HOOFSTUK SESTIEN
‘Jesus het hulle tot die einde toe liefgehad’
1, 2. Hoe bring Jesus sy laaste aand saam met sy apostels deur, en waarom is hierdie laaste oomblikke vir hom kosbaar?
WANNEER Jesus sy apostels in die bovertrek van ’n huis in Jerusalem bymekaar laat kom, weet hy dat dit sy laaste aand saam met hulle is. Die tyd is naby vir hom om na sy Vader toe terug te keer. Oor ’n paar uur sal Jesus in hegtenis geneem word en sal sy geloof getoets word soos nog nooit tevore nie. Maar nie eers sy naderende dood kan sy aandag van die behoeftes van sy apostels aftrek nie.
2 Jesus het die apostels voorberei op sy vertrek, maar hy het nog meer om te sê om hulle te versterk vir wat voorlê. Hy gebruik dus hierdie laaste kosbare oomblikke om hulle noodsaaklike lesse te leer wat hulle sal help om getrou te bly. Sy woorde is van die hartlikste en intiemste wat hy nog ooit teenoor hulle gebruik het. Maar waarom is Jesus meer besorg oor sy apostels as oor homself? Waarom is hierdie laaste ure saam met hulle vir hom so kosbaar? Die antwoord is, in een woord, liefde. Hy het hulle innig lief.
3. Hoe weet ons dat Jesus nie tot sy laaste aand gewag het om liefde aan sy volgelinge te betoon nie?
3 Die apostel Johannes het dekades later, in die inleiding van sy geïnspireerde verslag oor die gebeure van daardie aand, geskryf: “Omdat Jesus voor die fees van die pasga geweet het dat sy uur gekom het om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan, het hy, wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, hulle tot die einde toe liefgehad” (Johannes 13:1). Jesus het nie tot daardie aand gewag om liefde te betoon aan “dié . . . wat syne was” nie. Deur sy hele bediening het hy op groot en klein maniere bewys gelewer van sy liefde vir sy dissipels. Dit sal goed wees as ons party van die maniere ondersoek waarop hy sy liefde betoon het, want deur hom in hierdie opsig na te volg, bewys ons dat ons sy ware dissipels is.
Hy betoon geduld
4, 5. (a) Waarom het Jesus geduld nodig gehad in sy handelinge met sy dissipels? (b) Hoe het Jesus gereageer toe drie van sy apostels ’n gebrek aan waaksaamheid in die tuin van Getsemane getoon het?
4 Liefde en geduld gaan hand aan hand. “Die liefde is lankmoedig”, sê 1 Korintiërs 13:4, en lankmoedigheid verg dat ’n mens ander geduldig moet verdra. Het Jesus geduld nodig gehad in sy handelinge met sy dissipels? Ja, beslis! Soos ons in Hoofstuk 3 gesien het, het die apostels lank geneem om nederigheid aan te kweek. Hulle het meer as een keer by ’n stryery betrokke geraak oor wie die grootste onder hulle was. Wat het Jesus gedoen? Het hy kwaad geword en met irritasie of bitterheid gereageer? Nee, hy het geduldig met hulle geredeneer, selfs toe “’n driftige woordewisseling” oor hierdie onderwerp gedurende sy laaste aand saam met hulle ontstaan het!—Lukas 22:24-30; Matteus 20:20-28; Markus 9:33-37.
5 Later daardie laaste aand, toe Jesus saam met die 11 getroue apostels na die tuin van Getsemane gegaan het, is sy geduld weer beproef. Jesus het agt van die apostels agtergelaat en Petrus, Jakobus en Johannes dieper in die tuin in geneem. “My siel is diep bedroef, ja, tot die dood toe”, het Jesus vir hulle gesê. “Bly hier en hou aan . . . waak.” Hy het ’n entjie daarvandaan gegaan en ernstig begin bid. Nadat hy lank gebid het, het hy na die drie apostels toe teruggekom. Wat het hy gevind? In hierdie uur van sy grootste beproewing was hulle vas aan die slaap! Het hy hulle uitgetrap oor hulle gebrek aan waaksaamheid? Nee, hy het hulle geduldig vermaan. Sy liefdevolle woorde het getoon dat hy begrip gehad het vir die spanning waaronder hulle verkeer het en vir hulle swakhede. a “Die gees is natuurlik gretig”, het hy gesê, “maar die vlees is swak.” Jesus het daardie aand geduldig gebly, selfs toe hy hulle nie net een keer nie, maar nog twee keer aan die slaap gevind het!—Matteus 26:36-46.
6. Hoe kan ons Jesus navolg in ons handelinge met ander?
6 Dit is aanmoedigend om te sien dat Jesus nie moed opgegee het met sy apostels nie. Sy geduld het uiteindelik vrug gedra, want hierdie getroue manne het geleer hoe belangrik dit is om nederig sowel as waaksaam te wees (1 Petrus 3:8; 4:7). Hoe kan ons Jesus navolg in ons handelinge met ander? Veral ouer manne moet geduld beoefen. Medegelowiges kan ’n ouer man met hulle probleme nader wanneer die ouer man self uitgeput is of wanneer hy hom oor sy eie bekommernisse kwel. Soms reageer dié wat hulp nodig het, nie gou op raad nie. Geduldige ouer manne sal nogtans “met sagmoedigheid” onderrig en ‘die kudde met teerheid behandel’ (2 Timoteus 2:24, 25; Handelinge 20:28, 29). Dit sal ook goed wees as ouers Jesus navolg in die betoning van geduld, want soms reageer kinders nie gou op raad of teregwysing nie. Liefde en geduld sal ouers help om nie moed op te gee in hulle pogings om hulle kinders op te lei nie. Die belonings vir sulke geduld kan inderdaad groot wees.—Psalm 127:3.
Hy voorsien in hulle behoeftes
7. Op watter maniere het Jesus in die fisiese en materiële behoeftes van sy dissipels voorsien?
7 Liefde word bewys deur onselfsugtige dade (1 Johannes 3:17, 18). Dit “soek nie sy eie belang nie” (1 Korintiërs 13:5). Liefde het Jesus beweeg om in die fisiese en materiële behoeftes van sy dissipels te voorsien. Hy het dikwels ten behoewe van hulle opgetree voordat hulle eers gesê het wat hulle nodig het. Toe hy sien dat hulle moeg is, het hy voorgestel dat hulle saam met hom ‘alleen na ’n eensame plek gaan en ’n bietjie rus’ (Markus 6:31). Toe hy agterkom dat hulle honger is, het hy die inisiatief geneem om vir hulle kos te voorsien—en ook vir duisende ander wat gekom het om na sy onderrigting te luister.—Matteus 14:19, 20; 15:35-37.
8, 9. (a) Wat toon dat Jesus die geestelike behoeftes van sy dissipels erken en daarin voorsien het? (b) Hoe het Jesus sy diep besorgdheid oor die welsyn van sy moeder getoon toe hy aan die paal gehang het?
8 Jesus het die geestelike behoeftes van sy dissipels erken en daarin voorsien (Matteus 4:4; 5:3). Wanneer hy onderrig het, het hy dikwels spesiale aandag aan hulle gegee. Die Bergpredikasie is spesiaal vir sy dissipels gelewer (Matteus 5:1, 2, 13-16). Wanneer hy deur middel van illustrasies onderrig het, het hy, “wanneer hulle alleen was, . . . vir sy dissipels alles verduidelik” (Markus 4:34). Jesus het voorspel dat hy ’n “getroue en verstandige slaaf” sou aanstel om seker te maak dat Sy volgelinge gedurende die laaste dae geestelik goed gevoed sou word. Hierdie getroue slaaf, wat uit ’n groepie van Jesus se geesgesalfde broers op die aarde bestaan, voorsien al van 1919 G.J. af geestelike “voedsel op die regte tyd”.—Matteus 24:45.
9 Op die dag van sy dood het Jesus sy besorgdheid oor die geestelike welsyn van sy geliefdes op ’n roerende wyse getoon. Stel jou die toneel voor. Jesus het aan die paal gehang en ondraaglike pyn verduur. Om te kon asemhaal, moes hy hom blykbaar met sy voete opdruk. Dit het ongetwyfeld vir hom ontsettende pyn veroorsaak, aangesien sy liggaamsgewig die spykerwonde in sy voete verder laat skeur het en sy gegeselde rug teen die paal geskuur het. Spraak, wat asembeheer verg, moes moeilik en pynlik gewees het. Maar net voordat hy gesterf het, het Jesus woorde geuiter wat van sy innige liefde vir sy moeder, Maria, getuig het. Jesus het Maria en die apostel Johannes daar naby sien staan en het in ’n stem wat hard genoeg was sodat omstanders dit kon hoor, vir sy moeder gesê: “Vrou, kyk! U seun!” Toe het hy vir Johannes gesê: “Kyk! Jou moeder!” (Johannes 19:26, 27). Jesus het geweet dat die getroue apostel nie net na Maria se fisiese en materiële behoeftes sou omsien nie, maar ook na haar geestelike welsyn. b
10. Hoe kan ouers Jesus navolg wanneer hulle in hulle kinders se behoeftes voorsien?
10 Liefdevolle ouers vind dit nuttig om oor Jesus se voorbeeld na te dink. ’n Vader wat sy gesin werklik liefhet, sal materieel vir hulle voorsien (1 Timoteus 5:8). Gebalanseerde, liefdevolle gesinshoofde ruim nou en dan tyd in vir rus en ontspanning. Nog belangriker, Christenouers voorsien in hulle kinders se geestelike behoeftes. Hoe? Sulke ouers reël ’n gereelde gesinsbybelstudie, en hulle probeer hierdie studiesessies so opbouend en genotvol as moontlik vir hulle kinders maak (Deuteronomium 6:6, 7). Deur woord en voorbeeld leer die ouers hulle kinders dat die bediening ’n belangrike bedrywigheid is en dat voorbereiding vir Christelike vergaderinge en bywoning daarvan ’n noodsaaklike deel van hulle geestelike roetine is.—Hebreërs 10:24, 25.
Hy is gewillig om te vergewe
11. Wat het Jesus sy volgelinge omtrent vergewensgesindheid geleer?
11 Vergewensgesindheid is ’n aspek van liefde (Kolossense 3:13, 14). Die liefde “hou nie boek van die kwaad nie”, sê 1 Korintiërs 13:5. By verskeie geleenthede het Jesus sy volgelinge geleer hoe belangrik vergewensgesindheid is. Hy het hulle aangespoor om ander te vergewe, “nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’”—dit wil sê ’n onbeperkte aantal kere (Matteus 18:21, 22). Hy het hulle geleer dat ’n sondaar vergewe moet word as hy berou toon wanneer hy bestraf word (Lukas 17:3, 4). Maar Jesus was nie soos die skynheilige Fariseërs, wat net deur hulle woorde onderrig het nie; hy het ook deur sy voorbeeld onderrig (Matteus 23:2-4). Kom ons kyk hoe Jesus getoon het dat hy gewillig is om te vergewe selfs toe ’n vertroude vriend hom in die steek gelaat het.
12, 13. (a) Op watter manier het Petrus Jesus in die steek gelaat op die nag toe Hy in hegtenis geneem is? (b) Hoe het Jesus se optrede ná sy opstanding dit duidelik gemaak dat hy verder gegaan het as om net te sê dat mense vergewensgesind moet wees?
12 Jesus het ’n hegte verhouding gehad met die apostel Petrus, ’n hartlike man wat soms impulsief opgetree het. Jesus het Petrus se goeie eienskappe erken en het hom spesiale voorregte gegee. Petrus het, saam met Jakobus en Johannes, persoonlik sekere wonderwerke gesien wat die res van die 12 nie gesien het nie (Matteus 17:1, 2; Lukas 8:49-55). Soos ons vroeër genoem het, was Petrus een van die apostels wat saam met Jesus verder in die tuin van Getsemane ingegaan het op die nag toe Hy in hegtenis geneem is. En tog het Petrus en die ander apostels, op daardie selfde nag toe Jesus verraai en in hegtenis geneem is, Jesus verlaat en gevlug. Later was Petrus dapper genoeg om buite te staan terwyl Jesus onwettig verhoor is. Toe het Petrus egter bang geword en ’n ernstige fout gemaak—hy het drie keer ’n leuen vertel en ontken dat hy Jesus selfs ken! (Matteus 26:69-75). Hoe het Jesus gereageer? Wat sou jy gedoen het as ’n goeie vriend jou so in die steek gelaat het?
13 Jesus was bereid om Petrus te vergewe. Hy het geweet dat Petrus verpletter is deur die erns van sy sonde. Die berouvolle apostel het immers “in trane uitgebars” (Markus 14:72, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Op die dag van Jesus se opstanding het hy aan Petrus verskyn, waarskynlik om die apostel te troos en gerus te stel (Lukas 24:34; 1 Korintiërs 15:5). Minder as twee maande later het Jesus Petrus die voorreg gegee om op Pinksterdag die leiding daarin te neem om ’n getuienis aan die skares in Jerusalem te gee (Handelinge 2:14-40). Ons moet ook onthou dat Jesus nie ’n wrok teen die apostels as ’n groep gekoester het omdat hulle hom verlaat het nie. Inteendeel, ná sy opstanding het hy hulle nog steeds “my broers” genoem (Matteus 28:10). Is dit nie duidelik dat Jesus verder gegaan het as om net te sê dat mense vergewensgesind moet wees nie?
14. Waarom moet ons leer om ander te vergewe, en hoe kan ons toon dat ons gewillig is om ander te vergewe?
14 As dissipels van Christus moet ons leer om ander te vergewe. Waarom? In teenstelling met Jesus is ons onvolmaak—net soos dié wat dalk teen ons sondig. Ons struikel almal van tyd tot tyd in woord en daad (Romeine 3:23; Jakobus 3:2). Deur ander te vergewe wanneer daar grond vir barmhartigheid is, maak ons dit moontlik dat ons sondes deur God vergewe kan word (Markus 11:25). Hoe kan ons dan toon dat ons gewillig is om dié wat teen ons sondig, te vergewe? In baie gevalle help liefde ons om die geringe sondes en tekortkominge van ander oor die hoof te sien (1 Petrus 4:8). Wanneer dié wat ons veronreg het, opreg berouvol is, soos Petrus was, wil ons tog sekerlik Jesus se gewilligheid om te vergewe, navolg. Ons koester nie ’n wrok nie, maar kies wyslik om gegriefdheid te laat vaar (Efesiërs 4:32). Sodoende dra ons by tot die vrede van die gemeente sowel as ons eie gemoedsrus.—1 Petrus 3:11.
’n Bewys van sy vertroue
15. Waarom het Jesus sy dissipels vertrou ten spyte van hulle tekortkominge?
15 Liefde en vertroue gaan hand aan hand. Die liefde “glo alles” (1 Korintiërs 13:7). c Jesus is deur liefde aangedryf en het gevolglik getoon dat hy gewillig was om sy dissipels te vertrou ten spyte van hulle onvolmaakthede. Hy het vertroue in hulle gehad en het geglo dat hulle Jehovah in hulle hart werklik liefhet en die begeerte het om Sy wil te doen. Selfs wanneer hulle foute gemaak het, het Jesus nie hulle beweegredes in twyfel getrek nie. Toe die apostels Jakobus en Johannes byvoorbeeld hulle moeder laat vra het dat hulle langs Jesus in sy Koninkryk sit, het Jesus nie hulle lojaliteit in twyfel getrek of hulle as apostels verwerp nie.—Matteus 20:20-28.
16, 17. Watter verantwoordelikhede het Jesus sy dissipels gegee?
16 Jesus het bewys gelewer van sy vertroue in sy dissipels deur hulle etlike verantwoordelikhede te gee. By die twee geleenthede toe hy op ’n wonderdadige wyse kos vermeerder het en die skares gevoed het, het hy sy dissipels die verantwoordelikheid gegee om die kos uit te deel (Matteus 14:19; 15:36). Ter voorbereiding vir sy laaste Pasga het hy Petrus en Johannes na Jerusalem gestuur om alles gereed te maak. Hulle het die lam, die wyn, die ongesuurde brood, die bitter kruie en al die ander benodigdhede gekry. Dit was nie ’n onbelangrike toewysing nie, want die Mosaïese Wet het vereis dat die Pasga op die behoorlike manier gevier word, en Jesus moes daardie Wet gehoorsaam. Daarbenewens het Jesus die wyn en die ongesuurde brood later daardie aand as belangrike simbole gebruik toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het.—Matteus 26:17-19; Lukas 22:8, 13.
17 Jesus het dit as gepas beskou om sy dissipels selfs gewigtiger verantwoordelikhede te gee. Soos ons vroeër genoem het, het hy ’n groepie van sy gesalfde volgelinge op die aarde die belangrike verantwoordelikheid gegee om geestelike voedsel uit te deel (Lukas 12:42-44). Onthou ook dat hy die gewigtige opdrag om te preek en dissipels te maak in die hande van sy dissipels gegee het (Matteus 28:18-20). Hoewel Jesus nou onsigbaar is en uit die hemel regeer, vertrou hy nog steeds sy gemeente op die aarde toe aan die sorg van geestelik gekwalifiseerde “gawes in die vorm van mense”.—Efesiërs 4:8, 11, 12.
18-20. (a) Hoe kan ons vertroue in medegelowiges toon? (b) Hoe kan ons Jesus se gewilligheid om verantwoordelikhede te delegeer, navolg? (c) Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?
18 Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg in ons handelinge met ander? As ons toon dat ons vertroue in ons medegelowiges het, bewys ons ons liefde. Ons moet onthou dat liefde positief is, nie negatief nie. Wanneer ander ons teleurstel, wat beslis van tyd tot tyd sal gebeur, sal liefde ons daarvan weerhou om gou aan te neem dat hulle beweegredes sleg is (Matteus 7:1, 2). As ons ’n positiewe beskouing van ons medegelowiges behou, sal ons hulle op maniere behandel wat opbou eerder as afbreek.—1 Tessalonisense 5:11.
19 Kan ons Jesus se gewilligheid om verantwoordelikhede te delegeer, navolg? Dit is goed as dié wat verantwoordelike posisies in die gemeente het, gepaste en sinvolle take aan ander gee en vertrou dat hulle hulle bes sal doen. Sodoende kan ervare ouer manne noodsaaklike en waardevolle opleiding aan bekwame jonger manne gee wat ‘daarna streef’ om in die gemeente te help (1 Timoteus 3:1; 2 Timoteus 2:2). Hierdie opleiding is baie belangrik. Namate Jehovah die groei van die Koninkrykswerk bespoedig, sal bekwame manne opgelei moet word om na die vermeerdering om te sien.—Jesaja 60:22.
20 Jesus het ’n wonderlike voorbeeld vir ons gestel in die betoning van liefde aan ander. Van al die maniere waarop ons hom kan volg, is dít die belangrikste om sy liefde na te boots. In die volgende hoofstuk sal ons die grootste betoning van sy liefde vir ons bespreek—sy gewilligheid om sy lewe te gee.
a Die apostels se lomerigheid is deur meer as fisiese moegheid veroorsaak. Die parallelle verslag in Lukas 22:45 sê dat Jesus “hulle sluimerend van droefheid gevind” het.
b Maria was blykbaar teen daardie tyd ’n weduwee, en haar ander kinders was klaarblyklik nog nie dissipels van Jesus nie.—Johannes 7:5.
c Dit beteken natuurlik nie dat die liefde liggelowig of naïef is nie. Dit beteken eerder dat die liefde nie onnodig krities of agterdogtig is nie. Die liefde is nie haastig om die beweegredes van ander te veroordeel of om die ergste oor hulle aan te neem nie.