Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 20

“[Wys] die land as ’n erfdeel [toe]”

“[Wys] die land as ’n erfdeel [toe]”

ESEGIËL 45:1

HOOFPUNT: Wat die verdeling van die land beteken

1, 2. (a) Watter instruksies gee Jehovah vir Esegiël? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

ESEGIËL het nou net ’n visioen gehad wat hom laat dink het aan wat amper 900 jaar gelede in die dae van Moses en Josua gebeur het. In daardie tyd het Jehovah vir Moses gesê waar die grense van die Beloofde Land is, en later het Hy vir Josua gesê hoe daardie land onder die stamme van Israel verdeel moet word (Num. 34:1-15; Jos. 13:7; 22:4, 9). Maar nou, in die jaar 593 VHJ, sê Jehovah vir Esegiël en die ander gevangenes om die Beloofde Land weer onder die stamme van Israel te verdeel! – Eseg. 45:1; 47:14; 48:29.

2 Watter boodskap het hierdie visioen vir Esegiël en die ander gevangenes bevat? Hoekom is hierdie visioen aanmoedigend vir God se volk van vandag? Sal hierdie visioen in die toekoms ’n groter vervulling hê?

’n Visioen met vier beloftes

3, 4. (a) Watter vier beloftes het Jehovah aan die gevangenes gemaak? (b) Watter belofte gaan ons in hierdie hoofstuk bespreek?

3 Nege hoofstukke van Esegiël se boek gaan oor sy laaste visioen (Eseg. 40:1–48:35). In die visioen het Jehovah vier aanmoedigende beloftes aan die gevangenes gemaak oor die herstelde nasie Israel. Wat was daardie beloftes? Eerstens, rein aanbidding sou in God se tempel herstel word. Tweedens, regverdige priesters en herders sou die herstelde nasie lei. Derdens, almal wat na Israel sou teruggaan, sou ’n deel van die land erf. En vierdens, Jehovah sou met hulle wees, dit wil sê hy sou weer onder hulle woon.

4 Hoofstuk 13 en 14 van hierdie boek, het die eerste twee beloftes bespreek – dat ware aanbidding herstel sou word en dat regverdige herders die leiding sou neem. Hierdie hoofstuk gaan oor die derde belofte, dit wil sê die belofte oor die erfdeel wat die Israeliete sou kry. In die volgende hoofstuk sal ons die belofte oor Jehovah se teenwoordigheid bespreek. – Eseg. 47:13-21; 48:1-7, 23-29.

“Hierdie land [is] as ’n erfdeel aan julle toegewys”

5, 6. (a) Watter gebied moes volgens Esegiël se visioen toegewys word? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat was die doel van die visioen oor die verdeling van die land?

5 Lees Esegiël 47:14. In ’n visioen het Jehovah Esegiël se aandag gevestig op ’n deel van die land wat binnekort soos “die tuin van Eden” sou lyk (Eseg. 36:35). Toe het Jehovah gesê: “Dit is die gebied wat julle as erfdeel moet toewys as die land vir die 12 stamme van Israel” (Eseg. 47:13). “Die gebied” wat toegewys moes word, was Israel, die herstelde land waarheen die gevangenes sou teruggaan. Soos Esegiël 47:15-21 wys, het Jehovah toe in detail beskryf presies waar die grense van die hele land was.

6 Wat was die doel van hierdie visioen oor hoe die land verdeel was? Die beskrywing van hoe die grense presies afgemeet is, het Esegiël en die ander gevangenes verseker dat hulle kosbare land beslis herstel sou word. Dink net hoe daardie belofte van Jehovah af, wat in soveel detail en so goed beskryf was, die gevangenes aangemoedig het! Het God se volk van die verlede wel land ontvang wat aan hulle as ’n erfdeel toegewys was? Ja, hulle het.

7. (a) Wat het in 537 VHJ begin gebeur, en waaraan laat dit ons dink? (b) Watter vraag sal ons eerste bespreek?

7 In 537 VHJ, ongeveer 56 jaar nadat Esegiël sy visioen gekry het, het duisende gevangenes na Israel begin teruggaan en die land in besit geneem. Daardie belangrike gebeurtenisse laat ons dink aan iets soortgelyks wat vandag onder God se volk gebeur. Op ’n manier is daar ook ’n stuk land aan hulle toegewys. Hoe so? Jehovah het sy aanbidders toegelaat om in ’n geestelike land in te gaan en om dit in besit te neem. Daarom kan die herstelling van die Beloofde Land ons baie leer oor die herstelling van die geestelike land van God se volk van vandag. Maar voordat ons hierdie lesse bespreek, kom ons kry eers die antwoord op die volgende vraag: “Hoekom kan ons sê dat daar vandag regtig ’n geestelike land bestaan?”

8. (a) Met watter nasie het Jehovah die natuurlike Israeliete vervang? (b) Wat is die geestelike land, of paradys? (c) Wanneer het dit begin bestaan, en wie het daarin gaan woon?

8 In ’n visioen wat Esegiël vroeër gehad het, het Jehovah gewys dat profesieë oor Israel se herstelling ’n groter vervulling sou hê nadat sy “kneg Dawid”, Jesus Christus, as Koning begin regeer het (Eseg. 37:24). Dit het in 1914 HJ plaasgevind. Teen daardie tyd was natuurlike Israeliete lankal nie meer God se volk nie. Hulle was vervang deur geestelike Israeliete wat bestaan het uit geesgesalfde Christene. (Lees Matteus 21:43; 1 Petrus 2:9.) Maar Jehovah het nie net die natuurlike nasie Israel met ’n geestelike nasie vervang nie, maar ook die letterlike land Israel met ’n geestelike land, of paradys (Jes. 66:8). Soos ons in Hoofstuk 17 van hierdie boek gesien het, is die geestelike land die veilige geestelike omgewing waarin die gesalfdes wat nog op die aarde is, Jehovah vanaf 1919 aanbid het. (Sien venster 9B, “Hoekom 1919?”) Later het dié wat die hoop het om op die aarde te lewe, die “ander skape,” ook in hierdie geestelike land begin woon (Joh. 10:16). Al word die geestelike paradys vandag al hoe groter en al hou dit aan ontwikkel, sal ons die seëninge daarvan eers ná Armageddon heeltemal kan geniet.

Die land word in gelyke en presiese dele verdeel

9. Watter instruksies het Jehovah gegee oor die verdeling van die land?

9 Lees Esegiël 48:1, 28. Nadat Jehovah die buitenste grense van die land vasgestel het, het hy in detail beskryf hoe die land verdeel moes word. Hy het gesê dat die land in 12 gelyke en presiese erfdele verdeel moes word. Hulle moes begin met die stam van Dan aan die noordelike punt van die land, en hulle moes eindig met die stam van Gad aan die suidelikste grens. Die 12 erfdele het elkeen bestaan uit ’n horisontale stuk gebied wat van die land se buitenste grens in die ooste gestrek het tot by die Grootsee, of die Middellandse See, in die weste. – Eseg. 47:20.  

10. Waarvan het hierdie deel van die visioen die gevangenes heel moontlik verseker?

10 Waarvan het hierdie deel van die visioen die gevangenes heel moontlik verseker? Die goeie beskrywing wat Esegiël gegee het oor hoe die land verdeel sou word, het die gevangenes verseker dat dit ’n goed georganiseerde projek sou wees. En die presiese verdeling van die land onder al 12 stamme, het beklemtoon dat elke gevangene beslis ’n erfdeel in die herstelde land sou ontvang. Nie een van hulle sou sonder ’n stuk grond of ’n huis wees nie.

11. Watter lesse kan ons leer uit die visioen van die verdeling van die land? (Sien die venster “Die verdeling van die land”.)

11 Watter aanmoedigende lesse kan ons vandag uit hierdie visioen leer? Die herstelde Beloofde Land het nie net ’n plek vir die priesters, die Leviete en die hoofmanne gehad nie, maar ook vir al die ander lede van die 12 stamme (Eseg. 45:4, 5, 7, 8). Net so is daar vandag in die geestelike paradys nie net plek vir die gesalfdes wat nog op die aarde is en vir dié wat die leiding onder die “groot menigte” neem nie, maar daar is ook plek vir alle ander lede van die groot menigte * (Op. 7:9). Maak nie saak hoe klein ons rol in die organisasie is nie, ons kan daarvan seker wees dat ons ’n plek en ’n waardevolle werk in die geestelike land het. Dit is so ’n aanmoedigende gedagte!

Jehovah waardeer alles wat ons doen, maak nie saak watter verantwoordelikhede ons in sy organisasie het nie (Sien paragraaf 11)

Twee belangrike verskille – Wat beteken dit vir ons?

12, 13. Watter spesifieke instruksies het Jehovah gegee oor hoe die land onder die stamme verdeel moes word?

12 Esegiël het dalk nie party van Jehovah se instruksies oor die verdeling van die land verstaan nie omdat dit anders was as die instruksies wat God vir Moses gegee het. Kom ons kyk na twee van hierdie verskille. Die een het te doen met die land, en die ander een het te doen met die mense wat daar woon.

13 Eerstens, die land. Jehovah het vir Moses gesê om vir die groter stamme meer land te gee as vir die kleiner stamme (Num. 26:52-54). Maar in Esegiël se visioen het Jehovah spesifieke instruksies gegee dat al die stamme “gelyke dele [“elkeen net soos sy broer”, vtn.]” moet kry (Eseg. 47:14). So die afstand vanaf die noordelike grens tot by die suidelike grens van elkeen van die 12 stamme se erfdele moes presies dieselfde wees. Alle Israeliete – maak nie saak aan watter stam hulle behoort het nie – sou gelyke toegang hê tot die natuurlike oorvloed van die Beloofde Land, wat oorgenoeg water gehad het.

14. Hoe was Jehovah se instruksies oor die uitlanders baie anders as die instruksies in die Wet van Moses?

14 Tweedens, die mense wat in die land woon. Die Wet van Moses het uitlanders beskerm, en volgens die Wet kon hulle Jehovah ook aanbid, maar hulle het geen erfdeel in die land gekry nie (Lev. 19:33, 34). Wat Jehovah nou vir Esegiël gesê het, was baie anders as wat Hy in die Wet van Moses gesê het. Jehovah het vir hom gesê: “[Gee] vir die uitlander ’n erfdeel . . . in die gebied van die stam waar hy gaan woon het.” Toe Jehovah daardie bevel gegee het, het hy ’n einde gemaak aan ’n groot verskil tussen die “gebore Israeliete” en die uitlanders wat in die land woon (Eseg. 47:22, 23). In die herstelde land wat Esegiël in ’n visioen gesien het, het hy gesien dat die mense van die land gelyk is en verenig is in aanbidding. – Lev. 25:23.

15. Wat het Jehovah se instruksies oor die land en die mense wat daar woon, oor hom bevestig?

15 Hierdie twee belangrike instruksies wat Esegiël oor die land en die volk gekry het, was seker vir die gevangenes baie vertroostend. Hulle het geweet dat Jehovah ’n gelyke deel aan hulle sou toewys, of hulle nou gebore Israeliete was of uitlanders wat Jehovah aanbid het (Esra 8:20; Neh. 3:26; 7:6, 25; Jes. 56:3, 8). Hierdie instruksies bevestig ook die aanmoedigende en onveranderlike feit dat al Jehovah se aanbidders vir hom ewe kosbaar is. (Lees Haggai 2:7.) Hierdie feit is vandag vir ons almal aanmoedigend, of ons nou die hoop het om in die hemel of op die aarde te lewe.

16, 17. (a) Hoe help dit ons wanneer ons kyk na die besonderhede oor die land en die mense wat daar woon? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

16 Hoe help dit ons wanneer ons kyk na die besonderhede oor die land en die mense wat daarin woon? Ons word daaraan herinner dat gelykheid en eenheid vandag duidelike kenmerke moet wees van ons wêreldwye broederskap. Jehovah is nie partydig nie. Ons moet onsself afvra: ‘Is ek net so onpartydig soos Jehovah? Behandel ek my broers en susters met diep respek, maak nie saak wat hulle ras of omstandighede in die lewe is nie?’ (Rom. 12:10). Ons is so bly dat Jehovah ons elkeen ’n plek in die geestelike paradys gegee het, waar ons ons hemelse Vader met ons hele hart kan dien en sy seëninge kan geniet. – Gal. 3:26-29; Op. 7:9.

Is ons net so onpartydig soos Jehovah, en het ons diep respek vir ander? (Sien paragraaf 15, 16)

17 Kom ons kyk nou na die vierde belofte wat Jehovah in die laaste deel van Esegiël se laaste visioen gemaak het – die belofte dat Jehovah met die gevangenes sou wees. Watter lesse kan ons uit daardie belofte leer? Ons sal die antwoord in die volgende hoofstuk kry.

^ par. 11 Sien Hoofstuk 14 van hierdie boek vir ’n bespreking van die spesiale plek en werk wat Jehovah vir die priesterdom en die hoofman in die geestelike land gegee het.