Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 5

“Sien watter slegte, afskuwelike dinge hulle . . . doen”

“Sien watter slegte, afskuwelike dinge hulle . . . doen”

ESEGIËL 8:9

HOOFPUNT: Afvallige Juda se slegte geestelike en sedelike toestand

1-3. Wat wou Jehovah hê moes Esegiël by die tempel in Jerusalem sien, en hoekom? (Sien prent aan begin van Deel 2.)

ESEGIËL is die seun van ’n priester, en daarom ken hy die Wet van Moses baie goed. Hy ken die tempel in Jerusalem goed en hy weet dat Jehovah daar op ’n rein manier aanbid moet word (Eseg. 1:3; Mal. 2:7). Maar die dinge wat nou, in 612 VHJ, in Jehovah se tempel gebeur, sou enige lojale Jood skok, insluitende Esegiël.

2 Jehovah wil hê dat Esegiël die verskriklike toestande by die tempel moet sien en dan vir “die ouermanne van Juda”, ander Joodse gevangenes wat in sy huis bymekaargekom het, moet sê wat hy sien. (Lees Esegiël 8:1-4; Eseg. 11:24, 25; 20:1-3.) Deur middel van heilige gees het Jehovah Esegiël (in ’n visioen) vanaf sy huis in Tel-abib, naby die Kebar-rivier in Babilon, honderde kilometers wes na Jerusalem geneem. Jehovah het die profeet tot in die tempel geneem, by die noordelike poort van die binneste voorhof. Van hier af lei Jehovah hom, deur middel van ’n visioen, deur die tempel.

3 Esegiël sien nou vier skokkende tonele wat wys hoe erg die aanbidding van die nasie besoedel is. Wat het met die rein aanbidding van Jehovah gebeur? En wat beteken hierdie visioen vandag vir ons? Kom ons gaan saam met Esegiël op sy toer. Maar eers moet ons bespreek wat Jehovah van sy aanbidders verwag.

“Ek . . . is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis”

4. Wat verwag Jehovah van sy aanbidders?

4 Ongeveer 900 jaar voor Esegiël se dag het Jehovah duidelik gesê wat hy van sy aanbidders verwag. In die tweede van die Tien Gebooie het hy vir Israel gesê: * “Ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Eks. 20:5). Die uitdrukking “uitsluitlike toegewydheid” wys dat dit vir Jehovah onaanvaarbaar sou wees as die Israeliete enige ander gode aanbid het. Soos ons in Hoofstuk 2 van hierdie boek gesien het, is die eerste vereiste van rein aanbidding dat ons Jehovah alleen moet aanbid. Sy aanbidders moet hom eerste in hulle lewe stel (Eks. 20:3). Jehovah verwag dat sy aanbidders geestelik rein moet bly deur nie ware aanbidding met valse aanbidding te meng nie. In 1513 VHJ het die Israeliete gewillig die Wetsverbond met Jehovah gesluit. Deur dit te doen, het hulle belowe om heeltemal toegewyd te wees aan Jehovah (Eks. 24:3-8). Jehovah is lojaal wanneer dit kom by sy verbonde, en hy verwag dieselfde lojaliteit van die mense met wie hy ’n verbond maak. – Deut. 7:9, 10; 2 Sam. 22:26.

5, 6. Hoekom het Jehovah die reg gehad om te verwag dat die Israeliete hom alleen moet aanbid?

5 Was dit redelik van Jehovah om te verwag dat die Israeliete heeltemal toegewyd aan hom moet wees? Ja, beslis! Hy is die almagtige God, die Universele Soewerein en die Bron en Onderhouer van lewe (Ps. 36:9; Hand. 17:28). Jehovah was ook die Israeliete se Verlosser. Toe hy vir die volk die Tien Gebooie gegee het, het hy hulle herinner: “Ek is Jehovah julle God wat julle uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei het” (Eks. 20:2). Dit is duidelik dat Jehovah die reg gehad het om te verwag dat die Israeliete hom alleen moet aanbid.

6 Jehovah verander nie (Mal. 3:6). Hy het nog altyd verwag dat sy aanbidders heeltemal toegewyd aan hom moet wees. So dink net hoe Jehovah moes gevoel het oor die vier ontstellende tonele wat hy nou vir Esegiël in ’n visioen wys.

Eerste toneel: Die afgodsbeeld

7. (a) Wat het die afvallige Jode by die noordelike poort van die tempel gedoen, en hoe het Jehovah daarop gereageer? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) In watter sin het Jehovah jaloers geword? (Sien voetnoot.)

7 Lees Esegiël 8:5, 6Esegiël moes geskok gewees het! By die noordelike poort van die tempel was afvallige Jode besig om ’n afgodsbeeld te aanbid. Dit was dalk ’n heilige paal wat Asjera voorgestel het, die valse godin wat die Kanaäniete beskou het as die vrou van Baäl. Wat dit ook al was, daardie Israeliete het hulle verbond met Jehovah verbreek deur ’n afgod te aanbid. Toe hulle die aanbidding wat net aan Jehovah behoort aan ’n afgod gegee het, het hulle God jaloers en woedend gemaak. * (Deut. 32:16; Eseg. 5:13). Dink net: Vir meer as 400 jaar was die tempel geassosieer met Jehovah se teenwoordigheid (1 Kon. 8:10-13). Maar nou, deur ’n afgod reg in die tempelgebied te aanbid, het hulle Jehovah “ver van [sy] heiligdom af laat weggaan”.

8. Wat beteken Esegiël se visioen oor die afgodsbeeld vandag?

8 Wat beteken Esegiël se visioen oor die afgodsbeeld vandag? Afvallige Juda laat ons beslis aan die Christendom dink. Afgodediens is iets algemeens in die kerke van die Christendom, maar God aanvaar nie hulle aanbidding nie omdat hulle afgode aanbid. Omdat Jehovah nie verander nie, kan ons seker wees dat hy net so woedend is vir die Christendom as wat hy vir afvallige Juda was (Jak. 1:17). Jehovah is beslis ver van die Christendom af!

9, 10. Watter waarskuwing kry ons uit die verslag van die afgodedienaars by die tempel?

9 Watter waarskuwing kry ons uit die verslag van daardie afgodedienaars by die tempel? As ons heeltemal toegewyd aan Jehovah wil wees, moet ons “vlug vir afgodediens” (1 Kor. 10:14). Dalk dink ons: ‘Ek sal nooit beelde of simbole in my aanbidding van Jehovah gebruik nie!’ Maar afgodediens kom in verskillende vorme, en party is meer subtiel as ander. Een Bybelnaslaanwerk sê die volgende: “’n Mens kan afgodediens sien as ’n metafoor vir enige iets wat waarde of mag het en die belangrikste ding in ons lewe word en God se plek inneem.” So afgodediens kan materiële besittings, geld, seks of vermaak insluit – eintlik enige iets wat die belangrikste ding in ons lewe word en die plek inneem wat Jehovah se aanbidding verdien (Matt. 6:19-21, 24; Ef. 5:5; Kol. 3:5). Ons moet enige vorm van afgodediens vermy, want Jehovah is die enigste God wat ons liefde en aanbidding verdien! – 1 Joh. 5:21.

10 Die eerste toneel wat Jehovah vir Esegiël gewys het, het “verskriklike, afskuwelike dinge” ingesluit. Maar Jehovah het vir sy lojale profeet gesê: “Jy sal afskuwelike dinge sien wat selfs nog erger is.” Wat kon nog erger wees as die aanbidding van daardie afgodsbeeld in die tempelgebied?

Tweede toneel: 70 ouermanne offer reukwerk aan valse gode

11. Watter ontstellende dinge het Esegiël gesien toe hy by die binneste voorhof naby die tempelaltaar ingaan?

11 Lees Esegiël 8:7-12. Esegiël breek deur ’n muur en gaan by die binneste voorhof naby die tempelaltaar in. Daar sien hy ontstellende “beelde van kruipende en afskuwelike diere . . . en al die walglike afgode” * wat op die muur gegraveer was. Daardie beelde op die muur het valse gode voorgestel. Maar wat Esegiël volgende sien, is selfs meer ontstellend: “70 ouermanne van die huis van Israel” het “in die donker” gestaan en reukwerk aan die valse gode geoffer. Toe die Israeliete onder die Wet was, het die aangename geur van die reukwerk die aanvaarbare gebede van lojale aanbidders voorgestel (Ps. 141:2). Maar die reukwerk wat daardie 70 ouermanne aan valse gode geoffer het, was ’n onheilige, walglike reuk vir Jehovah. Hulle gebede was vir hom afskuwelik (Spr. 15:8). Daardie ouermanne het hulleself bedrieg deur te dink: “Jehovah sien ons nie.” Maar Jehovah het hulle gesien, en hy het vir Esegiël gewys presies wat hulle in Sy tempel doen!

Jehovah sien elke afskuwelike ding wat “in die donker” gedoen word (Sien paragraaf 11)

12. Hoekom moet ons selfs “in die donker” lojaal bly, en wie moet veral ’n goeie voorbeeld hierin stel?

12 Wat kan ons leer uit Esegiël se verslag van daardie 70 Israelitiese ouermanne wat reukwerk aan valse gode geoffer het? As ons wil hê dat God na ons gebede moet luister en as ons ons aanbidding in sy oë rein wil hou, moet ons selfs “in die donker” lojaal bly (Spr. 15:29). Ons moet onthou dat Jehovah alles kan sien wat ons doen. As Jehovah vir ons ’n werklike persoon is, sal ons niks doen waarvan hy nie hou nie, selfs wanneer ons alleen is (Heb. 4:13). Gemeentelike ouermanne moet veral ’n goeie voorbeeld stel deur volgens Bybelbeginsels te lewe (1 Pet. 5:2, 3). Broers en susters in die gemeente het die reg om te verwag dat ’n ouerman wat by ’n vergadering voor hulle staan en die leiding in aanbidding neem, selfs “in die donker” volgens Bybelbeginsels lewe, dit wil sê selfs wanneer ander hom nie sien nie. – Ps. 101:2, 3.

Derde toneel: “Vrouens . . . wat oor die god Tammus . . . huil”

13. Wat het Esegiël afvallige vrouens sien doen by een van die poorte van die tempel?

13 Lees Esegiël 8:13, 14. Nadat Jehovah vir Esegiël die eerste twee tonele van afskuwelike gebruike gewys het, het Hy weer vir hom gesê: “Jy sal sien dat hulle afskuwelike dinge doen wat selfs nog erger is.” Wat het die profeet daarna gesien? By “die ingang van die poort aan die noordekant van die huis van Jehovah” het hy “vrouens gesien wat oor die god Tammus sit en huil”. Tammus was ’n god van Mesopotamië wat in Sumeriese tekste Dumusi genoem word, en mense het geglo dat hy die eggenoot van die vrugbaarheidsgodin Isjtar is. * Toe die Israelitiese vrouens gehuil het, was dit blykbaar deel van ’n godsdiensritueel wat verband gehou het met die dood van Tammus. Deur dit in Jehovah se tempel te doen, het daardie vrouens ’n ritueel wat met valse godsdiens verband hou, in ’n sentrum vir ware aanbidding uitgevoer. Maar die feit dat ’n valse godsdiensgebruik in God se tempel uitgevoer is, het dit nie aanvaarbaar gemaak nie. Vanuit Jehovah se standpunt het daardie afvallige vrouens “afskuwelike dinge” gedoen!

14. Wat leer ons uit hoe Jehovah gevoel het oor wat die afvallige vrouens gedoen het?

14 Wat leer ons uit hoe Jehovah gevoel het oor wat daardie vrouens gedoen het? As ons ons aanbidding rein wil hou, moet ons dit nooit meng met onrein gebruike wat met valse godsdiens te doen het nie. Daarom moet ons niks te doen hê met vieringe wat van valse godsdienste af kom nie. Maak dit regtig saak waar ’n gebruik of viering vandaan kom? Ja! Vandag lyk gebruike wat met sekere vieringe, soos Kersfees en Paasfees, te doen het, dalk onskadelik. Maar ons moenie vergeet dat Jehovah gesien het hoe mense die valse godsdiensgebruike uitgevoer het wat uiteindelik die vieringe van vandag geword het nie. Jehovah aanvaar nie hierdie valse godsdiensgebruike net omdat mense dit al vir ’n baie lang tyd doen of omdat hulle dit met rein aanbidding meng nie. – 2 Kor. 6:17; Op. 18:2, 4.

Vierde toneel: 25 manne ‘buig voor die son neer’

15, 16. Wat het 25 manne in die binneste voorhof van die tempel gedoen, en hoekom het dit Jehovah erg beledig?

15 Lees Esegiël 8:15-18. Jehovah het die vierde en laaste toneel weer ingelei met die woorde: “Jy sal afskuwelike dinge sien wat selfs nog erger is.” Dalk het die profeet gewonder: ‘Wat kan nog erger wees as die dinge wat ek alreeds gesien het?’ Esegiël was nou in die binneste voorhof van die tempel. Daar, by die ingang van die tempel, het hy 25 manne gesien wat “voor die son neergebuig [het], na die ooste toe”. Daardie manne het Jehovah op die ergste moontlike manier beledig. Hoe so?

16 Dink aan die toneel: Die ingang van God se tempel was na die ooste toe. Aanbidders sou wes gekyk het, met hulle rûe na die ooste toe waar die son opgekom het. Maar die 25 manne in die visioen het hulle “rûe na die tempel” gedraai en hulle gesigte na die ooste gedraai sodat hulle die son kon aanbid. Deur dit te doen, het hulle hulle rug op Jehovah gedraai, want daardie tempel was “die huis van Jehovah” (1 Kon. 8:10-13). Daardie 25 manne was afvalliges. Hulle het Jehovah geïgnoreer en hulle was ongehoorsaam aan die gebod in Deuteronomium 4:15-19. Hulle het die God aan wie hulle heeltemal lojaal moes wees, erg beledig! 

Jehovah verwag dat sy aanbidders heeltemal lojaal aan hom moet wees

17, 18. (a) Watter les kan ons leer uit die verslag van die sonaanbidders by die tempel? (b) Watter verhoudings het die afvallige Israeliete beskadig, en hoe?

17 Wat kan ons leer uit die verslag van daardie sonaanbidders? As ons ons aanbidding rein wil hou, moet ons op Jehovah vertrou vir leiding en wysheid. Onthou “Jehovah God is ’n son” en sy Woord is “’n lig” vir ons pad (Ps. 84:11; 119:105). Jehovah gee vir ons geestelike lig deur sy Woord en Bybelpublikasies van sy organisasie, wat vir ons wys hoe ons nou ’n gelukkige lewe en ewige lewe in die toekoms kan hê. As ons op hierdie wêreld vertrou vir raad oor hoe ons moet lewe, sou dit beteken dat ons ons rug op Jehovah draai. As ons dit doen, sal ons hom erg beledig en hom baie hartseer maak. Ons wil dit nooit aan ons God doen nie! Esegiël se visioen is ook ’n waarskuwing dat ons mense moet vermy wat hulle rug op Jehovah draai, dit wil sê afvalliges. – Spr. 11:9.

18 Soos ons tot dusver gesien het, het Esegiël vier skokkende tonele van afgodediens en valse aanbidding gesien wat gewys het hoe walglik afvallige Juda se aanbidding geword het. Deur geestelik onrein te word, het die Israeliete hulle verhouding met God beskadig. Maar geestelike onreinheid en sedelike onreinheid gaan hand aan hand. So dit is nie verbasend dat die afvallige Israeliete allerhande sedelike sondes gepleeg het, wat nie net hulle verhouding met God beskadig het nie, maar ook hulle verhouding met ander. Kom ons kyk nou hoe die profeet Esegiël, onder inspirasie, Juda se slegte sedelike toestand beskryf het.

Sedelike onreinheid – ‘Hulle het hulle op ’n afstootlike manier gedra’

19. Hoe het Esegiël die verskriklike slegte sedelike toestand van Jehovah se volk beskryf?

19 Lees Esegiël 22:3-12. Die hele nasie, dit wil sê die heersers en die volk, was in ’n slegte sedelike toestand. “Die hoofmanne”, of leiers, het hulle gesag gebruik om onskuldige mense dood te maak. Die mense het oor die algemeen hulle leiers se slegte voorbeeld gevolg deur ongehoorsaam te wees aan God se Wet. Binne die gesin het kinders hulle ouers “sonder respek” behandel, en dit was iets algemeens dat familielede seksuele omgang met mekaar gehad het. Die opstandige Israeliete het die uitlanders uitgebuit en die weeskinders en weduwees mishandel. Israelitiese mans het seksuele omgang met ander mans se vrouens gehad. Die volk het gewys hoe gierig hulle is deur omkoopgeskenke te gee en te aanvaar, deur ander uit te buit en deur te veel rente te vra. Dink net hoe seer dit Jehovah moes gemaak het toe sy volk sy Wet en die liefde wat hom beweeg het om dit vir hulle te gee, verwerp het! Hulle verskriklike slegte sedelike toestand het Jehovah persoonlik geraak. Hy het vir Esegiël gesê om vir die onsedelike volk te sê: “[Julle] het my heeltemal vergeet.”

Onder die invloed van die Christendom word die wêreld al hoe gewelddadiger en al hoe onsedeliker (Sien paragraaf 20)

20. Hoekom is Esegiël se woorde oor die sedelike onreinheid van Juda vandag vir ons belangrik?

20 Hoekom is Esegiël se woorde oor die sedelike onreinheid van Juda vandag vir ons belangrik? Die situasie in afvallige Juda herinner ons aan die verskriklike slegte toestand van die wêreld waarin ons vandag lewe. Politieke heersers het hulle mag misbruik en die gewone mense onderdruk. Godsdiensleiers – veral dié van die Christendom – het die oorloë van die nasies, wat die dood van miljoene mense veroorsaak het, geseën. Die godsdiensleiers het die Bybel se rein en duidelike standaarde oor seksuele sedelikheid afgewater. As gevolg daarvan het die sedelike standaarde van die wêreld al hoe slegter geword. Jehovah sou beslis vir die Christendom sê wat hy vir afvallige Juda gesê het: “[Julle] het my heeltemal vergeet.”

21. Wat kan ons leer uit die sedelike onreinheid van eertydse Juda?

21 Wat kan ons as Jehovah se volk leer uit die sedelike onreinheid van eertydse Juda? As ons Jehovah op ’n aanvaarbare manier wil aanbid, moet ons ons gedrag in alle opsigte rein hou. Dit is moeilik om dit te doen in hierdie onsedelike en goddelose wêreld (2 Tim. 3:1-5). Maar ons weet hoe Jehovah oor alle vorme van sedelike onreinheid voel (1 Kor. 6:9, 10). Ons is gehoorsaam aan Jehovah se sedelike standaarde omdat ons lief is vir hom en sy wette (Ps. 119:97; 1 Joh. 5:3). As ons sedelik onrein word, sal dit wys dat ons nie lief is vir ons heilige en rein God nie. Ons wil nooit vir Jehovah ’n rede gee om vir ons te sê: “[Julle] het my heeltemal vergeet” nie.

22. (a) Wat is jy vasbeslote om te doen noudat jy gesien het wat Jehovah oor eertydse Juda geopenbaar het? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

22 Ons het ’n paar waardevolle lesse geleer uit die dinge wat Jehovah oor die slegte geestelike en sedelike toestand van eertydse Juda geopenbaar het. Ons is beslis meer vasbeslote om Jehovah die uitsluitlike toegewydheid te gee wat hy verdien. Daarom moet ons alle vorme van afgodediens vermy en sedelik rein bly. Wat het Jehovah met sy dislojale volk gedoen? Aan die einde van Esegiël se visioen het Jehovah duidelik vir sy profeet gesê: “Ek sal . . . in woede optree” (Eseg. 8:17, 18). Ons wil weet hoe Jehovah opgetree het teenoor dislojale Juda, want hierdie wêreld sal op dieselfde manier geoordeel word. Die volgende hoofstuk sal bespreek hoe Jehovah Juda gestraf het.

^ par. 4 In die boek Esegiël word die woord “Israel” dikwels gebruik om te verwys na die mense van Juda en Jerusalem. – Eseg. 12:19, 22; 18:2; 21:2, 3.

^ par. 7 Die feit dat die woord “jaloesie” in die voetnoot van Esegiël 8:5 gebruik word, wys hoe ernstig Jehovah lojaliteit aan hom beskou. Ons kan dink hoe jaloers en woedend ’n man sou voel as sy vrou dislojaal aan hom sou wees (Spr. 6:34). Soos ’n man in so ’n situasie, het Jehovah die reg gehad om woedend te word toe sy volk met wie hy ’n verbond gemaak het, dislojaal aan hom was deur beelde te aanbid. Een naslaanwerk sê: “God se jaloesie . . . is die gevolg van Sy heiligheid. Omdat Hy alleen die Heilige is . . . , sal Hy geen ander god duld nie.” – Eks. 34:14.

^ par. 11 Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n Hebreeuse woord vir “ontlasting” en word gebruik om te wys dat ’n mens geen respek vir iets het nie.

^ par. 13 Daar is geen bewyse vir die bewering dat Tammus ’n ander naam vir Nimrod is nie.