Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK EEN

“Word my volgeling”—Wat het Jesus bedoel?

“Word my volgeling”—Wat het Jesus bedoel?

“Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

1, 2. Wat is die beste uitnodiging wat ’n mens kan ontvang, en watter vraag kan ons ons afvra?

 WAT is die beste uitnodiging wat jy nog ooit ontvang het? Jy dink dalk aan ’n keer toe jy uitgenooi is om ’n spesiale geleentheid by te woon, moontlik die troue van twee dierbare vriende. Of miskien dink jy aan die dag toe jy genooi is om ’n belangrike werk te aanvaar. As jy al sulke uitnodigings ontvang het, was jy ongetwyfeld opgewonde daaroor, of jy het selfs geëerd gevoel. Maar die feit is dat jy ’n uitnodiging ontvang het wat veel beter is. Elkeen van ons het. En ons reaksie op hierdie uitnodiging het ’n baie groot uitwerking op ons. Dit is die belangrikste keuse wat ons in die lewe sal maak.

2 Wat is hierdie uitnodiging? Dit kom van Jesus Christus af, die enigverwekte Seun van God die Almagtige, Jehovah, en dit is in die Bybel opgeteken. In Markus 10:21 lees ons Jesus se woorde: “Kom word my volgeling.” Dit is in werklikheid Jesus se uitnodiging aan elkeen van ons. Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Hoe sal ek hierop reageer?’ Die antwoord lyk dalk voor die hand liggend. Wie sou so ’n wonderlike uitnodiging van die hand wys? Verbasend genoeg wys die meeste mense dit wel van die hand. Waarom?

3, 4. (a) Wat kon as benydenswaardig beskou word omtrent die man wat Jesus genader het om hom oor die ewige lewe te vra? (b) Watter goeie eienskappe het Jesus moontlik in die ryk jong heerser gesien?

3 Neem as voorbeeld ’n man wat hierdie uitnodiging sowat 2 000 jaar gelede persoonlik ontvang het. Hy was ’n man van aansien. Hy het ten minste drie dinge gehad wat mense as begeerlik, selfs benydenswaardig, beskou—jeug, rykdom en mag. Die Bybelverslag beskryf hom as ’n “jong man”, as “baie ryk” en as ’n “heerser” (Matteus 19:20; Lukas 18:18, 23). Daar was egter iets omtrent hierdie jong man wat van groter belang is. Hy het van die Groot Leermeester, Jesus, gehoor, en hy het gehou van wat hy gehoor het.

4 Destyds het die meeste heersers Jesus nie die respek betoon wat hom toegekom het nie (Johannes 7:48; 12:42). Maar hierdie heerser het anders opgetree. Die Bybel sê vir ons: “Toe [Jesus] uitgaan om sy reis voort te sit, het ’n sekere man aangehardloop gekom en voor hom op sy knieë geval en hom gevra: ‘Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?’” (Markus 10:17). Let op hoe gretig hierdie man was om met Jesus te praat; hy het in die openbaar na hom toe gehardloop, net soos enige van die arm en geringe mense sou gedoen het. Verder het hy eerbiedig voor Christus gekniel. Hy het dus ’n mate van nederigheid gehad, asook ’n bewustheid van sy geestelike behoefte. Jesus het sulke goeie eienskappe waardeer (Matteus 5:3; 18:4). Dit is dan geen wonder dat “Jesus . . . hom aangekyk en hom liefgekry” het nie (Markus 10:21). Hoe het Jesus die jong man se vraag beantwoord?

’n Onvergelyklike uitnodiging

5. Hoe het Jesus die ryk jong man geantwoord, en hoe weet ons dat armoede nie die “een ding” was wat hy kortgekom het nie? (Sien ook voetnoot.)

5 Jesus het getoon dat sy Vader reeds inligting voorsien het aangaande die uiters belangrike vraag oor hoe om die ewige lewe te verkry. Hy het na die Skrif verwys, en die jong man het bevestig dat hy die Mosaïese Wet getrou gehoorsaam. Met sy buitengewone insig kon Jesus egter dieper as die oppervlak sien (Johannes 2:25). Hy het gesien dat hierdie heerser ’n geestelike probleem het—een wat ernstige gevolge kon hê. Daarom het Jesus gesê: “Een ding kom jy kort.” Wat was daardie “een ding”? Jesus het gesê: “Gaan, verkoop wat jy het en gee vir die armes” (Markus 10:21). Het Jesus bedoel dat ’n mens brandarm moet wees om God te kan dien? Nee. a Christus het iets van groot belang geopenbaar.

6. Watter uitnodiging het Jesus aan die ryk jong heerser gerig, en wat het sy reaksie omtrent sy hart geopenbaar?

6 Om te openbaar wat die man kortgekom het, het Jesus hom ’n wonderlike geleentheid gebied: “Kom word my volgeling.” Dink net—die Seun van die Allerhoogste God het daardie man persoonlik genooi om hom te volg! Jesus het hom ook ’n onbeskryflike beloning belowe. Hy het gesê: “Jy sal ’n skat in die hemel hê.” Het die ryk jong heerser hierdie geleentheid, hierdie wonderlike uitnodiging aangegryp? Die verslag sê: “Hy het hartseer geword oor die woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (Markus 10:21, 22). Jesus se onverwagte woorde het dus ’n probleem in die hart van hierdie man geopenbaar. Hy was veels te geheg aan sy besittings en het ongetwyfeld ook te veel waarde geheg aan die mag en aansien wat daarmee gepaardgegaan het. Ongelukkig was sy liefde vir hierdie dinge baie groter as sy liefde vir Christus. Die “een ding” wat hy kortgekom het, was dus heelhartige, selfopofferende liefde vir Jesus en Jehovah. Omdat die jong man nie hierdie liefde gehad het nie, het hy ’n onvergelyklike uitnodiging van die hand gewys! Maar hoe raak dit jou?

7. Waarom kan ons seker wees dat Jesus se uitnodiging ons vandag insluit?

7 Jesus se uitnodiging was nie net vir daardie man nie; en dit was ook nie tot net ’n paar mense beperk nie. Jesus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy . . . my voortdurend volg” (Lukas 9:23). Let daarop dat enigiemand Christus se volgeling kan wees as hy werklik “wil”. God trek sulke opregtes van hart na sy Seun (Johannes 6:44). Nie net die rykes nie, nie net die armes nie, nie net mense wat aan ’n sekere ras of nasie behoort nie en nie net dié wat destyds geleef het nie, maar almal word die geleentheid gegee om Jesus se uitnodiging te aanvaar. Jesus se woorde “Kom word my volgeling” is dus werklik op jou van toepassing. Waarom behoort jy Christus te wil volg? En presies wat is daarby betrokke?

Waarom moet ons Christus volg?

8. Watter behoefte het alle mense, en waarom?

8 Daar is ’n waarheid wat ons moet erken: Ons het ’n fundamentele behoefte aan goeie leierskap. Nie alle mense erken dat hulle hierdie behoefte het nie, maar dit is nietemin daar. Jehovah se profeet Jeremia is geïnspireer om hierdie ewige waarheid op te teken: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Mense het nie die vermoë of die reg om oor hulleself te regeer nie. Om die waarheid te sê, die grootste deel van die mensegeskiedenis is ’n verslag van slegte leierskap (Prediker 8:9). In Jesus se dag het die leiers die volk onderdruk, mishandel en mislei. Jesus, met sy fyn onderskeidingsvermoë, het opgemerk dat die gewone mense “soos skape sonder ’n herder” was (Markus 6:34). Dieselfde kan vandag van die mensdom gesê word. As ’n groep en as individue het ons leierskap nodig wat ons kan vertrou en respekteer. Voorsien Jesus in daardie behoefte? Kyk na ’n paar redes waarom die antwoord hierop ja is.

9. Wat onderskei Jesus van alle ander leiers?

9 Eerstens, Jesus is deur Jehovah God gekies. Die meeste menseleiers word gekies deur hulle onvolmaakte medemense, wat dikwels bedrieg word en geneig is om dinge verkeerd te beoordeel. Jesus is nie so ’n leier nie. Ons hoef net na sy titel te kyk om dit te sien. Die woord “Christus”, soos die woord “Messias”, beteken “Gesalfde”. Ja, Jesus is gesalf, of spesiaal aangestel in sy heilige amp, deur niemand anders nie as die Soewereine Heer van die heelal. Jehovah God het van sy Seun gesê: “Kyk! My kneg wat ek uitgekies het, my geliefde, wat my siel goedgekeur het! Ek sal my gees op hom plaas” (Matteus 12:18). Niemand weet beter as ons Skepper watter soort leier ons nodig het nie. Jehovah se wysheid is eindeloos, en daarom het ons oorgenoeg rede om sy keuse te vertrou.—Spreuke 3:5, 6.

10. Waarom is Jesus se voorbeeld die beste wat mense kan volg?

10 Tweedens, Jesus het ’n volmaakte en besielende voorbeeld vir ons gestel. Die beste soort leier het eienskappe wat sy onderdane kan bewonder en navolg. Hy lei deur sy voorbeeld en besiel ander om beter te word as wat hulle was. Watter eienskappe sal jy die meeste respekteer in ’n leier? Moed? Wysheid? Medelye? Wat van volharding ondanks ontberinge? Wanneer jy die verslag van Jesus se lewe op die aarde bestudeer, sal jy vind dat hy al hierdie eienskappe—en nog meer—gehad het. Aangesien Jesus die volmaakte weerspieëling van sy hemelse Vader is, het hy elke eienskap van God in volle mate gehad. Hy was alles wat ’n volmaakte mens kan wees. In alles wat hy gedoen het, in elke woord wat hy geuiter het, in elke innerlike gevoel wat hy geopenbaar het, vind ons dus iets navolgenswaardigs. Die Bybel sê dat hy “’n voorbeeld gelaat [het] sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg”.—1 Petrus 2:21.

11. Hoe het Jesus getoon dat hy “die goeie herder” is?

11 Derdens, Christus het sy verklaring “Ek is die goeie herder” ten volle uitgeleef (Johannes 10:14). Vir mense in Bybeltye was hierdie beeldspraak baie bekend. Herders het hard gewerk om na die skape in hulle sorg om te sien. ’n “Goeie herder” sou die veiligheid en welsyn van die kudde as belangriker as sy eie beskou. Byvoorbeeld, Jesus se voorvader Dawid was ’n herder toe hy jonk was, en by meer as een geleentheid het hy sy lewe gewaag om sy skape teen ’n gevaarlike wilde dier te beskerm (1 Samuel 17:34-36). Jesus het selfs meer gedoen vir die mense wat hom volg. Hy het sy lewe vir hulle afgelê (Johannes 10:15). Hoeveel leiers het so ’n selfopofferende gees?

12, 13. (a) In watter sin ken ’n herder sy skape, en hoe ken hulle hom? (b) Waarom wil jy onder die leierskap van die Goeie Herder wees?

12 Jesus was ook in ’n ander sin “die goeie herder”. Hy het gesê: “Ek ken my skape en my skape ken my” (Johannes 10:14). Dink aan die illustrasie wat Jesus hier gegee het. Vir ’n verbyganger lyk ’n trop skape dalk bloot soos ’n massa wollerige diere. Maar die herder ken elke skaap individueel. Hy weet watter ooie binnekort sy hulp sal nodig hê wanneer hulle lam, watter lammetjies nog gedra moet word omdat hulle te klein en swak is om op hulle eie ver te loop en watter skape onlangs siek was of seergekry het. Die skape ken ook hulle herder. Hulle herken sy stem en verwar dit nooit met dié van enige ander herder nie. Wanneer daar ’n waarskuwende of dringende toon in sy stem is, reageer hulle gou daarop. Waar hy hulle lei, volg hulle. En hy weet net waarheen om hulle te lei. Hy weet waar die gras welig en groen is, waar die strome vars en skoon is, waar die weivelde veilig is. Terwyl hy oor hulle waak, voel die skape aan dat hulle veilig is.—Psalm 23.

13 Smag jy nie na sulke leierskap nie? Die Goeie Herder het ’n onvergelyklike rekord opgebou dat hy sy volgelinge altyd so behandel. Hy belowe om jou te lei sodat jy nou ’n gelukkige en vervullende lewe kan geniet en in die toekoms, die ewige lewe! (Johannes 10:10, 11; Openbaring 7:16, 17). Dit is waarom ons moet weet presies wat dit behels om Christus te volg.

Wat dit beteken om ’n volgeling van Christus te wees

14, 15. As jy ’n volgeling van Christus wil wees, waarom is dit nie genoeg om te sê dat jy ’n Christen is of om ’n emosionele band met Jesus te vorm nie?

14 Honderdmiljoene mense voel vandag waarskynlik dat hulle wel Christus se uitnodiging aanvaar het. Hulle noem hulleself immers Christene. Miskien behoort hulle aan die kerk waarin hulle ouers hulle laat doop het. Of hulle beweer dalk dat hulle ’n emosionele band met Jesus het en dat hulle hom as hulle persoonlike Saligmaker aangeneem het. Maar maak dit van hulle volgelinge van Christus? Is dit wat Jesus in gedagte gehad het toe hy ons genooi het om sy volgelinge te word? Dit behels veel meer.

15 Dink aan die wêreld van die Christendom—die nasies waarvan die meeste burgers sê dat hulle volgelinge van Christus is. Weerspieël die Christendom die leringe van Jesus Christus? Of sien ons dieselfde haat, onderdrukking, misdaad en onregte in daardie lande as wat in die res van die wêreld voorkom? Die gerespekteerde Hindoeleier Mohandas Gandhi het eenkeer gesê: “Ek weet van niemand wat meer vir die mensdom gedoen het as Jesus nie. Trouens, daar is niks verkeerd met die Christelike godsdiens nie.” Hy het bygevoeg: “Die probleem lê by julle Christene. Julle lewe glad nie volgens julle eie leringe nie.”

16, 17. Wat kom dikwels kort onder mense wat sê dat hulle Christene is, en wat kenmerk ware volgelinge van Christus?

16 Jesus het gesê dat sy ware volgelinge nie net aan hulle woorde of aan die naam wat hulle hulleself gee, geken sou word nie, maar hoofsaaklik aan hulle dade. Hy het byvoorbeeld gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matteus 7:21). Waarom doen so baie wat sê dat Jesus hulle Heer is, nie sy Vader se wil nie? Dink aan die ryk jong heerser. Alte dikwels is daar ‘een ding wat kortkom’ onder mense wat sê dat hulle Christene is—heelhartige liefde vir Jesus en vir die Een wat hom uitgestuur het.

17 Hoe kan dit wees? Sê miljoene wat hulleself Christene noem, nie ook dat hulle Christus liefhet nie? Ongetwyfeld. Maar liefde vir Jesus en vir Jehovah behels veel meer as net woorde. Jesus het gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord bewaar” (Johannes 14:23). En as ’n herder het hy ook gesê: “My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my” (Johannes 10:27). Ja, die ware bewys van ons liefde vir Christus lê nie net in wat ons sê of voel nie, maar hoofsaaklik in wat ons doen.

18, 19. (a) Watter uitwerking behoort dit op ons te hê as ons van Jesus leer? (b) Wat is die doel van hierdie boek, en hoe sal diegene wat al lank aan hulleself as volgelinge van Christus dink, hierby baat vind?

18 Ons dade kom egter nie van nêrens af nie. Dit weerspieël watter soort persoon ons diep in ons binneste is. Dit is hier waar ons werk moet begin. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). As ons juiste kennis oor Jesus inneem en daaroor peins, sal ons hart geraak word. Ons sal hom al hoe liewer kry en ons begeerte om hom dag na dag te volg, sal voortdurend sterker word.

19 Dít is die doel van hierdie boek. Dit probeer nie ’n volledige opsomming van die lewe en bediening van Jesus gee nie, maar probeer ons help om duideliker te sien hoe ons hom kan volg. b Dit is saamgestel om ons te help om in die spieël van die Skrif te kyk en onsself af te vra: ‘Volg ek Jesus werklik?’ (Jakobus 1:23-25). Jy dink moontlik al lank aan jouself as ’n skaap wat deur die Goeie Herder gelei word. Maar sal jy nie saamstem dat ons altyd dinge kan vind waarin ons beter kan doen nie? Die Bybel spoor ons aan: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). Dit is beslis vir ons die moeite werd om seker te maak dat ons inderdaad gelei word deur ons liefdevolle Goeie Herder, Jesus, wat deur Jehovah self aangestel is om ons te lei.

20. Wat sal ons in die volgende hoofstuk ondersoek?

20 Mag jou studie van hierdie boek jou help om jou liefde vir Jesus en Jehovah te versterk. Terwyl hierdie liefde jou op jou lewensweg lei, sal jy die grootste vrede en vergenoegdheid vind wat in hierdie ou wêreld moontlik is, en jy sal Jehovah vir ewig kan loof omdat hy ons die Goeie Herder gegee het. Ons studie van Christus moet natuurlik op die regte grondslag berus. Daarom is dit gepas dat ons in Hoofstuk 2 Jesus se rol in Jehovah se universele voorneme sal ondersoek.

a Jesus het nie almal wat hom gevolg het, gevra om al hulle besittings prys te gee nie. En hoewel hy kommentaar gelewer het oor hoe moeilik dit vir ’n ryk man is om in die Koninkryk van God in te gaan, het hy bygevoeg: “By God is alles moontlik” (Markus 10:23, 27). Trouens, ’n paar ryk mense het wel Christus se volgelinge geword. Hulle het spesifieke raad in die Christengemeente gekry, maar hulle is nie gevra om al hulle rykdom aan die armes te skenk nie.—1 Timoteus 6:17.

b Vir ’n volledige, chronologiese opsomming van die gebeure van Jesus se lewe en bediening, sien Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur Jehovah se Getuies.