Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe aanbidders van Jehovah:

Dit was die jaar 1971. Almal wat die “Goddelike Naam”-streekbyeenkoms daardie jaar bygewoon het, was baie opgewonde om ’n hele paar nuwe publikasies te ontvang. Daar was gesê dat hierdie publikasies beter was as wat enige iemand hulle ooit kon voorstel. ’n Broer het die volgende oor een van hierdie nuwe vrystellings gesê: “Dit is die opwindendste voorsmakie wat ons nog ooit gehad het van dinge wat nog gaan gebeur!” Waarvan het hy gepraat? Van die boek “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is” – Hoe? Maar hoekom was almal so opgewonde oor hierdie boek? Omdat dit nuwe verduidelikings bevat het van die profesieë in die Bybelboek Esegiël – profesieë wat die toekoms van die hele mensdom raak.

In die jare nadat die boek vrygestel is, het God se volk baie gegroei – van sowat 1,5 miljoen tot meer as 8 miljoen (Jes. 60:22). Hierdie miljoene aanbidders van Jehovah praat altesaam meer as 900 verskillende tale (Sag. 8:23). Baie van hulle het nog nooit ’n kans gehad om ’n boek te studeer wat soveel gedetailleerde profesieë van die profeet Esegiël verduidelik nie.

En in die jare ná 1971 het ons baie Bybelwaarhede beter begin verstaan omdat die lig al hoe helderder geword het (Spr. 4:18). In 1985 het ons duidelik begin sien hoe die “ander skape” as regverdig en as vriende van God beskou word (Joh. 10:16; Rom. 5:18; Jak. 2:23). En in 1995 het ons vir die eerste keer besef dat die finale oordeel van “die skape” en “die bokke” gedurende die “groot verdrukking” sou plaasvind (Matt. 24:21; 25:31, 32). Al hierdie aanpassings het ons gehelp om die boek Esegiël beter te verstaan.

“Mensekind, kyk mooi, luister aandagtig en skenk aandag aan alles wat ek vir jou wys, want dit is hoekom jy hierheen gebring is.” – ESEGIËL 40:4

Oor die afgelope paar jaar het die lig al hoe helderder geword. Dink aan die lesse wat ons uit Jesus se illustrasies geleer het. Baie van daardie lesse het nou kristalhelder geword in ons verstande en harte. ’n Paar van daardie illustrasies verwys na dinge wat binnekort gedurende die groot verdrukking gaan gebeur. En nou verstaan ons ook sekere profesieë in die boek Esegiël baie beter, soos die profesie oor Gog van Magog (hoofstuk 38 en 39), die werk van die man met die sekretaris se inkhoring (hoofstuk 9), die vallei vol droë beendere en die twee stokke wat een word (hoofstuk 37). Al hierdie nuwe verduidelikings vervang die verduidelikings wat jare gelede geskryf is in die boek “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is” – Hoe?

Dit is geen wonder nie dat baie van Jehovah se aanbidders al gevra het: “Wanneer gaan ons ’n boek kry met die nuwe verduidelikings van Esegiël se profesieë?” Die boek Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel! is die antwoord. Terwyl jy deur die 22 hoofstukke lees en oor die pragtige prente daarin dink, sal jy verstom wees oor al die goeie navorsing wat gedoen is om hierdie boek voor te berei. Ons het baie gedink en gebid om vas te stel hoekom Jehovah die interessante Bybelboek Esegiël vir ons gegee het. Ons het goed nagedink oor vrae soos: Watter lesse is daar in die boek Esegiël vir mense wat in Esegiël se dag gelewe het en vir ons vandag? Watter profesieë moet nog in die toekoms waar word? Is daar tipes en antitipes in Esegiël se profesieë? Die antwoorde in hierdie boek sal ons help om hierdie geliefde Bybelboek beter as ooit tevore te verstaan.

Wanneer jy die boek Esegiël van begin tot einde lees, kan jy nie anders as om die hemelse deel van Jehovah se organisasie te bewonder nie. En jy is sekerlik ook beïndruk deur die hoë standaarde wat Jehovah gestel het vir dié in die hemel en op die aarde wat hom op ’n aanvaarbare manier wil aanbid. Die Rein aanbidding-boek sal jou help om groter waardering op te bou vir wat Jehovah alreeds vir sy volk gedoen het en vir wat hy binnekort vir hulle gaan doen. Jy sal sien dat hierdie boek twee temas oor en oor beklemtoon. Eerstens, as ons Jehovah gelukkig wil maak, moet ons hom as die Universele Soewerein ken en erken. Tweedens, ons moet Jehovah aanbid op die manier wat hy goedkeur en volgens sy hoë standaarde lewe.

Ons hoop regtig dat hierdie boek jou meer vasbeslote sal maak om Jehovah te aanbid op ’n manier wat sy groot en heilige naam eer. En mag dit jou ook help om uit te sien na die tyd wanneer al die nasies sal moet weet dat hy Jehovah is. – Eseg. 36:23; 38:23.

Mag ons liefdevolle Vader, Jehovah, jou seën terwyl jy probeer om die boek te verstaan wat hy die profeet Esegiël geïnspireer het om te skryf.

Julle broers,

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies