik het, wat blykbaar “‘’n kopievoorbeeld’ in ’n kind se oefeningboek beteken, ’n volmaakte stuk skryfwerk wat die kind so noukeurig as moontlik moet naboots”.