Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VEERTIEN

‘Groot menigtes het na hom toe gekom’

‘Groot menigtes het na hom toe gekom’

“Laat die kindertjies na my toe kom”

1-3. Wat gebeur wanneer ouers hulle kinders na Jesus toe bring, en wat openbaar hierdie gebeurtenis omtrent Jesus?

 JESUS weet dat die einde van sy aardse lewe vinnig nader kom. Hy het net ’n paar weke oor, en daar is nog soveel om te doen! Hy preek saam met sy apostels in Perea, ’n streek oos van die Jordaanrivier. Hulle werk geleidelik verder suid in die rigting van Jerusalem, waar Jesus sy laaste, kritieke Pasga sal bywoon.

2 Nadat Jesus ’n ernstige bespreking met ’n paar godsdiensleiers gehad het, is daar ietwat van ’n opskudding. Mense bring hulle kinders na hom toe. Die kinders is blykbaar van verskillende ouderdomme, want Markus gebruik dieselfde woord om na hulle te verwys as wat hy vroeër gebruik het om ’n kind van 12 te beskryf, terwyl Lukas ’n woord gebruik wat as “kindertjies” vertaal kan word (Lukas 18:15; Markus 5:41, 42; 10:13). Waar daar ook al kinders is, is daar natuurlik dikwels ’n uitbundige lawaai en ’n gewoel. Jesus se dissipels berispe die ouers, moontlik omdat hulle aanneem dat die Heer te besig is om aan die kinders aandag te gee. Wat doen Jesus?

3 Wanneer Jesus sien wat gebeur, is hy verontwaardig. Teenoor wie? Die kinders? Die ouers? Nee—teenoor sy dissipels! Hy sê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie, want die koninkryk van God behoort aan dié wat soos hulle is. Voorwaar, ek sê vir julle: Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n jong kind ontvang nie, sal hoegenaamd nie daarin ingaan nie.” Dan neem Jesus die kinders “in sy arms” en seën hulle (Markus 10:13-16). Die bewoording wat Markus hier gebruik, gee te kenne dat Jesus hulle liefdevol omhels, dat hy moontlik selfs van die kindertjies “in die buiging van sy arm” laat lê, soos een vertaler dit stel. Dit is duidelik dat Jesus lief is vir kinders. Maar ons leer hier iets anders oor hom—hy is genaakbaar, dit wil sê, mense vind dit maklik om hom te nader.

4, 5. (a) Hoe kan ons seker wees dat Jesus genaakbaar was? (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

4 As Jesus ’n streng, onvriendelike of trotse man was, sou daardie kinders waarskynlik nie tot hom aangetrokke gevoel het nie; en hulle ouers sou nie die vrymoedigheid gehad het om hom te nader nie. Stel jou die toneel voor. Sien jy hoe straal die ouers van geluk terwyl hierdie goedhartige man sy liefde vir hulle kinders toon, die kinders se waarde in God se oë erken en hulle seën? Ja, hoewel Jesus die allergrootste verantwoordelikheid gedra het, was hy nog steeds die genaakbaarste van alle mense.

5 Wie anders het Jesus genaakbaar gevind? Wat het dit so maklik gemaak om hom te nader? En hoe kan ons leer om in hierdie opsig soos Jesus te wees? Kom ons kyk.

Wie het Jesus genaakbaar gevind?

6-8. In wie se geselskap was Jesus dikwels, en hoe was sy gesindheid teenoor hulle anders as dié van die godsdiensleiers?

6 Wanneer jy die Evangelieverslae lees, word jy moontlik getref deur die feit dat groot groepe mense Jesus sonder enige aarseling genader het. Wanneer ons van hom lees, word daar byvoorbeeld dikwels na “groot menigtes” verwys. ‘Groot menigtes het hom uit Galilea gevolg.’ “Groot menigtes [het] na hom toe gekom.” “Groot menigtes het saam met hom gereis” (Matteus 4:25; 13:2; 15:30; Lukas 14:25). Ja, Jesus is dikwels deur skares mense omring.

7 Dit was gewoonlik die gewone mense, dié waarna die godsdiensleiers met minagting verwys het as “mense van die land”. Die Fariseërs en priesters het openlik gesê: “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense” (Johannes 7:49). Latere rabbynse geskrifte bevestig hierdie gesindheid. Baie godsdiensleiers het sulke mense as veragtelik beskou en geweier om saam met hulle te eet, by hulle te koop of met hulle om te gaan. Party het selfs beweer dat daar geen opstandingshoop was vir sulke mense wat die mondelinge wet nie geken het nie! Talle geringes het seker eerder weggeskram van sulke leiers as om by hulle hulp of leiding te soek. Maar Jesus was anders.

8 Jesus het vryelik met die gewone mense gemeng. Hy het saam met hulle geëet, hulle genees, hulle onderrig en hulle hoop gegee. Jesus was natuurlik realisties en het erken dat die meeste van hulle die geleentheid om Jehovah te dien, sou verwerp (Matteus 7:13, 14). Maar hy het elke individu met hoop beskou en het in baie die potensiaal gesien om reg te doen. Hoe anders tog as die hardvogtige priesters en Fariseërs! Maar verbasend genoeg het selfs priesters en Fariseërs Jesus genader, en ’n aantal van hulle het hulle weë verander en hom gevolg (Handelinge 6:7; 15:5). Party van die rykes en magtiges het Jesus ook genaakbaar gevind.—Markus 10:17, 22.

9. Waarom het vroue Jesus genaakbaar gevind?

9 Vroue het nie gehuiwer om Jesus te nader nie. Hulle het ongetwyfeld dikwels die vernederende minagting van godsdiensleiers gevoel. Die rabbi’s was oor die algemeen nie ten gunste daarvan om vroue te onderrig nie. Trouens, vroue is nie eers toegelaat om in regsgedinge te getuig nie; hulle is as onbetroubare getuies beskou. Die rabbi’s het selfs ’n gebed gehad waarin hulle God gedank het dat hulle nie ’n vrou is nie! Maar vroue het glad nie sulke minagtende behandeling by Jesus gekry nie. Baie het hom genader, gretig om te leer. Ons vind byvoorbeeld dat Lasarus se suster Maria by die Heer se voete sit, verdiep in Jesus se woorde, terwyl haar suster, Marta, werskaf en haar oor die kosvoorbereiding bekommer. Jesus het Maria geprys omdat sy die regte prioriteite gehad het.—Lukas 10:39-42.

10. Hoe was Jesus anders as die godsdiensleiers in die manier waarop hy die siekes behandel het?

10 Ook die siekes het na Jesus toe gestroom, al het die godsdiensleiers hulle dikwels as uitgeworpenes behandel. Die Mosaïese Wet het voorsiening gemaak dat melaatses om gesondheidsredes onder kwarantyn geplaas word, maar daar was geen rede vir onvriendelike behandeling nie (Levitikus, hoofstuk 13). Latere rabbynse reëls het egter gesê dat melaatses so aanstootlik soos drek is. Party godsdiensleiers het melaatses selfs met klippe gegooi om hulle op ’n afstand te hou! Dit is moeilik om jou voor te stel hoe mense wat so behandel is, die moed kon bymekaarskraap om enige onderrigter te nader, maar melaatses het wel vir Jesus genader. Een het hierdie welbekende betuiging van geloof gedoen: “Here, as u net wil, kan u my rein maak” (Lukas 5:12). In die volgende hoofstuk sal ons Jesus se reaksie hierop bespreek. Vir nou is dit genoeg om te sê dat daar seker geen duideliker bewys kon wees dat Jesus genaakbaar was nie.

11. Watter voorbeeld toon dat mense wat deur skuldgevoelens belas is, die vrymoedigheid gehad het om Jesus te nader, en waarom is dit belangrik?

11 Diegene wat deur skuldgevoelens belas is, het Jesus vryelik genader. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Jesus by die huis van ’n Fariseër geëet het. ’n Vrou wat as ’n sondares bekend gestaan het, het ingekom en by Jesus se voete gekniel terwyl sy weens haar skuldgevoelens gehuil het. Met haar trane het sy Jesus se voete gewas, en met haar hare het sy dit afgedroog. Terwyl Jesus se gasheer sy afkeer getoon en Jesus veroordeel het omdat hy hierdie vrou toegelaat het om naby hom te kom, het Jesus die vrou liefdevol geprys vir haar opregte berou en haar van Jehovah se vergifnis verseker (Lukas 7:36-50). Vandag, meer as ooit tevore, moet mense wat deur skuldgevoelens belas word, die vrymoedigheid hê om diegene te nader wat hulle kan help om dinge met God reg te stel! Wat het Jesus so genaakbaar gemaak?

Wat het Jesus genaakbaar gemaak?

12. Waarom is dit nie verbasend dat Jesus genaakbaar was nie?

12 Onthou dat Jesus sy geliefde hemelse Vader volmaak nagevolg het (Johannes 14:9). Die Bybel herinner ons dat Jehovah “nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). Die “Hoorder van die gebed”, Jehovah, is altyd toeganklik vir sy getroue knegte en enigiemand anders wat ’n opregte begeerte het om hom te vind en te dien (Psalm 65:2). Dink net—die magtigste en belangrikste Persoon in die heelal is ook die genaakbaarste! Soos sy Vader, is Jesus lief vir mense. In die volgende hoofstukke sal ons die liefde bespreek wat diep in Jesus se hart gewortel was. Maar mense het Jesus hoofsaaklik genaakbaar gevind omdat dit maklik was om sy liefde vir mense raak te sien. Kom ons ondersoek ’n paar van Jesus se eienskappe waardeur hierdie liefde geopenbaar is.

13. Hoe kan ouers Jesus navolg?

13 Mense kon maklik sien dat Jesus persoonlike belangstelling in hulle gehad het. Daardie persoonlike belangstelling het nie verdwyn wanneer Jesus onder druk was nie. Soos ons reeds gesien het, het Jesus genaakbaar gebly toe die ouers hulle kinders na hom gebring het, al was hy besig, belas met gewigtige verantwoordelikhede. Wat ’n voorbeeld het hy tog vir ouers gestel! Dit is ’n uitdaging om in vandag se wêreld kinders groot te maak. Maar dit is noodsaaklik dat kinders hulle ouers as genaakbaar beskou. As jy ’n ouer is, weet jy dat daar tye is wanneer jy te besig is om aan jou kind die aandag te gee wat hy nodig het. Maar kan jy hom verseker dat jy so gou as moontlik vir hom tyd sal maak? Wanneer jy jou woord hou, sal jou kind leer hoe lonend geduld is. Hy sal ook leer dat hy altyd welkom is om jou met enige probleem of bekommernis te nader.

14-16. (a) Watter omstandighede het Jesus sy eerste wonderwerk laat doen, en waarom was dit ’n wonderlike daad? (b) Wat toon Jesus se wonderwerk in Kana oor hom, en watter les kan ouers daaruit leer?

14 Jesus het mense laat weet dat hulle sorge vir hom saak gemaak het. Dink byvoorbeeld aan die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het. Hy het ’n huweliksfees in Kana, ’n dorp in Galilea, bygewoon. ’n Ongemaklike situasie het ontstaan—die wyn het opgeraak! Jesus se moeder, Maria, het vir haar seun vertel wat gebeur het. En wat het Jesus gedoen? Hy het die dienaars aangesê om ses groot klipkruike vol water te maak. Toe die feesleier dit proe, was dit goeie wyn! Was dit ’n kultoertjie, blote oëverblindery? Nee, die water is “in wyn verander” (Johannes 2:1-11). Mense droom nog altyd daarvan om een ding in iets anders te kan verander. Manne wat alchemiste genoem is, het eeue lank probeer om lood in goud te verander. Hulle het dit nooit reggekry nie—al is lood en goud, om die waarheid te sê, merkwaardig eenderse elemente. a Wat van water en wyn? Uit ’n chemiese oogpunt beskou, is water eenvoudig, ’n kombinasie van twee basiese elemente. Aan die ander kant bevat wyn byna ’n duisend komponente, waarvan talle komplekse verbindings is! Waarom sou Jesus so ’n wonderlike daad verrig om iets so onbenulligs soos ’n tekort aan wyn by ’n huweliksfees reg te stel?

15 Vir die bruid en bruidegom was die probleem nie onbenullig nie. In die antieke Midde-Ooste was gasvryheid aan genooide gaste van uiterste belang. As die wyn by die huweliksfees opgeraak het, sou dit vir die bruid en bruidegom ’n groot skande gewees het en groot verleentheid veroorsaak het, wat ’n donker skaduwee sou werp oor hulle troudag en hulle herinneringe daaraan in die jare wat voorgelê het. Die probleem het vir hulle saak gemaak, en dit het vir Jesus saak gemaak. Daarom het hy iets daaromtrent gedoen. Kan jy sien waarom mense hom met hulle probleme genader het?

Wys vir jou kind dat jy genaakbaar is en dat jy werklik omgee

16 Ouers kan ook hieruit ’n nuttige les leer. Sê nou jou kind nader jou, belas met die een of ander probleem? Jy kom dalk in die versoeking om sy bekommernis as iets onbenulligs te beskou. Jy kom dalk selfs in die versoeking om daaroor te lag. In vergelyking met jou eie laste lyk die kind se probleem maar gering. Maar onthou dat dit nie vir die kind onbenullig is nie! As dit vir iemand saak maak vir wie jy baie lief is, moet dit dan nie ook vir jou saak maak nie? As jy vir jou kind wys dat jy besorg is oor sy bekommernisse, sal jy ’n genaakbare ouer wees.

17. Watter voorbeeld van sagmoedigheid het Jesus gestel, en waarom is hierdie eienskap ’n blyk van krag?

17 Soos ons in Hoofstuk 3 bespreek het, was Jesus sagmoedig en nederig (Matteus 11:29). Sagmoedigheid is ’n pragtige eienskap, ’n kragtige bewys van die nederigheid in ’n persoon se hart. Dit is deel van die vrug van God se heilige gees en word met goddelike wysheid verbind (Galasiërs 5:22, 23; Jakobus 3:13). Selfs onder die beproewendste omstandighede het Jesus sy selfbeheersing behou. Sy sagmoedigheid was allesbehalwe swakheid. Een geleerde het van hierdie eienskap gesê: “Agter die sagtheid is daar die krag van staal.” Ja, dit verg dikwels krag van ons om ons humeur te beteuel en ander met sagmoedigheid te behandel. Maar as Jehovah ons pogings seën, kan ons Jesus navolg in die betoning van sagmoedigheid, en dit sal ons genaakbaarder maak.

18. Watter voorbeeld toon Jesus se redelikheid, en waarom dink jy dat hierdie eienskap ’n mens genaakbaar sou maak?

18 Jesus was redelik. Toe Jesus in Tirus was, het ’n vrou na hom toe gekom omdat haar dogter “erg van ’n demoon besete” was. Jesus het op drie verskillende maniere te kenne gegee dat hy nie geneig was om te doen wat sy vra nie. Eerstens het hy net stilgebly; tweedens het hy vir haar ’n rede gegee waarom hy nie behoort te doen wat sy vra nie; derdens het hy vir haar ’n illustrasie gegee wat die punt selfs duideliker gestel het. Maar was sy houding koud, onversetlik? Het hy geïmpliseer dat sy haar op gevaarlike terrein begewe deur so ’n belangrike persoon te bevraagteken? Nee, hierdie vrou het klaarblyklik veilig gevoel. Sy het nie net hulp gevra nie, maar het volgehou ondanks sy skynbare teësinnigheid om haar te help. Jesus het die merkwaardige geloof gesien wat haar laat volhou het, en hy het haar dogter genees (Matteus 15:22-28). Jesus se redelikheid, sy gewilligheid om te luister en toe te gee wanneer dit gepas was, het mense beslis gretig gemaak om hom te nader!

Is jy genaakbaar?

19. Hoe kan ons vasstel of ons werklik genaakbaar is?

19 Mense is geneig om te dink dat hulle genaakbaar is. Party in gesagsposisies hou byvoorbeeld daarvan om te sê dat hulle ’n oopdeurbeleid het, dat hulle ondergeskiktes hulle enige tyd kan nader. Maar die Bybel bevat hierdie kragtige waarskuwing: “’n Menigte mense sal elkeen sy eie liefderyke goedhartigheid verkondig, maar wie kan ’n getroue man vind?” (Spreuke 20:6). Dit is maklik om te sê dat ons genaakbaar is, maar volg ons werklik hierdie aspek van Jesus se liefde getrou na? Die antwoord lê moontlik nie in hoe ons onsself sien nie, maar in hoe ander ons sien. Paulus het gesê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Hoe sien ander my? Watter soort reputasie het ek?’

Ouermanne strewe daarna om genaakbaar te wees

20. (a) Waarom is dit belangrik vir Christen- ouer manne om genaakbaar te wees? (b) Waarom moet ons redelik wees in wat ons van ouer manne in die gemeente verwag?

20 Veral Christen- ouer manne strewe daarna om genaakbaar te wees. Hulle begeer opreg om aan die beskrywing te beantwoord wat in Jesaja 32:1, 2 opgeteken is: “Elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land.” ’n Ouer man kan alleenlik hierdie beskerming, verkwikking en verligting verskaf as hy genaakbaar bly. Dit is weliswaar nie altyd maklik nie, want ouer manne dra in hierdie moeilike tye ’n swaar vrag van verantwoordelikheid. Nogtans probeer ouer manne om nooit die indruk te skep dat hulle te besig is om na die behoeftes van Jehovah se skape om te sien nie (1 Petrus 5:2). Ander lede van die gemeente probeer redelik wees in wat hulle van hierdie getroue manne verwag en toon ’n nederige en samewerkende gees.—Hebreërs 13:17.

21. Hoe kan ouers vir hulle kinders toeganklik bly, en wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

21 Ouers probeer om altyd vir hulle kinders beskikbaar te wees. Daar is soveel op die spel! Hulle wil hê dat hulle kinders moet weet dat dit veilig is om hulle pa of ma in hulle vertroue te neem. Christenouers probeer dus om altyd sagmoedig en redelik te wees en om nie te oorreageer wanneer ’n kind erken dat hy iets verkeerds gedoen het of die een of ander foutiewe denkpatroon openbaar nie. Terwyl ouers hulle kinders geduldig oplei, strewe hulle daarna om die kommunikasiekanale oop te hou. Ja, ons wil almal genaakbaar bly, soos Jesus was. In die volgende hoofstuk sal ons Jesus se opregte medelye bespreek—een van die vernaamste eienskappe wat hom genaakbaar gemaak het.

a Mense met ’n kennis van chemie weet dat lood en goud redelik naby mekaar op die periodieke tabel van elemente verskyn. ’n Loodatoom het in sy kern bloot drie protone meer as ’n goudatoom. Hedendaagse fisici het selfs klein hoeveelhede lood in goud verander, maar die proses verg soveel energie dat dit nie lonend is nie.