Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGTIEN

“Hou aan om my te volg”

“Hou aan om my te volg”

1-3. (a) Op watter manier het Jesus sy apostels verlaat, en waarom was dit nie ’n swaarmoedige skeiding nie? (b) Waarom moet ons leer omtrent die lewe wat Jesus gelei het nadat hy na die hemel teruggekeer het?

 ELF mans staan bymekaar op ’n berg. Met groot liefde en bewondering kyk hulle na ’n 12de figuur. Hy het die gestalte van ’n mens, maar hy is in werklikheid die verrese Jesus, weer eens die magtigste van Jehovah se geesseuns. Jesus het sy apostels bymekaargeroep om hom vir die laaste keer hier op die Olyfberg te ontmoet.

2 Hierdie berg, deel van ’n reeks kalksteenheuwels oorkant Jerusalem, aan die ander kant van die Kidronvallei, laat ongetwyfeld ’n vloed herinneringe by Jesus opkom. Teen dié berghang lê die dorp Betanië, waar Jesus vir Lasarus opgewek het. Net ’n paar weke gelede het Jesus op sy triomfantlike intog in Jerusalem uit nabygeleë Betfage vertrek. Die Olyfberg is ook waarskynlik waar die tuin van Getsemane is, waar Jesus die angsvolle ure voor sy inhegtenisname deurgebring het. Nou, op hierdie selfde heuwel, berei Jesus voor om sy intiemste vriende en volgelinge agter te laat. Hy spreek liefdevolle afskeidswoorde. Dan begin hy van die aarde af opstyg! Die apostels staan asof hulle aan die grond vasgenael is en staar hulle geliefde Heer agterna terwyl hy in die lug opvaar. Uiteindelik verberg ’n wolk hom van hulle, en hulle kan hom nie meer sien nie.—Handelinge 1:6-12.

3 Lyk daardie toneel vir jou soos ’n bittersoet einde, ’n swaarmoedige skeiding? Dit is nie. Trouens, Jesus se verhaal is nog glad nie verby nie, soos twee engele nou vir die apostels sê (Handelinge 1:10, 11). Op baie maniere is sy vertrek na die hemel net ’n begin. God se Woord laat ons nie in die duister oor wat hierna met Jesus gebeur het nie. Dit is belangrik om te leer omtrent die lewe wat Jesus gelei het nadat hy die aarde verlaat het. Waarom? Onthou die woorde wat Jesus vir Petrus gesê het: “Hou aan om my te volg” (Johannes 21:19, 22). Ons moet almal daardie gebod gehoorsaam, nie net as ’n kortstondige keuse nie, maar as ’n lewenswyse. Om dit te kan doen, moet ons verstaan wat ons Heer nou doen en watter toewysings hy in die hemel ontvang het.

Die lewe wat Jesus gelei het nadat hy die aarde verlaat het

4. Hoe het die Bybel voor die tyd geopenbaar wat in die hemel sou gebeur nadat Jesus daarheen teruggekeer het?

4 Van Jesus se aankoms in die hemel, sy verwelkoming en sy vreugdevolle hereniging met sy Vader sê die Skrif niks. Maar die Bybel het wel voor die tyd geopenbaar wat in die hemel sou gebeur kort nadat Jesus daarheen teruggekeer het. Meer as 15 eeue lank het die Joodse volk gereeld ’n heilige plegtigheid sien plaasvind. Een dag elke jaar het die hoëpriester in die Allerheiligste van die tempel ingegaan om die bloed van die Versoendagoffers voor die verbondsark te sprinkel. Op daardie dag het die hoëpriester die Messias afgebeeld. Jesus het die profetiese betekenis van daardie plegtigheid eens en vir altyd vervul nadat hy na die hemel teruggekeer het. Hy het in Jehovah se majestueuse teenwoordigheid in die hemel gekom—die heiligste plek in die heelal—en vir sy Vader die waarde van sy losprysoffer aangebied (Hebreërs 9:11, 12, 24). Het Jehovah dit aanvaar?

5, 6. (a) Watter bewys het getoon dat Jehovah Christus se losprysoffer aanvaar het? (b) Wie vind by die losprys baat, en hoe?

5 Ons vind die antwoord deur te let op wat ’n paar dae ná Jesus se hemelvaart gebeur het. ’n Klein groepie van omtrent 120 Christene het in ’n bovertrek in Jerusalem vergader toe ’n geluid soos ’n stywe, voortstuwende bries die plek skielik gevul het. Tonge soos van vuur het bo hulle koppe verskyn, hulle is met heilige gees vervul en hulle het in verskillende tale begin praat (Handelinge 2:1-4). Hierdie gebeurtenis het die geboorte aangedui van ’n nuwe nasie, geestelike Israel, wat God se nuwe “uitverkore ras” en “koninklike priesterdom” was om God se wil op die aarde uit te voer (1 Petrus 2:9). Jehovah God het klaarblyklik Christus se losprysoffer aanvaar en goedgekeur. Hierdie uitgieting van heilige gees was onder die eerste seëninge wat deur die losprys moontlik gemaak is.

6 Sedertdien het Christus se losprys sy volgelinge regoor die wêreld bevoordeel. Hetsy ons onder die gesalfde “klein kuddetjie” is, wat saam met Christus in die hemel sal regeer, of onder die “ander skape”, wat onder sy heerskappy op die aarde sal lewe, ons vind baat by sy offerande (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Dit is die grondslag van ons hoop en vir die vergifnis van ons sondes. Solank ons aanhou om in daardie losprys ‘geloof te beoefen’ deur Jesus dag na dag te volg, kan ons ’n rein gewete geniet en ’n wonderlike hoop vir die toekoms hê.—Johannes 3:16.

7. Watter gesag is Jesus gegee nadat hy na die hemel teruggekeer het, en hoe kan jy hom ondersteun?

7 Wat het Jesus in die hemel gedoen nadat hy daarheen teruggekeer het? Hy het baie groot gesag (Matteus 28:18). Trouens, Jehovah het hom aangestel om oor die Christengemeente te regeer, ’n toewysing wat hy op ’n liefdevolle en regverdige manier uitvoer (Kolossense 1:13). Soos voorspel is, het Jesus verantwoordelike manne voorsien om na die behoeftes van sy kudde om te sien (Efesiërs 4:8). Hy het byvoorbeeld Paulus gekies om “’n apostel vir die nasies” te wees en het hom gestuur om die goeie nuus wyd en syd te verkondig (Romeine 11:13; 1 Timoteus 2:7). Naby die einde van die eerste eeu het Jesus boodskappe van lof, raad en teregwysing aan sewe gemeentes in die Romeinse provinsie Asië gestuur (Openbaring, hoofstukke 2-3). Erken jy Jesus as Hoof van die Christengemeente? (Efesiërs 5:23). Om hom aan te hou volg, moet jy ’n gehoorsame, samewerkende gees in jou gemeente bevorder.

8, 9. Watter gesag is Jesus in 1914 gegee, en hoe behoort dit die besluite wat ons neem, te beïnvloed?

8 Jesus is in 1914 selfs meer gesag gegee. In daardie jaar is hy aangestel as die Koning van Jehovah se Messiaanse Koninkryk. Toe Jesus se heerskappy begin het, het “oorlog . . . in die hemel uitgebreek”. Die resultaat? Satan en sy demone is na die aarde neergewerp, wat ’n tydperk van ellende tot gevolg gehad het. Die wydverspreide oorloë, misdaad, terreur, siektes, aardbewings en hongersnode wat die hedendaagse mens teister, herinner ons dat Jesus nou in die hemel regeer. Satan is vir “’n kort tydjie” nog steeds “die heerser van hierdie wêreld” (Openbaring 12:7-12; Johannes 12:31; Matteus 24:3-7; Lukas 21:11). Maar Jesus gee mense in alle wêrelddele die geleentheid om Sy heerskappy te aanvaar.

9 Dit is noodsaaklik dat ons ons standpunt aan die kant van die Messiaanse Koning inneem. In al ons daaglikse besluite moet ons sy goedkeuring probeer verkry, nie die goedkeuring van hierdie verdorwe wêreld nie. Terwyl hierdie “Koning van die konings en Here van die here” na die mensdom kyk, gloei sy regverdige hart van toorn en loop dit oor van vreugde (Openbaring 19:16). Waarom?

Die toorn en die vreugde van die Messiaanse Koning

10. Wat is Jesus se natuurlike geaardheid, maar wat vervul ons Heer met regverdige toorn?

10 Soos sy Vader, is ons Heer van nature gelukkig (1 Timoteus 1:11). As ’n mens was Jesus nie krities of moeilik om tevrede te stel nie. Maar daar is baie wat vandag op die aarde gebeur wat hom sekerlik met regverdige toorn vervul. Hy is beslis woedend vir al daardie godsdiensorganisasies wat valslik beweer dat hulle hom verteenwoordig. Hy het dit ook voorspel: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie . . . in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:21-23.

11-13. Waarom vind party dalk die sterk woorde wat Jesus gerig het tot diegene wat “talle kragtige werke” in sy naam verrig, verwarrend, maar waarom is hy woedend? Lig toe.

11 Vandag vind baie wat hulleself Christene noem, hierdie woorde moontlik verwarrend. Waarom sou Jesus sulke sterk woorde tot mense rig wat “talle kragtige werke” in sy naam verrig het? Die kerke van die Christendom het liefdadigheidsorganisasies geborg, die armes gehelp, hospitale en skole gebou en baie ander werke verrig. Kom ons kyk na ’n illustrasie om te sien waarom hulle Jesus se toorn verdien.

12 ’n Pa en ma moet op ’n reis gaan. Hulle kan nie hulle kinders saamneem nie, en hulle huur dus ’n kinderoppasster. Hulle instruksies aan haar is eenvoudig: “Sorg vir ons kinders. Gee hulle kos, maak seker dat hulle skoon is, en sorg dat hulle niks oorkom nie.” Maar wanneer die ouers terugkeer, is hulle geskok om te sien dat hulle kinders uitgehonger is. Hulle is vuil, siek en ongelukkig. Hulle roep om die kinderoppasster se aandag te kry, maar sy ignoreer dit. Waarom? Sy staan op ’n leer en was die vensters. Die ouers is woedend en dring aan op ’n verduideliking. Die oppasster antwoord: “Kyk wat het ek alles gedoen! Is die vensters nie pragtig skoon nie? Ek het ook herstelwerk aan die huis gedoen, net vir julle!” Sou die ouers beter voel? Beslis nie! Hulle het haar nooit gevra om daardie dinge te doen nie; hulle wou net hê dat hulle kinders versorg moet word. Haar weiering om hulle instruksies na te kom, het hulle woedend gemaak.

13 Die Christendom het soos daardie kinderoppasster opgetree. Jesus het vir sy verteenwoordigers instruksies gelaat om mense geestelik te voed deur hulle die waarheid van God se Woord te leer en hulle te help om geestelik rein te wees (Johannes 21:15-17). Maar die Christendom het droewig daarin misluk om sy leiding te gehoorsaam. Hulle het mense geestelik uitgehonger gelaat, verwar deur valshede en met geen kennis van basiese Bybelwaarhede nie (Jesaja 65:13; Amos 8:11). Selfs hulle pogings om hierdie wêreld te verbeter, kan beswaarlik hulle moedswillige ongehoorsaamheid verskoon. Hierdie wêreldstelsel is immers soos ’n huis wat gesloop gaan word! God se Woord stel dit duidelik dat Satan se wêreldstelsel binnekort vernietig gaan word.—1 Johannes 2:15-17.

14. Watter werk maak Jesus vandag bly, en waarom?

14 Aan die ander kant is Jesus beslis baie bly wanneer hy uit die hemel afkyk en sien dat miljoene mense die dissipelmaakwerk doen wat hy sy volgelinge gegee het voordat hy die aarde verlaat het (Matteus 28:19, 20). Wat ’n voorreg is dit tog om by te dra tot die vreugde van die Messiaanse Koning! Laat ons vasbeslote wees om nooit op te hou om “die getroue en verstandige slaaf” te help nie (Matteus 24:45). In teenstelling met die geestelikes van die Christendom het hierdie groepie gesalfde broers gehoorsaam die predikingswerk gerig en het hulle Christus se skape getrou gevoed.

15, 16. (a) Hoe voel Jesus oor die liefdeloosheid wat vandag so algemeen is, en hoe weet ons dit? (b) Hoe het die Christendom Jesus se toorn verdien?

15 Ons kan seker wees dat die Koning woedend is wanneer hy die liefdeloosheid sien wat vandag op die aarde hoogty vier. Ons onthou dalk hoe die Fariseërs Jesus gekritiseer het omdat hy mense op die Sabbat genees het. Hulle was so hardvogtig, so onbuigsaam, dat hulle nie verder as hulle eie eng vertolking van die Mosaïese Wet en die mondelinge wet kon sien nie. Jesus se wonderwerke het onbeskryflike voordele ingehou! Maar die vreugde, die verligting, die versterking van geloof wat sulke wonderwerke meegebring het, het niks vir hierdie manne beteken nie. Hoe het Jesus oor hulle gevoel? Eenkeer het hy hulle “met verontwaardiging aangekyk . . . , diep bedroef oor die ongevoeligheid van hulle hart”.—Markus 3:5.

16 Vandag sien Jesus baie meer wat hom “diep bedroef” laat voel. Die leiers van die Christendom is verblind deur hulle verknogtheid aan tradisies en leerstellings wat strydig is met die Skrif. Verder word hulle vertoorn deur die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. In baie wêrelddele het die geestelikes wrede vervolging aangestig teen die Christene wat opreg probeer om die boodskap wat Jesus verkondig het, te versprei (Johannes 16:2; Openbaring 18:4, 24). Terselfdertyd spoor sulke geestelikes dikwels hulle eie volgelinge aan om te gaan oorlog maak en ander se lewe te neem—asof dít Jesus Christus sou behaag!

17. Hoe maak Jesus se ware volgelinge sy hart bly?

17 In teenstelling hiermee probeer Jesus se ware volgelinge om liefde aan hulle medemens te betoon. Ten spyte van teenstand verkondig hulle die goeie nuus aan “alle soorte mense”, net soos Jesus gedoen het (1 Timoteus 2:4). En die liefde wat hulle aan mekaar betoon, is iets besonders; dit is hulle vernaamste kenmerk (Johannes 13:34, 35). Wanneer hulle hulle mede-Christene met liefde, respek en waardigheid behandel, volg hulle Jesus werklik na—en maak hulle die hart van die Messiaanse Koning bly!

18. Wat ontstel ons Heer, maar hoe kan ons hom behaag?

18 Laat ons ook in gedagte hou dat dit ons Heer ontstel as sy volgelinge nie volhard nie, as hulle toelaat dat hulle liefde vir Jehovah verkoel en hulle Hom ophou dien (Openbaring 2:4, 5). Maar Jesus skep behae in diegene wat tot die einde toe volhard (Matteus 24:13). Laat ons dan altyd Christus se bevel in gedagte hou: “Hou aan om my te volg” (Johannes 21:19). Kom ons kyk na ’n paar van die seëninge wat die Messiaanse Koning oor diegene sal uitstort wat tot die einde toe volhard.

Getroue knegte van die Koning word geseën

19, 20. (a) Tot watter seëninge lei dit nóú as ons Jesus volg? (b) As ons Christus volg, hoe kan dit ons help om in ons behoefte aan ’n vader te voorsien?

19 Deur Jesus te volg, kan ons nou reeds ’n werklik geseënde lewe geniet. As ons Christus as ons Heer aanneem, sy leiding volg en sy voorbeeld as ons gids gebruik, sal ons skatte vind waarna mense regoor die wêreld tevergeefs soek. Ons sal geseën word met werk wat ons lewe ’n doel gee en sinvol maak, met ’n familie van medegelowiges wat verenig is in ’n ware band van liefde, met ’n rein gewete en met gemoedsrus. Kortom, ons sal ’n ryk en vervullende lewe vind. En dit is nie al nie.

20 In Jesus het Jehovah ’n “Ewige Vader” voorsien aan dié wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe. Jesus is ’n plaasvervanger vir die mensevader, Adam, wat sy nageslag so liederlik in die steek gelaat het (Jesaja 9:6, 7). Deur Jesus as ons “Ewige Vader” aan te neem en geloof in hom te beoefen, het ons ’n vaste hoop op ewige lewe. Deur dit te doen, kom ons ook al hoe nader aan Jehovah God. Om Jesus se voorbeeld dag na dag te probeer volg, is, soos ons geleer het, die beste manier om hierdie bevel van God te gehoorsaam: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders.”—Efesiërs 5:1.

21. Hoe weerkaats volgelinge van Christus lig in ’n donker wêreld?

21 Wanneer ons Jesus en sy Vader, Jehovah, navolg, het ons ’n wonderlike voorreg. Ons weerkaats ’n helder lig. In ’n wêreld wat in duisternis gehul is, waar miljarde deur Satan mislei word en sy eienskappe navolg, weerspieël ons wat Christus volg die allerhelderste lig—die lig van skriftuurlike waarhede, die lig van voortreflike Christelike eienskappe, die lig van egte vreugde, ware vrede, opregte liefde. Terselfdertyd kom ons nader aan Jehovah, en dit is die uiteindelike doel, die hoogste moontlike oogmerk, van enige intelligente wese.

22, 23. (a) Watter toekomstige seëninge sal diegene ontvang wat lojaal aanhou om Jesus te volg? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

22 Dink ook aan wat Jehovah in die toekoms deur middel van sy Messiaanse Koning vir jou wil doen. Binnekort sal daardie Koning ’n regverdige oorlog teen Satan se goddelose stelsel van dinge voer. Jesus se oorwinning is seker! (Openbaring 19:11-15). Daarna sal Christus sy Duisendjarige Heerskappy oor die aarde begin. Sy hemelse regering sal die voordele van die losprys ten behoewe van elke getroue mens aanwend en sulke persone tot volmaaktheid verhef. Stel jou voor jy is blakend gesond, bly altyd jonk en sterk, en werk blymoedig saam met ’n verenigde mensegesin om hierdie aarde in ’n paradys te verander! Aan die einde van daardie Millennium sal Jesus die heerskappy aan sy Vader teruggee (1 Korintiërs 15:24). As jy voortgaan om Christus lojaal te volg, sal jy ’n seëning ontvang wat so wonderlik is dat dit moeilik is om jou dit eers voor te stel—“die glorieryke vryheid van die kinders van God”! (Romeine 8:21). Ja, ons sal al die seëninge geniet wat Adam en Eva gehad en verloor het. As aardse seuns en dogters van Jehovah sal ons vir ewig vry wees van die vlek van Adam se sonde. Ja, “die dood sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.

23 Dink aan daardie ryk jong heerser wat ons in Hoofstuk 1 bespreek het. Hy het Jesus se uitnodiging “Kom word my volgeling” van die hand gewys (Markus 10:17-22). Moet nooit daardie fout maak nie! Mag jy Jesus se uitnodiging vreugdevol en met geesdrif aanneem. Mag jy vasbeslote wees om te volhard, om die Goeie Herder dag na dag, jaar na jaar te volg, en mag jy daar wees wanneer hy uiteindelik al Jehovah se voornemens tot glorieryke vervulling bring!