Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VIER

“Kyk! Die Leeu wat uit die stam Juda is”

“Kyk! Die Leeu wat uit die stam Juda is”

“Dit is ek”

1-3. Voor watter gevaar kom Jesus te staan, en hoe reageer hy?

 ’N OPGESWEEPTE skare is op soek na Jesus. Hulle is gewapen met swaarde en knuppels en het soldate saam met hulle. Asof hulle een bose oogmerk het, beweeg hulle deur die donker strate van Jerusalem en oor die Kidronvallei na die Olyfberg. Hoewel dit volmaan is, dra hulle fakkels en lampe. Verlig hulle hulle pad omdat wolke die maan verberg? Of verwag hulle dat die een waarna hulle soek, in die skaduwees skuil? Een ding is seker: Enigiemand wat dink dat Jesus gaan probeer wegkruip, weet min van die man.

2 Jesus is bewus van die naderende gevaar. Hy staan nietemin en wag. Die gepeupel kom nader, gelei deur Judas, voorheen ’n vertroude vriend. Judas verraai Jesus skaamteloos en identifiseer sy voormalige heer met ’n geveinsde groet en ’n soen. Jesus bly nog steeds kalm. Dan gaan staan hy voor die gepeupel. “Wie soek julle?” vra hy. “Jesus die Nasarener”, antwoord hulle.

3 Voor so ’n gewapende gepeupel sou die meeste mense terugdeins van vrees. Dit is moontlik wat hierdie skare verwag dat die man voor hulle sal doen. Maar Jesus probeer nie wegkruip nie; hy vlug nie; hy gryp nie na die een of ander leuen nie. Hy sê eerder net: “Dit is ek.” Sy houding is so kalm, so moedig, dat die manne verstom is. Hulle steier terug en val op die grond neer!—Johannes 18:1-6; Matteus 26:45-50; Markus 14:41-46.

4-6. (a) Waarmee word God se Seun vergelyk, en waarom? (b) Wat is drie maniere waarop Jesus moed aan die dag gelê het?

4 Hoe kon Jesus in so ’n gevaarlike situasie heeltemal kalm en beheers bly? Die antwoord is, in een woord, moed. Min eienskappe word so bewonder of is so nodig in ’n leier, en geen mens was nog ooit in hierdie opsig Jesus se gelyke nie, laat staan nog sy meerdere. In die vorige hoofstuk het ons geleer hoe nederig en sagmoedig Jesus was. Hy is tereg “die Lam” genoem (Johannes 1:29). Jesus se moed gee egter aanleiding tot ’n heel ander beskrywing van hom. Die Bybel sê van God se Seun: “Kyk! Die Leeu wat uit die stam Juda is.”—Openbaring 5:5.

5 Die leeu word dikwels met moed geassosieer. Het jy al ooit van aangesig tot aangesig met ’n uitgegroeide leeumannetjie gekom? Indien wel, was jy heel waarskynlik veilig agter ’n heining, dalk die omheining van sy hok in die dieretuin. So ’n ondervinding kan nogtans skrikwekkend wees. Wanneer jy in die gesig van hierdie enorme en kragtige dier kyk, en hy kyk jou vierkantig in die oë, kan jy jou nouliks voorstel dat die leeu ooit uit vrees vir enigiets sal vlug. Die Bybel praat van “die leeu, wat die magtigste onder die diere is en wat voor niemand wegdraai nie” (Spreuke 30:30). Dít is hoe moedig Christus is.

6 Kom ons bespreek hoe Jesus op drie maniere moed soos dié van ’n leeu aan die dag gelê het: deur die waarheid te verdedig, deur geregtigheid te handhaaf en deur teenstand die hoof te bied. Ons sal ook sien dat ons almal Jesus kan navolg deur moed aan die dag te lê—hetsy ons van nature dapper is of nie.

Hy het die waarheid moedig verdedig

7-9. (a) Wat het gebeur toe Jesus 12 jaar oud was, en wat omtrent daardie situasie sou jy intimiderend gevind het? (b) Hoe het Jesus moed aan die dag gelê in sy bespreking met die onderrigters in die tempel?

7 In ’n wêreld waaroor Satan, “die vader van die leuen”, heers, verg dit dikwels moed om die waarheid te verdedig (Johannes 8:44; 14:30). Jesus het nie gewag totdat hy ’n volwassene was voordat hy so ’n standpunt ingeneem het nie. Toe Jesus 12 jaar oud was, is hy en sy ouers ná die Pasgafees in Jerusalem van mekaar geskei. Maria en Josef het drie dae lank naarstig na die seun gesoek. Hulle het hom uiteindelik in die tempel gevind. En wat het hy daar gedoen? Hy het “tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra” (Lukas 2:41-50). Dink aan die agtergrond van daardie gesprek.

8 Geskiedkundiges sê dat party van die vernaamste godsdiensleiers gewoonlik ná feeste by die tempel agtergebly het en by een van die ruim portale daar onderrig het. Mense het aan hulle voete gesit om te luister en vrae te vra. Hierdie onderrigters was geleerde manne. Hulle was goed vertroud met die Mosaïese Wet en ook met die oneindig komplekse mensgemaakte wette en tradisies wat deur die jare heen vermenigvuldig het. Hoe sou jy gevoel het as jy tussen hulle gesit het? Geïntimideerd? Dit sou net natuurlik wees. En sê nou jy was maar 12 jaar oud? Baie kinders is skaam (Jeremia 1:6). Party doen alles in hulle vermoë om by die skool nie die aandag van hulle onderwysers te trek nie; hierdie jongmense is bang om iets gevra te word, bang om uitgesonder te word, bang om dalk in die verleentheid gestel of gespot te word.

9 En tog vind ons Jesus hier, waar hy tussen daardie geleerde manne sit en hulle diep vrae vra, sonder om bang te wees. En hy het selfs meer gedoen. Die verslag sê vir ons: “Almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde” (Lukas 2:47). Die Bybel sê nie vir ons wat hy by daardie geleentheid gesê het nie, maar ons kan seker wees dat hy nie die valse leringe sou napraat wat so gewild was onder daardie godsdiensonderrigters nie (1 Petrus 2:22). Nee, hy het die waarheid van God se Woord verdedig, en sy toehoorders was ongetwyfeld verbaas dat ’n 12-jarige seun hom met soveel insig en moed kon uitdruk.

Baie Christenjongmense vertel ander moedig van hulle geloof

10. Hoe volg jong Christene Jesus se moed vandag na?

10 Vandag volg tallose jong Christene in Jesus se voetstappe. Hulle is weliswaar nie volmaak, soos die jong Jesus was nie. Maar, soos hy, wag hulle nie om volwassenes te word voordat hulle die waarheid verdedig nie. Op skool of in die gemeenskap waar hulle woon, vra hulle taktvol vrae aan mense, luister hulle na hulle en maak hulle respekvol die waarheid aan hulle bekend (1 Petrus 3:15). As ’n groep het hierdie jongmense klasmaats, onderwysers en bure gehelp om volgelinge van Christus te word. Hoe bly maak hulle moed Jehovah tog nie! Sy Woord vergelyk sulke jongmense met doudruppels—verfrissend, aangenaam en talryk.—Psalm 110:3.

11, 12. Hoe het Jesus as ’n volwassene moed aan die dag gelê wanneer hy die waarheid verdedig het?

11 As ’n volwassene het Jesus keer op keer moed aan die dag gelê wanneer hy die waarheid verdedig het. Trouens, sy bediening het begin met ’n konfrontasie wat deur baie as angswekkend beskryf sou word. Jesus het voor Satan, die magtigste en gevaarlikste van al Jehovah se vyande, te staan gekom—nie as die magtige aartsengel nie, maar as ’n blote mens van vlees en bloed. Jesus het Satan weerstaan en sy verkeerde toepassing van ’n geïnspireerde Skrifgedeelte weerlê. Jesus het die ontmoeting beëindig deur moedig te beveel: “Gaan weg, Satan!”—Matteus 4:2-11.

12 Op hierdie manier het Jesus die patroon vir sy bediening vasgelê deur sy Vader se Woord moedig te verdedig teen pogings om dit te verdraai of te misbruik. Destyds, soos vandag, was sulke godsdiensbedrog alte algemeen. Jesus het vir godsdiensleiers van sy dag gesê: “Julle [maak] die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle oorgedra het” (Markus 7:13). Die mense oor die algemeen het hoë agting vir hierdie manne gehad, maar Jesus het hulle vreesloos as blinde gidse en huigelaars veroordeel (Matteus 23:13, 16). a Hoe kan ons hierdie aspek van Jesus se moedige voorbeeld navolg?

13. Wat moet ons onthou terwyl ons Jesus navolg, maar watter voorreg het ons nogtans?

13 Ons moet natuurlik onthou dat ons nie, soos Jesus, harte kan lees of die gesag het om te oordeel nie. Maar ons kan die manier waarop hy die waarheid moedig verdedig het, navolg. Deur valse godsdiensleringe bloot te lê—die leuens wat so dikwels oor God, sy voornemens en sy Woord verkondig word—verskaf ons lig in ’n wêreld wat deur Satan se propaganda verduister word (Matteus 5:14; Openbaring 12:9, 10). Ons help om mense te bevry van slawerny aan valse leringe wat hulle hart vul met morbiede vrees en wat hulle verhouding met God skaad. Wat ’n voorreg het ons tog om te sien hoe hierdie belofte van Jesus vervul word: “Die waarheid sal julle vrymaak”!—Johannes 8:32.

Hy het geregtigheid moedig gehandhaaf

14, 15. (a) Wat is een manier waarop Jesus duidelik gemaak het “wat geregtigheid is”? (b) Watter vooroordele het Jesus geïgnoreer toe hy met ’n Samaritaanse vrou gepraat het?

14 Bybelprofesieë het voorspel dat die Messias aan die nasies sou duidelik maak “wat geregtigheid is” (Matteus 12:18; Jesaja 42:1). Jesus het dit beslis begin doen terwyl hy hier op die aarde was. Met groot moed het hy getoon dat hy altyd regverdig en onpartydig was in sy handelinge met mense. Hy het byvoorbeeld geweier om met die onskriftuurlike vooroordele en bekrompenheid saam te gaan wat so algemeen was in die wêreld om hom.

15 Toe Jesus by die put van Sigar met ’n Samaritaanse vrou gepraat het, was sy dissipels verbaas. Waarom? In daardie dae het die Jode oor die algemeen die Samaritane gehaat; hierdie veragting het al baie, baie jare lank bestaan (Esra 4:4). Verder het party rabbi’s neergesien op vroue. Die rabbynse reëls, wat later op skrif gestel is, het ’n man daarvan afgeraai om met ’n vrou ’n gesprek te voer; dit het selfs te kenne gegee dat vroue dit nie waardig is om God se Wet geleer te word nie. Veral Samaritaanse vroue is as onrein beskou. Jesus het sulke onregverdige vooroordele geïgnoreer en die Samaritaanse vrou (wat ’n onsedelike lewe gelei het) in die openbaar onderrig, en hy het selfs sy identiteit as die Messias aan haar geopenbaar.—Johannes 4:5-27.

16. Waarom het Christene die moed nodig om anders te wees wat vooroordeel betref?

16 Het jy jou al ooit in die geselskap bevind van mense wat lelike vooroordele koester? Miskien maak hulle minagtende grappe oor mense van ’n ander ras of nasie, of hulle praat neerhalend van lede van die teenoorgestelde geslag, of hulle kyk neer op dié uit ’n ander ekonomiese of sosiale klas. Volgelinge van Christus keur nie sulke haatlike beskouings goed nie, en hulle span hulle kragtig in om enige spoor van vooroordeel uit hulle hart te verdryf (Handelinge 10:34). Elkeen van ons moet die moed aankweek om in hierdie verband regverdig te wees.

17. Wat het Jesus in die tempel gedoen, en waarom?

17 Moed het Jesus ook laat veg vir die reinheid van God se volk en die reëling vir rein aanbidding. Vroeg in sy bediening het hy in die tempelgebied in Jerusalem ingegaan en was hy geskok om te sien hoe koopmanne en geldwisselaars daar sake doen. Jesus was vervul met regverdige verontwaardiging en het daardie gierige manne en hulle handelsware daar uitgegooi (Johannes 2:13-17). Hy het dit na aan die einde van sy bediening weer gedoen (Markus 11:15-18). Deur dit te doen, het hy beslis ’n paar magtige vyande gemaak, maar hy het nie geskroom nie. Waarom nie? Van sy kinderjare af het hy daardie tempel sy Vader se huis genoem—en hy het dit bedoel (Lukas 2:49). Die besoedeling van die rein aanbidding wat daar beoefen is, was ’n onreg wat hy nooit sou duld nie. Sy ywer het hom die moed gegee om te doen wat nodig was.

18. Hoe kan Christene vandag moed aan die dag lê wat die reinheid van die gemeente betref?

18 Christus se volgelinge is vandag ook baie besorg oor die reinheid van God se volk en die reëling vir rein aanbidding. As hulle sien dat ’n mede-Christen by ernstige oortreding betrokke raak, sluit hulle nie net hulle oë daarvoor nie. Hulle rapporteer dit moedig (1 Korintiërs 1:11). Hulle sorg dat die gemeentelike ouer manne ingelig word. Die ouer manne kan diegene help wat geestelik siek is en kan ook optree om die rein posisie van Jehovah se skape te bewaar.—Jakobus 5:14, 15.

19, 20. (a) Watter onregte was algemeen in Jesus se dag, en watter druk is op Jesus geplaas? (b) Waarom weier Christus se volgelinge om by die politiek en geweld betrokke te raak, en wat is een beloning vir hulle standpunt?

19 Moet ons dan tot die slotsom kom dat Jesus teen alle maatskaplike onregte in die wêreld geveg het? Daar was beslis onregte oral om hom. Sy tuisland is deur ’n buitelandse moondheid beset. Die Romeine het die Jode onderdruk met ’n kragtige militêre teenwoordigheid, het hulle swaar belastings opgelê en selfs met hulle godsdiensgebruike ingemeng. Dit is geen wonder dat baie mense wou hê dat Jesus by die politiek van sy dag betrokke moes raak nie (Johannes 6:14, 15). Weer eens moes hy moed aan die dag lê.

20 Jesus het verduidelik dat sy Koninkryk geen deel van die wêreld is nie. Deur sy voorbeeld het hy sy volgelinge opgelei om uit die politieke gevegte van die tyd te bly en om hulle eerder daarop toe te spits om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Johannes 17:16; 18:36). Hy het hulle ’n kragtige les met betrekking tot neutraliteit geleer toe die gepeupel gekom het om hom in hegtenis te neem. Petrus het gou gereageer en het sy swaard impulsief geswaai en ’n man beseer. Dit is maklik om met Petrus te simpatiseer. As geweld ooit geregverdig gelyk het, was dit daardie nag, toe God se onskuldige Seun aangeval is. Maar op daardie oomblik het Jesus die standaard vasgestel wat vandag nog vir sy volgelinge geld: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:51-54). Vir Christus se volgelinge het dit moed geverg om so ’n vreedsame standpunt in te neem, soos dit vandag ook moed verg. As gevolg van hulle Christelike neutraliteit het God se volk vandag ’n skoon rekord met betrekking tot al die hedendaagse oorloë, slagtings, onluste en soortgelyke gewelddade. Daardie vlekkelose rekord is een beloning vir hulle moed.

Hy het teenstand moedig die hoof gebied

21, 22. (a) Watter hulp het Jesus ontvang voordat hy die swaarste beproewing van sy lewe moes deurstaan? (b) Hoe het Jesus tot die einde toe moedig gebly?

21 Jehovah se Seun het lank voor die tyd geweet dat hy hier op die aarde voor hewige teenstand te staan sou kom (Jesaja 50:4-7). Sy lewe was dikwels in gevaar, wat uiteindelik gelei het tot die situasie wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is. Hoe het Jesus moedig gebly ten spyte van sulke gevare? Wel, wat het Jesus gedoen voordat daardie gepeupel gekom het om hom in hegtenis te neem? Hy het vurig tot Jehovah gebid. En wat het Jehovah gedoen? Die Bybel sê vir ons dat Jesus “verhoor” is (Hebreërs 5:7). Jehovah het ’n engel uit die hemel gestuur om sy moedige Seun te versterk.—Lukas 22:42, 43.

22 Kort nadat Jesus versterk is, het hy vir sy apostels gesê: “Staan op, laat ons gaan” (Matteus 26:46). Dink aan die moed waarvan hierdie woorde getuig. “Laat ons gaan”, het hy gesê, al het hy geweet dat hy die oproerige skare sou vra om sy vriende te spaar, al het hy geweet dat daardie metgeselle hom in die steek sou laat en vlug, al het hy geweet dat hy alleen verder sou gaan en die swaarste beproewing van sy lewe sou moes verduur. Hy het ’n onwettige en onregverdige verhoor, bespotting, marteling en ’n pynlike dood alleen deurgemaak. Maar deur dit alles het sy moed hom nooit begewe nie.

23. Verduidelik waarom Jesus nie onverskillig was in die manier waarop hy gevaar en die dood tegemoetgegaan het nie.

23 Was Jesus onverskillig? Nee; onverskilligheid het niks te doen met ware moed nie. Trouens, Jesus het sy volgelinge geleer dat hulle versigtig moet wees, dat hulle met omsigtigheid uit gevaarlike situasies moet probeer kom sodat hulle kan voortgaan om God se wil te doen (Matteus 4:12; 10:16). Maar in hierdie geval het Jesus geweet dat daar geen uitkomkans was nie. Hy het geweet wat God se wil behels. Jesus was vasbeslote om sy onkreukbaarheid te handhaaf, en daarom moes hy deurdruk en die beproewing aandurf.

Jehovah se Getuies het moed aan die dag gelê ondanks vervolging

24. Waarom kan ons seker wees dat ons moedig sal kan wees ondanks enige beproewing waarvoor ons te staan kom?

24 Hoe dikwels tog het Jesus se volgelinge moedig in hulle Heer se voetstappe gevolg! Baie het standvastig gebly ondanks bespotting, vervolging, inhegtenisname, gevangenisstraf, marteling en selfs die dood. Waar kry onvolmaakte mense sulke moed vandaan? Dit kom nie bloot uit hulleself nie. Net soos Jesus hulp van bo gekry het, kry sy volgelinge dit ook (Filippense 4:13). Moet dus nooit bang wees vir wat die toekoms inhou nie. Wees vasbeslote om jou onkreukbaarheid te handhaaf, en Jehovah sal jou die nodige moed gee. Hou aan om krag te put uit die voorbeeld van ons Leier, Jesus, wat gesê het: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 16:33.

a Geskiedkundiges het opgemerk dat die grafte van die rabbi’s byna net soveel vereer is as die grafte van profete en aartsvaders.