Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 22

“Aanbid God”

“Aanbid God”

OPENBARING 22:9

HOOFPUNT: ’n Hersiening van die hooftemas van die boek Esegiël en hoe dit vandag en in die toekoms van toepassing is

1, 2. (a) Watter keuse moet ons almal maak? (b) Wat het ’n lojale engel gedoen toe iemand hom wou aanbid?

ELKEEN van ons moet ’n baie belangrike vraag beantwoord: Wie sal ek aanbid? Baie mense sê dalk dat dit ’n moeilike keuse is en dat daar te veel opsies is. Maar eintlik is die keuse duidelik en eenvoudig. Of ons aanbid Jehovah God of ons aanbid Satan die Duiwel.

2 Satan wil baie graag aanbid word. Dit kon veral duidelik gesien word toe hy Jesus versoek het. Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie boek bespreek het, het Satan vir Jesus iets besonders aangebied – gesag oor al die koninkryke van die aarde. Wat wou die Duiwel hê moes Jesus doen? Hy het vir Jesus gesê: ‘Aanbid my een keer’ (Matt. 4:9). Maar anders as Satan, wou die engel wat in ’n visioen aan die apostel Johannes verskyn het, nie hê dat iemand hom moes aanbid nie. (Lees Openbaring 22:8, 9.) Toe Johannes die engel wou aanbid, het daardie nederige geesseun van God gesê: “Moet dit nie doen nie!” In plaas daarvan om te sê: ‘Aanbid my’, het die engel gesê: “Aanbid God.”

3. (a) Wat is die doel van hierdie boek? (b) Wat sal ons nou bespreek?

3 Die doel van hierdie boek is om ons meer vasbeslote te maak om te doen wat daardie engel gesê het – hy het gesê dat ons Jehovah God alleen moet aanbid (Deut. 10:20; Matt. 4:10). Kom ons hersien kortliks wat ons geleer het oor rein aanbidding uit Esegiël se profesieë en visioene. Dan sal die Bybel ons help om te sien hoe dit in die toekoms sal wees wanneer elke persoon op die aarde vir die laaste keer getoets sal word – hierdie toets sal bepaal wie daar sal wees wanneer rein aanbidding van Jehovah ten volle en vir ewig herstel word.

Drie belangrike temas in die boek Esegiël

4. Watter drie temas word in die boek Esegiël beklemtoon?

4 Die boek Esegiël leer ons dat rein aanbidding meer as net formele dade van aanbidding insluit. As ons Jehovah op ’n rein manier wil aanbid, moet ons (1) Jehovah uitsluitlike toegewydheid gee, (2) verenig bly in rein aanbidding en (3) wys dat ons vir ander lief is. Kom ons kyk hoe die profesieë en visioene wat in hierdie boek bespreek word, hierdie drie temas beklemtoon.

Eerste tema: Gee Jehovah uitsluitlike toegewydheid

5-9. Wat het ons geleer oor die feit dat ons Jehovah uitsluitlike toegewydheid moet gee?

5 Hoofstuk 3: * Die indrukwekkende visioen van Jehovah wat deur ’n reënboog omring word en wat bo matige geesskepsele ry, beklemtoon ’n belangrike feit – die Almagtige is die enigste een wat ons aanbidding verdien. – Eseg. 1:4, 15-28.

6 Hoofstuk 5: Die visioen van hoe Jehovah se tempel besoedel was, was baie skokkend! Die visioen het gewys dat niks vir Jehovah weggesteek kan word nie. Hy sien dislojale dade, soos wanneer sy volk afgode begin aanbid, selfs wanneer ander mense nie sien wat hulle doen nie. Sulke dinge maak hom seer, en hy straf dié wat dit doen. – Eseg. 8:1-18.

7 Hoofstuk 7: Die oordele teen die nasies wat Israel “bespot en uitgelag het,” wys dat Jehovah dié wat sy volk sleg behandel, daarvoor verantwoordelik hou (Eseg. 25:6). Maar ons leer ook nog ’n les uit Israel se assosiasie met daardie nasies – ons lojaliteit aan Jehovah moet die belangrikste ding in ons lewe wees. Ons sal nooit ons standaarde verlaag om in te pas by familielede wat Jehovah nie aanbid nie. En ons sal ook nie op rykdom vertrou of ons neutraliteit prysgee deur aan menseregerings die toegewydheid te gee wat Jehovah alleen verdien nie.

8 Hoofstuk 13 en 14: Die visioen van die tempel op die hoë berg leer ons dat ons gehoorsaam moet wees aan Jehovah se hoë standaarde en moet erken dat hy bo alle ander gode is. – Eseg. 40:1–48:35.

9 Hoofstuk 15: Die profesie waarin Israel en Juda as prostitute beskryf word, herinner ons aan hoe walglik geestelike egbreuk vir Jehovah is. – Eseg., hfst. 16, 23.

Tweede tema: Bly verenig in rein aanbidding

10-14. Hoe is die feit dat ons verenig moet bly in rein aanbidding, beklemtoon?

10 Hoofstuk 8: Die profesieë wat belowe dat Jehovah “een herder” sou aanstel om vir sy volk te sorg, wys hoe belangrik dit is dat ons verenig en in vrede onder Jesus se leierskap moet saamwerk. – Eseg. 34:23, 24; 37:24-28.

11 Hoofstuk 9: Esegiël se profesieë oor God se volk wat uit gevangenskap in Babilon bevry is en na hulle tuisland teruggegaan het, bevat ’n boodskap vir dié wat vandag Jehovah se goedkeuring wil hê. As ons rein aanbidders van Jehovah wil wees, moet ons alle bande met valse godsdiens verbreek en nooit weer enige iets daarmee te doen hê nie. Al kom ons uit verskillende rasse en godsdienste, en al het ons verskillende ekonomiese agtergronde, moet ons die eenheid beskerm wat ons as God se volk identifiseer. – Eseg. 11:17, 18; 12:24; Joh. 17:20-23.

12 Hoofstuk 10: Die tema van eenheid was beklemtoon deur die visioen van die droë beendere wat lewend geword het. Dit is so ’n groot voorreg om deel te wees van die herstelde groep gereinigde aanbidders wat as ’n leërmag saamwerk! – Eseg. 37:1-14.

13 Hoofstuk 12: Eenheid was veral beklemtoon deur die profesie oor die twee stokke wat een word. Dit versterk ons geloof om te sien hoe die gesalfdes en die ander skape daardie profesie laat waar word! Al lewe ons in ’n wêreld wat verdeeld is deur godsdiens- en politieke haat, bly ons verenig deur liefde en lojaliteit. – Eseg. 37:15-23.

14 Hoofstuk 16: Die visioen van die man met die inkhoring en die manne met die wapens om mee stukkend te slaan, bevat ’n ernstige waarskuwing – net dié wat rein aanbidders is wanneer die “groot verdrukking” begin, sal gemerk word sodat hulle kan oorleef. – Matt. 24:21; Eseg. 9:1-11.

Derde tema: Wys dat jy lief is vir ander

15-18. Hoekom moet ons aanhou om te wys dat ons lief is vir ander, en hoe kan ons dit doen?

15 Hoofstuk 4: In die visioen van die vier lewende wesens het ons geleer oor Jehovah se eienskappe, waarvan liefde die belangrikste is. Wanneer ons op ’n liefdevolle manier praat en optree, wys ons dat Jehovah ons God is. – Eseg. 1:5-14; 1 Joh. 4:8.

16 Hoofstuk 6 en 11: God se liefde het hom gemotiveer om wagte aan te stel, soos Esegiël. Omdat God liefde is, wil hy nie hê dat enige iemand vernietig moet word wanneer hy ’n einde maak aan Satan se heerskappy oor die aarde nie (2 Pet. 3:9). Ons het die voorreg om God se liefde te weerspieël. Ons doen dit deur ons verantwoordelikheid na te kom om die werk van die wag van ons tyd te ondersteun. – Eseg. 33:1-9.

17 Hoofstuk 17 en 18: Jehovah weet dat baie mense nie sy genade sal aanvaar nie en dat hulle sal probeer om sy lojale aanbidders te vernietig. Liefde sal Jehovah motiveer om sy volk te verdedig wanneer “Gog van die land Magog” sy lojale aanbidders aanval. Liefde vir ander motiveer ons om soveel mense as moontlik te waarsku dat Jehovah dié wat sy volk onderdruk, sal vernietig. – Eseg. 38:1–39:20; 2 Tess. 1:6, 7.

18 Hoofstuk 19-21: Jehovah se liefde vir mense kan duidelik gesien word in die visioen van die rivier vol water wat lewe gee en die visioen van die verdeling van die land. Die visioene beskryf die resultaat van Jehovah se grootste daad van liefde – toe hy die lewe van sy Seun gegee het sodat ons sondes vergewe kan word en sodat ons volmaakte lewe as deel van God se gesin kan geniet. Een van die beste maniere om te wys dat ons lief is vir mense, is om vir hulle te vertel van die wonderlike toekoms wat Jehovah voorberei het vir dié wat geloof in sy Seun stel. – Eseg. 45:1-7; 47:1–48:35; Op. 21:1-4; 22:17.

’n Besonderse daad van nederigheid ná die duisend jaar

19. Wat sal Jesus gedurende die duisend jaar doen? (Sien die venster “Die laaste toets”.)

19 Wanneer Jesus gedurende die duisend jaar regeer, sal hy miljarde mense opwek en die pyn wegvat wat deur ons “vyand, die dood” veroorsaak is (1 Kor. 15:26; Mark. 5:38-42; Hand. 24:15). Die geskiedenis van die mensdom is soos ’n hartseer storie vol verlies. Maar wanneer generasie ná generasie opgewek word, sal Jesus die hartseer storie uitvee en mense die geleentheid gee om ’n beter storie te skryf. Op grond van die losprys sal hy al die probleme en slegte dinge wat veroorsaak is deur siekte, oorlog en hongersnood regmaak – dit sal wees asof hierdie dinge nooit daar was nie. En hy sal ons help om ontslae te raak van die hoofoorsaak van ons hartseer – die sonde wat ons van Adam geërf het (Rom. 5:18, 19). Jesus sal al “die werke van die Duiwel . . . vernietig” (1 Joh. 3:8). Wat sal dan gebeur?

Mense wat opgewek word, sal die kans kry om ’n beter storie te skryf

20. Hoe sal Jesus en die 144 000 op ’n besonderse manier wys dat hulle nederig is? Verduidelik. (Sien prent aan begin van artikel.)

20 Lees 1 Korintiërs 15:24-28. Wanneer alle mense volmaak is, en wanneer die aarde uiteindelik die Paradys is wat Jehovah oorspronklik wou hê, sal Jesus en die 144 000 op ’n besonderse manier wys dat hulle nederig is – hulle sal die Koninkryk aan Jehovah teruggee. Hulle sal die gesag wat hulle vir die duisend jaar gehad het, gewillig opgee. Alles wat die Koninkryk bereik het, sal vir ewig bestaan.

Die laaste toets

21, 22. (a) Hoe sal die wêreld wees aan die einde van die duisend jaar? (b) Hoekom sal Jehovah Satan en die demone vrylaat?

21 Dan sal Jehovah iets besonders doen, iets wat wys dat hy groot vertroue in sy aardse aanbidders het. Hy sal sê dat Satan en die demone vrygelaat moet word uit die afgrond waarin hulle ’n duisend jaar lank was. (Lees Openbaring 20:1-3.) Die wêreld sal baie anders wees as die een wat hulle geken het. Voor Armageddon was die meeste mense deur Satan mislei, en as gevolg van haat en diskriminasie was daar nie eenheid onder mense nie (Op. 12:9). Maar aan die einde van die duisend jaar sal die hele mensdom Jehovah as ’n verenigde, liefdevolle gesin aanbid. Die aarde sal ’n vreedsame Paradys wees.

22 Hoekom sal Jehovah misdadigers soos Satan en die demone in hierdie rein omgewing vrylaat? Omdat die meeste van die mense wat aan die einde van die duisend jaar lewe, se lojaliteit aan Jehovah nog nooit getoets sou gewees het nie. Die meeste van hulle sou gesterf het sonder dat hulle Jehovah geken het en is toe in die Paradys opgewek. Teen hierdie tyd sou Jehovah nie net vir hulle lewe gegee het nie, maar ook in al hulle fisiese en geestelike behoeftes voorsien het. Hulle sou nooit enige negatiewe invloede gehad het nie, net positiewe invloede. Hulle sou net tussen mense gewees het wat lief is vir Jehovah en hom dien. Satan kan die mense wat opgewek is, van dieselfde dinge beskuldig as waarvan hy Job beskuldig het – dat hulle God net dien omdat hy hulle beskerm en seën (Job 1:9, 10). So voordat Jehovah ons name permanent in die boek van die lewe skryf, sal hy ons ’n kans gee om eens en vir altyd te bewys dat ons lojaal is aan hom as ons Vader en Soewerein. – Op. 20:12, 15.

23. Watter keuse sal elke persoon moet maak?

23 Satan sal vir ’n kort tydjie toegelaat word om mense te probeer kry om op te hou om God te dien. Hoe sal mense getoets word? Elke persoon sal net soos Adam en Eva ’n keuse moet maak – of hy aanvaar Jehovah se standaarde, ondersteun Hom as Heerser en aanbid Hom of hy rebelleer teen God en ondersteun Satan.

24. Hoekom word dié wat rebelleer, Gog en Magog genoem?

24 Lees Openbaring 20:7-10. Dit is interessant dat dié wat aan die einde van die duisend jaar rebelleer, Gog en Magog genoem word. Hulle het dieselfde eienskappe as die rebelle in Esegiël se profesie wat God se volk gedurende die groot verdrukking gaan aanval. Daardie groep mense, wat “Gog van die land Magog” genoem word, bestaan uit verskillende nasies wat Jehovah se volk gedurende die groot verdrukking gaan aanval (Eseg. 38:2). Net so word dié wat aan die einde van die duisend jaar rebelleer, as “nasies” beskryf. Dit is ’n interessante beskrywing. Hoekom? Want gedurende die duisend jaar sal die mensdom nie meer verdeeld wees in lande en volke nie. Een regering, God se Koninkryk, sal oor alle mense regeer. Ons sal almal een nasie wees. Deur hierdie rebelle Gog en Magog te noem en te sê dat hulle “nasies” is, wys die profesie dat Satan dit sal regkry om verdeeldheid te veroorsaak onder party van God se aanbidders. Niemand sal gedwing word om Satan se kant te kies nie. Elke volmaakte persoon sal sy of haar eie keuse maak.

Dié wat rebelleer, word Gog en Magog genoem (Sien paragraaf 24)

25, 26. Hoeveel mense sal by Satan aansluit, en wat sal met hulle gebeur?

25 Hoeveel mense sal by Satan aansluit? Die getal van die mense wat rebelleer, is “soos die sand van die see”. Hierdie uitdrukking beteken nie noodwendig dat ’n groot deel van die mensdom sal rebelleer nie. Hoe weet ons dit? Dink aan die belofte wat Jehovah aan Abraham gemaak het. Jehovah het gesê dat Abraham se nageslag “soos die sandkorrels op die strand” sou word (Gen. 22:17, 18). Maar op die ou end het sy nageslag uit 144 001 persone bestaan (Gal. 3:16, 29). Al is daardie getal groot, is dit maar net ’n klein deeltjie van die mensdom. Net so sal ’n groot aantal mense dalk by Satan aansluit, maar dit sal nie oorweldigend wees nie. Die rebelle sal nie ’n groot bedreiging vir Jehovah se lojale aanbidders wees nie.

26 Dié wat by Satan aansluit, sal vinnig vernietig word. Net soos Satan en die demone, sal hulle nie meer bestaan nie, en hulle sal nie die hoop hê om ooit weer te lewe nie. Net hulle slegte besluite en die gevolge van daardie besluite sal vir ewig onthou word. – Op. 20:10.

27-29. Waarna kan die mense wat die laaste toets slaag, uitsien?

27 Maar die mense wat die laaste toets slaag, se name sal permanent in “die boek van die lewe” geskryf word (Op. 20:15). Dan sal al Jehovah se lojale seuns en dogters hom as ’n verenigde gesin die aanbidding gee wat hy verdien.

28 Dink aan daardie toekoms. Jy sal werk doen wat jy geniet en goeie vriende hê. Jy en die mense vir wie jy lief is, sal nooit weer swaarkry nie. Jy sal heeltemal sonder sonde wees, en daarom sal jy nie meer die losprys nodig hê om in Jehovah se oë regverdig te wees nie. Elke persoon sal ’n volmaakte vriendskap met God hê. En die belangrikste van alles is dat rein aanbidding in die hemel en op die aarde op ’n volmaakte manier beoefen sal word. Dan sal rein aanbidding heeltemal herstel wees!

Wanneer jy volmaak en sonder sonde is, sal jy nie meer die losprys nodig hê om in God se oë regverdig te wees nie (Sien paragraaf 28)

29 Sal jy daar wees om daardie groot dag te sien? Jy kan daar wees as jy aanhou om die drie belangrikste lesse uit die boek Esegiël toe te pas – gee Jehovah uitsluitlike toegewydheid, bly verenig in rein aanbidding en wys dat jy lief is vir ander. Maar daar is nog ’n laaste, belangrike les in die profesieë van Esegiël. Wat is dit?

Dink net hoeveel vreugde daar sal wees wanneer almal in die hemel en op die aarde uiteindelik verenig sal wees in rein aanbidding (Sien paragraaf 27-29)

“Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”

30, 31. Wat sal die woorde “hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”, beteken (a) vir God se vyande? (b) vir God se aanbidders?

30 Die woorde “hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”, kom oor en oor in die boek Esegiël voor (Eseg. 6:10; 39:28). Vir God se vyande sal daardie woorde oorlog en die dood beteken. Hulle sal gedwing word om te erken dat Jehovah bestaan. Maar meer as dit, hulle sal die betekenis van sy groot naam – “Hy laat word” – op die harde manier leer. “Jehovah van die leërmagte” sal “’n magtige vegter” word wat teen hulle sal veg (1 Sam. 17:45; Eks. 15:3). Dit sal te laat wees wanneer hulle die volgende belangrike waarheid oor Jehovah besef: Niks kan keer dat hy sy wil laat plaasvind nie.

31 Die woorde “hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”, sal vir God se aanbidders vrede en lewe beteken. Jehovah sal ons laat word wat hy oorspronklik wou hê ons moes wees – seuns en dogters wat sy eienskappe perfek weerspieël (Gen. 1:26). Jehovah is alreeds vir ons ’n liefdevolle Vader en ’n beskermende Herder. Binnekort sal hy ons oorwinnende Koning word. Ons moet gehoorsaam wees aan Esegiël se boodskap voordat daardie dag kom. Ons moet elke dag deur ons woorde en dade wys dat ons weet wie Jehovah is en watter soort God hy is. Dan, wanneer die vernietigende winde van die groot verdrukking losgelaat word, sal ons nie bang wees nie. Ons sal eerder ons koppe oplig, want ons sal weet dat ons binnekort gered sal word (Luk. 21:28). Intussen wil ons mense oral op die aarde help om die enigste God wat ons aanbidding verdien, te leer ken en lief te kry. Hy is die God met die grootste naam van alle name: Jehovah. – Eseg. 28:26.

^ par. 5 Die hoofstuknommers verwys na hoofstukke in hierdie boek.