HOOFSTUK AGT
“Hiervoor is ek uitgestuur”
1-4. (a) Hoe leer Jesus ’n Samaritaanse vrou op bekwame wyse, en met watter gevolg? (b) Hoe reageer sy apostels?
HULLE loop al ure lank. Jesus en sy apostels reis noordwaarts, van Judea af op pad na Galilea. Die kortste pad—’n reis van omtrent drie dae—neem hulle deur Samaria. Wanneer die son amper op sy hoogste is, kom hulle naby ’n kleinerige stad met die naam Sigar, waar hulle stop om hulle te verkwik.
2 Terwyl sy apostels gaan kos koop, rus Jesus by ’n put buite die stad. ’n Vrou kom water skep. Jesus kan kies om haar te ignoreer. Hy is “moeg . . . van die reis” (Johannes 4:6). ’n Mens sou dit kon verstaan as hy net sy oë toegemaak het en hierdie Samaritaanse vrou laat kom en gaan het sonder om hom aan haar te steur. Soos ons in Hoofstuk 4 van hierdie boek gesien het, sou die vrou heel waarskynlik verwag het dat enige Jood haar minagtend sou behandel. Maar Jesus knoop ’n gesprek met haar aan.
3 Hy begin met ’n illustrasie, een wat uit die vrou se daaglikse lewe geneem word—trouens, uit wat sy op hierdie oomblik besig is om te doen. Sy is hier om water te skep; Jesus praat van lewegewende water wat haar geestelike dors sal les. ’n Paar keer opper sy potensiële geskilpunte. a Jesus vermy sulke kwessies taktvol en hou die gesprek op koers. Hy bepaal hom by geestelike sake—rein aanbidding en Jehovah God. Sy woorde het verreikende gevolge, want die vrou vertel dit aan die manne van die stad, en hulle wil ook na Jesus luister.—Johannes 4:3-42.
4 Wanneer die apostels terugkom, hoe voel hulle oor die merkwaardige getuienis wat Jesus hier gee? Hulle toon geen teken van geesdrif nie. Hulle is verbaas dat Jesus selfs met hierdie vrou praat, en hulle sê blykbaar niks vir haar nie. Nadat sy weg is, hou hulle by Jesus aan om die kos te eet wat hulle gekoop het. Maar Jesus sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Hulle verstaan nie en neem sy woorde aanvanklik letterlik op. Dan verduidelik hy: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:32, 34). Jesus leer hulle dus dat sy vernaamste werk in die lewe vir hom belangriker is as om te eet. Hy wil hê dat hulle dieselfde daaroor moet voel. Wat is hierdie werk?
5. Wat was Jesus se lewenswerk, en wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?
5 Jesus het eenkeer gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Ja, Jesus is gestuur om te preek en mense te onderrig oor die goeie nuus van God se Koninkryk. b Jesus se volgelinge het vandag dieselfde werk om te doen. Dit is dus noodsaaklik dat ons bespreek waarom Jesus gepreek het, wat hy verkondig het en wat sy gesindheid teenoor sy toewysing was.
Waarom Jesus gepreek het
6, 7. Hoe wou Jesus hê dat “elke openbare onderrigter” daaroor moet voel om ander van die goeie nuus te vertel? Lig toe.
6 Kom ons kyk hoe Jesus gevoel het oor die waarhede wat hy aan ander geleer het; dan sal ons sy gesindheid bespreek teenoor die mense wat hy geleer het. Jesus het ’n treffende illustrasie gebruik om te toon hoe hy daaroor gevoel het om ander te vertel van die waarhede wat Jehovah hom geleer het. Hy het gesê: “Elke openbare onderrigter, wanneer hy van die koninkryk van die hemele geleer is, [is] soos ’n man, ’n huisheer, wat uit sy skatkamer nuwe en ou dinge te voorskyn bring” (Matteus 13:52). Waarom bring die huisheer in hierdie illustrasie dinge uit sy skatkamer?
7 Die huisheer wil nie net spog met sy besittings, soos koning Hiskia van ouds eenkeer—met pynlike gevolge—gedoen het nie (2 Konings 20:13-20). Wat beweeg die huisheer dan om dit te doen? Dink aan ’n illustrasie: Jy besoek ’n gunstelingonderwyser by sy huis. Hy maak ’n laai in sy lessenaar oop en haal ’n paar briewe uit—een geel van ouderdom, die ander nuwer. Dit is briewe wat hy van sy pa gekry het—een van hulle dekades gelede toe die onderwyser nog ’n seun was, die ander in onlangser tye. Sy oë glinster van genot wanneer hy jou vertel hoe kosbaar hierdie briewe vir hom is en hoe die raad daarin sy lewe verander het en jou kan help. Dit is duidelik dat die briewe vir die onderwyser kosbaar is en ’n spesiale plekkie in sy hart het (Lukas 6:45). Hy wys hulle vir jou, nie om te spog of op die een of ander manier daardeur bevoordeel te word nie, maar om jou te help en om jou te laat besef hoe kosbaar hulle is.
8. Waarom het ons goeie rede om die waarhede wat ons in God se Woord leer, as skatte te beskou?
8 Die Groot Leermeester, Jesus, het soortgelyke beweegredes gehad wanneer hy ander van God se waarhede vertel het. Vir hom was daardie waarhede van onskatbare waarde. Hy het dit liefgehad, en hy was gretig om ander daarvan te vertel. Hy wou hê dat al sy volgelinge, “elke openbare onderrigter”, so moet voel. Voel ons so? Ons het oorgenoeg rede om elke waarheid wat ons uit God se Woord leer, lief te hê. Ons stel juwele van waarheid op prys, hetsy dit langgehuldigde oortuigings of onlangse verfynings is. Deur met opregte geesdrif daarvan te praat en ons liefde vir wat Jehovah ons geleer het, te behou, dra ons daardie liefde aan ander oor, soos Jesus gedoen het.
9. (a) Hoe het Jesus gevoel oor die mense wat hy onderrig het? (b) Hoe kan ons Jesus se gesindheid teenoor mense navolg?
9 Jesus het ook die mense wat hy onderrig het, liefgehad, soos ons in meer besonderhede in Deel 3 sal bespreek. Daar is voorspel dat die Messias “jammer [sal] voel vir die geringe en die arme” (Psalm 72:13). Ja, Jesus het omgegee vir mense. Die gedagtes en gesindhede wat hulle aangedryf het, was vir hom belangrik; hy was besorg oor die laste waaronder hulle gebuk gegaan het en die struikelblokke wat hulle verhinder het om die waarheid aan te neem (Matteus 11:28; 16:13; 23:13, 15). Dink byvoorbeeld aan die Samaritaanse vrou. Sy was ongetwyfeld baie beïndruk omdat Jesus in haar belanggestel het. Sy insig in haar persoonlike situasie het gemaak dat sy hom as ’n profeet aanvaar het en ander van hom vertel het (Johannes 4:16-19, 39). Jesus se volgelinge kan vandag weliswaar nie die harte lees van mense vir wie hulle preek nie. Maar ons kan in mense belangstel, soos Jesus gedoen het; ons kan toon dat ons oor hulle besorg is en ons kan ons woorde by hulle besondere belangstellings, uitdagings en behoeftes aanpas.
Wat Jesus verkondig het
10, 11. (a) Wat het Jesus verkondig? (b) Wat het daartoe aanleiding gegee dat ons God se Koninkryk nodig het?
10 Wat het Jesus verkondig? As jy die antwoord probeer vind deur die leringe te ondersoek van baie kerke wat sê dat hulle hom verteenwoordig, sal jy moontlik tot die slotsom kom dat hy die een of ander soort maatskaplike evangelie verkondig het. Of miskien sou jy die indruk kry dat hy politieke hervorming voorgestaan het of dat hy persoonlike redding bo alle ander dinge beklemtoon het. Maar soos vroeër genoem is, het Jesus eenvoudig gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak.” Presies wat het dit behels?
11 Onthou, Jesus was in die hemel teenwoordig toe Satan die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit die eerste keer betwis het. Hoe moes dit Jesus tog ontstel het om te sien hoe sy regverdige Vader belaster word en daarvan beskuldig word dat hy ’n onregverdige Heerser is wat goeie dinge van Sy skepsele weerhou! Hoe moes dit God se Seun tog seergemaak het toe Adam en Eva, die toekomstige ouers van die mensdom, Satan se laster geglo het! Die Seun het gesien hoe die mensdom met sonde en die dood besmet word as gevolg van daardie opstand (Romeine 5:12). Maar hoe verheug moes hy tog gewees het toe hy uitvind dat sy Vader sake eendag sou regstel!
12, 13. Watter onregte sal God se Koninkryk regstel, en hoe het Jesus die Koninkryk die middelpunt van sy bediening gemaak?
12 Wat moes allereers reggestel word? Jehovah se groot naam moes geheilig word, gereinig word van elke sweempie smaad wat Satan en almal wat hulle aan sy kant geskaar het, dit aangedoen het. Die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit, die manier waarop hy sy heerskappy uitoefen, moes geregverdig word. Jesus het hierdie lewensbelangrike sake beter as enige ander mens verstaan. In die modelgebed het hy sy volgelinge geleer om eers te vra dat sy Vader se naam geheilig word, daarna dat sy Vader se Koninkryk kom en dan dat God se wil op die aarde geskied (Matteus 6:9, 10). God se Koninkryk, met Christus Jesus as die Heerser daarvan, sal die aarde binnekort bevry van Satan se verdorwe stelsel en Jehovah se regverdige heerskappy eens en vir altyd bevestig.—Daniël 2:44.
13 Daardie Koninkryk was die tema van Jesus se bediening. Al sy woorde en al sy dade het gehelp om te verklaar wat daardie Koninkryk is en hoe dit Jehovah se voorneme sal help verwesenlik. Jesus het nie toegelaat dat enigiets sy aandag aflei van sy doel om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie. In sy dag was daar dringende maatskaplike kwessies, tallose onregte, maar hy het hom op sy boodskap en sy werk toegespits. Het die feit dat Jesus hom hierop toegespits het, beteken dat hy ’n eng beskouing gehad het, dat hy verbeeldingloos en afgesaag was in sy benadering? Allesbehalwe!
14, 15. (a) In watter sin was Jesus “iets meer as Salomo”? (b) Hoe kan ons Jesus navolg in die boodskap wat ons verkondig?
14 Soos ons deur hierdie hele deel sal sien, het Jesus sy onderrigting interessant sowel as kleurryk gemaak. Hy het mense se harte probeer bereik. Dit herinner ons dalk aan wyse koning Salomo, wat welgevallige woorde, korrekte woorde van waarheid, gesoek het om die gedagtes oor te dra wat Jehovah hom geïnspireer het om neer te skryf (Prediker 12:10). Jehovah het daardie onvolmaakte man “ruimheid van hart” gegee, wat hom in staat gestel het om oor baie dinge te praat, van voëls tot visse tot bome tot diere. Mense het van heinde en verre gekom om na Salomo te luister (1 Konings 4:29-34). En tog was Jesus “iets meer as Salomo” (Matteus 12:42). Hy was baie wyser, met baie meer “ruimheid van hart”. Wanneer Jesus mense geleer het, het hy gebruik gemaak van sy ontsaglike kennis van God se Woord sowel as van voëls, diere, visse, die landbou, die weer, aktuele sake, geskiedenis en maatskaplike toestande. Terselfdertyd het Jesus nooit met sy kennis te koop geloop om ander te beïndruk nie. Hy het sy boodskap eenvoudig en duidelik gehou. Dit is geen wonder dat mense dit geniet het om na hom te luister nie!—Markus 12:37; Lukas 19:48.
15 Christene probeer vandag Jesus se voorbeeld volg. Ons het nie sy ontsaglike wysheid en kennis nie, maar ons het almal ’n mate van kennis en ondervinding waarvan ons gebruik kan maak wanneer ons ander van die waarhede in God se Woord vertel. Ouers kan byvoorbeeld hulle ondervinding in die grootmaak van kinders gebruik om Jehovah se liefde vir Sy kinders toe te lig. Ander kan sekulêre werk, die skool of hulle kennis van mense of aktuele gebeure as die grondslag vir voorbeelde of illustrasies gebruik. Terselfdertyd is ons versigtig om nie toe te laat dat enigiets die aandag van ons boodskap—die goeie nuus van God se Koninkryk—aftrek nie.—1 Timoteus 4:16.
Jesus se gesindheid teenoor sy bediening
16, 17. (a) Watter gesindheid het Jesus teenoor sy bediening gehad? (b) Hoe het Jesus getoon dat sy bediening die middelpunt van sy lewe was?
16 Jesus het sy bediening as ’n kosbare skat beskou. Hy was verheug om mense te help om sy hemelse Vader te sien soos Hy werklik is, nie verberg deur verwarrende mensgemaakte leerstellings en tradisies nie. Jesus het dit geniet om mense te help om ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah en die hoop op ewige lewe te verkry. Hy het die vertroosting en vreugde van die goeie nuus met graagte na mense gebring. Hoe het hy getoon dat hy sulke gevoelens het? Kom ons kyk na drie maniere.
17 Eerstens, Jesus het die bediening die middelpunt van sy lewe gemaak. Om oor die Koninkryk te praat, was sy loopbaan, sy lewenswerk, sy grootste belangstelling. Daarom het Jesus, soos ons in Hoofstuk 5 gesien het, sy lewe wyslik eenvoudig gehou. Soos hy ander aangeraai het, het hy sy oog gevestig gehou op wat die belangrikste was. Hy het nie sy aandag laat aflei deur baie dinge waarvoor hy sou moes betaal en wat hy met verloop van tyd sou moes in stand hou, herstel of vervang nie. Hy het ’n eenvoudige lewe gelei sodat niks hom onnodig van sy bediening sou wegneem nie.—Matteus 6:22; 8:20.
18. Op watter maniere het Jesus hom in sy bediening ingespan?
18 Tweedens, Jesus het hom in sy bediening ingespan. Hy het ’n geweldige hoeveelheid energie daaraan gewy, letterlik honderde kilometers deur die hele Palestina geloop en mense gesoek wat hy van die goeie nuus kon vertel. Hy het in hulle huise, op openbare pleine en in die buitelug met hulle gepraat. Hy het selfs met hulle gepraat wanneer hy rus, kos, water of ’n bietjie ontspanning saam met sy beste vriende nodig gehad het. Selfs toe hy sterwend was, het hy ander nog steeds van die goeie nuus van God se Koninkryk vertel!—Lukas 23:39-43.
19, 20. Hoe het Jesus die dringendheid van die predikingswerk toegelig?
19 Derdens, Jesus het getoon dat die bediening vir hom iets dringends was. Dink aan sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put buite Sigar. Jesus se apostels het by daardie geleentheid blykbaar nie gedink dat daar ’n dringende behoefte was om ander van die goeie nuus te vertel nie. Jesus het vir hulle gesê: “Sê julle nie dat dit nog vier maande is voor die oes kom nie? Kyk! Ek sê vir julle: Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.”—Johannes 4:35.
20 Jesus het daardie illustrasie gegrond op die seisoen waarin hulle was. Dit was blykbaar die maand Kislef (November/Desember). Die garsoes sou eers oor vier maande plaasvind, ongeveer die tyd van die Pasga, wat op 14 Nisan geval het. Boere het dus op daardie tyd geen gevoel van dringendheid gehad wat die oes betref nie. Dit was nog ver weg. Maar wat van die oes van mense? A, baie was gereed om te hoor, te leer, om Christus se dissipels te word en die wonderlike hoop te verkry wat Jehovah hulle gebied het. Dit was asof Jesus oor daardie figuurlike lande kon uitkyk en sien dat dit wit was van al die ryp graan wat saggies in die wind wieg as ’n aanduiding dat dit gereed is om geoes te word. c Die tyd was op hande, en die werk was dringend! Toe die mense van een stad Jesus by hulle wou hou, het hy derhalwe vir hulle gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur.”—Lukas 4:43.
21. Hoe kan ons Jesus navolg?
21 Ons kan Jesus navolg op al drie maniere wat ons so pas bespreek het. Ons kan die Christelike bediening die middelpunt van ons lewe maak. Al het ons gesins- en sekulêre verpligtinge, kan ons toon dat ons bediening eerste kom deur, soos Jesus, ’n ywerige, gereelde aandeel daaraan te hê (Matteus 6:33; 1 Timoteus 5:8). Ons kan ons in die bediening inspan en mildelik van ons tyd, energie en middele gee om dit te ondersteun (Lukas 13:24). En ons kan altyd in gedagte hou dat ons werk dringend is (2 Timoteus 4:2). Ons moet elke geleentheid om te preek, aangryp!
22. Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?
22 Jesus het ook getoon dat hy besef het hoe belangrik die werk is deur te verseker dat dit ná sy dood sou voortgaan. Hy het sy volgelinge opdrag gegee om die predikings- en onderrigtingswerk voort te sit. Die volgende hoofstuk sal oor hierdie opdrag handel.
a Byvoorbeeld, wanneer sy vra waarom ’n Jood met ’n Samaritaan praat, raak sy die onderwerp van die eeue oue vyandskap tussen die twee volke aan (Johannes 4:9). Sy sê ook dat haar volk van Jakob afstam, ’n bewering wat die Jode van daardie tyd heftig ontken (Johannes 4:12). Hulle noem die Samaritane Kuteërs om hulle afstamming van vreemde volke te beklemtoon.
b Om te preek, beteken om ’n boodskap te verkondig, of bekend te maak. Om te onderrig, het ’n soortgelyke betekenis, maar behels om ’n boodskap in groter diepte en besonderhede oor te dra. Goeie onderrigting sluit in dat ’n mens maniere vind om die hart te bereik sodat studente beweeg kan word om te handel volgens wat hulle hoor.
c Aangaande hierdie vers sê een naslaanwerk: “Wanneer graan ryp is, verander dit van ’n groen na ’n geel, of ligte kleur, wat toon dat dit reg is om geoes te word.”