HOOFSTUK DRIE
“Ek is . . . nederig van hart”
1-3. Hoe kom Jesus Jerusalem binne, en waarom is party in die skare toeskouers dalk verbaas?
JERUSALEM gons van opgewondenheid. ’n Baie belangrike man is op pad daarheen! Buite die stad drom mense langs die pad saam. Hulle is gretig om hierdie man te verwelkom, want party sê dat hy ’n erfgenaam van koning Dawid en die regmatige Heerser van Israel is. Party bring palmtakke om as begroeting te waai; ander sprei kledingstukke en takke van die bome op die pad uit om die pad voor hom gelyk te maak (Matteus 21:7, 8; Johannes 12:12, 13). Baie wonder waarskynlik hoe hy die stad gaan binnekom.
2 Party verwag dalk ’n spoggerige vertoon. Hulle weet ongetwyfeld van belangrike mense wie se intogte met groot vertoon gepaardgegaan het. Byvoorbeeld, Dawid se seun Absalom het homself koning verklaar; hy het 50 manne voor sy wa laat hardloop (2 Samuel 15:1, 10). Die Romeinse heerser Julius Caesar het op ’n selfs groter ophef aangedring; hy het eenkeer ’n triomftog na die Romeinse kapitool gelei, met 40 olifante wat lampe gedra het aan weerskante van hom! Maar nou wag die inwoners van Jerusalem op ’n baie belangriker man. Hetsy die skares dit ten volle verstaan of nie, dit is die Messias, die grootste mens wat nog geleef het. Maar wanneer hierdie toekomstige Koning in die stad inkom, sal party dalk verbaas wees.
3 Hulle sien geen wa, geen hardlopers, geen perde—en beslis geen olifante nie. Nee, Jesus ry op ’n nederige lasdier, ’n esel. a Nóg die ruiter nóg sy rydier is met spoggerige tooisels versier. Jesus se naaste volgelinge het ’n paar kledingstukke oor die dier se rug gegooi, pleks van ’n duur saal te gebruik. Waarom kom Jesus Jerusalem op so ’n nederige manier binne, terwyl manne wat nie naastenby so belangrik was soos hy nie, op veel groter prag en praal aangedring het?
4. Wat het die Bybel voorspel oor die manier waarop die Messiaanse Koning Jerusalem sou binnekom?
4 Jesus doen dit ter vervulling van ’n profesie: “Wees baie bly . . . Roep triomfantlik uit, o dogter van Jerusalem. Kyk! Jou koning kom na jou toe. Hy is regverdig, ja, gered; nederig, en hy ry op ’n esel” (Sagaria 9:9). Hierdie profesie het getoon dat God se Gesalfde, die Messias, hom eendag as die goddelik aangestelde Koning aan die inwoners van Jerusalem sou openbaar. Verder sou die manier waarop hy dit doen, met inbegrip van sy keuse van rydier, ’n pragtige eienskap van sy hart openbaar—nederigheid.
5. Waarom raak Jesus se nederigheid ’n mens se hart, en waarom is dit noodsaaklik dat ons leer om Jesus in hierdie opsig na te volg?
5 Jesus se nederigheid is een van sy aantreklikste eienskappe, iets wat werklik die hart raak. Soos ons in die vorige hoofstuk bespreek het, is net Jesus “die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Dit is duidelik dat nie een van die miljarde mense wat op hierdie aarde gelewe het, naastenby so belangrik was soos God se Seun nie. En tog was daar in Jesus nie eers ’n sweempie van die trots, die hoogmoed of die verwaandheid wat in tallose onvolmaakte mense aangetref word nie. Om volgelinge van Christus te wees, moet ons stry teen die neiging om trots te wees (Jakobus 4:6). Onthou, Jehovah haat hoogmoed. Dit is dus noodsaaklik dat ons leer om Jesus se nederigheid na te volg.
’n Lang rekord van nederigheid
6. Wat is nederigheid, en hoe het Jehovah geweet dat die Messias nederig sou wees?
6 Nederigheid is ootmoed, ’n afwesigheid van hoogmoed of trots. Dit is ’n eienskap wat in die hart begin en in ’n persoon se spraak, gedrag en handelinge met ander na vore kom. Hoe het Jehovah geweet dat die Messias nederig sou wees? Hy het geweet dat sy Seun Sy eie volmaakte voorbeeld van nederigheid weerspieël (Johannes 10:15). Hy het ook die Seun se nederigheid in aksie gesien. Hoe so?
7-9. (a) Hoe het Migael nederigheid aan die dag gelê in sy konfrontasie met Satan? (b) Hoe kan Christene Migael navolg in die manier waarop hy nederigheid geopenbaar het?
7 Die boek Judas voorsien ’n fassinerende voorbeeld: “Toe Migael, die aartsengel, met die Duiwel ’n geskil gehad en oor Moses se liggaam getwis het, het hy nie met smadende woorde ’n oordeel oor hom durf uitspreek nie, maar gesê: ‘Mag Jehovah jou bestraf’” (Judas 9). Migael is ’n naam wat betrekking het op Jesus—voor en ná sy lewe op die aarde—in sy rol as die aartsengel, of die hoof van Jehovah se hemelse leër van engele (1 Tessalonisense 4:16). b Let egter op hoe Migael hierdie konfrontasie met Satan hanteer het.
8 Judas se verslag sê nie vir ons wat Satan met Moses se liggaam wou doen nie, maar ons kan seker wees dat die Duiwel die een of ander bose plan daarmee gehad het. Moontlik wou hy mense probeer kry om daardie getroue man se oorskot in valse aanbidding te gebruik. Hoewel Migael Satan se goddelose plan weerstaan het, het hy ook merkwaardige selfbeheersing aan die dag gelê. Satan het sekerlik verdien om bestraf te word, maar Migael, wat op die tyd toe hy met Satan getwis het, nog nie “die oordeel geheel en al” ontvang het nie, het gevoel dat so ’n veroordeling alleenlik van Jehovah God af moes kom (Johannes 5:22). As aartsengel het Migael groot gesag gehad. Maar hy het hom nederig aan Jehovah onderwerp eerder as om nog gesag vir homself te probeer inpalm. Hy het dus nederigheid sowel as beskeidenheid, of ’n bewustheid van sy beperkings, geopenbaar.
9 Judas is met goeie rede geïnspireer om oor hierdie voorval te skryf. Ongelukkig was party Christene in Judas se dag nie nederig nie. Hulle het op hoogmoedige wyse ‘smadend gepraat van alles wat hulle in werklikheid nie geken het nie’ (Judas 10). Hoe maklik is dit tog vir ons as onvolmaakte mense om toe te laat dat ons trots die oorhand oor ons kry! Hoe reageer ons wanneer ons iets wat in die Christengemeente gedoen word, nie verstaan nie—moontlik ’n besluit wat deur die liggaam van ouer manne geneem is? Openbaar ons nie dalk ’n gebrek aan nederigheid as ons ons aan negatiewe, kritiese praatjies skuldig maak al kan ons nie kennis dra van al die faktore wat by sulke besluite betrokke is nie? Laat ons eerder Migael, of Jesus, navolg en ons daarvan weerhou om sake te beoordeel waaroor ons geen godgegewe gesag het nie.
10, 11. (a) Wat is merkwaardig omtrent die bereidwilligheid van God se Seun om die toewysing te aanvaar om na die aarde toe te kom? (b) Hoe kan ons Jesus se nederigheid navolg?
10 God se Seun het ook nederigheid geopenbaar deur die toewysing te aanvaar om na die aarde toe te kom. Dink aan wat hy moes agterlaat. Hy was die aartsengel. Hy was ook “die Woord”—Jehovah se eie Woordvoerder (Johannes 1:1-3). Hy het in die hemel gewoon, Jehovah se “verhewe woning van heiligheid en luisterrykheid” (Jesaja 63:15). Nietemin het die Seun “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:7). Dink aan wat sy aardse toewysing behels het! Sy lewe is na die baarmoeder van ’n Joodse maagd oorgedra, waar dit nege maande lank sou ontwikkel om ’n mensebaba te word. Hy is as ’n hulpelose babatjie as deel van die huisgesin van ’n arm timmerman gebore en het toe ’n kleuter, ’n seuntjie en ’n tiener geword. Hoewel hy volmaak was, het hy deur sy hele jong lewe onderdanig gebly aan onvolmaakte menseouers (Lukas 2:40, 51, 52). Watter buitengewone nederigheid!
11 Kan ons Jesus se nederigheid navolg deur gewillig te wees om dienstoewysings te aanvaar wat dalk nederig lyk? Byvoorbeeld, ons toewysing om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, lyk dalk na ’n nederige werk wanneer ons te doen kry met mense wat onverskillig is, ons bespot of vyandiggesind is (Matteus 28:19, 20). Maar as ons in hierdie werk volhard, kan ons help om lewens te red. Hoe dit ook al sy, ons sal baie omtrent nederigheid leer, en ons sal die voetstappe van ons Heer, Jesus Christus, volg.
Jesus se nederigheid as ’n mens
12-14. (a) Hoe het Jesus nederigheid geopenbaar wanneer mense hom geprys het? (b) Op watter maniere het Jesus ander met nederigheid behandel? (c) Wat toon dat Jesus se nederigheid nie net ’n formaliteit of goeie maniere was nie?
12 Van die begin tot die end is Jesus se aardse bediening deur nederigheid gekenmerk. Hy het dit geopenbaar in die manier waarop hy al die lof en eer aan sy Vader gegee het. Soms het mense Jesus geprys vir sy wyse woorde, sy kragtige wonderwerke, selfs vir sy edel karakter. Keer op keer het Jesus die eer wat mense hom wou gee, van homself weggekeer en dit aan Jehovah gegee.—Markus 10:17, 18; Johannes 7:15, 16.
13 Jesus het nederigheid geopenbaar in die manier waarop hy mense behandel het. Om die waarheid te sê, hy het dit duidelik gestel dat hy na die aarde toe gekom het, nie om gedien te word nie, maar om ander te dien (Matteus 20:28). Hy het nederigheid geopenbaar deur die saggeaarde, redelike manier waarop hy mense behandel het. Wanneer sy volgelinge hom teleurgestel het, het hy hulle nie oor die kole gehaal nie; hy het aangehou om hulle hart te probeer bereik (Matteus 26:39-41). Wanneer die skares sy aandag wou hê wanneer hy ’n bietjie wou rus of alleen wou wees, het hy hulle nie weggestuur nie; hy het aangehou om van homself te gee en het hulle “baie dinge” geleer (Markus 6:30-34). Toe ’n nie-Israelitiese vrou hom bly smeek het om haar dogter te genees, het hy aanvanklik aangedui dat hy dit nie sou doen nie. Maar hy het nie kortaf geweier nie; hy het toegegee as gevolg van haar buitengewone geloof, soos ons in Hoofstuk 14 sal bespreek.—Matteus 15:22-28.
14 Jesus het op tallose maniere geleef in ooreenstemming met wat hy van homself gesê het: “Ek is saggeaard en nederig van hart” (Matteus 11:29). Sy nederigheid was nie oppervlakkig, ’n blote formaliteit of goeie maniere nie. Dit het uit sy hart, sy diepste wese, gekom. Dit is dan geen wonder nie dat dit vir Jesus baie belangrik was om sy volgelinge te leer om nederig te wees!
Hy leer sy volgelinge om nederig te wees
15, 16. Op watter teenstelling tussen die gesindheid van wêreldse heersers en die gesindheid wat sy volgelinge moes aankweek, het Jesus die aandag gevestig?
15 Dit het Jesus se apostels lank geneem om nederigheid aan te kweek. Jesus moes keer op keer tot hulle probeer deurdring. Jakobus en Johannes het byvoorbeeld eenkeer deur hulle moeder gevra dat Jesus belowe om aan hulle hoë posisies in God se Koninkryk te gee. Jesus het beskeie geantwoord: “Om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie dit deur my Vader berei is.” Die ander tien apostels was “verontwaardig” teenoor Jakobus en Johannes (Matteus 20:20-24). Hoe het Jesus hierdie probleem hanteer?
16 Hy het hulle almal vriendelik reggehelp en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen. Onder julle is dit nie so nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:25-27). Die apostels het heel moontlik gesien hoe trots, ambisieus en selfsugtig “die heersers van die nasies” kan wees. Jesus het getoon dat sy volgelinge anders as daardie magsugtige tiranne moes wees. Hulle moes nederig wees. Het die apostels die punt gesnap?
17-19. (a) Hoe het Jesus sy apostels op die aand voor sy dood ’n onvergeetlike les oor nederigheid geleer? (b) Wat was die kragtigste les in nederigheid wat Jesus as ’n mens aan ander geleer het?
17 Dit was nie vir hulle maklik nie. Dit was nie die eerste of die laaste keer dat Jesus hulle hierdie les geleer het nie. Vroeër, toe hulle gestry het oor wie van hulle die grootste is, het hy ’n kindjie tussen hulle laat staan en vir hulle gesê dat hulle meer soos kinders moet wees, wat nie geneig is om so trots, ambisieus en besorg oor posisie te wees as wat baie volwassenes is nie (Matteus 18:1-4). Nietemin het hy, op die aand voor sy dood, gesien dat sy apostels nog altyd ’n probleem het met trots. Toe het hy hulle ’n onvergeetlike les geleer. Hy het ’n handdoek om hom vasgemaak en die nederigste taak verrig, iets wat diensknegte destyds gewoonlik vir gaste gedoen het. Jesus het die voete van elkeen van sy apostels gewas—ook dié van Judas, wat op die punt gestaan het om hom te verraai!—Johannes 13:1-11.
18 Jesus het die punt duidelik tuisgebring toe hy vir hulle gesê het: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel” (Johannes 13:15). Het hierdie les uiteindelik hulle hart bereik? Wel, later daardie aand het hulle weer ’n keer gestry oor wie die grootste onder hulle is! (Lukas 22:24-27). Nietemin was Jesus steeds geduldig met hulle en het hy hulle nederig geleer. Toe het hy hulle die allerkragtigste les geleer: “Hy [het] homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filippense 2:8). Jesus het gewillig toegelaat dat hy op ’n vernederende wyse doodgemaak word, ten onregte veroordeel as ’n misdadiger en ’n godslasteraar. God se Seun het daardeur getoon dat hy uniek is, want uit al Jehovah se skepsele is hy die volmaakte beliggaming van nederigheid.
19 Moontlik was dit hierdie finale les in nederigheid wat Jesus as ’n mens aan ander geleer het, wat die onderwerp so onuitwisbaar in die harte van sy getroue apostels ingeprent het. Die Bybel sê vir ons dat hierdie manne jare, selfs dekades, later nog nederig aan die werk was. Wat van ons?
Sal jy die voorbeeld volg wat Jesus gestel het?
20. Hoe kan ons vasstel of ons nederig van hart is?
20 Paulus vermaan elkeen van ons: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5). Soos Jesus, moet ons nederig van hart wees. Hoe kan ons vasstel of nederigheid in ons hart is? Wel, Paulus herinner ons dat ons ‘niks uit twisgierigheid of uit egotisme moet doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as onsself moet ag’ (Filippense 2:3). Die antwoord lê dus in die manier waarop ons ander in verhouding tot onsself beskou. Ons moet hulle as hoër, belangriker as onsself beskou. Sal jy daardie raad toepas?
21, 22. (a) Waarom moet Christenopsieners nederig wees? (b) Hoe kan ons toon dat ons met nederigheid omgord is?
21 Baie jare ná Jesus se dood het die apostel Petrus nog steeds oor die belangrikheid van nederigheid gedink. Petrus het Christen- ouer manne geleer om hulle pligte nederig na te kom en nooit baas te speel oor Jehovah se skape nie (1 Petrus 5:2, 3). As iemand verantwoordelikheid het, gee dit hom nie die reg om trots te wees nie. Inteendeel, vir iemand met verantwoordelikheid is dit selfs belangriker om werklik nederig te wees (Lukas 12:48). Hierdie eienskap is natuurlik nie net vir opsieners noodsaaklik nie, maar vir elke Christen.
22 Petrus het die nag toe Jesus—ten spyte van Petrus se besware—sy voete gewas het, sekerlik nooit vergeet nie! (Johannes 13:6-10). Petrus het aan Christene geskryf: “Omgord julle almal met ootmoed teenoor mekaar” (1 Petrus 5:5). Die uitdrukking “omgord julle” dui op die aksie van ’n dienskneg wat ’n voorskoot om hom vasmaak om nederige werk te doen. Die frase laat ons heel moontlik dink aan die geleentheid toe Jesus ’n handdoek om hom vasgemaak het voordat hy gekniel het om sy dissipels se voete te was. Is daar enige godgegewe toewysing wat ons ooit as benede ons waardigheid sal beskou as ons Jesus navolg? Die nederigheid van ons hart moet vir almal sigbaar wees, asof ons daarmee omgord is.
23, 24. (a) Waarom moet ons enige neiging tot hoogmoed weerstaan? (b) Watter verkeerde idee met betrekking tot nederigheid sal die volgende hoofstuk help om reg te stel?
23 Hoogmoed is soos gif. Die uitwerking daarvan kan verwoestend wees. Dit is ’n eienskap wat die mees begaafde mens vir God nutteloos kan maak. Aan die ander kant kan nederigheid selfs die geringste persoon vir Jehovah baie nuttig maak. As ons hierdie kosbare eienskap daagliks aankweek deur nederig in die voetstappe van Christus te probeer wandel, wag ’n wonderlike beloning op ons. Petrus het geskryf: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef” (1 Petrus 5:6). Jehovah het Jesus beslis verhef omdat hy homself so volkome verneder het. Net so sal dit aan ons God vreugde verskaf om jou vir jou nederigheid te beloon.
24 Ongelukkig dink party dat nederigheid ’n teken van swakheid is. Jesus se voorbeeld help ons om te sien hoe verkeerd daardie idee is, want die nederigste mens was ook die moedigste. Die volgende hoofstuk sal daaroor handel.
a In ’n bespreking van hierdie gebeurtenis sê een naslaanwerk dat esels “nederige diere is” en voeg by: “Hulle is stadig, steeks, die gewone lasdier van die armes en nie juis baie mooi nie.”
b Vir meer bewyse dat Migael Jesus is, sien bladsye 218-19 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.