Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 19

“Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe”

“Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe”

ESEGIËL 47:9

HOOFPUNT: Hoe die visioen van ’n rivier wat uit die tempel vloei, in die ou tyd waar geword het, vandag waar word en in die toekoms sal waar word

1, 2. Wat het Esegiël gesien volgens Esegiël 47:1-12? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

ESEGIËL sien nog iets wonderliks in sy tempelvisioen: Water vloei uit die heilige gebou! Verbeel jou hoe hy die vloei van daardie kristalhelder water volg. (Lees Esegiël 47:1-12.) ’n Straaltjie water vloei onder die drumpel van die heiligdom uit, en dan kom dit by die tempelkompleks naby die oostelike poort uit. Die engel lei Esegiël weg van die tempel af, en hy meet die afstand sover hulle gaan. Die engel laat Esegiël oor en oor deur die water gaan, en die profeet besef dat die water vinnig al hoe dieper word. Dit het soos ’n rivier geword wat so diep was dat hy daardeur moes swem as hy dit wou oorsteek.

2 Esegiël vind uit dat die rivier in die Dooie See invloei. Oral waar die rivierwater vloei, genees dit die souterige, lewelose water van die Dooie See, en dit laat die water van visse wemel. En langs die oewers van die rivier, sien hy allerhande bome groei. Die bome dra elke maand nuwe vrugte, en hulle kry blare wat die krag het om te genees. Al hierdie dinge moes Esegiël se hart met vrede en hoop gevul het. Maar wat het hierdie deel van die tempelvisioen vir hom en die ander gevangenes beteken? En wat beteken dit vir ons vandag?

Wat het die rivier in Esegiël se visioen vir die gevangenes beteken?

3. Hoekom het die Jode van die ou tyd nie gedink dat die rivier in Esegiël se visioen ’n letterlike rivier is nie?

3 Die Jode van die ou tyd het beslis nie gedink dat die rivier in die visioen ’n letterlike rivier is nie. Hierdie Bybelgedeelte het hulle heel moontlik eerder aan ’n ander herstellingsprofesie laat dink, een wat dalk meer as 200 jaar vroeër deur die profeet Joël neergeskryf is. (Lees Joël 3:18.) Toe die Joodse gevangenes Joël se woorde gelees het, het hulle nie verwag dat die berge letterlik sou “drup van soet wyn” of dat die heuwels sou “vloei van melk” nie. Hulle het ook nie verwag dat ’n fontein “uit die huis van Jehovah” sou vloei nie. Net so het die Jode heel moontlik verstaan dat die boodskap van die profeet Esegiël se visioen nie oor ’n letterlike rivier gegaan het nie. * So watter boodskap het Jehovah oorgedra? Die Bybel help ons om te verstaan wat sekere dele van die visioen beteken. Maar ons gaan nou drie duidelike, liefdevolle versekeringe bespreek wat ons in hierdie profesie kan kry.

4. (a) Watter seëninge van Jehovah kon die Jode verwag? (b) Hoe verseker die woorde “rivier” en “water” in die Bybel ons dat Jehovah sy volk sal seën? (Sien die venster “Riviere vol seëninge van Jehovah af”.)

4 ’n Rivier vol seëninge. In die Bybel word riviere en water baie keer gebruik om Jehovah se seëninge af te beeld. Esegiël het gesien hoe so ’n rivier uit die tempel vloei. So God se volk sou verwag het dat hulle Jehovah se geestelike seëninge sou ontvang solank hulle hom op ’n rein manier aanbid het. Watter seëninge? Hulle sou weer deur die priesters onderrig word. En omdat hulle weer offerandes by die tempel sou bring, kon hulle daarvan seker wees dat hulle sondes vergewe sou word (Eseg. 44:15, 23; 45:17). Hulle sou weer rein wees, asof hulle gewas is in die rein water wat uit die tempel gevloei het.

5. Hoe wys die rivier in die visioen dat daar altyd genoeg seëninge vir almal sal wees?

5 Sou daar altyd genoeg seëninge vir almal wees? Die visioen wys dat dit nie nodig is om daaroor bekommerd te wees nie, want die klein stroompie word oor ’n afstand van net meer as twee kilometer ’n rivier! (Eseg. 47:3-5). Die bevolking in die Jode se herstelde tuisland sou dalk groter word, maar Jehovah se seëninge sou in al hulle behoeftes voorsien. Die rivier was ’n simbool van oorvloed!

6. (a) Watter belofte bevat die profesie? (b) Watter waarskuwing bevat die profesie ook? (Sien voetnoot.)

6 Water wat lewe gee. In Esegiël se visioen het die rivier in die Dooie See ingevloei, en dit het baie van die water weer laat lewe. Die water het begin wemel van die visse. Daar was so baie verskillende visse dat ’n mens dit kon vergelyk met die visse in die Grootsee, of die Middellandse See. Daar was selfs ’n florerende visbedryf langs die kus van die Dooie See tussen twee dorpe wat heel moontlik ’n hele ent van mekaar af was. Die engel het gesê: “Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe.” Maar beteken dit dat die water wat uit Jehovah se huis gevloei het, elke deel van die Dooie See bereik het? Nee. Die engel het verduidelik dat daar party vleie sou wees wat nie deur hierdie water bereik sou word nie. Daardie plekke was “aan sout oorgegee” * (Eseg. 47:8-11). So die profesie het belowe dat rein aanbidding die mense weer lewend sou maak en hulle sou laat floreer. Maar daar was ook ’n waarskuwing: Nie almal sou Jehovah se seëninge aanvaar nie, en nie almal sou gesond gemaak word nie.

7. Waarvan het die bome langs die rivieroewers die Joodse gevangenes verseker?

7 Bome vir voedsel en genesing. Wat van die bome langs die rivieroewers? Dit was nie net mooi nie, maar dit het ook iets beteken. Esegiël en die ander Jode het dit seker geniet om te dink aan die lekker vrugte wat hierdie bome sou dra – daar sou elke maand ’n nuwe oes wees! Die feit dat hierdie bome daar was, het hulle verder verseker dat Jehovah vir hulle geestelike voedsel sou gee. En wat nog? Die profesie sê ook dat die blare van daardie bome “as genesing [sal] dien” (Eseg. 47:12). Jehovah het geweet dat die gevangenes veral geestelike genesing sou nodig hê, en hy het belowe om dit vir hulle te gee. Ander herstellingsprofesieë het bespreek hoe hy dit gedoen het, soos ons in Hoofstuk 9 van hierdie boek gesien het.

8. Wat wys dat Esegiël se visioen ’n groter vervulling sou hê?

8 Maar soos ons ook in Hoofstuk 9 bespreek het, het die gevangenes nie die volle vervulling van sulke profesieë gesien nie. Dit was hulle eie skuld. Hoe kon Jehovah hulle heeltemal seën as hulle heeltyd teruggegaan het na hulle ou gewoontes, ongehoorsaam was en rein aanbidding verwaarloos het? Gehoorsame Jode was seergemaak en teleurgesteld as gevolg van wat die ander Jode gedoen het. Maar hulle het geweet dat Jehovah se beloftes altyd waar word. (Lees Josua 23:14.) So Esegiël se visioen sou eendag ’n groter vervulling hê. Maar wanneer?

Die rivier vloei vandag!

9. Wanneer het Esegiël se tempelvisioen ’n groter vervulling?

9 Soos ons in Hoofstuk 14 van hierdie boek gesien het, het Esegiël se tempelvisioen ’n groter vervulling gedurende “die einde van die dae”, die tyd wanneer rein aanbidding verhoog word soos nog nooit tevore nie (Jes. 2:2). Hoe word hierdie deel van Esegiël se visioen nou waar?

10, 11. (a) Watter seëninge ontvang ons vandag? (b) Hoe het die rivier vol seëninge wat van Jehovah af kom, gegroei om gedurende die laaste dae in mense se behoeftes te voorsien?

10 ’n Rivier vol seëninge. Aan watter seëninge laat die water wat uit Jehovah se huis vloei, ons vandag dink? Dit laat ons dink aan al die dinge wat Jehovah vir ons gegee het wat ons help om geestelik gesond te bly. Die belangrikste is die reinigende krag van Christus se losprysoffer, wat dit moontlik maak dat ons sondes vergewe kan word. Die rein waarhede van God se Woord word ook vergelyk met reinigende water wat lewe gee (Ef. 5:25-27). Hoe het ons in ons tyd sulke seëninge ontvang?

11 In 1919 was daar net ’n paar duisend aanbidders van Jehovah, en hulle was baie bly om die geestelike voedsel te ontvang wat hulle nodig gehad het. In die jare daarna het hulle al hoe meer geword. Vandag is daar meer as agt miljoen van Jehovah se aanbidders. Het die stroom van rein water aanhou groei? Ja! Ons het ’n oorvloed geestelike waarhede. In die laaste 100 jaar het God se volk letterlik miljarde Bybels, boeke, tydskrifte, brosjures en pamflette gekry. Soos die rivier wat Esegiël in sy visioen gesien het, het die stroom van rein waarhede vinnig gegroei om in die behoeftes van mense regoor die wêreld te voorsien wat geestelik dors is. Bybelpublikasies is al lank beskikbaar in gedrukte vorm. En nou is sulke publikasies deur middel van die webwerf jw.org elektronies beskikbaar in meer as 1 000 tale! Hoe raak sulke water van waarheid mense met die regte hartstoestand?

12. (a) Hoe het Bybelwaarhede mense gehelp? (b) Watter waarskuwing gee die visioen vir ons vandag? (Sien ook voetnoot.)

12 Water wat lewe gee. Daar is vir Esegiël gesê: “Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe.” Dink aan hoe die boodskap van die waarheid almal bereik het wat in ons herstelde geestelike land is. Bybelwaarhede het die harte van miljoene mense geraak en hulle gehelp om geloof in Jehovah op te bou. Maar die visioen bevat ook ’n waarskuwing: Nie almal bly lief vir die waarheid nie. Soos die moerasse en vleie in die Dooie See in Esegiël se visioen, is daar party wat Bybelwaarhede nie meer waardeer nie en wat hulle rug op Jehovah draai. * Mag dit nooit met ons gebeur nie! – Lees Deuteronomium 10:16-18.

13. Watter lesse kan ons vandag leer uit daardie bome in Esegiël se visioen?

13 Bome vir voedsel en genesing. Watter aanmoedigende lesse kan ons vandag uit die bome langs die rivieroewers in Esegiël se visioen leer? Onthou dat daardie bome elke maand heerlike vrugte gedra het, en hulle blare het die krag gehad om te genees (Eseg. 47:12). Dit herinner ons aan die feit dat ons die God dien wat vir ons ’n oorvloed geestelike voedsel gee en ons op die belangrikste manier genees, dit wil sê op ’n geestelike manier. Die wêreld van vandag is geestelik siek en uitgehonger. Maar dink aan wat Jehovah voorsien. Hoe voel jy nadat jy ’n artikel in een van ons tydskrifte gelees het, die laaste liedjie by ’n byeenkoms gesing het of ’n video of ’n JW Broadcasting®-program gekyk het? Voel jy nie geseënd om sulke geestelike voedsel te hê nie? Ons het beslis ’n oorvloed geestelike voedsel (Jes. 65:13, 14). Help ons geestelike voedsel ons om geestelik gesond te bly? Die goeie raad wat ons kry, wat heeltemal op God se Woord gebaseer is, beskerm ons teen dinge soos onsedelikheid, gierigheid en ’n gebrek aan geloof. Jehovah het ook seker gemaak dat Christene wat geestelik siek is as gevolg van ’n ernstige sonde, gehelp kan word. (Lees Jakobus 5:14.) Soos Esegiël se visioen van die bome wys, is ons beslis geseënd.

14, 15. (a) Watter les leer ons uit die vleie wat nie deur die water genees is nie? (b) Hoe help die rivier in Esegiël se visioen ons vandag?

14 Maar ons leer iets uit die vleie wat nie deur die water genees is nie. Ons wil nooit nee sê vir Jehovah se seëninge en keer dat dit ons lewe raak nie. Dit sal baie hartseer wees as ons, soos so baie mense in hierdie siek wêreld, nie genees word nie (Matt. 13:15). Ons geniet eerder die voordele wat die rivier vol seëninge bring. Die rivier in Esegiël se visioen laat ons dalk dink aan die baie seëninge wat ons geniet. Ons kan die waarheid uit God se Woord bestudeer en verstaan, ons kan hierdie waarhede met ander deel in die predikingswerk en ons het die liefdevolle raad, vertroosting en hulp van die ouermanne, wat deur die getroue slaaf opgelei is. Daardie rivier bring lewe en genesing waar dit ook al vloei!

15 Maar beteken die rivier in die visioen ook iets vir die toekoms? Soos ons sal sien, sal ons die seëninge van hierdie rivier ten volle in die Paradys kan geniet.

Wat die visioen in die Paradys sal beteken

16, 17. (a) Hoe sal die simboliese rivier in die Paradys selfs groter wees? (b) Hoe sal ons in die Paradys by daardie rivier vol seëninge baat vind?

16 Sien jy jouself in die Paradys saam met jou vriende en familie terwyl julle die lewe geniet? As jy die rivier in Esegiël se visioen bestudeer, kan dit jou help om daardie prentjie selfs duideliker te sien. Hoe so? Kom ons kyk weer na die drie duidelike, liefdevolle aspekte van die visioen.

17 ’n Rivier vol seëninge. Die simboliese rivier sal in ’n sekere sin baie groter wees in die Paradys, want die seëninge daarvan sal nie net geestelik wees nie, maar ook fisies. Wanneer Jesus vir ’n duisend jaar regeer, sal God se Koninkryk lojale mense help om nog baie meer by die losprys baat te vind. Hulle sal geleidelik volmaak word! Daar sal nie meer siektes, dokters, verpleegsters, hospitale en gesondheidsversekering wees nie! Daardie water van die lewe sal vloei na die miljoene mense wat Armageddon oorleef – “’n groot menigte” wat uit “die groot verdrukking” sal kom (Op. 7:9, 14). Maar die eerste seëninge, al is dit ook hoe indrukwekkend, sal maar net ’n straaltjie wees in vergelyking met die rivier wat later sal kom. Soos in Esegiël se visioen, sal die rivier groter word sodat dit in groter behoeftes kan voorsien.

In die Paradys sal die rivier vol seëninge almal jonk en gesond maak (Sien paragraaf 17)

18. Hoe sal die “rivier van water van die lewe” gedurende die duisend jaar ’n groot stroom word?

18 Water wat lewe gee. Gedurende die duisend jaar sal die “rivier van water van die lewe” ’n groot stroom word (Op. 22:1). Miljoene, selfs miljarde, mense sal uit die dood opgewek word en die kans kry om vir ewig in die Paradys te lewe! Jehovah se seëninge deur die Koninkryk sal insluit dat ’n baie groot aantal dooies, mense wat lank magteloos in die stof van die aarde gelê het, weer sal lewe (Jes. 26:19). Maar sal almal wat opgewek is, vir ewig lewe?

19. (a) Wat wys dat daar in die Paradys nuwe water van waarheid sal wees? (b) Hoe sal party in die toekoms “aan sout oorgegee word”?

19 Elkeen sal moet kies. Nuwe boekrolle sal gedurende daardie tyd oopgemaak word. So die verfrissende water wat van Jehovah af kom, sal nuwe waarhede insluit, nuwe geestelike instruksies. Is dit nie opwindend om daaraan te dink nie? Maar party sal weier om die nuwe instruksies te volg, en hulle sal kies om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Party mense sal dalk gedurende die duisend jaar rebelleer, maar hulle sal nie toegelaat word om die vrede in die Paradys te versteur nie (Jes. 65:20). Ons dink dalk aan Esegiël se visioen en aan daardie vleie waar die water nie gevloei het nie en wat “aan sout oorgegee” is. Mense wat hardkoppig is en weier om van die kosbare water van die lewe te drink, is baie dom! Ná die duisend jaar sal ’n groep ongehoorsame mense Satan se kant kies. Dieselfde einde wag op almal wat weier om Jehovah as hulle regverdige Heerser te aanvaar – hulle sal vir ewig vernietig word. – Op. 20:7-12.

20. Aan watter reëling laat die bome wat Esegiël gesien het, ons dink?

20 Bome vir voedsel en genesing. Jehovah wil hê dat ons almal die ewige lewe moet kry. Om ons te help om die ewige lewe te kry, sal hy weer seker maak dat daar ’n reëling is soos daardie bome wat Esegiël gesien het. Maar in die Paradys sal die seëninge van Jehovah fisies sowel as geestelik wees. Jesus Christus en die 144 000 sal saam vir ’n duisend jaar as konings in die hemel regeer. As ’n priesterlike klas sal die 144 000 die voordele van Jesus se losprysoffer gebruik om gehoorsame mense te help om volmaak te word (Op. 20:6). Hierdie reëling vir fisiese en geestelike genesing laat ons dink aan daardie bome wat Esegiël langs die rivieroewers gesien het, bome met goeie vrugte en blare wat die krag het om te genees. Esegiël se visioen is ’n parallel van ’n ander pragtige profesie wat die apostel Johannes neergeskryf het. (Lees Openbaring 22:1, 2.) Die blare van die bome wat Johannes gesien het, was “vir die genesing van die nasies”. Miljoene gehoorsame mense sal baat vind by die werk wat die 144 000 as priesters doen.

21. Hoe laat dit jou voel wanneer jy dink aan die rivier in Esegiël se visioen, en wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek? (Sien die venster “’n Straaltjie water word ’n rivier!”)

21 Is jou hart nie vol vrede en hoop wanneer jy dink aan die rivier in Esegiël se visioen nie? Daar lê vir ons wonderlike tye voor! En dink net – duisende jare gelede het Jehovah vir ons baie profesieë gegee om ons te help om te dink aan hoe die lewe in die Paradys sal wees. Hy wil graag hê dat ons moet sien hoe hierdie profesieë in die toekoms waar word. Sal jy daar wees? Jy wonder dalk of daar regtig vir jou ’n plek in die Paradys sal wees. Ons gaan in die volgende hoofstuk sien hoe die laaste dele van Esegiël se profesie ons daardie versekering gee.

^ par. 3 En die Joodse gevangenes wat nog kon onthou hoe die landskap van hulle tuisland gelyk het, het heel moontlik geweet dat ’n rivier nie vanaf Jerusalem tot by die Dooie See kon vloei nie, want dit sou beteken dat die rivier op sekere plekke opwaarts sou moes vloei.

^ par. 6 Party kommentators sien dit as iets positiefs. Hulle sê dat dit al lank ’n winsgewende bedryf in die gebied van die Dooie See is om sout as ’n preserveermiddel te oes. Maar die verslag sê duidelik dat die vleie “nie gesond gemaak sal word nie”. Hulle bly leweloos en word nie genees nie omdat die water van Jehovah se huis hulle nie bereik nie. So dit lyk asof die sout in daardie vleie hier ’n negatiewe betekenis het. – Ps. 107:33, 34; Jer. 17:6.

^ par. 12 Dit kan vergelyk word met Jesus se illustrasie van die sleepnet. Baie vis word in die net gevang, maar nie almal is “goeie” vis nie. Die vis wat nie gebruik kan word nie, moet weggegooi word. So Jesus het gewaarsku dat ’n groot aantal van dié wat in Jehovah se organisasie inkom, dalk later dislojaal kan word. – Matt. 13:47-50; 2 Tim. 2:20, 21.