HOOFSTUK NEGE
“Gaan . . . en maak dissipels”
1-3. (a) Wat doen ’n boer wanneer die oes te groot is vir hom om dit alleen in te samel? (b) Voor watter uitdaging kom Jesus in die noordelike lente van 33 G.J. te staan, en wat doen hy daaromtrent?
’N BOER kom voor ’n groot uitdaging te staan. ’n Paar maande vroeër het hy sy landerye geploeg en saad gesaai. Hy het met groot sorg toegekyk toe die eerste halmpies verskyn het, en hy was verheug om die plante te sien groei. Nou word al sy harde werk beloon, want die oestyd het aangebreek. Hy staan egter voor ’n dilemma: Die oes is te groot vir hom om dit alleen in te samel. Om hierdie uitdaging te bowe te kom, besluit hy wyslik om werkers te huur en hulle in sy landerye uit te stuur. Daar is immers net soveel tyd om sy kosbare oes in te samel.
2 In die noordelike lente van 33 G.J. kom die verrese Jesus voor ’n soortgelyke uitdaging te staan. Gedurende sy aardse bediening het hy saadjies van waarheid gesaai. Nou is daar ’n oes om in te samel, en dit is groot. Baie ontvanklikes moet as dissipels bymekaargebring word (Johannes 4:35-38). Wat doen Jesus daaromtrent? Op ’n berg in Galilea, kort voordat hy opvaar hemel toe, gee hy sy dissipels ’n opdrag om meer werkers te vind en sê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.
3 Hierdie opdrag is die kern van wat dit beteken om ’n ware volgeling van Christus te wees. Laat ons dan drie vrae ondersoek. Waarom het Jesus die opdrag gegee wat meer werkers tot gevolg sou hê? Hoe het hy sy dissipels opgelei om hulle te vind? Hoe is ons by hierdie opdrag betrokke?
Waarom meer werkers nodig was
4, 5. Waarom sou Jesus nie die werk waarmee hy begin het, voltooi nie, en wie sou met die werk voortgaan nadat hy na die hemel teruggekeer het?
4 Toe Jesus in 29 G.J. met sy bediening begin het, het hy geweet dat hy ’n werk begin wat hy nie self sou kon voltooi nie. In die kort tydjie wat hy op die aarde oorgehad het, sou hy net ’n sekere gebied kon dek en sou hy net ’n sekere aantal mense met die Koninkryksboodskap kon bereik. Hy het weliswaar sy prediking hoofsaaklik tot Jode en proseliete, “die verlore skape van die huis van Israel”, beperk (Matteus 15:24). Maar hierdie “verlore skape” was versprei deur die lengte en breedte van Israel, ’n land wat duisende vierkante kilometers beslaan het. Buitendien sou die goeie nuus uiteindelik ook die res van die wêreld moes bereik.—Matteus 13:38; 24:14.
5 Jesus het besef dat baie werk ná sy dood nog gedoen sou moes word. Vir sy 11 getroue apostels het hy gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Hy wat geloof in my beoefen, hy sal ook self die werke doen wat ek doen; en hy sal groter werke as dié doen, want ek gaan na die Vader toe” (Johannes 14:12). Aangesien die Seun na die hemel toe sou terugkeer, sou sy volgelinge—nie net die apostels nie, maar ook alle toekomstige dissipels—met die predikings- en onderrigtingswerk moes voortgaan (Johannes 17:20). Jesus het nederig erken dat hulle “groter werke” as hy sou doen. Hoe so? Op drie maniere.
6, 7. (a) Op watter maniere sou die werke wat deur Jesus se volgelinge gedoen word, groter wees as syne? (b) Hoe kan ons toon dat Jesus se vertroue in sy volgelinge nie misplaas was nie?
6 Eerstens sou Jesus se volgelinge ’n groter gebied dek. Vandag het hulle getuieniswerk die uithoeke van die aarde bereik, ver verby die grense van die land waar Jesus self gepreek het. Tweedens sou hulle meer mense bereik. Die klein groepie dissipels wat Jesus agtergelaat het, het gou tot duisende gegroei (Handelinge 2:41; 4:4). Nou is daar miljoene, en honderdduisende nuwelinge word elke jaar gedoop. Derdens sou hulle oor ’n langer tydperk preek—tot vandag toe, byna 2 000 jaar nadat Jesus se bediening van drie en ’n half jaar geëindig het.
7 Jesus het vertroue in sy volgelinge uitgespreek toe hy gesê het dat hulle “groter werke as dié” sou doen. Hy het ’n werk aan hulle toevertrou wat vir hom van die allergrootste belang was, om “die goeie nuus van die koninkryk van God” aan mense te verkondig en hulle daarvan te leer (Lukas 4:43). Hy was oortuig dat hulle die toewysing getrou sou uitvoer. Wat beteken dit vandag vir ons? Wanneer ons die bediening ywerig en heelhartig uitvoer, toon ons dat Jesus se vertroue in sy volgelinge nie misplaas was nie. Is dit nie ’n wonderlike voorreg nie?—Lukas 13:24.
Opgelei om ’n getuienis te gee
8, 9. Watter voorbeeld het Jesus in die bediening gestel, en hoe kan ons sy voorbeeld in ons bediening volg?
8 Jesus het sy dissipels die beste moontlike opleiding vir die bediening gegee. Bowenal het hy vir hulle die volmaakte voorbeeld gestel (Lukas 6:40). In die vorige hoofstuk het ons sy gesindheid teenoor die bediening bespreek. Dink ’n bietjie aan die dissipels wat saam met Jesus op sy predikingsreise gegaan het. Hulle het gesien dat hy gepreek het waar mense ook al gevind kon word—langs mere en teen heuwelhange, in stede en op markpleine asook in privaat huise (Matteus 5:1, 2; Lukas 5:1-3; 8:1; 19:5, 6). Hulle het gesien dat hy ’n harde werker was, dat hy vroeg opgestaan het en tot laat in die nag gewerk het. Die bediening was vir hom glad nie ’n terloopse tydverdryf nie! (Lukas 21:37, 38; Johannes 5:17). Hulle het ongetwyfeld aangevoel dat hy deur ’n innige liefde vir mense aangedryf is. Miskien het hulle in sy gesig ’n weerspieëling gesien van die medelye wat hy in sy hart gevoel het (Markus 6:34). Watter uitwerking dink jy het Jesus se voorbeeld op sy dissipels gehad? Hoe sou dit jou geraak het?
9 As volgelinge van Christus volg ons sy voorbeeld in ons bediening. Gevolglik laat ons geen steen onaangeroer om “’n deeglike getuienis” te gee nie (Handelinge 10:42). Soos Jesus, besoek ons mense by hulle huis (Handelinge 5:42). Indien nodig, pas ons ons rooster aan sodat ons hulle kan besoek op ’n tyd wanneer dit meer waarskynlik is dat hulle tuis sal wees. Ons maak ook kontak met mense in openbare plekke—op straat, in parke, in winkels en by hulle werksplek—en lê goeie oordeel aan die dag wanneer ons vir hulle getuig. Ons hou aan om ‘hard te werk en ons in te span’ in die bediening, want ons beskou hierdie werk as iets ernstigs (1 Timoteus 4:10). Innige, hartgrondige liefde vir ander beweeg ons om aan te hou soek na geleenthede om die predikingswerk te doen waar en wanneer mense ook al gevind kan word.—1 Tessalonisense 2:8.
10-12. Watter belangrike lesse het Jesus sy dissipels geleer voordat hy hulle uitgestuur het om te preek?
10 Nog ’n manier waarop Jesus sy dissipels opgelei het, was deur hulle deeglike instruksies te gee. Voordat hy eers die 12 apostels en later die 70 dissipels uitgestuur het om te preek, het Jesus opleidingsessies gehou (Matteus 10:1-15; Lukas 10:1-12). Die opleiding het goeie resultate opgelewer, want Lukas 10:17 sê: “Die sewentig [het] met vreugde teruggekeer.” Kom ons beskou twee van die belangrike lesse wat Jesus hulle geleer het terwyl ons in gedagte hou dat sy woorde verstaan moet word teen die agtergrond van Joodse gebruike in Bybeltye.
11 Jesus het sy dissipels geleer om op Jehovah te vertrou. Hy het vir hulle gesê: “Moenie goud of silwer of koper vir julle gordelbeurse aanskaf nie, of ’n voedselsak vir die reis of twee onderkledingstukke of sandale of ’n staf nie; want die werker is sy voedsel werd” (Matteus 10:9, 10). Dit was algemeen vir reisigers om ’n gordelbeurs vir geld, ’n voedselsak vir padkos en ’n ekstra paar sandale saam te neem. a Deur sy dissipels opdrag te gee om hulle nie oor sulke dinge te kwel nie, het Jesus in werklikheid gesê: “Stel julle vertroue ten volle op Jehovah, want hy sal in julle behoeftes voorsien.” Jehovah sou vir hulle voorsien deur diegene wat die goeie nuus aanvaar het, te beweeg om gasvryheid te betoon, wat ’n gebruik in Israel was.—Lukas 22:35.
12 Jesus het sy dissipels ook geleer om onnodige afleidings te vermy. Hy het gesê: “Moet niemand langs die pad met ’n omhelsing groet nie” (Lukas 10:4). Het Jesus gesê dat hulle koel of afsydig moet wees? Glad nie. In Bybeltye was ’n groet gewoonlik baie meer as ’n eenvoudige hallo. Gewoonlik het ’n groet etlike formaliteite en lang gesprekke ingesluit. Een Bybelgeleerde sê: “Die Oosterlinge het nie, soos ons, gegroet met net ’n knik of ’n handdruk nie, maar het mekaar etlike kere omhels en gebuig en selfs neergekniel. Dit alles het baie tyd in beslag geneem.” Deur vir sy dissipels te sê om nie op die gebruiklike manier te groet nie, het Jesus as ’t ware gesê: “Julle moet julle tyd ten beste benut, want julle boodskap is dringend.” b
13. Op watter maniere kan ons toon dat ons die instruksies wat Jesus aan sy eerste-eeuse dissipels gegee het, ter harte neem?
13 Ons moet die instruksies wat Jesus aan sy eerste-eeuse dissipels gegee het, ter harte neem. Wanneer ons ons bediening uitvoer, stel ons volkome vertroue in Jehovah (Spreuke 3:5, 6). Ons weet dat ons nooit die noodsaaklikhede van die lewe sal kortkom as ons aanhou “om eers die koninkryk . . . te soek” nie (Matteus 6:33). Voltydse Koninkryksverkondigers regoor die wêreld kan daarvan getuig dat Jehovah se hand, selfs in moeilike tye, nooit te kort is nie (Psalm 37:25). Ons besef ook dat dit belangrik is om afleidings te vermy. As ons nie versigtig is nie, kan hierdie stelsel van dinge ons maklik by ander dinge betrokke laat raak (Lukas 21:34-36). Maar dit is nie nou die tyd om ons aandag te laat aflei nie. Met lewens op die spel is ons boodskap dringend (Romeine 10:13-15). As ons ’n gevoel van dringendheid in ons hart behou, sal dit ons help om nie toe te laat dat die afleidings van hierdie wêreld tyd en energie in beslag neem wat eerder aan die bediening gewy kan word nie. Onthou, die tyd is kort en die oes is groot.—Matteus 9:37, 38.
’n Opdrag waarby ons betrokke is
14. Wat toon dat die opdrag wat in Matteus 28:18-20 opgeteken staan, op alle volgelinge van Christus van toepassing is? (Sien ook voetnoot.)
14 Met die woorde “Gaan . . . en maak dissipels” het die verrese Jesus ’n groot verantwoordelikheid op sy volgelinge geplaas. Hy het meer in gedagte gehad as net die dissipels wat daardie lentedag op die berg in Galilea teenwoordig was. c Die werk wat hy hulle gegee het, het beteken dat “mense van al die nasies” bereik moes word, en dit gaan voort “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”. Hierdie opdrag is blykbaar op alle volgelinge van Christus van toepassing, wat ons vandag insluit. Kom ons ondersoek Jesus se woorde in Matteus 28:18-20 van naderby.
15. Waarom is ons verstandig as ons Jesus se bevel om dissipels te maak, gehoorsaam?
15 Voordat Jesus die opdrag gee, sê hy: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Vers 18). Het Jesus werklik sulke groot gesag? Ja, beslis! Hy is die aartsengel en tienduisende van tienduisende engele is onder sy bevel (1 Tessalonisense 4:16; Openbaring 12:7). As “hoof van die gemeente” het hy gesag oor sy volgelinge op die aarde (Efesiërs 5:23). Sedert 1914 regeer hy as die Messiaanse Koning in die hemel (Openbaring 11:15). Sy gesag strek selfs tot in die graf, want hy het die mag om die dooies op te wek (Johannes ). Deur eers melding te maak van sy groot gesag, toon Jesus dat die woorde wat volg, nie ’n voorstel is nie, maar ’n bevel. Ons is verstandig as ons dit gehoorsaam, want sy gesag is nie uit homself nie, maar hy kry dit van God.— 5:26-281 Korintiërs 15:27.
16. Wat beveel Jesus ons om te doen wanneer hy sê dat ons moet “gaan”, en hoe voer ons hierdie aspek van die opdrag uit?
16 Nou sit Jesus die opdrag uiteen, wat begin met ’n enkele woord: “Gaan” (Vers 19). Hy sê dus dat ons die inisiatief moet neem om ander met die Koninkryksboodskap te bereik. Ons kan ’n verskeidenheid metodes gebruik om hierdie aspek van die opdrag uit te voer. ’n Baie doeltreffende manier om persoonlik met mense kontak te maak, is om van huis tot huis te getuig (Handelinge 20:20). Ons soek ook na geleenthede om informeel te getuig; ons is gretig om in ons daaglikse lewe ’n gesprek oor die goeie nuus aan te knoop wanneer dit ook al gepas is. Ons spesifieke predikingsmetodes kan verskil, aangesien dit by plaaslike behoeftes en omstandighede aangepas word. Maar een ding bly dieselfde: Ons “gaan” en soek na verdienstelikes.—Matteus 10:11.
17. Hoe ‘maak ons dissipels’?
17 Jesus verduidelik daarna wat die oogmerk van die opdrag is, naamlik om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’ (Vers 19). Hoe ‘maak ons dissipels’? ’n Dissipel is basies ’n leerder, iemand wat opgelei is. Maar om dissipels te maak, is nie bloot om kennis aan ander oor te dra nie. Wanneer ons die Bybel met belangstellendes studeer, is ons doel om hulle te help om volgelinge van Christus te word. Wanneer dit ook al moontlik is, vestig ons die aandag op Jesus se voorbeeld sodat ons studente leer om na hom te kyk as hulle Leermeester en Voorbeeld en te lewe soos hy gelewe het en die werk te doen wat hy gedoen het.—Johannes 13:15.
18. Waarom is doop die belangrikste mylpaal in ’n dissipel se lewe?
18 ’n Noodsaaklike deel van die opdrag word in hierdie woorde uitgedruk: “Doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Vers 19). Doop is die belangrikste mylpaal in ’n dissipel se lewe, want dit is ’n gepaste simbool van sy heelhartige toewyding aan God. Dit is dus noodsaaklik vir oorlewing (1 Petrus 3:21). Ja, deur voort te gaan om sy bes te doen in Jehovah se diens, kan die gedoopte dissipel uitsien na eindelose seëninge in die komende nuwe wêreld. Het jy iemand al gehelp om ’n gedoopte dissipel van Christus te word? In die Christelike bediening is daar geen groter rede tot vreugde nie.—3 Johannes 4.
19. Wat leer ons nuwelinge, en waarom kan die onderrigting ná hulle doop voortduur?
19 Jesus verduidelik die volgende deel van die opdrag en sê: “Leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Vers 20). Ons leer nuwelinge om gehoor te gee aan Jesus se bevele, insluitende die bevele om God lief te hê, ons naaste lief te hê en om dissipelmakers te wees (Matteus 22:37-39). Ons leer hulle progressief hoe om Bybelwaarhede te verduidelik en hulle groeiende geloof te verdedig. Wanneer hulle aan die vereistes voldoen om aan die openbare predikingswerk deel te neem, werk ons saam met hulle en leer ons hulle deur woord en voorbeeld hoe om ’n betekenisvolle aandeel aan hierdie werk te hê. Die onderrigting van nuwe dissipels word nie noodwendig voor hulle doop voltooi nie. Pasgedooptes het moontlik verdere opleiding nodig om hulle te help om die uitdagings te bowe te kom wat daarby betrokke is om Christus te volg.—Lukas 9:23, 24.
“Ek is met julle al die dae”
20, 21. (a) Waarom het ons geen rede om te vrees terwyl ons Jesus se opdrag uitvoer nie? (b) Waarom is dit nie nou die tyd om te verslap nie, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
20 Die laaste woorde van Jesus se opdrag is baie gerusstellend: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20). Jesus erken dat hierdie toewysing gewigtig is. Hy weet ook dat die uitvoering daarvan soms vyandige reaksies van teenstanders sal uitlok (Lukas 21:12). Maar daar is geen rede om te vrees nie. Ons Leier verwag nie van ons om hierdie toewysing sonder hulp of alleen uit te voer nie. Is dit nie gerusstellend om te weet dat die Een wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” het, met ons is om ons in die uitvoering van hierdie opdrag te ondersteun nie?
21 Jesus het sy dissipels verseker dat hy deur die eeue heen, tot aan “die voleinding van die stelsel van dinge”, met hulle sou wees in hulle bediening. Tot die einde kom, moet ons voortgaan om Jesus se opdrag uit te voer. Dit is nie nou die tyd om te verslap nie. ’n Oorvloedige geestelike oes is aan die gang! Ontvanklikes word in groot getalle versamel. Laat ons, as volgelinge van Christus, vasbeslote wees om die gewigtige opdrag uit te voer wat aan ons toevertrou is. Laat ons vasbeslote wees om van ons tyd, energie en middele te gee om Christus se bevel: “Gaan . . . en maak dissipels” uit te voer.
a ’n Gordelbeurs was moontlik ’n soort gordel wat gebruik is om munte in te dra. ’n Voedselsak was ’n groter sak, gewoonlik van leer, wat oor die skouer gedra is en gebruik is om kos en ander noodsaaklikhede in te dra.
b Die profeet Elisa het eenkeer soortgelyke instruksies gegee. Toe hy sy kneg Gehasi gestuur het na die huis van ’n vrou wie se seun gesterf het, het Elisa gesê: “As jy iemand teëkom, moet jy hom nie groet nie” (2 Konings 4:29). Die sending was dringend en daar was dus nie tyd vir onnodige vertragings nie.
c Aangesien die meeste van sy volgelinge in Galilea was, kan dit wees dat die verrese Jesus by die geleentheid wat in Matteus 28:16-20 beskryf word, aan “meer as vyfhonderd” verskyn het (1 Korintiërs 15:6). Daar was dus moontlik honderde teenwoordig toe Jesus die opdrag gegee het om dissipels te maak.