Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK ELF

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”

1, 2. (a) Waarom het die beamptes wat gestuur is om Jesus gevange te neem, met leë hande teruggekom? (b) Waarom was Jesus ’n besondere onderrigter?

 DIE Fariseërs is briesend. Jesus is in die tempel en leer ander oor sy Vader. Dié wat na hom luister, is verdeeld; baie stel geloof in Jesus, terwyl ander wil hê dat hy in hegtenis geneem moet word. Die godsdiensleiers kan hulle woede nie beteuel nie en stuur beamptes om Jesus gevange te neem. Die beamptes kom egter met leë hande terug. Die hoofpriesters en Fariseërs eis ’n verduideliking: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die beamptes antwoord: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.” Hulle was so beïndruk met Jesus se onderrigting dat hulle dit nie oor hulle hart kon kry om hom in hegtenis te neem nie. aJohannes 7:45, 46.

2 Daardie beamptes was nie die enigstes wat beïndruk was met Jesus se onderrigting nie. Mense het in groot getalle bymekaargekom net om hom te hoor onderrig (Markus 3:7, 9; 4:1; Lukas 5:1-3). Waarom was Jesus so ’n besondere onderrigter? Soos ons in Hoofstuk 8 gesien het, het hy die waarhede wat hy oorgedra het, sowel as die mense wat hy onderrig het, liefgehad. Hy het ook ’n uitstekende kennis van onderrigmetodes gehad. Kom ons ondersoek drie van die doeltreffende metodes wat hy gebruik het en kyk hoe ons ook daarvan kan gebruik maak.

Hou dit eenvoudig

3, 4. (a) Waarom het Jesus eenvoudige taal in sy onderrigting gebruik? (b) Hoe is die Bergpredikasie ’n voorbeeld van die eenvoud waarmee Jesus onderrig het?

3 Kan jy jou voorstel hoe groot Jesus se woordeskat moes gewees het? Maar wanneer hy onderrig het, het hy nooit so hoogdrawend gepraat dat sy toehoorders, waarvan baie “ongeleerde en gewone mense” was, hom nie kon verstaan nie (Handelinge 4:13). Hy het hulle beperkings in ag geneem en hulle nooit met te veel inligting oorweldig nie (Johannes 16:12). Sy woorde was eenvoudig, maar die waarhede wat daardeur oorgedra is, was baie betekenisvol.

4 Neem byvoorbeeld die Bergpredikasie, wat in Matteus 5:3–7:27 opgeteken is. In hierdie toespraak gee Jesus diep raad, wat tot die kern van sake deurdring. Daar is geen komplekse gedagtes of frases nie. Daar is beswaarlik ’n woord wat selfs ’n jong kind nie maklik sal kan verstaan nie! Toe Jesus klaar was, was die skare—wat waarskynlik baie boere, herders en vissers ingesluit het—begryplikerwys “verstom . . . oor die manier waarop hy geleer het”.—Matteus 7:28.

5. Gee voorbeelde van Jesus se woorde wat eenvoudig maar ryk aan betekenis is.

5 In sy onderrigting het Jesus dikwels eenvoudige, kort frases gebruik en dinge gesê wat ryk is aan betekenis. Sodoende het hy sy boodskap, in ’n tyd lank voor gedrukte boeke, onuitwisbaar in die verstand en hart van sy toehoorders ingeprent. Kyk na ’n paar voorbeelde: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie.” “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.” “Die gees is . . . gretig, maar die vlees is swak.” “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” b (Matteus 7:1; 9:12; 26:41; Markus 12:17; Handelinge 20:35). Byna 2 000 jaar nadat hierdie woorde vir die eerste keer gesê is, is dit nog net so onvergeetlik.

6, 7. (a) Waarom is dit belangrik dat ons eenvoudige taal gebruik as ons met eenvoud wil onderrig? (b) Hoe kan ons dit vermy om ’n Bybelstudent met te veel inligting te oorweldig?

6 Hoe kan ons met eenvoud onderrig? Een belangrike vereiste is dat ons eenvoudige taal gebruik wat die meeste mense maklik sal verstaan. Die basiese waarhede van God se Woord is nie ingewikkeld nie. Jehovah het sy voornemens aan diegene met opregte en nederige harte geopenbaar (1 Korintiërs 1:26-28). Eenvoudige woorde wat versigtig gekies word, kan die waarhede van God se Woord op doeltreffende wyse oordra.

Wanneer jy onderrig, hou dit eenvoudig

7 As ons met eenvoud wil onderrig, moet ons versigtig wees dat ons ’n Bybelstudent nie met te veel inligting oorweldig nie. Wanneer ons ’n Bybelstudie hou, hoef ons dus nie elke besonderheid te verduidelik nie; dit is ook nie nodig om deur die materiaal te jaag asof dit van die allergrootste belang is om ’n vasgestelde aantal bladsye te dek nie. Dit sal eerder verstandig wees as ons toelaat dat die student se behoeftes en vermoëns die pas van die studie aangee. Ons doel is om die student te help om ’n volgeling van Christus en ’n aanbidder van Jehovah te word. Om dit te doen, moet ons soveel tyd gebruik as wat die student nodig het om ’n redelike begrip te kry van wat hy leer. Slegs dan sal Bybelwaarheid sy hart raak en hom beweeg om toe te pas wat hy geleer het.—Romeine 12:2.

Vra die regte vrae

8, 9. (a) Waarom het Jesus vrae gevra? (b) Hoe het Jesus vrae gebruik om Petrus te help om die regte gevolgtrekking te maak oor die kwessie van die betaling van die tempelbelasting?

8 Jesus het op merkwaardige wyse van vrae gebruik gemaak, selfs wanneer dit minder tyd sou geneem het om net vir die persoon met wie hy gepraat het, te sê wat die punt is. Waarom het hy dan vrae gevra? Hy het soms deurdringende vrae gebruik om die beweegredes van sy teenstanders bloot te lê en het hulle sodoende stilgemaak (Matteus 21:23-27; 22:41-46). Maar in baie gevalle het hy vrae gebruik om sy dissipels te laat sê wat hulle dink en om hulle denke te prikkel en op te lei. Daarom het hy vrae gevra soos “Wat dink julle?” en “Glo jy dit?” (Matteus 18:12; Johannes 11:26). Met sy vrae het Jesus die harte van sy dissipels bereik asook geraak. Kom ons kyk na ’n voorbeeld.

9 By een geleentheid het belastinggaarders vir Petrus gevra of Jesus die tempelbelasting betaal. c Petrus het onmiddellik geantwoord: “Ja.” Later het Jesus met hom geredeneer: “Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?” Petrus het geantwoord: “Van die vreemdelinge.” Jesus het gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel van belasting” (Matteus 17:24-27). Die punt van die vrae was ongetwyfeld vir Petrus duidelik, want dit was bekend dat die familielede van konings van belasting vrygestel is. As die enigverwekte Seun van die hemelse Koning wat by die tempel aanbid is, was Jesus nie onder verpligting om die belasting te betaal nie. Let daarop dat Jesus nie vir Petrus bloot die regte antwoord gegee het nie, maar dat hy eerder vrae taktvol gebruik het om Petrus te help om die regte gevolgtrekking te maak en moontlik te besef dat hy in die vervolg versigtiger moet dink voordat hy antwoord.

Vra vrae wat by die belangstellings van die huisbewoner pas

10. Hoe kan ons vrae doeltreffend gebruik wanneer ons van huis tot huis getuig?

10 Hoe kan ons vrae doeltreffend gebruik in ons bediening? Wanneer ons van huis tot huis getuig, kan ons vrae gebruik om belangstelling te wek, wat moontlik die weg vir ons sal baan om oor die goeie nuus te praat. As ’n ouer persoon die deur oopmaak, kan ons byvoorbeeld respekvol vra: “Hoe het die wêreld gedurende u lewe verander?” Nadat ons vir ’n antwoord gewag het, kan ons vra: “Wat dink u sou dit verg om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak om in te lewe?” (Matteus 6:9, 10). As ’n ma met klein kindertjies die deur oopmaak, kan ons vra: “Het jy al ooit gewonder hoe hierdie wêreld sal wees wanneer jou kinders groot is?” (Psalm 37:10, 11). Deur oplettend te wees wanneer ons ’n huis nader, kan ons moontlik ’n vraag kies wat by die belangstellings van die huisbewoner pas.

11. Hoe kan ons vrae goed gebruik wanneer ons ’n Bybelstudie hou?

11 Hoe kan ons vrae goed gebruik wanneer ons ’n Bybelstudie hou? Weldeurdagte vrae kan ons help om uit te vind hoe die student in sy hart voel (Spreuke 20:5). Gestel byvoorbeeld ons studeer die hoofstuk “Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra” in die boek Wat leer die Bybel werklik? d Die hoofstuk bespreek God se beskouing van sake soos geslagsonsedelikheid, dronkenskap en leuens. Die student se antwoorde toon dalk dat hy verstaan wat die Bybel leer, maar stem hy saam met wat hy leer? Ons kan vra: “Dink jy God se beskouing van hierdie sake is redelik?” Ons kan ook vra: “Hoe kan jy hierdie inligting in jou lewe toepas?” Hou egter in gedagte dat jy taktvol moet wees en die student met waardigheid moet behandel. Ons wil nooit vrae vra wat hom onnodig in die verleentheid stel nie.—Spreuke 12:18.

Gebruik kragtige logika

12-14. (a) Op watter maniere het Jesus sy vermoë aangewend om logiese redenasies te gebruik? (b) Watter kragtige logika het Jesus gebruik toe die Fariseërs sy krag aan Satan toegeskryf het?

12 Met sy volmaakte verstand kon Jesus op meesterlike wyse met ander redeneer. Soms het hy kragtige logika gebruik om die valse aantygings van sy teenstanders te weerlê. In baie gevalle het hy oortuigende redenasies gebruik om sy volgelinge waardevolle lesse te leer. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

13 Nadat Jesus ’n demoonbesete man genees het wat blind was en nie kon praat nie, het die Fariseërs die aantyging gemaak: “Hierdie man dryf die demone nie anders uit as deur middel van Beëlsebub [Satan], die heerser van die demone, nie.” Hulle het erken dat bomenslike krag nodig was om die demone uit te dryf. Maar hulle het Jesus se krag aan Satan toegeskryf. Die aantyging was nie net vals nie maar ook onlogies. Jesus het die valsheid van hulle denke blootgelê en geantwoord: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes, en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. Net so, as Satan Satan uitdryf, het hy teen homself verdeeld geraak; hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” (Matteus 12:22-26). Jesus het in werklikheid gesê: “As ek ’n agent van Satan is en ongedaan maak wat Satan gedoen het, werk Satan mos teen homself en sal hy gou tot ’n val kom.” Hoe kon hulle sulke oortuigende logika weerlê?

14 Jesus was nog nie klaar met hulle nie. Hy het geweet dat party van die Fariseërs se eie dissipels demone uitgedryf het en het ’n eenvoudige maar kragtige vraag gevra: “As ek die demone deur middel van Beëlsebub uitdryf, deur middel van wie dryf julle seuns [of, dissipels] hulle uit?” (Matteus 12:27). Jesus se redenasie was met ander woorde: “As ek die demone deur die krag van Satan uitdryf, dan gebruik julle eie dissipels daardie selfde krag.” Wat kon die Fariseërs sê? Hulle sou nooit erken dat hulle dissipels met Satan se krag opgetree het nie. Jesus het dus hulle foutiewe redenasie gebruik om hulle te dwing om tot ’n baie ongemaklike gevolgtrekking te kom. Is dit nie opwindend selfs om net te lees hoe Jesus met hulle geredeneer het nie? Maar stel jou die skare voor wat Jesus eerstehands gehoor het, want sy teenwoordigheid en sy stemtoon het ongetwyfeld die krag van sy woorde vergroot.

15-17. Gee ’n voorbeeld van hoe Jesus ’n “hoeveel te meer”-redenasie gebruik het om hartverblydende waarhede omtrent sy Vader aan ander te leer.

15 Jesus het ook logiese, oortuigende redenasies gebruik om positiewe, hartverblydende waarhede omtrent sy Vader aan ander te leer. Hy het dit dikwels gedoen deur van ’n “hoeveel te meer”-redenasie gebruik te maak—wat sy toehoorders gehelp het om van bekendheid met ’n waarheid tot ’n selfs sterker oortuiging te kom. e Hierdie soort redenasie is gegrond op teenstelling en kan ’n diep indruk maak. Kom ons ondersoek net twee voorbeelde.

16 In antwoord op sy dissipels se versoek om hulle te leer hoe om te bid, het Jesus beskryf hoe bereidwillig onvolmaakte menseouers is “om goeie gawes aan [hulle] kinders te gee”. Toe het hy afgesluit: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:1-13). Die punt wat Jesus gestel het, is op ’n teenstelling gegrond. As sondige menseouers na die behoeftes van hulle kinders omsien, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader, wat in elke opsig volmaak en regverdig is, heilige gees aan sy lojale aanbidders gee wat hom nederig in gebed nader!

17 Jesus het ’n soortgelyke redenasie gebruik toe hy wyse raad gegee het oor hoe om angstigheid die hoof te bied. Hy het gesê: “Die rawe [saai] nie saad . . . of oes nie, en hulle het geen pakhuis of voorraadskuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle tog werd as voëls? Let goed op hoe die lelies groei; hulle swoeg nie en hulle spin nie . . . As God dan die plantegroei in die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, só klee, hoeveel te meer sal hy julle klee, julle kleingelowiges!” (Lukas 12:24, 27, 28). As Jehovah vir voëls en blomme sorg, hoeveel te meer sal hy vir mense sorg wat hom liefhet en aanbid! Met sulke redenasies het Jesus ongetwyfeld die harte van sy toehoorders bereik.

18, 19. Hoe kan ons met iemand redeneer wat sê dat hy nie in ’n God glo wat hy nie kan sien nie?

18 In ons bediening wil ons goeie logika gebruik om valse opvattings te weerlê. Ons wil ook oortuigende redenasies gebruik om positiewe waarhede omtrent Jehovah aan ander te leer (Handelinge 19:8; 28:23, 24). Moet ons leer om gesofistikeerde logika te gebruik? Glad nie. Die les wat ons by Jesus leer, is dat logiese argumente wat op ’n eenvoudige manier aangebied word, uiters doeltreffend is.

19 Hoe sal ons byvoorbeeld reageer as iemand sê dat hy nie in ’n God glo wat hy nie kan sien nie? Ons kan oor die natuurwet van oorsaak en gevolg redeneer. Wanneer ons ’n gevolg sien, besef ons dat daar ’n oorsaak moet wees. Ons kan sê: “As jy op ’n afgeleë plek is en op ’n mooi huis afkom waarvan die spens vol kos is (gevolg), sal jy nie geredelik erken dat iemand (’n oorsaak) daarvoor verantwoordelik is nie? Wanneer ons die duidelike bewys van ontwerp in die natuur sien, asook die oorvloed kos in die aarde se ‘spens’ (gevolg), maak dit dan nie ook net soveel sin om te aanvaar dat Iemand (’n Oorsaak) daarvoor verantwoordelik is nie? Die Bybel self redeneer soos volg: ‘Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God’” (Hebreërs 3:4). Ongeag hoe grondig ons redenasie dalk is, almal sal natuurlik nie oortuig word nie.—2 Tessalonisense 3:2.

Gebruik redenasies wat die persoon se hart sal bereik

20, 21. (a) Hoe kan ons ’n “hoeveel te meer”-redenasie gebruik om die aandag op Jehovah se eienskappe en weë te vestig? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

20 In ons onderrigting, hetsy in die veldbediening of in die gemeente, kan ons ook die “hoeveel te meer”-redenasie gebruik om die aandag op Jehovah se eienskappe en weë te vestig. Om byvoorbeeld te toon dat die leerstelling van ewige foltering in ’n helse vuur Jehovah in werklikheid tot oneer strek, kan ons sê: “Watter liefdevolle vader sal sy kind straf deur sy kind se hand in ’n vuur te hou? Hoeveel te meer moet die blote idee van die helse vuur vir ons liefdevolle hemelse Vader afstootlik wees!” (Jeremia 7:31). Om ’n terneergedrukte medegelowige van Jehovah se liefde vir hom te verseker, kan ons sê: “As Jehovah selfs ’n klein mossie as kosbaar beskou, hoeveel te meer moet hy tog vir elkeen van sy aardse aanbidders omgee, jou inkluis!” (Matteus 10:29-31). Sulke redenasies kan ons help om die harte van ander te bereik.

21 Nadat ons net drie van die onderrigmetodes ondersoek het wat Jesus gebruik het, kan ons maklik sien dat die beamptes wat hom nie in hegtenis geneem het nie, beslis nie oordryf het toe hulle gesê het: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.” In die volgende hoofstuk sal ons die onderrigmetode bespreek waarvoor Jesus seker die bekendste is, naamlik die gebruik van illustrasies.

a Die beamptes was waarskynlik agente van die Sanhedrin en onder die gesag van die hoofpriesters.

b Hierdie laaste verklaring, wat in Handelinge 20:35 gevind word, word net deur die apostel Paulus aangehaal. Hy het dit moontlik mondelings (van iemand wat Jesus dit hoor sê het of van die verrese Jesus) of deur goddelike openbaring ontvang.

c Die Jode moes ’n jaarlikse tempelbelasting van twee dragma betaal, wat omtrent twee dae se loon was. Een naslaanwerk sê: “Hierdie belasting is hoofsaaklik gebruik om die koste te dek van die daaglikse brandoffer en van al die offers wat oor die algemeen namens die volk gebring is.”

d Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

e Hierdie soort redenasie word soms “a fortiori” genoem, ’n Latynse uitdrukking wat “met meer rede, meer oortuigend, beslister” beteken.