Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Proloog

Proloog

Liewe Leser

“Kom word my volgeling” (Markus 10:21). Met hierdie woorde roep Jesus Christus ons as ’t ware om hom te volg. Gee jy gehoor aan sy uitnodiging? As jy dit doen, sal dit ’n verreikende uitwerking op jou lewe hê. Waarom?

Jehovah het sy enigverwekte Seun na die aarde toe gestuur om sy lewe as ’n losprys te gee (Johannes 3:16). Buiten dat hy vir ons gesterf het, het daardie Seun ook vir ons gewys hoe ons moet lewe. Met elke tree wat hy gegee het, het hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf en sy Vader se hart verbly. Jesus het ook vir ons gewys hoe om soos sy Vader te wees. Die weë en die wil van die Vader het volmaak tot uiting gekom in die woorde en dade van die Seun.—Johannes 14:9.

Jesus is “’n voorbeeld”, sê die Bybel, “sodat [ons] sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). As ons nader aan Jehovah wil kom, as ons nou ’n werklik sinvolle lewe wil lei en as ons op die pad na die ewige lewe wil bly, moet ons Christus se voetstappe noukeurig volg.

Om hierdie reis te kan aanpak, moet ons vertroud raak met Jesus se lewe op die aarde. Dit is dus belangrik dat ons die beskrywing van Jesus wat in die Bybel bewaar word, deeglik bestudeer. As ons nadink oor die dinge wat Jesus gesê en gedoen het, asook oor hoe ons hom in woord en daad kan navolg, sal dit ons help om duideliker te sien hoe ons hom kan volg.

Mag hierdie publikasie jou help om in jou liefde vir Jesus en vir Jehovah te groei. En mag daardie liefde jou aanspoor om Jesus se voetstappe noukeurig te volg sodat jy Jehovah se hart kan bly maak—nou en vir ewig.

Die uitgewers