Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 6

“Die einde het nou vir [julle] aangebreek”

“Die einde het nou vir [julle] aangebreek”

ESEGIËL 7:3

HOOFPUNT: Hoe Jehovah se profetiese oordele teen Jerusalem uitgevoer is

1, 2. (a) Wat het Esegiël gedoen wat baie vreemd was? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat het die dinge wat hy gedoen het, voorspel?

DIE profeet Esegiël tree baie vreemd op, en die nuus daaroor versprei vinnig onder die Jode wat in Babilon in gevangenskap is. Dit het gelyk asof hy ’n week lank in ’n ander wêreld was, en hy het niks gesê nie, maar toe het hy skielik opgestaan en hom in sy huis toegesluit. Uiteindelik kom die profeet uit sy huis uit. Terwyl sy verbaasde bure toekyk, tel hy ’n baksteen op, sit hy dit voor hom neer en graveer hy iets daarop. Dan, sonder om ’n woord te sê, begin Esegiël ’n klein muurtjie om die baksteen bou. – Eseg. 3:10, 11, 15, 24-26; 4:1, 2

2 Al hoe meer mense het seker kom kyk wat aangaan en het dalk gewonder: ‘Wat beteken dit alles?’ Daardie Jode sou eers later verstaan dat die profeet Esegiël se vreemde optrede ’n verskriklike gebeurtenis voorspel het waarin Jehovah God sy woede sou uitstort. Wat was dit? Hoe het dit die eertydse nasie Israel geaffekteer? Hoekom is dit vir ware aanbidders van vandag belangrik?

‘Vat ’n baksteen . . . neem koring . . . neem ’n skerp swaard’

3, 4. (a) Watter drie aspekte van God se oordeel het Esegiël uitgebeeld? (b) Hoe het Esegiël die beleëring van Jerusalem uitgebeeld?

3 In ongeveer 613 VHJ het Jehovah vir Esegiël gesê om drie aspekte van God se toekomstige oordeel teen Jerusalem deur middel van tekens uit te beeld: die beleëring van die stad, die pyn en lyding van die mense en die vernietiging van die stad en die mense daarin. * Kom ons bespreek hierdie drie dinge in meer detail.

4 Die beleëring van Jerusalem. Jehovah het vir Esegiël gesê: “Vat ’n baksteen en sit dit voor jou neer. . . . Beleër dit.” (Lees Esegiël 4:1-3.) Die baksteen het Jerusalem voorgestel, en Esegiël het die Babiloniese leërmag wat deur Jehovah gebruik is, afgebeeld. Jehovah het ook vir Esegiël gesê om ’n klein muurtjie, ’n beleëringswal en stormramme * te maak. Dan moes hy dit rondom die baksteen sit. Dit het die dinge voorgestel wat Jerusalem se vyande sou gebruik wanneer hulle die stad omring en aanval. Esegiël moes “’n ysterbakplaat” tussen hom en die stad sit, om te wys dat die soldate van die vyand so sterk soos yster sou wees. Toe het hy sy “oë op die stad” gehou. Die dinge wat Esegiël gedoen het, was “’n teken vir die huis van Israel” dat iets baie onverwags binnekort sou gebeur. Jehovah sou ’n leërmag van Israel se vyande gebruik om Jerusalem te beleër, al was Jerusalem vir God se volk die belangrikste stad, die plek waar God se tempel was!

5. Beskryf hoe Esegiël uitgebeeld het wat met die mense van Jerusalem sou gebeur.

5 Die pyn en lyding van die mense in Jerusalem. Jehovah het vir Esegiël gesê: “Jy moet koring, gars, boerbone, lensies, giers [’n soort graan] en spelt [’n soort koring] neem en . . . daarvan . . . brood maak”, en “jy moet jou kos afweeg en 20 sikkels [ongeveer 230g] per dag eet”. Toe het Jehovah gesê: “Ek gaan nou die voedselvoorraad laat opraak” (Eseg. 4:9-16). In hierdie toneel het Esegiël nie meer die Babiloniese leërmag afgebeeld nie. Hy het eerder die mense van Jerusalem afgebeeld. Wat die profeet gedoen het, het voorspel dat die beleëring sou veroorsaak dat die kos in die stad al hoe minder sou word. Mense sou dan brood maak van ’n vreemde mengsel van bestanddele, wat sou wys dat mense sou moes eet wat hulle ook al in die hande kon kry. Hoe erg sou die hongersnood word? Dit klink amper asof Esegiël direk met die mense van Jerusalem gepraat het toe hy gesê het: “Pa’s [sal] hulle kinders in die stad eet, en kinders sal hulle pa’s eet.” Uiteindelik sou baie mense ly as gevolg van “die dodelike pyle van die hongersnood”, en hulle sou “wegteer”. – Eseg. 4:17; 5:10, 16.

6. (a) Watter twee rolle het Esegiël op dieselfde tyd uitgebeeld? (b) Wat beteken God se bevel om “die hare te weeg en te verdeel”?

6 Die vernietiging van Jerusalem en sy mense. In hierdie deel van die profesie het Esegiël twee rolle op dieselfde tyd uitgebeeld. Esegiël het eers uitgebeeld wat Jehovah sou doen. Jehovah het vir hom gesê: “Neem vir jou ’n skerp swaard om as ’n haarkapper se skeermes te gebruik.” (Lees Esegiël 5:1, 2.) Esegiël se hand wat die swaard gebruik het, het Jehovah se hand afgebeeld – sy oordeel wat hy deur middel van die Babiloniese leërmag uitgevoer het. Daarna het Esegiël uitgebeeld wat die Jode sou deurmaak. Jehovah het vir hom gesê: “Skeer jou kop en jou baard.” Esegiël moes sy kop skeer om te wys hoe die Jode aangeval en doodgemaak sou word. En die bevel om “’n weegskaal [te neem] om die hare te weeg en te verdeel”, het geïmpliseer dat Jehovah se oordeel teen Jerusalem ten volle uitgevoer sou word.

7. Hoekom het Jehovah vir Esegiël gesê om die hare in drie dele te verdeel en iets anders met elke deel te doen?

 7 Hoekom het Jehovah vir Esegiël gesê om sy geskeerde hare in drie dele te verdeel en iets anders met elke deel te doen? (Lees Esegiël 5:7-12.) Esegiël het een deel van sy hare “in die stad” verbrand om vir mense te wys dat party van die mense in Jerusalem in die stad sou doodgaan. Esegiël het ’n deel van die hare “rondom die stad” met ’n swaard geslaan om te wys dat ander buite die stad doodgemaak sou word. En hy het die laaste deel van die hare in die wind gestrooi om te wys dat ander onder die nasies verstrooi sou word, maar ‘’n swaard sou hulle agternasit’. Dit maak nie saak waar daardie oorlewendes sou bly nie, hulle sou nie vrede hê nie.

8. (a) Watter hoop het Esegiël se uitbeelding gegee? (b) Hoe het die profesie oor die ‘hare in die voue’ waar geword?

8 Maar Esegiël se profetiese uitbeelding het ook ’n bietjie hoop gegee. Jehovah het vir Esegiël die volgende gesê oor die hare wat hy afgeskeer het: “Jy moet ’n bietjie van die hare neem en dit in die voue van jou kledingstuk toebind” (Eseg. 5:3). Daardie bevel het gewys dat ’n paar van die Jode wat onder die nasies verstrooi sou word, nie doodgemaak sou word nie. Van daardie oorlewendes, dit wil sê van die hare wat ‘in die voue van die kledingstuk toegebind’ was, sou onder die Jode wees wat na Jerusalem teruggegaan het nadat hulle 70 jaar lank in Babilon in gevangenskap was (Eseg. 6:8, 9; 11:17). Het daardie profesie waar geword? Ja. ’n Paar jaar nadat die Jode uit Babilon vrygelaat is, het die profeet Haggai gesê dat party van die Jode wat verstrooi was, wel na Jerusalem teruggegaan het. Hulle was “die ou manne wat die vorige huis gesien het”, dit wil sê Salomo se tempel (Esra 3:12; Hag. 2:1-3). Jehovah het gesorg dat rein aanbidding nie vernietig word nie, net soos hy belowe het. Ons sal meer oor daardie herstelling in Hoofstuk 9 van hierdie boek leer. – Eseg. 11:17-20.

Wat leer hierdie profesie ons oor dinge wat in die toekoms gaan gebeur?

9, 10. Aan watter belangrike dinge laat Esegiël se profetiese uitbeeldings ons dink?

9 Die dinge wat Esegiël uitgebeeld het, laat ’n mens dink aan die belangrike dinge wat God se Woord oor ons toekoms voorspel. Wat is van hierdie dinge? Soos in die geval van eertydse Jerusalem, sal Jehovah politieke organisasies gebruik om iets te doen wat baie onverwags is – om alle valse godsdiensorganisasies op die aarde aan te val (Op. 17:16-18). Net soos Jerusalem se vernietiging “’n ramp soos nog nooit tevore” was nie, sal die “groot verdrukking” en die oorlog van Armageddon iets wees wat nog nooit tevore “plaasgevind het nie”. – Eseg. 5:9; 7:5; Matt. 24:21.

10 God se Woord wys dat ondersteuners van valse godsdiens die vernietiging van godsdiensorganisasies sal oorleef. Daardie oorlewendes sal angstig saam met ander persone na ’n skuilplek soek (Sag. 13:4-6; Op. 6:15-17). Hulle situasie laat ’n mens dink aan wat gebeur het met die mense van eertydse Jerusalem wat die vernietiging van die stad oorleef het en “in die wind” verstrooi was. Soos ons in  paragraaf 7 gesien het, was hulle lewens ’n tyd lank gespaar, maar Jehovah het “’n swaard [uitgetrek] om hulle agterna te sit” (Eseg. 5:2). Die mense wat die aanval op valse godsdiens oorleef en wat na skuilplekke vlug, sal ook nie beskerm word teen Jehovah se swaard nie. By Armageddon sal hulle doodgemaak word saam met alle ander mense wat as “bokke” geoordeel is. – Eseg. 7:4; Matt. 25:33, 41, 46; Op. 19:15, 18.

Ons sal “stom” word in die sin dat ons nie die goeie nuus sal verkondig nie

11, 12. (a) Hoe beïnvloed Esegiël se profesie oor Jerusalem se beleëring ons beskouing van die bediening vandag? (b) Hoe sal ons predikingswerk en ons boodskap heel moontlik verander?

11 Hoe beïnvloed hierdie profesie ons beskouing van die bediening en die dringendheid daarvan? Dit laat ons besef dat ons alles moet doen wat ons kan om mense te help om aanbidders van Jehovah te word. Hoekom? Daar is nie baie tyd oor om “dissipels van mense van al die nasies” te maak nie (Matt. 28:19, 20; Eseg. 33:14-16). Wanneer “die staf”, dit wil sê die politieke organisasies, valse godsdiens begin aanval, sal ons nie meer ’n boodskap van redding verkondig nie (Eseg. 7:10). Ons sal “stom” word in die sin dat ons nie die goeie nuus sal verkondig nie, net soos Esegiël “stom” geword het toe hy gedurende ’n deel van sy bediening opgehou het om sy boodskappe te verkondig (Eseg. 3:26, 27; 33:21, 22). Nadat valse godsdiens vernietig is, sal mense desperaat wees en “’n visioen by ’n profeet soek,” maar hulle sal geen instruksies ontvang wat hulle lewe kan red nie (Eseg. 7:26). Die tyd om sulke instruksies te kry en om ’n dissipel van Christus te word, sal verby wees.

12 Maar dit beteken nie dat ons sal ophou preek nie. Hoekom nie? Gedurende die groot verdrukking sal ons heel moontlik ’n oordeelsboodskap begin verkondig wat soos ’n storm van haelstene sal wees. Daardie boodskap sal ’n duidelike teken wees dat die einde van hierdie goddelose wêreld gekom het. – Op. 16:21.

“Kyk! Dit kom”

13. Hoekom het Jehovah vir Esegiël gesê om eers op sy linkersy te lê en dan op sy regtersy?

13 Esegiël het nie net voorspel hoe Jerusalem vernietig sou word nie, maar in sy uitbeelding het hy ook gewys wanneer dit vernietig sou word. Jehovah het vir Esegiël gesê om 390 dae op sy linkersy te lê en 40 dae op sy regtersy. Elke dag het ’n jaar voorgestel. (Lees Esegiël 4:4-6; Num. 14:34.) Esegiël het seker vir net ’n deel van elke dag op sy sy gelê. Hierdie uitbeelding het presies gewys in watter jaar Jerusalem vernietig sou word. Die 390 jaar van Israel se sonde het blykbaar in 997 VHJ begin, die jaar toe die 12-stammeryk in twee verdeel is (1 Kon. 12:12-20). Die 40 jaar van Juda se sonde het heel moontlik in 647 VHJ begin. Dit was die jaar toe Jeremia as ’n profeet aangestel is om die koninkryk van Juda duidelik te waarsku dat dit vernietig sal word (Jer. 1:1, 2, 17-19; 19:3, 4). Al twee tydperke sou dus in 607 VHJ eindig, die presiese jaar dat Jerusalem geval het en vernietig is, net soos Jehovah voorspel het. *

Wat het Esegiël gedoen om te wys presies in watter jaar Jerusalem vernietig sou word? (Sien paragraaf 13)

14. (a) Hoe het Esegiël gewys dat hy nie twyfel dat Jehovah op sy vasgestelde tyd sou optree nie? (b) Wat sou voor Jerusalem se vernietiging gebeur?

14 Toe Esegiël die profesie van die 390 dae en die 40 dae ontvang het, het hy dalk nie besef in watter jaar Jerusalem vernietig sou word nie. Maar in die jare voor daardie vernietiging het hy die Jode oor en oor gewaarsku dat Jehovah se oordeel kom. “Die einde het nou vir [julle] aangebreek,” het hy gesê. (Lees Esegiël 7:3, 5-10.) Esegiël het glad nie getwyfel dat Jehovah op sy vasgestelde tyd sou optree nie (Jes. 46:10). Die profeet het ook voorspel wat sou gebeur voor Jerusalem se vernietiging: “Daar sal ramp ná ramp kom.” As gevolg hiervan sou toestande baie erger word. Godsdiensleiers sou nie meer die leiding in aanbidding neem nie en heersers sou nie meer oor mense kon regeer nie. – Eseg. 7:11-13, 25-27.

Die beleërde Jerusalem was soos ’n “kookpot” wat “op die vuur” gesit was (Sien paragraaf 15)

15. Watter dele van Esegiël se profesie het vanaf 609 VHJ begin waar word?

15 ’n Paar jaar nadat Esegiël Jerusalem se vernietiging voorspel het, het die profesie begin waar word. In 609 VHJ het Esegiël gehoor dat die aanval teen Jerusalem begin het. Op daardie tyd is daar op die trompet geblaas om die mense van die stad te roep om hulle stad te verdedig, maar soos Esegiël voorspel het, sou ‘niemand oorlog toe gaan nie’ (Eseg. 7:14). Die mense van Jerusalem het nie bymekaargekom om die stad te verdedig en om teen die Babiloniërs te veg nie. Party Jode het dalk gedink dat Jehovah hulle sou red. Hy het dit voorheen gedoen toe die Assiriërs gedreig het om Jerusalem aan te val, en ’n engel van Jehovah het die grootste deel van hulle leërmag vernietig (2 Kon. 19:32). Maar hierdie keer was daar nie ’n engel om die Jode te help nie. Die beleërde stad het soos ’n “kookpot” geword wat “op die vuur” gesit was, en die mense van die stad was vasgevang, soos “stukke vleis” in die pot (Eseg. 24:1-10). Ná ’n verskriklike beleëring van 18 maande is Jerusalem vernietig.

“Maak . . . vir julle skatte in die hemel bymekaar”

16. Hoe kan ons vandag wys dat ons nie twyfel dat Jehovah by sy vasgestelde tyd sal bly nie?

16 Wat kan ons uit hierdie deel van Esegiël se profesie leer? Het dit te doen met ons boodskap en die reaksie van die mense vir wie ons preek? Jehovah het ’n tyd vasgestel wanneer valse godsdiens vernietig sal word, en hy sal weer by sy vasgestelde tyd bly (2 Pet. 3:9, 10; Op. 7:1-3). Ons weet nie presies wanneer dit sal gebeur nie. Maar soos Esegiël, hou ons aan om Jehovah se bevel te gehoorsaam om mense te waarsku: “Die einde het nou vir [julle] aangebreek.” Hoekom moet ons oor en oor vir mense hierdie waarskuwing gee? Vir dieselfde rede as wat Esegiël dit moes doen. * Die meeste mense met wie hy oor Jerusalem se voorspelde vernietiging gepraat het, het hom nie geglo nie (Eseg. 12:27, 28). Maar later het party van die Jode in Babilon ’n goeie gesindheid gehad, en hulle het na hulle tuisland teruggegaan (Jes. 49:8). Baie mense van vandag wil ook nie glo dat die wêreld tot ’n einde sal kom nie (2 Pet. 3:3, 4). Maar solank daar nog vir mense tyd is om God se boodskap te aanvaar, wil ons opregte mense help om die weg na die lewe te vind. – Matt. 7:13, 14; 2 Kor. 6:2.

Al luister baie mense nie na ons nie, hou ons aan soek na opregte mense (Sien paragraaf 16)

Hoekom het die mense van eertydse Jerusalem ‘hulle silwer op die strate gegooi’? (Sien paragraaf 17)

17. Watter toestande en gebeurtenisse sal ons gedurende die groot verdrukking sien?

17 Esegiël se profesie herinner ons ook dat die lede van godsdiensorganisasies nie ‘oorlog toe sal gaan’ om godsdiens te verdedig wanneer dit aangeval word nie. Hulle sal uitroep en sê “Here, Here” om vir hulp te vra, maar hulle sal geen antwoord kry nie. Dan sal hulle “hande . . . slap hang,” en hulle sal “bewe” (Eseg. 7:3, 14, 17, 18; Matt. 7:21-23). Wat sal hulle nog doen? (Lees Esegiël 7:19-21.) Jehovah sê: “Hulle sal hulle silwer op die strate gooi.” Daardie profesie oor die mense van eertydse Jerusalem wys ook duidelik wat gedurende die groot verdrukking sal gebeur. Dan sal mense besef dat geld hulle nie kan red nie.

18. Watter les kan ons uit Esegiël se profesie leer oor ons prioriteite?

18 Is daar ’n les vir ons in hierdie deel van Esegiël se profesie? Dit leer ons dat ons die regte prioriteite moet stel. Dink hieraan: Eers nadat die mense van Jerusalem besef het dat hulle en hulle stad vernietig gaan word en dat materiële dinge nie hulle lewe kan red nie, het hulle hulle prioriteite heeltemal verander. Hulle het hulle besittings weggegooi en “’n visioen by ’n profeet” begin soek – maar dit was te laat (Eseg. 7:26). Maar ons weet dat die einde van hierdie goddelose wêreld baie naby is. Daarom het geloof in God se beloftes ons gehelp om die regte prioriteite te stel. Ons is besig om geestelike skatte bymekaar te maak, wat vir ewig waardevol sal bly en nooit “op die strate” gegooi sal word nie. – Lees Matteus 6:19-21, 24.

19. Hoe raak Esegiël se profesieë ons vandag?

19 Hoe raak Esegiël se profesieë oor Jerusalem ons vandag? Dit herinner ons dat daar nie baie tyd oor is om ander te help om aanbidders van God te word nie. Daarom is ons werk om dissipels te maak dringend. Ons is baie bly wanneer opregte mense ons Vader, Jehovah, begin aanbid. Maar selfs as mense dit nie doen nie, hou ons aan om vir hulle die waarskuwing te gee wat Esegiël vir mense in sy dag gegee het: “Die einde het nou vir [julle] aangebreek” (Eseg. 3:19, 21; 7:3). Maar ons is ook vasbeslote om ons vertroue in Jehovah sterk te hou en om sy rein aanbidding die belangrikste plek in ons lewe te gee. – Ps. 52:7, 8; Spr. 11:28; Matt. 6:33.

^ par. 3 Dit is redelik om te dink dat Esegiël al hierdie dinge voor mense gedoen het. Hoekom? Want Jehovah het spesifiek vir Esegiël gesê om van hierdie dinge “voor hulle oë” te doen, soos om brood te bak en sy besittings te dra. – Eseg. 4:12; 12:7.

^ par. 4 ’n Stormram is ’n balk met ysterpunte wat aan kettings hang en in die ou tyd gebruik is om poorte en mure stukkend te stamp.

^ par. 13 Deur toe te laat dat Jerusalem vernietig word, het Jehovah die tweestammeryk van Juda en die tienstammeryk van Israel veroordeel (Jer. 11:17; Eseg. 9:9, 10). Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bl. 462, “Chronology—From 997 B.C.E. to Desolation of Jerusalem”.

^ par. 16 In die kort gedeelte in Esegiël 7:5-7 gebruik Jehovah die woorde “kom” en “gekom” ses keer.