Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DERTIEN

‘Ek het die Vader lief’

‘Ek het die Vader lief’

1, 2. Wat het die apostel Johannes geopenbaar oor die laaste aand wat die apostels saam met Jesus deurgebring het?

 ’N BEJAARDE man doop sy pen in ink, sy gedagtes vol herinneringe. Sy naam is Johannes, en hy is die laaste lewende apostel van Jesus Christus. Johannes is nou omtrent 100 jaar oud en hy dink terug aan ’n onvergeetlike aand sowat sewe dekades gelede—die laaste aand wat hy en sy medeapostels saam met Jesus deurgebring het voor Sy dood. Met God se heilige gees wat hom lei, kan Johannes die gebeure in fyn besonderhede onthou en neerskryf.

2 Daardie nag het Jesus dit duidelik gestel dat hy binnekort doodgemaak gaan word. Net Johannes openbaar die rede waarom Jesus gesê het dat hy hom aan daardie verskriklike lot sou onderwerp: “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet, doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen. Staan op, laat ons hiervandaan gaan.”—Johannes 14:31.

3. Hoe het Jesus getoon dat hy sy Vader liefhet?

3 ‘Ek het die Vader lief.’ Niks was vir Jesus belangriker as dit nie. Hy het hierdie woorde nie aanhoudend herhaal nie. Trouens, Johannes 14:31 is die enigste plek in die Bybelverslag waar Jesus sy liefde vir sy Vader so direk uitspreek. Maar Jesus het daardie woorde wel uitgeleef. Sy liefde vir Jehovah kon elke dag gesien word. Jesus se moed, sy gehoorsaamheid en sy volharding was alles ’n bewys van sy liefde vir God. Sy hele bediening is deur hierdie liefde aangedryf.

4, 5. Watter soort liefde moedig die Bybel aan, en wat kan gesê word van Jesus se liefde vir Jehovah?

4 Vandag dink party mense dalk aan liefde as ’n sagte eienskap. Hulle dink dalk aan liefdesgedigte en liefdesliedjies, moontlik selfs aan die euforie wat soms met romantiese liefde geassosieer word. Die Bybel bespreek wel romantiese liefde, maar op ’n waardiger manier as wat deesdae algemeen is (Spreuke 5:15-21). God se Woord bestee egter baie meer tyd daaraan om ’n ander soort liefde te bespreek. Hierdie liefde is nie blote hartstog of ’n vlietende emosie nie; dit is ook nie ’n droë, intellektuele filosofie nie. Die hart sowel as die verstand is hierby betrokke. Hierdie liefde spruit uit ’n mens se diepste wese voort, dit word gerig deur en is in harmonie met edele beginsels en kom tot uiting in positiewe optrede. Dit is allesbehalwe oppervlakkig. “Die liefde faal nooit nie”, sê God se Woord.—1 Korintiërs 13:8.

5 Van al die mense wat ooit gelewe het, was Jesus die een wat die grootste liefde vir Jehovah gehad het. Niemand het die woorde wat Jesus as die grootste van al God se gebooie aangehaal het, “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag”, in groter mate nageleef as hy nie (Markus 12:30). Hoe het Jesus sulke liefde aangekweek? Hoe het hy sy liefde vir God sterk gehou gedurende sy tyd op die aarde? En hoe kan ons hom navolg?

Die oudste en hegste band van liefde

6, 7. Hoe weet ons dat Spreuke 8:22-31 God se Seun beskryf, nie net wysheid as eienskap nie?

6 Het jy al ooit saam met ’n vriend aan ’n projek gewerk en gevind dat julle twee as gevolg daarvan beter, hegter vriende geword het? Daardie aangename ondervinding kan ’n mens ’n bietjie insig gee in die liefde wat tussen Jehovah en sy enigverwekte Seun ontwikkel het. Ons het al ’n paar keer na Spreuke 8:30 verwys, maar kom ons kyk ’n bietjie van naderby na daardie vers in sy konteks. In verse 22 tot 31 vind ons ’n geïnspireerde beskrywing van die verpersoonliking van wysheid. Hoe weet ons dat hierdie woorde na God se Seun verwys?

7 In vers 22 sê wysheid: “Jehovah het my voortgebring as die begin van sy weg, die vroegste van sy werke van lank gelede.” Meer as net wysheid moet hier ter sprake wees, want dié eienskap is nooit “voortgebring” nie. Dit het nooit begin bestaan nie, want Jehovah het nog altyd bestaan, en hy was nog altyd wys (Psalm 90:2). God se Seun was egter “die eersgeborene van die hele skepping”. Hy is voortgebring, of geskep; hy was die vroegste van al Jehovah se werke (Kolossense 1:15). Die Seun het voor die aarde en die hemel bestaan, soos in Spreuke beskryf word. En as die Woord, God se Woordvoerder, was hy die volmaakte beliggaming van Jehovah se wysheid.—Johannes 1:1.

8. Waarmee was die Seun besig gedurende sy voormenslike bestaan, en waaraan kan ons dink wanneer ons die skepping bewonder?

8 Waarmee was die Seun besig gedurende die lang tyd voordat hy na die aarde toe gekom het? Vers 30 sê vir ons dat hy naas God was as “’n meesterwerker”. Wat beteken dit? Kolossense 1:16 verduidelik: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep . . . Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskep.” Jehovah, die Skepper, het dus deur sy Seun, die Meesterwerker, gewerk om elke ander skeppingswerk voort te bring—van die geesskepsele in die hemelse ryk tot die ontsaglike fisiese heelal, tot die aarde met sy wonderlike verskeidenheid plante- en dierelewe, tot die toppunt van die aardse skepping: die mens. In sekere opsigte kan ons hierdie samewerking tussen Vader en Seun vergelyk met dié van ’n argitek wat saam met ’n bouer, of kontrakteur, werk wat daarin spesialiseer om die argitek se vindingryke ontwerpe ’n werklikheid te maak. Wanneer enige aspek van die skepping ontsag by ons wek, gee ons eintlik eer aan die Groot Argitek (Psalm 19:1). Maar ons kan ook dink aan die lang en gelukkige samewerking tussen die Skepper en sy “meesterwerker”.

9, 10. (a) Wat het die band tussen Jehovah en sy Seun hegter laat word? (b) Wat kan jou band met jou hemelse Vader hegter laat word?

9 Wanneer twee onvolmaakte mense baie moet saam werk, is dit soms vir hulle moeilik om oor die weg te kom. Maar nie Jehovah en sy Seun nie! Die Seun het derduisende jare lank saam met die Vader gewerk en was “die hele tyd voor hom verheug” (Spreuke 8:30). Ja, hy het sy Vader se geselskap geniet, en die gevoel was wederkerig. Die Seun het natuurlik al hoe meer soos sy Vader geword en geleer om God se eienskappe na te volg. Dit is dan geen wonder dat die band tussen Vader en Seun so heg geword het nie! Dit kan tereg die oudste en hegste band van liefde in die ganse heelal genoem word.

10 Maar wat kan dit vir ons beteken? Jy voel dalk dat jy nooit so ’n band met Jehovah kan opbou nie. Toegegee, niemand van ons het die verhewe posisie van die Seun nie. Maar ons het ’n merkwaardige geleentheid. Onthou dat Jesus nader aan sy Vader gekom het deur saam met Hom te werk. Jehovah bied liefdevol aan ons die geleentheid om sy “medewerkers” te wees (1 Korintiërs 3:9). Wanneer ons Jesus se voorbeeld in die bediening volg, moet ons altyd in gedagte hou dat ons God se medewerkers is. Die band van liefde wat ons met Jehovah verenig, word dus voortdurend sterker. Is daar enige groter voorreg?

Hoe Jesus sy liefde vir Jehovah sterk gehou het

11-13. (a) Waarom is dit nuttig om liefde as iets lewends te beskou, en hoe het Jesus as ’n jong seun sy liefde vir Jehovah sterk gehou? (b) Hoe het God se Seun getoon dat hy daarin belangstel om by Jehovah te leer, voordat hy aarde toe gekom het, asook later as ’n mens?

11 Dit is om verskeie redes nuttig om die liefde in ons hart as iets lewends te beskou. Soos ’n pragtige potplant, moet liefde gevoed en versorg word sodat dit kan groei en floreer. As dit verwaarloos word, nie gevoed word nie, kwyn en sterf dit. Jesus het nie sy liefde vir Jehovah as vanselfsprekend aangeneem nie. Hy het gesorg dat dit gedurende sy hele aardse lewe sterk bly en floreer. Kom ons kyk hoe hy dit gedoen het.

12 Dink weer aan die geleentheid toe Jesus as ’n jong seun by die tempel in Jerusalem was. Onthou sy woorde aan sy bekommerde ouers: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). As ’n jong seun het Jesus blykbaar nog niks van sy voormenslike bestaan onthou nie. Nogtans het hy intense liefde vir sy Vader, Jehovah, gehad. Hy het geweet dat sulke liefde natuurlikerwys in aanbidding tot uiting kom. Daar was dus geen plek op die aarde wat Jesus soveel aangetrek het as sy Vader se huis van rein aanbidding nie. Hy het daarna gesmag om daar te wees en het dit gehaat om daar weg te gaan. Maar hy was nie net ’n passiewe toeskouer nie. Hy was gretig om van Jehovah te leer en om te praat van wat hy geweet het. Sulke gevoelens het nie ontstaan toe hy 12 jaar oud was nie, en dit het ook nie op daardie ouderdom verdwyn nie.

13 In sy voormenslike bestaan het die Seun gretig by sy Vader geleer. ’n Profesie wat in Jesaja 50:4-6 opgeteken is, openbaar dat Jehovah sy Seun gespesialiseerde onderrigting gegee het vir sy rol as die Messias. Hoewel sulke onderrigting ingesluit het dat hy uitgevind het van party van die beproewinge wat Jehovah se Gesalfde sou moes verduur, het die Seun gretig geleer. Later, nadat Jesus na die aarde toe gekom het en tot volwassenheid gegroei het, was hy nog steeds gretig om na sy Vader se huis te gaan en aan die aanbidding en die opleiding deel te neem wat Jehovah wou hê daar bevorder moet word. Die Bybel vertel dus dat Jesus samekomste by die tempel en die sinagoge getrou bygewoon het (Lukas 4:16; 19:47). As ons wil hê dat ons liefde vir Jehovah lewend moet bly en moet aanhou floreer, moet ons ywerig wees om Christelike vergaderinge by te woon, waar ons Jehovah aanbid en toeneem in kennis van en waardering vir hom.

‘Hy het alleen teen die berg opgegaan om te bid’

14, 15. (a) Waarom wou Jesus alleen wees? (b) Hoe het Jesus se gebede tot sy Vader intimiteit en respek geopenbaar?

14 Jesus het ook sy liefde vir Jehovah sterk gehou deur gereeld te bid. Hoewel hy ’n vriendelike, gesellige mens was, is dit noemenswaardig dat hy dit geniet het om alleen te wees. Lukas 5:16 sê byvoorbeeld: “Hy het . . . in afsondering gebly in die woestyne en aangehou bid.” Net so ook sê Matteus 14:23: “Uiteindelik het hy, nadat hy die skare weggestuur het, alleen teen die berg opgegaan om te bid. Hoewel dit laat geword het, was hy alleen daar.” Jesus het op hierdie en ander tye verkies om alleen te wees, nie omdat hy ’n kluisenaar was of omdat hy nie gehou het van die geselskap van ander nie, maar omdat hy alleen wou wees met Jehovah sodat hy vryelik in gebed met sy Vader kon praat.

15 Wanneer Jesus gebid het, het hy soms die uitdrukking “Abba, Vader” gebruik (Markus 14:36). In Jesus se dag was “Abba” ’n intieme woord vir “vader”, ’n woord wat in die gesin gebruik is. Dit was dikwels een van die eerste woorde wat ’n kind geleer het. Nogtans was dit eerbiedig. Hoewel die woord die intimiteit geopenbaar het van die Seun wat met sy geliefde Vader praat, het dit ook van ’n diep respek vir Jehovah se vaderlike gesag getuig. Ons vind daardie kombinasie van intimiteit en respek in al Jesus se opgetekende gebede. In Johannes hoofstuk 17 het die apostel Johannes byvoorbeeld die lang en opregte gebed opgeteken wat Jesus gedurende Sy laaste nag gedoen het. Dit is voorwaar hartroerend om daardie gebed te bestudeer, en dit is noodsaaklik dat ons dit as voorbeeld gebruik—natuurlik nie deur Jesus se woorde te herhaal nie, maar deur maniere te vind om so dikwels as moontlik uit die hart met ons hemelse Vader te praat. As ons dit doen, sal dit ons liefde vir hom lewend en sterk hou.

16, 17. (a) Hoe het Jesus sy liefde vir sy Vader in woorde uitgedruk? (b) Hoe het Jesus sy Vader se vrygewigheid uitgebeeld?

16 Soos ons vroeër genoem het, het Jesus nie die woorde ‘Ek het die Vader lief’ oor en oor gesê nie. Maar hy het wel sy liefde vir sy Vader baie keer in woorde uitgedruk. Hoe so? Jesus self het gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde” (Matteus 11:25). In Deel 2 van hierdie boek het ons gesien dat Jesus lief was daarvoor om sy Vader te loof deur mense te help om Hom te leer ken. Hy het Jehovah byvoorbeeld met ’n vader vergelyk wat so gretig was om sy opstandige seun te vergewe dat hy vir die berouvolle jong man gewag het, hom van ver af gesien het en hom tegemoetgehardloop en omhels het (Lukas 15:20). Wie kan daardie gedeelte lees sonder om ontroer te word deur Jesus se beskrywing van Jehovah se liefde en vergifnis?

17 Jesus het sy Vader dikwels geloof vir Sy vrygewigheid. Hy het die voorbeeld van onvolmaakte ouers gebruik om te toon hoe seker ons kan wees dat ons Vader ons soveel heilige gees sal gee as wat ons nodig het (Lukas 11:13). Jesus het ook gepraat van die hoop wat die Vader so milddadig bied. Jesus het met verlange sy hoop uitgespreek om tot ’n plek in die hemel aan sy Vader se sy herstel te word (Johannes 14:28; 17:5). Hy het vir sy volgelinge vertel van die hoop wat Jehovah aan Christus se “klein kuddetjie” gebied het—naamlik om in die hemel te woon en aan die heerskappy van die Messiaanse Koning deel te hê (Lukas 12:32; Johannes 14:2). En hy het ’n sterwende kwaaddoener vertroos met die hoop op die lewe in die Paradys (Lukas 23:43). Deur op hierdie maniere van sy Vader se groot vrygewigheid te praat, is Jesus beslis gehelp om sy liefde vir Jehovah sterk te hou. Baie van Christus se volgelinge het gevind dat niks hulle liefde vir Jehovah of hulle geloof in hom sterker maak as om te praat van hom en die hoop wat hy bied aan diegene wat hom liefhet nie.

Sal jy Jesus se liefde vir Jehovah navolg?

18. Wat is die belangrikste manier waarop ons Jesus moet volg, en waarom?

18 Van al die maniere waarop ons Jesus moet volg, is nie een belangriker as dít nie: Ons moet Jehovah liefhê met ons hele hart, siel en verstand en met al ons krag (Lukas 10:27). Hierdie liefde word nie net gemeet aan die intensiteit van ons gevoelens nie, maar ook aan die dade wat ons verrig. Jesus was nie net tevrede om liefde vir sy Vader te voel, of om bloot te sê: ‘Ek het die Vader lief’ nie. Hy het gesê: “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet, doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen” (Johannes 14:31). Satan het aangevoer dat geen mens Jehovah uit onselfsugtige liefde sal dien nie (Job 2:4, 5). Om die beste moontlike antwoord op Satan se kwaadwillige laster te gee, het Jesus moedig uitgegaan en vir die wêreld gewys hoe lief hy sy Vader het. Hy was gehoorsaam en het selfs sy lewe opgeoffer. Sal jy Jesus volg? Sal jy vir die wêreld wys dat jy Jehovah God werklik liefhet?

19, 20. (a) Om watter belangrike redes wil ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon? (b) Hoe kan ons ons persoonlike studie, bepeinsing en gebed beskou?

19 Ons het ’n groot geestelike behoefte om sulke liefde te betoon. Jehovah het dus gereël dat ons só moet aanbid dat ons liefde vir ons Vader gevoed en versterk word. Wanneer jy Christelike vergaderinge bywoon, moet jy probeer onthou dat jy daar is om jou God te aanbid. Fasette van daardie aanbidding sluit in dat ons in opregtheid saam bid, lofliedere sing, aandagtig luister en deelneem waar moontlik. Sulke vergaderinge gee jou ook ’n geleentheid om mede-Christene aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). As jy Jehovah gereeld by Christelike vergaderinge aanbid, sal dit jou help om jou liefde vir God voortdurend te versterk.

20 Basies dieselfde kan gesê word van persoonlike studie, bepeinsing en gebed. Dink aan hierdie dinge as maniere om alleen met Jehovah te verkeer. Wanneer jy God se geskrewe Woord bestudeer en daaroor peins, dra Jehovah sy gedagtes aan jou oor. Wanneer jy bid, open jy jou hart vir hom. Onthou dat gebed meer behels as om net dinge van God te vra. Gebed is ook ’n geleentheid om Jehovah te dank vir die seëninge wat jy ontvang het en om hom te loof vir sy wonderlike werke (Psalm 146:1). Om Jehovah in die openbaar met vreugde en geesdrif te loof, is daarbenewens die beste manier om Jehovah te dank en te toon dat jy hom liefhet.

21. Hoe belangrik is liefde vir Jehovah, en wat sal in die volgende hoofstukke bespreek word?

21 Liefde vir God is die sleutel tot jou ewige geluk. Dit is al wat Adam en Eva nodig gehad het om suksesvol te wees—en dit is juis wat hulle nie aangekweek het nie. Dit is die belangrikste ding wat nodig is om enige toets van geloof te deurstaan, enige versoeking te weerstaan, enige beproewing te verduur. Dit is wat dit werklik beteken om ’n volgeling van Jesus te wees. Liefde vir God hou natuurlik verband met ons liefde vir ons medemens (1 Johannes 4:20). In die hoofstukke wat volg, sal ons ondersoek hoe Jesus sy liefde vir mense getoon het. In die volgende hoofstuk sal ons bespreek waarom soveel mense Jesus as genaakbaar beskou het.