Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWENTIEN

“Niemand het groter liefde as dít nie”

“Niemand het groter liefde as dít nie”

1-4. (a) Wat gebeur wanneer Pilatus Jesus voor die woedende skare bring wat buite die goewerneur se paleis saamgedrom het? (b) Hoe reageer Jesus op die vernedering en lyding, en watter belangrike vrae ontstaan?

 “KYK! Die mens!” Met hierdie woorde het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus Jesus Christus voor die woedende skare gebring wat met sonsopkoms op die Pasga van 33 G.J. voor die goewerneur se paleis saamgedrom het (Johannes 19:5). Net ’n paar dae vroeër het die skares Jesus toegejuig toe hy as die goddelik aangestelde Koning sy triomfantlike intog in Jerusalem gemaak het. Maar gedurende hierdie nag het die vyandige skare bewys gelewer van ’n heeltemal ander beskouing van hom.

2 Jesus is geklee in ’n purper kleed soos dié wat deur koninklikes gedra is, en hy het ’n kroon op sy kop. Maar die kleed, wat die repe bloeiende vlees op sy gegeselde rug bedek, en die kroon, wat van dorings gevleg is en op sy bebloede kop vasgedruk is, is ’n bespotting van sy koninklike status. Die mense, aangehits deur die hoofpriesters, verwerp die mishandelde man wat voor hulle staan. Die priesters skreeu: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!” Met moord in hulle harte skreeu die mense: ‘Hy behoort te sterf.’—Johannes 19:1-7.

3 Jesus verduur die vernedering en lyding met waardigheid en moed, sonder om te kla. a Hy is heeltemal bereid om te sterf. Later daardie Pasgadag ondergaan hy gewillig ’n pynlike dood aan ’n folterpaal.—Johannes 19:17, 18, 30.

4 Deur sy lewe op te offer, het Jesus bewys dat hy ’n ware vriend vir sy volgelinge was. “Niemand het groter liefde as dít nie”, het hy gesê, “dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:13). Dit laat ’n paar belangrike vrae ontstaan. Was dit werklik nodig vir Jesus om al daardie lyding te ondergaan en dan te sterf? Waarom was hy bereid om dit te doen? Hoe kan ons, as “sy vriende” en volgelinge, sy voorbeeld navolg?

Waarom moes Jesus ly en sterf?

5. Hoe het Jesus geweet watter spesifieke beproewinge op hom wag?

5 As die beloofde Messias het Jesus geweet wat om te verwag. Hy was bewus van al die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte wat die Messias se lyding en dood in besonderhede voorspel het (Jesaja 53:3-7, 12; Daniël 9:26). Hy het sy dissipels etlike kere voorberei op die beproewinge wat op hom gewag het (Markus 8:31; 9:31). Op pad na Jerusalem vir sy laaste Pasga het hy uitdruklik vir sy apostels gesê: “Die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal hom ter dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer, en hulle sal met hom die spot dryf en sal op hom spoeg en hom gesel en hom doodmaak” (Markus 10:33, 34). Dit was glad nie leë woorde nie. Soos ons gesien het, het Jesus se vyande inderdaad met hom die spot gedryf, op hom gespoeg, hom gegesel en doodgemaak.

6. Waarom moes Jesus ly en sterf?

6 Maar waarom moes Jesus ly en sterf? Om etlike besonder betekenisvolle redes. Eerstens, deur lojaal te bly, sou Jesus sy onkreukbaarheid bewys en Jehovah se soewereiniteit verdedig. Onthou dat Satan valslik beweer het dat mense God slegs uit eiebelang dien (Job 2:1-5). Deur “tot in die dood . . . aan ’n folterpaal” getrou te bly, het Jesus die duidelikste antwoord moontlik op Satan se ongegronde aantyging voorsien (Filippense 2:8; Spreuke 27:11). Tweedens, die Messias se lyding en dood sou versoening doen vir die sondes van ander (Jesaja 53:5, 10; Daniël 9:24). Jesus het “sy siel [gegee] as ’n losprys in ruil vir baie”, wat vir ons die weg gebaan het om ’n goedgekeurde verhouding met God te geniet (Matteus 20:28). Derdens, deur allerhande ontberinge en lyding te verduur, is Jesus “in alle opsigte soos ons op die proef gestel”. Hy is dus ’n medelydende Hoëpriester, een wat “met ons swakhede kan simpatiseer”.—Hebreërs 2:17, 18; 4:15.

Waarom was Jesus gewillig om sy lewe te gee?

7. Hoeveel het Jesus prysgegee toe hy na die aarde toe gekom het?

7 Om perspektief te kry op wat Jesus gewillig was om te doen, dink hieraan: Watter man sou sy gesin en huis verlaat en na ’n vreemde land trek as hy geweet het dat die meeste mense van daardie land hom sou verwerp, dat hy aan vernedering en lyding onderwerp en uiteindelik vermoor sou word? Dink nou aan wat Jesus gedoen het. Voordat hy aarde toe gekom het, het hy ’n begunstigde posisie in die hemel naas sy Vader gehad. En tog het Jesus sy hemelse tuiste gewillig verlaat en as ’n mens na die aarde toe gekom. Hy het dit gedoen al het hy geweet dat die meeste mense hom sou verwerp en dat hy aan wrede vernedering, intense lyding en ’n pynlike dood onderwerp sou word (Filippense 2:5-7). Wat het Jesus beweeg om so ’n opoffering te maak?

8, 9. Wat het Jesus beweeg om sy lewe af te lê?

8 Jesus is bowenal aangedryf deur innige liefde vir sy Vader. Jesus se volharding was ’n bewys van sy liefde vir Jehovah. Daardie liefde het gemaak dat Jesus besorg was oor sy Vader se naam en reputasie (Matteus 6:9; Johannes 17:1-6, 26). Meer as enigiets anders wou Jesus sien dat sy Vader se naam gesuiwer word van al die oneer wat dit aangedoen is. Jesus het dit dus as die grootste eer en voorreg beskou om ter wille van regverdigheid te ly, want hy het geweet dat sy onkreukbaarheid ’n rol sou speel in die heiliging van sy Vader se groot en wonderlike naam.—1 Kronieke 29:13.

9 Jesus het nog ’n beweegrede gehad om sy lewe af te lê—liefde vir die mensdom. Dit is ’n liefde wat aan die begin van die mensegeskiedenis ontstaan het. Die Bybel openbaar dat Jesus, lank voordat hy na die aarde toe gekom het, só gevoel het: “Die dinge waarvoor ek lief was, was by die mensekinders” (Spreuke 8:30, 31). Sy liefde was duidelik sigbaar toe hy op die aarde was. Soos ons in die vorige drie hoofstukke van hierdie boek gesien het, het Jesus sy liefde vir mense oor die algemeen en vir sy volgelinge in die besonder op baie maniere getoon. Maar op 14 Nisan 33 G.J. het hy gewilliglik sy lewe ter wille van ons afgelê (Johannes 10:11). Daar was waarlik geen beter manier om sy liefde vir ons te betoon nie. Moet ons hom in hierdie opsig navolg? Ja. Trouens, ons word beveel om dit te doen.

‘Julle moet mekaar liefhê soos ek julle liefgehad het’

10, 11. Wat is die nuwe gebod wat Jesus aan sy volgelinge gegee het, wat behels dit, en waarom is dit belangrik dat ons dit gehoorsaam?

10 Die nag voordat Jesus gesterf het, het hy vir sy intiemste dissipels gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). ‘Julle moet mekaar liefhê’—waarom is dit “’n nuwe gebod”? Die Mosaïese Wet het reeds beveel: “Jy moet jou naaste [of, medemens] liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Maar die nuwe gebod vereis ’n groter liefde, ’n liefde wat ons sal beweeg om ons eie lewe ten behoewe van ander te gee. Jesus self het dit duidelik gestel toe hy gesê het: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:12, 13). Die nuwe gebod sê in werklikheid: “Jy moet ander liefhê, nie soos jouself nie, maar meer as jouself.” Deur sy lewe en dood het Jesus beslis ’n voorbeeld van hierdie soort liefde voorsien.

11 Waarom is dit belangrik dat ons die nuwe gebod gehoorsaam? Onthou dat Jesus gesê het: “Hieraan [aan hierdie selfopofferende liefde] sal almal weet dat julle my dissipels is.” Ja, selfopofferende liefde identifiseer ons as ware Christene. Ons kan hierdie liefde met ’n identifiserende kenteken vergelyk. Diegene wat die jaarlikse streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies bywoon, dra lapelkaartjies as kentekens. Die kaartjie identifiseer die draer, aangesien sy naam en gemeente daarop aangegee word. Selfopofferende liefde vir mekaar is die “kenteken” wat ware Christene identifiseer. Met ander woorde, die liefde wat ons aan mekaar betoon, moet so opvallend wees dat dit as ’n kenteken sal dien wat aan waarnemers sal toon dat ons inderdaad ware volgelinge van Christus is. Elkeen van ons behoort hom af te vra: ‘Kan die “kenteken” van selfopofferende liefde in my lewe gesien word?’

Selfopofferende liefde—Wat behels dit?

12, 13. (a) Hoe ver moet ons bereid wees om te gaan om ons liefde vir mekaar te betoon? (b) Wat beteken dit om selfopofferend te wees?

12 As volgelinge van Jesus moet ons mekaar liefhê soos hy ons liefgehad het. Dit beteken dat ons gewillig moet wees om opofferings te maak vir medegelowiges. Hoe ver moet ons bereid wees om te gaan? Die Bybel sê vir ons: “Hieraan het ons die liefde leer ken, omdat hy vir ons van sy siel afstand gedoen het; en ons staan onder verpligting om vir ons broers van ons siele afstand te doen” (1 Johannes 3:16). Soos Jesus, moet ons gewillig wees om vir mekaar te sterf as dit nodig is. In tye van vervolging sal ons eerder ons eie lewe opoffer as om ons geestelike broers te verraai en hulle lewe sodoende in gevaar te stel. In lande wat deur rasse- of etniese konflik verdeel word, sal ons ons lewe waag om ons broers te beskerm, ongeag hulle rasse- of etniese agtergrond. Wanneer nasies oorlog voer, sal ons eerder gevangenisstraf verduur of selfs doodgemaak word as om die wapen op te neem teen medegelowiges—of teen enigiemand anders.—Johannes 17:14, 16; 1 Johannes 3:10-12.

13 Om gewillig te wees om ons lewe vir ons broers af te lê, is nie die enigste manier om selfopofferende liefde te betoon nie. Daar word immers van min van ons verwag om so ’n groot opoffering te maak. Maar as ons ons broers lief genoeg het om vir hulle te sterf, behoort ons dan nie gewillig te wees om kleiner opofferings te maak en uit ons pad te gaan om hulle nou te help nie? Om selfopofferend te wees, beteken dat ons ons eie voordeel of gerief opoffer ter wille van ander. Ons stel hulle behoeftes en welsyn bo ons eie, al is dit nie gerieflik nie (1 Korintiërs 10:24). Op watter praktiese maniere kan ons selfopofferende liefde betoon?

In die gemeente en in die gesin

14. (a) Watter opofferings moet ouer manne maak? (b) Hoe voel jy oor die hardwerkende ouer manne in julle gemeente?

14 Gemeentelike ouer manne maak baie opofferings om ‘as herders oor die kudde toesig te hou’ (1 Petrus 5:2, 3). Buiten dat hulle vir hulle eie gesin sorg, moet hulle dalk gedurende die aand of oor naweke tyd inruim om na gemeentelike sake om te sien, onder meer om vergaderingdele voor te berei, herdersbesoeke te doen en regterlike sake te hanteer. Baie ouer manne maak verdere opofferings deur hard te werk by kring- en streekbyeenkomste en deur as lede van Hospitaalskakelkomitees, Pasiëntbesoekgroepe en Streekboukomitees te dien. Ouer manne, julle moet altyd onthou dat julle, deur met ’n gewillige gees te dien—deur julle tyd, energie en middele te gebruik om as herders oor die kudde toesig te hou—selfopofferende liefde betoon (2 Korintiërs 12:15). Julle onselfsugtige pogings word nie net deur Jehovah waardeer nie, maar ook deur die gemeente waaroor julle as herders toesig hou.—Filippense 2:29; Hebreërs 6:10.

15. (a) Wat is van die opofferings wat die vrouens van ouer manne maak? (b) Hoe voel jy oor die ondersteunende vrouens wat hulle mans met julle gemeente deel?

15 Maar wat van die vrouens van ouer manne—maak hierdie ondersteunende vrouens nie ook opofferings sodat hulle mans vir die kudde kan sorg nie? Dit is beslis ’n opoffering vir ’n vrou wanneer haar man tyd aan gemeentelike sake moet wy wat hy dalk andersins saam met sy gesin sou deurgebring het. Dink ook aan die vrouens van reisende opsieners en die opofferings wat hulle maak om saam met hulle mans van gemeente tot gemeente en van kring tot kring te gaan. Hulle gee die voorreg prys om hulle eie huis te hê en moet moontlik elke week in ’n ander bed slaap. Vrouens wat die belange van die gemeente gewilliglik bo hulle eie stel, moet geprys word omdat hulle op ruimhartige wyse selfopofferende liefde betoon.—Filippense 2:3, 4.

16. Watter opofferings maak Christenouers ten behoewe van hulle kinders?

16 Hoe kan ons selfopofferende liefde in die gesin betoon? Ouers, julle maak baie opofferings om vir julle kinders te voorsien en om hulle “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). Julle moet dalk lang ure van uitputtende werk doen net om kos op die tafel te sit en om seker te maak dat julle kinders geskikte klere en verblyf het. Julle sal self eerder met minder klaarkom as om te sien dat julle kinders nie die lewensbenodigdhede het nie. Julle doen ook baie moeite om met julle kinders te studeer, hulle na Christelike vergaderinge toe te neem en saam met hulle aan die veldbediening deel te neem (Deuteronomium 6:6, 7). Julle selfopofferende liefde behaag die Insteller van die gesinsreëling en beteken moontlik vir julle kinders die ewige lewe.—Spreuke 22:6; Efesiërs 3:14, 15.

17. Hoe kan Christenmans die onselfsugtige gesindheid van Jesus navolg?

17 Mans, hoe kan julle Jesus navolg in die betoning van selfopofferende liefde? Die Bybel antwoord: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Soos ons gesien het, het Jesus sy volgelinge so liefgehad dat hy vir hulle gesterf het. ’n Christenman volg die onselfsugtige gesindheid van Jesus na, wat “homself nie behaag [het] nie” (Romeine 15:3). So ’n man stel sy vrou se behoeftes en belange gewilliglik bo sy eie. Hy dring nie daarop aan dat dinge altyd op sy manier gedoen word nie, maar toon ’n gewilligheid om toe te gee wanneer geen skriftuurlike beginsel daarby betrokke is nie. Die man wat selfopofferende liefde betoon, verkry Jehovah se goedkeuring asook die liefde en respek van sy vrou en kinders.

Wat sal jy doen?

18. Wat spoor ons aan om die nuwe gebod om mekaar lief te hê, te gehoorsaam?

18 Gehoorsaamheid aan die nuwe gebod om mekaar lief te hê, is nie ’n maklike weg om te volg nie, maar ons het ’n kragtige rede om dit te doen. Paulus het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; . . . en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). Aangesien Jesus vir ons gesterf het, behoort ons dan nie te voel dat ons vir hom moet lewe nie? Ons kan dit doen deur sy voorbeeld van selfopofferende liefde te volg.

19, 20. Watter kosbare gawe het Jehovah aan ons gegee, en hoe kan ons toon dat ons dit aanvaar?

19 Toe Jesus gesê het: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende”, het hy nie oordryf nie (Johannes 15:13). Sy gewilligheid om van sy siel afstand te doen ten behoewe van ons, was die grootste betoning van sy liefde vir ons. Maar iemand anders het selfs groter liefde vir ons betoon. Jesus het verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). God het ons so lief dat hy sy Seun as ’n losprys gegee het, wat dit vir ons moontlik maak om van sonde en die dood verlos te word (Efesiërs 1:7). Die losprys is ’n kosbare gawe van Jehovah, maar hy dwing ons nie om dit te aanvaar nie.

20 Dit hang van ons af of ons Jehovah se gawe sal aanvaar. Hoe doen ons dit? Deur ‘geloof te beoefen’ in sy Seun. Maar geloof is nie net woorde nie. Dit word bewys deur dade, deur die manier waarop ons lewe (Jakobus 2:26). Ons bewys ons geloof in Jesus Christus deur hom dag na dag te volg. As ons dit doen, sal dit nou en in die toekoms vir ons ryk seëninge meebring, soos die laaste hoofstuk van hierdie boek sal verduidelik.

a Twee keer daardie dag is daar op Jesus gespoeg, eers deur die godsdiensleiers en daarna deur die Romeinse soldate (Matteus 26:59-68; 27:27-30). Hy het selfs hierdie minagtende behandeling verduur sonder om te kla, ter vervulling van die profetiese woorde: “My gesig het ek nie vir vernederende dinge en spoeg verberg nie.”—Jesaja 50:6.