HOOFSTUK TIEN
“Daar staan geskrywe”
1-3. Watter noodsaaklike gevolgtrekking wil Jesus hê moet die mense van Nasaret maak, en watter getuienis voorsien hy?
DIT is vroeg in Jesus se bediening. Christus het na Nasaret, sy tuisdorp, teruggekeer. Sy doel is om die mense te help om ’n noodsaaklike gevolgtrekking te maak: Hy is die langvoorspelde Messias! Watter getuienis voorsien hy daarvan?
2 Baie sou ongetwyfeld ’n wonderwerk verwag het. Hulle het berigte gehoor van die verbasende dinge wat Jesus gedoen het. Maar hy gee hulle nie so ’n teken nie. Pleks daarvan gaan hy volgens sy gewoonte na die sinagoge. Hy staan op om te lees, en die boekrol van Jesaja word vir hom gegee. Dit is ’n lang boekrol, waarskynlik om twee stawe gerol, en Jesus rol die dokument versigtig van die een staaf op die ander totdat hy die gedeelte vind waarna hy soek. Dan lees hy hardop wat nou Jesaja 61:1-3 is.—Lukas 4:16-19.
3 Die gehoor is sekerlik vertroud met die gedeelte. Dit is ’n profesie oor die Messias. Elke oog in die sinagoge is op Jesus gevestig. ’n Doodse stilte heers. Dan begin Jesus verduidelik, waarskynlik breedvoerig: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul.” Die gehoor verwonder hulle oor sy innemende woorde, maar baie wil blykbaar nog steeds die een of ander skouspelagtige teken sien. Jesus maak eerder moedig van ’n skriftuurlike voorbeeld gebruik om hulle gebrek aan geloof bloot te lê. Kort voor lank probeer die mense van Nasaret hom doodmaak!—Lukas 4:20-30.
4. Watter patroon het Jesus in sy bediening vasgelê, en wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?
4 Jesus het hier ’n patroon vasgelê wat hy deur sy hele bediening gevolg het. Hy het grootliks gesteun op die geïnspireerde Woord van God. Sy wonderwerke was weliswaar van groot belang om te toon dat God se gees met hom was. Maar niks het by Jesus groter gewig gedra as die Heilige Skrif nie. Kom ons ondersoek die voorbeeld wat hy in hierdie verband gestel het. Ons sal bespreek hoe ons Heer uit God se Woord aangehaal het, hoe hy God se Woord verdedig het en hoe hy God se Woord verklaar het.
Hy het uit God se Woord aangehaal
5. Wat was Jesus vasbeslote om aan sy toehoorders oor te dra, en hoe het hy getoon dat sy woorde die waarheid is?
5 Jesus wou hê dat mense moet weet waar sy boodskap vandaan kom. Hy het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Ek [doen] niks op eie inisiatief . . . nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge” (Johannes 8:28). Daarbenewens het hy gesê: “Die dinge wat ek vir julle sê, sê ek nie uit myself nie; maar die Vader wat in eenheid met my bly, doen sy werke” (Johannes 14:10). Een manier waarop Jesus bewys het dat sulke kommentare die waarheid is, was deur keer op keer uit God se geskrewe Woord aan te haal.
6, 7. (a) Uit hoeveel van die Hebreeuse Geskrifte het Jesus aangehaal, en waarom is dit indrukwekkend? (b) Hoe was Jesus se onderrigting anders as dié van die skrifgeleerdes?
6 ’n Noukeurige studie van Jesus se opgetekende woorde toon dat hy direk aangehaal het uit of indirek verwys het na meer as die helfte van die boeke van die Hebreeuse Geskrifte. Aanvanklik klink dit dalk nie indrukwekkend nie. Jy wonder dalk waarom hy, in drie en ’n half jaar van openbare onderrigting en prediking, nie uit al die beskikbare geïnspireerde boeke aangehaal het nie. In werklikheid het hy dit heel moontlik wel gedoen. Onthou, net ’n fraksie van Jesus se woorde en dade is opgeteken (Johannes 21:25). Trouens, jy sou waarskynlik in net ’n paar uur al Jesus se opgetekende woorde hardop kon lees. Stel jou nou voor dat jy net ’n paar uur van God en sy Koninkryk praat en dit regkry om verwysings na meer as die helfte van die boeke in die Hebreeuse Geskrifte in te werk! Daarbenewens het Jesus in die meeste gevalle nie geskrewe boekrolle byderhand gehad nie. In sy beroemde Bergpredikasie het hy tientalle direkte en indirekte verwysings na die Hebreeuse Geskrifte ingesluit—alles uit sy kop!
7 Jesus se aanhalings het getoon dat hy diep respek vir die Woord van God het. Dié wat na hom geluister het, “was verstom oor die manier waarop hy geleer het, want hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Markus 1:22). Wanneer die skrifgeleerdes ander geleer het, het hulle graag na die sogenaamde mondelinge wet verwys en geleerde rabbi’s uit die verlede aangehaal. Jesus het nooit die mondelinge wet of die een of ander rabbi as ’n gesag aangehaal nie. Hy het God se Woord eerder as die hoogste gesag beskou. Keer op keer vind ons dat hy sê: “Daar staan geskrywe.” Hy het daardie of soortgelyke woorde herhaaldelik gebruik wanneer hy sy volgelinge geleer en verkeerde idees reggestel het.
8, 9. (a) Hoe het Jesus die gesag van God se Woord ondersteun toe hy die tempel gereinig het? (b) Op watter manier het die godsdiensleiers by die tempel ’n algehele gebrek aan respek vir God se Woord getoon?
8 Toe Jesus die tempel in Jerusalem gereinig het, het hy gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed genoem word’, maar julle maak dit ’n rowerspelonk” (Matteus 21:12, 13; Jesaja 56:7; Jeremia 7:11). Hy het die vorige dag talle wonderwerke daar gedoen. Jong seuns was baie beïndruk en het hom begin loof. Maar die godsdiensleiers was verontwaardig en het Jesus gevra of hy hoor wat daardie kinders sê. Hy het geantwoord: “Ja. Het julle nooit gelees nie: ‘Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei’?” (Matteus 21:16; Psalm 8:2). Jesus wou hê dat daardie manne moes weet dat wat daar gebeur het, deur God se Woord goedgekeur is.
9 Daardie godsdiensleiers het later bymekaargekom, Jesus gekonfronteer en geëis: “Deur watter gesag doen jy hierdie dinge?” (Matteus 21:23). Jesus het vroeër al baie duidelik laat blyk wat die Bron van sy gesag is. Hy het nie nuwighede ingevoer of nuwe leerstellings uitgedink nie. Hy het bloot toegepas wat sy Vader se geïnspireerde Woord sê. Daardie priesters en skrifgeleerdes het dus in werklikheid ’n algehele gebrek aan respek vir Jehovah en sy Woord getoon. Toe Jesus die goddeloosheid van hulle beweegredes blootgelê het, het hulle sy kritiek dubbel en dwars verdien.—Matteus 21:23-46.
10. Hoe kan ons Jesus navolg in die manier waarop ons God se Woord gebruik, en watter hulpmiddele het ons wat Jesus nie gehad het nie?
10 Soos Jesus, steun ware Christene vandag op God se Woord in die bediening. Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle gretigheid om ’n boodskap uit die Bybel aan ander oor te dra. Ons publikasies haal deurgaans uit die Bybel aan of verwys daarna. En in ons bediening doen ons dieselfde deur die Skrif te probeer gebruik wanneer ons ook al met mense praat (2 Timoteus 3:16). Hoe bly maak dit ons tog wanneer iemand ons toelaat om uit die Bybel te lees en die waarde en betekenis van God se Woord te bespreek! Ons het nie Jesus se volmaakte geheue nie, maar ons het baie hulpmiddele wat Jesus nie gehad het nie. Benewens die hele Bybel wat in al hoe meer tale gedruk word, het ons baie Bybelstudiehulpe wat ons help om enige vers te kan vind wat ons soek. Laat ons vasbeslote wees om aan te hou om by elke geleentheid uit die Bybel aan te haal en mense se aandag daarop te vestig!
Hy het God se Woord verdedig
11. Waarom moes Jesus God se Woord dikwels verdedig?
11 Jesus het gevind dat God se Woord dikwels aangeval word, maar dit het hom beslis nie verbaas nie. “U woord is die waarheid”, het Jesus in gebed tot sy Vader gesê (Johannes 17:17). En Jesus het goed geweet dat Satan, “die heerser van die wêreld”, “’n leuenaar en die vader van die leuen” is (Johannes 8:44; 14:30). Toe hy Satan se versoekings verwerp het, het Jesus drie keer uit die Skrif aangehaal. Satan het een vers uit die Psalms aangehaal en dit doelbewus verkeerd toegepas, en Jesus het daarop geantwoord deur God se Woord teen hierdie verkeerde gebruik te verdedig.—Matteus 4:6, 7.
12-14. (a) Hoe het die godsdiensleiers ’n gebrek aan respek vir die Mosaïese Wet getoon? (b) Hoe het Jesus God se Woord verdedig?
12 Jesus het dikwels die Heilige Skrif verdedig teen die verkeerde gebruik, verkeerde vertolking en verkeerde voorstelling daarvan. Die godsdiensonderrigters van sy dag het God se Woord op ’n ongebalanseerde manier voorgestel. Hulle het groot klem gelê op die onderhouding van die kleinste besonderhede van die Mosaïese Wet, maar baie min op die toepassing van die beginsels waarop die wette gegrond was. Hulle het dus ’n oppervlakkige vorm van aanbidding voorgestaan, een wat meer besorg was oor die uiterlike voorkoms as oor gewigtiger sake—soos geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid (Matteus 23:23). Hoe het Jesus God se Wet verdedig?
13 In sy Bergpredikasie het Jesus herhaaldelik die frase ‘julle het gehoor dat daar gesê is’ gebruik om ’n bepaling van die Mosaïese Wet in te lei. Hy het dit opgevolg met die frase “maar ek sê vir julle” en het dan uitgewei oor ’n beginsel wat verder gaan as die oppervlakkige onderhouding van die Wet. Het hy teen die Wet gepraat? Nee, hy het dit verdedig. Die mense was byvoorbeeld goed bekend met die wet “Jy mag nie moord pleeg nie”. Maar Jesus het vir hulle gesê dat die gees van daardie wet geskend word as hulle iemand haat. Net so, as ’n mens hartstog koester vir iemand anders as jou huweliksmaat, skend dit die beginsel wat onderliggend is aan God se wet teen egbreuk.—Matteus 5:17, 18, 21, 22, 27-39.
14 Ten slotte het Jesus gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:43, 44). Het die gebod om ‘jou vyand te haat’ in God se Woord verskyn? Nee, hierdie voorskrif was iets wat die godsdiensleiers self uitgedink het. Hulle het God se volmaakte Wet met menslike denke afgewater. Jesus het God se Woord onbevrees teen die skadelike uitwerking van mensetradisies verdedig.—Markus 7:9-13.
15. Hoe het Jesus God se Wet verdedig teen pogings om dit onredelik streng, selfs ongevoelig, te laat voorkom?
15 Die godsdiensleiers het ook God se Wet aangeval deur dit onredelik streng, selfs ongevoelig, te laat voorkom. Toe Jesus se dissipels ’n paar koringare gepluk het terwyl hulle deur ’n graanland geloop het, het ’n paar Fariseërs beweer dat hulle die Sabbat skend. Jesus het ’n skriftuurlike voorbeeld gebruik om God se Woord teen hierdie ongebalanseerde beskouing te verdedig. Hy het verwys na die enigste keer waar daar in die Skrif genoem word dat die toonbrode in die tempel buite die heiligdom gebruik is—toe Dawid en sy honger manne dit geëet het. Jesus het vir daardie Fariseërs gewys dat hulle nie die punt van Jehovah se barmhartigheid en medelye gesnap het nie.—Markus 2:23-27.
16. Wat het die godsdiensleiers met Moses se gebod ten opsigte van egskeiding gedoen, en hoe het Jesus daarop gereageer?
16 Godsdiensleiers het ook wettiese skuiwergate gesoek om die krag van God se Wet te verswak. Die Wet het ’n man byvoorbeeld toegelaat om van sy vrou te skei as hy “iets onwelvoegliks” aan haar gevind het, blykbaar die een of ander ernstige probleem wat skande oor sy huis gebring het (Deuteronomium 24:1). Maar teen Jesus se dag het die godsdiensleiers daardie toegewing gebruik as ’n verskoning om ’n man toe te laat om op allerhande gronde van sy vrou te skei—selfs omdat sy sy kos gebrand het! a Jesus het getoon dat hulle Moses se geïnspireerde woorde liederlik verdraai het. Toe het hy Jehovah se oorspronklike standaard vir die huwelik, naamlik monogamie, herstel en gesê dat geslagsonsedelikheid die enigste gepaste grond vir egskeiding is.—Matteus 19:3-12.
17. Hoe kan Christene Jesus vandag navolg wanneer hulle God se Woord verdedig?
17 Vandag voel Christus se volgelinge ook verplig om die Heilige Skrif te verdedig wanneer dit aangeval word. Wanneer godsdiensleiers te kenne gee dat die sedelike standaarde van God se Woord outyds is, val hulle in werklikheid die Bybel aan. Die Bybel word ook aangeval wanneer godsdienste valshede leer en dit as Bybelleerstellings aanbied. Ons beskou dit as ’n voorreg om God se suiwer Woord van waarheid te verdedig—deur byvoorbeeld te wys dat God nie deel van ’n Drie-eenheid is nie (Deuteronomium 4:39). Terselfdertyd doen ons dit op taktvolle wyse met opregte sagmoedigheid en diep respek.—1 Petrus 3:15.
Hy het God se Woord verklaar
18, 19. Watter voorbeelde toon dat Jesus ’n wonderlike vermoë gehad het om God se Woord te verklaar?
18 Jesus het in die hemel gelewe toe die Hebreeuse Geskrifte opgeteken is. Hoe moes hy tog die geleentheid geniet het om na die aarde toe te kom en deel te neem aan die verklaring van God se Woord! Dink byvoorbeeld aan daardie onvergeetlike dag ná sy opstanding toe hy twee van sy dissipels op die pad na Emmaus ontmoet het. Voordat hulle besef het wie hy was, het hulle hom vertel hoe hartseer en verward hulle is oor die dood van hulle geliefde Heer. Hoe het hy daarop gereageer? “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.” Watter uitwerking het dit op hulle gehad? Hulle het later vir mekaar gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?”—Lukas 24:15-32.
19 Later daardie selfde dag het Jesus met sy apostels en ander vergader. Kyk wat hy vir hulle gedoen het: “Hy [het] hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp” (Lukas 24:45). Daardie blye geleentheid het hulle ongetwyfeld herinner aan al die tye wat Jesus iets soortgelyks gedoen het vir hulle—en vir enigiemand anders wat wou luister. Hy het dikwels welbekende tekste geneem en dit verklaar op ’n manier wat iets wonderliks in die verstand van sy toehoorders laat posvat het—’n nuwe en dieper begrip van God se Woord.
20, 21. Hoe het Jesus die woorde verklaar wat Jehovah by die brandende bos vir Moses gesê het?
20 By een van daardie geleenthede het Jesus met ’n groep Sadduseërs gepraat. Hulle was ’n sekte van Judaïsme wat met die Joodse priesterdom geassosieer is, en hulle het nie in die opstanding geglo nie. Jesus het vir hulle gesê: “Wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God tot julle gespreek het nie, toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’? Hy is die God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes” (Matteus 22:31, 32). Hier was ’n teks wat hulle goed geken het, opgeteken deur ’n man wat die Sadduseërs gerespekteer het—Moses. Maar sien jy die krag van Jesus se verklaring?
21 Moses het in ongeveer 1514 v.G.J. sy gesprek met Jehovah by die brandende bos gehad (Eksodus 3:2, 6). Teen daardie tyd was Abraham reeds 329 jaar dood, Isak 224 jaar en Jakob 197 jaar. Maar Jehovah het nog steeds gesê: “Ek is” hulle God. Daardie Sadduseërs het geweet dat Jehovah nie soos die een of ander heidense god van die dooies is wat oor ’n mitiese onderwêreld heers nie. Nee, hy is die God “van die lewendes”, soos Jesus gesê het. Wat moet dit beteken? Jesus se gevolgtrekking was kragtig: “Vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:38). Jehovah se geliefde knegte wat gesterf het, word veilig bewaar in God se eindelose, onfeilbare geheue. Jehovah se voorneme om sulke persone op te wek, is so seker dat daar van hulle gepraat kan word asof hulle lewe (Romeine 4:16, 17). Is dit nie ’n wonderlike verklaring van God se Woord nie? Geen wonder dat ‘die skare verstom was’ nie!—Matteus 22:33.
22, 23. (a) Hoe kan ons Jesus navolg wanneer ons God se Woord verklaar? (b) Wat gaan ons in die volgende hoofstuk bespreek?
22 Christene het vandag die voorreg om die manier waarop Jesus God se Woord verklaar het, na te volg. Ons het weliswaar nie ’n volmaakte verstand nie. Nietemin kry ons dikwels die geleentheid om met ander te praat oor ’n teks wat hulle reeds ken en aspekte daarvan waaraan hulle dalk nog nooit eers gedink het nie, vir hulle te verklaar. Hulle herhaal byvoorbeeld dalk al hulle hele lewe lank “Laat u naam geheilig word” en “Laat u koninkryk kom” sonder dat hulle ooit geleer het wat God se naam of sy Koninkryk is (Matteus 6:9, 10). Wat ’n wonderlike geleentheid het ons tog wanneer iemand ons toelaat om duidelike, eenvoudige verklarings van sulke Bybelwaarhede te gee!
23 Om uit God se Woord aan te haal, dit te verdedig en dit te verklaar, is vername maniere waarop ons die waarheid aan ander kan meedeel soos Jesus dit gedoen het. Kom ons bespreek vervolgens party van die doeltreffende metodes wat Jesus gebruik het om die harte van sy toehoorders met Bybelwaarhede te bereik.
a Die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus, self ’n geskeide Fariseër, het later te kenne gegee dat egskeiding toelaatbaar was “om hoegenaamd enige rede (en baie van dié redes ontstaan onder mans)”.