Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWAALF

“Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”

“Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”

1-3. (a) Watter besondere voorreg het die dissipels wat saam met Jesus reis, en hoe maak hy dit vir hulle makliker om te onthou wat hy vir hulle leer? (b) Waarom is doeltreffende illustrasies maklik om te onthou?

 DIE dissipels wat saam met Jesus reis, het ’n besondere voorreg. Hulle leer direk by die Groot Leermeester. Hulle hoor sy stem wanneer hy die betekenis van God se Woord uitlê en hulle van wonderlike waarhede leer. Hulle moet vir eers sy kosbare woorde in hulle verstande en harte hou; dit is nog nie die tyd vir sy woorde om op skrif bewaar te word nie. a Maar Jesus maak dit vir hulle makliker om te onthou wat hy leer. Hoe? Deur sy manier van onderrigting, veral deur sy uitstekende gebruik van illustrasies.

2 Ja, doeltreffende illustrasies word nie gou vergeet nie. Een skrywer het gesê dat illustrasies “ore in oë verander” en dat dit “luisteraars in staat stel om beelde in hulle gedagtes te vorm”. Omdat ons dikwels beter dink as ons beelde vorm, kan illustrasies dit makliker maak om selfs abstrakte idees te begryp. Illustrasies kan lewe gee aan woorde en vir ons lesse leer wat op ons geheue ingeprent word.

3 Geen onderrigter op die aarde het illustrasies beter as Jesus Christus gebruik nie. Tot vandag toe word sy illustrasies maklik onthou. Waarom het Jesus soveel gebruik gemaak van hierdie onderrigmetode? Wat het sy illustrasies so doeltreffend gemaak? Hoe kan ons leer om hierdie onderrigmetode te gebruik?

Waarom Jesus deur illustrasies onderrig het

4, 5. Waarom het Jesus illustrasies gebruik?

4 Die Bybel gee twee belangrike redes waarom Jesus illustrasies gebruik het. Eerstens het dit ’n profesie vervul. In Matteus 13:34, 35 lees ons: “Hierdie dinge het Jesus deur illustrasies vir die skare gesê. Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie; sodat vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet, wat gesê het: ‘Ek sal my mond oopmaak met illustrasies.’” Die profeet waarvan Matteus praat, was die skrywer van Psalm 78:2. Daardie psalmis het eeue voor Jesus se geboorte onder inspirasie van God se gees geskryf. Dink net wat dit beteken. Honderde jare voor die tyd het Jehovah bepaal dat die Messias deur illustrasies sou onderrig. Jehovah moet dus beslis waarde heg aan hierdie onderrigmetode.

5 Tweedens het Jesus verduidelik dat hy illustrasies gebruik het om diegene uit te sif wie se harte “onontvanklik geword” het (Matteus 13:10-15; Jesaja 6:9, 10). Wat was dit omtrent sy illustrasies wat mense se beweegredes geopenbaar het? In party gevalle wou hy hê dat sy toehoorders ’n verduideliking moes vra om die volle betekenis van sy woorde te verstaan. Nederige persone was bereid om te vra, terwyl hoogmoediges of onverskilliges nie was nie (Matteus 13:36; Markus 4:34). Jesus se illustrasies het dan waarheid geopenbaar aan diegene wie se harte daarna gesmag het; terselfdertyd het sy illustrasies waarheid verberg vir diegene met trotse harte.

6. In watter opsigte was Jesus se illustrasies nuttig?

6 Jesus se illustrasies was in ’n aantal ander opsigte nuttig. Hulle het belangstelling gewek en mense laat luister. Hulle het beelde in die verstand geskep wat maklik was om te verstaan. Soos aan die begin genoem is, het Jesus se illustrasies sy toehoorders gehelp om sy woorde te onthou. Die Bergpredikasie, soos opgeteken in Matteus 5:3–7:27, is ’n uitstekende voorbeeld van Jesus se oorvloedige gebruik van illustrasies. Volgens een telling bevat hierdie toespraak meer as 50 voorbeelde van beeldspraak. Om dit in perspektief te plaas, moet ons in gedagte hou dat hierdie toespraak in omtrent 20 minute voorgelees kan word. Teen daardie tempo word ’n voorbeeld van beeldspraak gemiddeld elke 20 sekondes gebruik! Jesus het klaarblyklik die waarde van woordskilderings besef!

7. Waarom moet ons Jesus se gebruik van illustrasies navolg?

7 As volgelinge van Christus wil ons sy manier van onderrigting navolg, met inbegrip van sy gebruik van illustrasies. Soos die smaakmiddels wat ’n ete aangenamer maak, kan doeltreffende illustrasies ons onderrigting vir ander aantrekliker maak. Weldeurdagte illustrasies kan belangrike waarhede ook makliker maak om te verstaan. Kom ons kyk nou van naderby na party van die faktore wat Jesus se illustrasies so doeltreffend gemaak het. Dan sal ons kan sien hoe ons hierdie waardevolle onderrigmetode goed kan gebruik.

Eenvoudige vergelykings

Hoe het Jesus voëls en blomme gebruik om toe te lig dat God vir ons sorg?

8, 9. Hoe het Jesus van eenvoudige vergelykings gebruik gemaak, en wat het die vergelykings wat hy gebruik het, so doeltreffend gemaak?

8 In sy onderrigting het Jesus dikwels vergelykings gebruik wat eenvoudig is en net ’n paar woorde verg. En tog het die eenvoudige woorde treffende beelde in die verstand geskep en belangrike geestelike waarhede oorgedra. Toe hy byvoorbeeld sy dissipels aangespoor het om hulle nie oor daaglikse behoeftes te kwel nie, het hy na “die voëls van die hemel” en “die lelies van die veld” verwys. Die voëls saai en oes nie, en die lelies spin en weef nie. Nogtans sorg God vir hulle. Dit is maklik om die punt in te sien—naamlik, as God vir die voëls en blomme sorg, sal hy tog sekerlik vir mense sorg wat ‘aanhou om eers die koninkryk te soek’.—Matteus 6:26, 28-33.

9 Jesus het ook vryelik gebruik gemaak van metafore, wat selfs kragtiger vergelykings is. ’n Metafoor praat van een ding asof dit iets anders is. Ook hier het hy die vergelykings eenvoudig gehou. By een geleentheid het hy vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld.” Die dissipels móés eenvoudig die punt van die metafoor insien, naamlik dat hulle deur hulle woorde en dade die lig van geestelike waarheid kan laat skyn en ander kan help om aan God heerlikheid te gee (Matteus 5:14-16). Let op ’n paar ander metafore wat Jesus gebruik het: “Julle is die sout van die aarde” en “Ek is die wingerdstok, julle is die lote” (Matteus 5:13; Johannes 15:5). Sulke voorbeelde van beeldspraak is kragtig weens hulle eenvoud.

10. Wat is ’n paar voorbeelde wat toon hoe jy illustrasies in jou onderrigting kan gebruik?

10 Hoe kan jy illustrasies in jou onderrigting gebruik? Jy hoef nie lang, ingewikkelde stories uit te dink nie. Probeer net aan eenvoudige vergelykings dink. Gestel die opstanding is die onderwerp van jou bespreking, en jy wil illustreer dat dit vir Jehovah geen probleem is om die dooies op te wek nie. Aan watter vergelyking kan jy dink? Die Bybel gebruik slaap as ’n metafoor vir die dood. Jy kan sê: “God kan die dooies net so maklik opwek as wat ons iemand wat slaap, kan wakker maak” (Johannes 11:11-14). Sê nou jy wil illustreer dat kinders liefde en geneentheid nodig het om te floreer. Watter voorbeeld kan jy gebruik? Die Bybel gebruik hierdie vergelyking: Kinders is “soos olyfboomsteggies”, oftewel nuwe lote (Psalm 128:3). Jy kan sê: “’n Kind het liefde en geneentheid net so nodig as wat ’n boom sonskyn en water nodig het.” Hoe eenvoudiger die vergelyking is, hoe makliker sal dit vir jou toehoorders wees om die punt te snap.

Voorbeelde uit die daaglikse lewe

11. Gee voorbeelde van hoe Jesus se illustrasies verwys het na dinge wat hy ongetwyfeld waargeneem het terwyl hy in Galilea grootgeword het.

11 Jesus het illustrasies wat verband hou met die lewe van mense, op meesterlike wyse gebruik. Baie van sy illustrasies het verwys na alledaagse omstandighede wat hy waarskynlik waargeneem het terwyl hy in Galilea grootgeword het. Dink ’n bietjie aan sy vroeë lewe. Hoe dikwels het hy gesien hoe sy ma koring tot meel maal, suurdeeg by deeg voeg, ’n lamp aansteek of die huis uitvee? (Matteus 13:33; 24:41; Lukas 15:8). Hoeveel keer het hy die vissers dopgehou wanneer hulle hulle nette in die See van Galilea laat sak het? (Matteus 13:47). Hoe dikwels het hy na kinders gekyk wat op die markplein speel? (Matteus 11:16). Jesus het ongetwyfeld ander alledaagse dinge gesien wat in sy baie illustrasies genoem word—saad wat gesaai word, vreugdevolle huweliksfeeste en graanlande wat in die son ryp word.—Matteus 13:3-8; 25:1-12; Markus 4:26-29.

12, 13. Waarom is dit in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan betekenisvol dat Jesus die pad “van Jerusalem na Jerigo” gebruik het om sy punt te stel?

12 Jesus het in sy illustrasies besonderhede genoem wat welbekend was aan sy toehoorders. Hy het byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan ingelei deur te sê: “’n Sekere man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en ook geslaan het . . . en hom halfdood agtergelaat [het]” (Lukas 10:30). Dit is betekenisvol dat Jesus na die pad wat “van Jerusalem na Jerigo” gaan, verwys het om sy punt te stel. Toe hy hierdie gelykenis vertel het, was hy in Judea, nie ver van Jerusalem nie; daarom het sy toehoorders ongetwyfeld die betrokke pad geken. Mense het geweet dat daardie pad gevaarlik was, veral vir iemand wat alleen reis. Dit het deur ’n verlate gebied gekronkel, wat baie wegkruipplekke vir rowers gebied het.

13 Jesus het ander bekende besonderhede ingesluit oor die pad “van Jerusalem na Jerigo”. Volgens die gelykenis het eers ’n priester en daarna ’n Leviet ook op hierdie pad gereis—hoewel nie een van die twee gestop het om die slagoffer te help nie (Lukas 10:31, 32). Die priesters het by die tempel in Jerusalem gedien, en die Leviete het hulle gehelp. Baie priesters en Leviete het in Jerigo gewoon wanneer hulle nie by die tempel gewerk het nie; Jerigo was net 23 kilometer van Jerusalem af. Gevolglik kon hulle op hierdie pad gesien word. Let ook daarop dat Jesus gesê het dat die reisiger met die pad “van Jerusalem . . . afgegaan” het—nie opgegaan het nie. Dit het vir sy toehoorders sin gemaak. Jerusalem was hoër as Jerigo geleë. Wanneer ’n reisiger dus “van Jerusalem” af gereis het, sou hy inderdaad “afgegaan” het. b Dit is duidelik dat Jesus sy toehoorders in gedagte gehou het.

14. Hoe kan ons ons gehoor in gedagte hou wanneer ons illustrasies gebruik?

14 Wanneer ons illustrasies gebruik, moet ons ook ons gehoor in gedagte hou. Wat is van die dinge omtrent ons toehoorders wat dalk ’n invloed kan hê op ons keuse van illustrasies? Moontlik moet faktore soos ouderdom, kulturele of familieagtergrond en werk in ag geneem word. Byvoorbeeld, ’n illustrasie wat besonderhede oor boerdery insluit, sal dalk in ’n plattelandse gebied makliker verstaan word as in ’n groot stad. Die daaglikse lewe en bedrywighede van ons toehoorders—hulle kinders, hulle huis, hulle stokperdjies, hulle kos—kan ook die grondslag vir gepaste illustrasies voorsien.

Voorbeelde uit die skepping

15. Waarom is dit nie verbasend dat Jesus intieme kennis van die skepping gehad het nie?

15 Baie van Jesus se illustrasies toon sy kennis van die natuur, insluitende plante, diere en die weer (Matteus 16:2, 3; Lukas 12:24, 27). Waar het hy hierdie kennis vandaan gekry? Terwyl hy in Galilea grootgeword het, het hy ongetwyfeld oorgenoeg geleenthede gehad om die skepping waar te neem. Nog betekenisvoller, Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping”, en in die skepping van alle dinge het Jehovah hom as die “meesterwerker” gebruik (Kolossense 1:15, 16; Spreuke 8:30, 31). Is dit dan enigsins verbasend dat Jesus intieme kennis van die skepping gehad het? Kom ons kyk hoe hy hierdie kennis op bekwame wyse gebruik het.

16, 17. (a) Wat toon dat Jesus die eienskappe van skape baie goed geken het? (b) Watter voorbeeld toon dat skape werklik na die stem van hulle herder luister?

16 Onthou dat Jesus hom as “die goeie herder” geïdentifiseer het en sy volgelinge as “die skape”. Jesus se woorde toon dat hy die eienskappe van skape goed geken het. Hy het geweet dat daar ’n unieke band tussen herders en hulle skape bestaan. Hy het gesê dat hierdie vertrouende diere hulle maklik laat lei en dat hulle hulle herder getrou volg. Waarom volg skape hulle herder? “Omdat hulle sy stem ken”, het Jesus gesê (Johannes 10:2-4, 11). Ken skape werklik die stem van hulle herder?

17 George A. Smith het in sy boek The Historical Geography of the Holy Land geskryf wat hy self gesien het: “Soms het ons in die middag gerus naby een van daardie Judese putte, waarheen drie of vier herders met hulle kuddes kom. Die kuddes het met mekaar gemeng, en ons het gewonder hoe elke herder weer sy eie skape sou kry. Maar nadat die kuddes klaar water gedrink en gespeel het, het die herders een vir een na verskillende kante van die vallei gegaan, en elkeen het op sy besondere manier geroep; en elkeen se skape het uit die klomp gekom na hulle eie herder toe, en die kuddes het net so ordelik wegbeweeg soos hulle gekom het.” Jesus kon beswaarlik ’n beter illustrasie gevind het om sy punt toe te lig, naamlik dat ons onder die sorg van “die goeie herder” kan kom as ons sy leringe aanneem en gehoorsaam en sy leiding volg.

18. Waar kan ons inligting oor Jehovah se skeppingswerke vind?

18 Hoe kan ons leer om illustrasies uit die skepping te gebruik? Die besondere eienskappe van diere voorsien moontlik die grondslag vir eenvoudige maar doeltreffende vergelykings. Waar kan ons inligting oor Jehovah se skeppingswerke vind? Die Bybel is ’n ryk bron van kennis oor ’n verskeidenheid diere, en soms gebruik dit die eienskappe van diere as ’n illustrasie. Die Bybel praat daarvan om so vinnig te wees soos ’n gasel of luiperd, so versigtig soos ’n slang en so onskuldig soos ’n duif (1 Kronieke 12:8; Habakuk 1:8; Matteus 10:16). c Ander nuttige bronne van inligting is Die Wagtoring, Ontwaak! en ander lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Jy kan baie leer as jy let op hoe hierdie publikasies eenvoudige vergelykings gebruik wat op die wondere van Jehovah se talle skeppingswerke gebaseer is.

Voorbeelde uit bekende gebeure

19, 20. (a) Hoe het Jesus ’n gebeurtenis wat kort tevore plaasgevind het, doeltreffend gebruik om ’n valse opvatting bloot te lê? (b) Hoe kan ons werklike voorbeelde en ondervindinge in ons onderrigting gebruik?

19 Doeltreffende illustrasies kan die vorm van werklike voorbeelde aanneem. By een geleentheid het Jesus ’n gebeurtenis wat kort tevore plaasgevind het, gebruik om die opvatting dat rampe oor mense kom wat dit verdien, as vals bloot te lê. Hy het gesê: “Daardie agtien op wie die toring in Siloam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle groter skuldenaars [sondaars] was as al die ander mense wat in Jerusalem woon?” (Lukas 13:4). Ja, daardie 18 siele het nie gesterf as gevolg van die een of ander sonde wat hulle God se misnoeë op die hals gehaal het nie. Hulle tragiese dood was eerder die gevolg van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (Prediker 9:11). Jesus het dus ’n valse lering weerlê deur na ’n gebeurtenis te verwys wat goed bekend was aan sy toehoorders.

20 Hoe kan ons werklike voorbeelde en ondervindinge in ons onderrigting gebruik? Sê nou jy bespreek die vervulling van Jesus se profesie aangaande die teken van sy teenwoordigheid (Matteus 24:3-14). Jy verwys moontlik na onlangse nuusberigte oor oorloë, hongersnode of aardbewings om te toon dat spesifieke aspekte van die teken vervul word. Of stel jou voor dat jy ’n ondervinding wil gebruik om die veranderinge te illustreer wat daarby betrokke is wanneer ’n mens jou met die nuwe persoonlikheid beklee (Efesiërs 4:20-24). Waar kan jy so ’n ondervinding vind? Jy kan aan die uiteenlopende agtergronde van medegelowiges dink, of jy kan ’n ondervinding gebruik wat in een van die publikasies van Jehovah se Getuies verskyn het.

21. Watter belonings kry ’n mens wanneer jy ’n bekwame onderrigter van God se Woord is?

21 Jesus was werklik die Groot Leermeester! Soos ons in hierdie deel gesien het, was sy lewenswerk om ander te ‘leer en die goeie nuus te verkondig’ (Matteus 4:23). Dit is ook ons lewenswerk. As ons bekwame onderrigters is, bring dit groot belonings mee. Wanneer ons onderrig, gee ons aan ander, en om so te gee, maak ’n mens gelukkig (Handelinge 20:35). Daardie geluk is die vreugde wat ons ervaar omdat ons weet dat ons iets van ware en blywende waarde oordra—die waarheid omtrent Jehovah. Ons kan ook bevrediging put uit die wete dat ons die voorbeeld volg van Jesus, die grootste Leermeester wat nog ooit op die aarde was.

a Die eerste geïnspireerde verslag van Jesus se aardse lewe was blykbaar die Evangelie van Matteus, wat omtrent agt jaar ná Jesus se dood opgeteken is.

b Jesus het ook gesê dat die priester en die Leviet “van Jerusalem” af gekom het, met ander woorde, hulle het weg van die tempel af beweeg. Gevolglik kon niemand hulle onverskilligheid verskoon deur te sê dat hulle die man wat gelyk het of hy dood was, vermy het omdat hulle nie tydelik ongeskik wou word om by die tempel te dien nie.—Levitikus 21:1; Numeri 19:16.

c Vir ’n vollediger lys van die Bybel se figuurlike gebruik van die eienskappe van diere, sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 268, 270-1, uitgegee deur Jehovah se Getuies.