Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 2

“God het [hulle] gawes goedgekeur”

“God het [hulle] gawes goedgekeur”

HEBREËRS 11:4

HOOFPUNT: ’n Oorsig van Jehovah se reëling vir rein aanbidding

1-3. (a) Watter vrae sal ons bespreek? (b) Watter vier belangrike vereistes vir rein aanbidding sal ons bespreek? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

ABEL inspekteer sy skape. Hy het hierdie diere liefdevol grootgemaak vandat hulle gebore is. Hy kies nou ’n paar van hulle, slag hulle en bied hulle as ’n offer vir God aan. Sal Jehovah hierdie daad van aanbidding deur ’n onvolmaakte mens goedkeur?

2 Die apostel Paulus is geïnspireer om die volgende oor Abel te skryf: “God het sy gawes goedgekeur.” Maar Jehovah het nie Kain se offer aanvaar nie. (Lees Hebreërs 11:4.) Dit laat belangrike vrae ontstaan. Hoekom het God Abel se aanbidding aanvaar, maar nie Kain s’n nie? Wat kan ons leer uit die voorbeelde van Kain en Abel en die ander mense wat in Hebreërs hoofstuk 11 genoem word? Die antwoorde sal ons help om beter te verstaan wat rein aanbidding behels.

3 Ons gaan nou kyk na ’n kort opsomming van dinge wat gebeur het tussen Abel se tyd en Esegiël se tyd. En ons gaan die volgende vier belangrike dinge bespreek wat ons moet doen as ons wil hê dat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar moet wees: (1) Ons moet Jehovah alleen aanbid, (2) ons moet ons beste gee wanneer ons Jehovah aanbid, (3) ons moet Jehovah op die regte manier aanbid, en (4) ons moet Jehovah vir die regte rede aanbid.

Hoekom het God nie Kain se aanbidding aanvaar nie?

4, 5. Hoekom het Kain sy offer vir Jehovah aangebied?

4 Lees Genesis 4:2-5. Kain het sy offer vir Jehovah alleen aangebied. Kain het baie tyd en geleenthede gehad om oor Jehovah te leer. Hy en sy broer Abel was dalk amper 100 jaar oud toe hulle hulle gawes geoffer het. * Terwyl hulle grootgeword het, het hulle altwee geweet van die tuin in Eden, en hulle kon dalk selfs die pragtige park van ’n afstand af sien. Hulle sou beslis die gerubs gesien het wat by die ingang van die tuin gestaan het (Gen. 3:24). Die seuns se ouers het sekerlik vir hulle vertel dat Jehovah alle lewe geskep het en dat Jehovah nie wou hê dat mense oud moet word en moet doodgaan nie (Gen. 1:24-28). Al hierdie dinge het Kain dalk laat besluit om sy gawe aan Jehovah te offer.

5 Wat anders het Kain dalk beweeg om sy gawe te offer? Jehovah het voorspel dat ’n “nageslag” sou kom, wat die kop sou vergruis van “die slang” wat Eva verlei het om haar verskriklike keuse te maak (Gen. 3:4-6, 14, 15). Kain het dalk gedink dat hy die beloofde “nageslag” is omdat hy die eersgeborene was (Gen. 4:1). En Jehovah het nie heeltemal opgehou om met sondige mense te kommunikeer nie. Selfs nadat Adam gesondig het, het God met hom gepraat, blykbaar deur middel van ’n engel (Gen. 3:8-10). En Jehovah het met Kain gepraat nadat hy sy gawe geoffer het (Gen. 4:6). Kain het beslis geweet dat Jehovah verdien om aanbid te word.

6, 7. Was daar iets fout met die kwaliteit van Kain se offer of die manier waarop hy dit aangebied het? Verduidelik.

6 Hoekom het Jehovah dan nie Kain se offer goedgekeur nie? Het hy nie sy beste geoffer nie? Die Bybel sê nie. Dit sê net dat Kain “die opbrengs van die grond” geoffer het. Later het Jehovah in die Wet wat hy vir Moses gegee het, aangedui dat hierdie soort offer aanvaarbaar is (Num. 15:8, 9). Dink ook aan die omstandighede. Op hierdie stadium het mense net vrugte, groente en allerhande plantegroei geëet (Gen. 1:29). En omdat God die grond buite Eden vervloek het, het Kain hard gewerk vir die offer wat hy gebring het (Gen. 3:17-19). Hy het kos geoffer waarvoor hy hard gewerk het en wat hom aan die lewe kon hou! Maar Jehovah het nog steeds nie Kain se offer goedgekeur nie.

7 Was daar dan iets fout met die manier waarop die gawe geoffer is? Het Kain dit nie op ’n aanvaarbare manier aangebied nie? Dit lyk nie asof dit die geval kon wees nie. Hoekom nie? Want toe Jehovah nie Kain se offer aanvaar het nie, het Hy nie gesê dat die offer op die verkeerde manier aangebied was nie. Om die waarheid te sê, die Bybel sê nie hoe Kain of Abel hulle offers aangebied het nie. Wat was dan die probleem?

Kain het nie sy gawe vir die regte rede geoffer nie (Sien paragraaf 8, 9)

8, 9. (a) Hoekom het Jehovah nie Kain of sy offer goedgekeur nie? (b) Wat is vir jou interessant omtrent wat die Bybel sê oor Kain en Abel?

8 Paulus se geïnspireerde woorde aan die Hebreërs wys dat Kain nie sy gawe vir die regte rede geoffer het nie. Kain het nie geloof gehad nie (Heb. 11:4; 1 Joh. 3:11, 12). Daarom het Jehovah Kain self nie goedgekeur nie en nie net sy offer nie (Gen. 4:5-8). Jehovah is ’n liefdevolle Vader, en daarom het hy sy seun op ’n liefdevolle manier probeer reghelp. Maar Kain het in werklikheid Jehovah se helpende hand weggestoot. Sy figuurlike hart was vol van die werke van die onvolmaakte vlees – “vyandigheid, stryery, jaloesie” (Gal. 5:19, 20). Omdat Kain se hart sleg was, het dit enige positiewe aspekte van sy aanbidding waardeloos gemaak. Sy voorbeeld leer ons dat ons nie net kan maak asof ons Jehovah op die regte manier aanbid nie.

9 Die Bybel vertel ons baie oor Kain – ons lees wat Jehovah vir hom gesê het, ons lees Kain se antwoorde en ons weet selfs wat die name van sy nakomelinge is en van ’n paar van die dinge wat hulle gedoen het (Gen. 4:17-24). Maar ons weet nie of Abel kinders gehad het nie, en niks wat hy gesê het, staan in die Bybel nie. Tog leer ons nog steeds vandag uit wat Abel gedoen het. Hoe?

Abel stel ’n goeie voorbeeld

10. Hoe het Abel die voorbeeld gestel wanneer dit kom by rein aanbidding?

10 Abel het sy gawe vir Jehovah alleen aangebied omdat hy geweet het dat Hy die enigste een is wat dit verdien. Hy het sy beste gegee – Abel het “van die eersgeborenes van sy kleinvee” gekies. Die verslag sê nie of hy sy gawe op ’n altaar geoffer het of nie, maar dit is duidelik dat die manier waarop hy sy gawe geoffer het, aanvaarbaar was. Maar wat uitstaan omtrent Abel se gawe – die voorbeeld waaruit ons sowat 6 000 jaar later nog steeds kan leer – is die rede hoekom hy dit gegee het. Abel het dit gegee omdat hy geloof in God gehad het en lief was vir Jehovah se regverdige standaarde. Hoe weet ons dit?

Abel se voorbeeld wys vir ons wat die vier belangrikste vereistes vir rein aanbidding is (Sien paragraaf 10)

11. Hoekom het Jesus Abel as regverdig beskryf?

11 Kom ons kyk eers na wat Jesus gesê het oor Abel, ’n man wat hy goed geken het. Jesus was in die hemel toe Abel gelewe het en hy het baie belanggestel in hierdie seun van Adam (Spr. 8:22, 30, 31; Joh. 8:58; Kol. 1:15, 16). As gevolg van wat Jesus self gesien het, kon hy Abel as ’n regverdige man beskryf (Matt. 23:35). ’n Regverdige persoon erken dat Jehovah die standaard moet stel van wat reg en verkeerd is. Maar hy doen meer as dit – hy bewys deur wat hy sê en doen dat hy met hierdie standaarde saamstem. (Vergelyk Lukas 1:5, 6.) Dit neem tyd om ’n reputasie op te bou as iemand wat regverdig is. So selfs voordat Abel sy gawe vir Jehovah aangebied het, moes hy bekend gewees het as iemand wat volgens Jehovah se standaarde gelewe het. Dit kon nie maklik gewees het nie. Sy ouer broer was seker nie ’n goeie invloed nie – Kain se hart het sleg geword (1 Joh. 3:12). Abel se ma was ongehoorsaam aan ’n direkte bevel van God af, en sy pa het teen Jehovah gerebelleer omdat hy self wou besluit wat goed en wat sleg is (Gen. 2:16, 17; 3:6). Abel moes baie moedig gewees het toe hy gekies het om nie dieselfde keuses as sy gesin te maak nie!

12. Hoe was Abel anders as Kain?

12 Kyk nou hoe die apostel Paulus geloof met regverdigheid verbind het. Hy het geskryf: “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as dié van Kain, en deur hierdie geloof het hy die getuienis ontvang dat hy regverdig is” (Heb. 11:4). Paulus se woorde wys dat Abel, anders as Kain, Jehovah sy hele lewe lank gedien het omdat hy opregte geloof gehad het in Jehovah en Sy manier van dinge doen.

13. Wat leer ons uit Abel se voorbeeld?

13 Abel se voorbeeld wys dat ons Jehovah net op ’n rein manier kan aanbid as ons geloof in hom het en heeltemal saamstem met Sy regverdige standaarde. En ons leer dat rein aanbidding meer behels as net een daad van toegewydheid. Ons hele lewe, ons lewenswyse en gedrag, is hierby betrokke.

Lojale knegte van Jehovah volg die voorbeeld

14. Hoekom het Jehovah die offers aanvaar wat Noag, Abraham en Jakob geoffer het?

14 Abel was die eerste onvolmaakte mens wat Jehovah op ’n aanvaarbare manier aanbid het, maar hy was beslis nie die laaste een nie. Die apostel Paulus noem ander wat Jehovah op ’n aanvaarbare manier aanbid het – manne soos Noag, Abraham en Jakob. (Lees Hebreërs 11:7, 8, 17-21.) Elkeen van hierdie manne het op die een of ander stadium in hulle lewe vir Jehovah ’n offer aangebied, en Jehovah het hulle gawes goedgekeur. Hoekom? Want hierdie manne het meer gedoen as om net offerandes te bring. Elkeen van hulle het al vier belangrike dinge gedoen om seker te maak dat hulle aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar is. Kyk na hulle voorbeelde.

Noag se offerandes het ’n duidelike boodskap gestuur (Sien paragraaf 15, 16)

15, 16. Hoekom het Jehovah Noag se aanbidding aanvaar?

15 Noag is 126 jaar ná Adam se dood gebore, maar teen daardie tyd was die wêreld al vol valse aanbidding * (Gen. 6:11). Van al die gesinne wat op die aarde was voor die Vloed, het net Noag en sy gesin Jehovah op ’n aanvaarbare manier aanbid (2 Pet. 2:5). Ná die Vloed het Noag ’n altaar – die eerste altaar wat in die Bybel genoem word – gebou en offerandes vir Jehovah aangebied. Deur hierdie opregte daad het Noag ’n duidelike boodskap gestuur aan sy gesin en aan al sy toekomstige nakomelinge – Jehovah is die enigste een wat aanbidding verdien. Uit die diere wat Noag kon offer, het hy “van al die rein diere en van al die rein vlieënde diere” gekies (Gen. 8:20). Hierdie offers was die heel beste, want Jehovah het gesê dat hierdie diere rein is. – Gen. 7:2.

16 Noag het hierdie brandoffers geoffer op die altaar wat hy gebou het. Was hierdie manier van aanbidding aanvaarbaar? Ja. Die verslag sê dat die geur van die offer vir Jehovah aangenaam was en dat hy Noag en sy seuns daarna geseën het (Gen. 8:21; 9:1). Maar Jehovah het die offer hoofsaaklik aanvaar omdat Noag dit vir die regte rede geoffer het. Die offerandes was nog ’n manier waarop Noag gewys het dat hy sterk geloof het in Jehovah en Sy manier van dinge doen. Omdat Noag altyd gehoorsaam was aan Jehovah en Sy standaarde gevolg het, sê die Bybel dat hy “met die ware God gewandel” het. As gevolg daarvan het Noag ’n permanente reputasie as ’n regverdige mens opgebou. – Gen. 6:9; Eseg. 14:14; Heb. 11:7.

17, 18. Hoekom het Jehovah Abraham se aanbidding aanvaar?

17 Abraham was omring deur valse aanbidding. Daar was ’n baie groot tempel van die maangod Nanna * in Ur, die stad waar Abraham gebly het. Selfs Abraham se pa het op ’n stadium valse gode aanbid (Jos. 24:2). Maar Abraham het gekies om Jehovah te aanbid. Hy het heel moontlik by sy voorouer Sem, een van Noag se seuns, oor die ware God geleer. Hulle lewens het met 150 jaar oorvleuel.

18 Abraham het regdeur sy lang lewe baie offerandes geoffer. Maar sy offerandes was altyd geoffer as dade van aanbidding aan Jehovah, die enigste een wat dit verdien het (Gen. 12:8; 13:18; 15:8-10). Was Abraham bereid om vir Jehovah die heel beste offers te gee? Hierdie vraag was duidelik beantwoord toe Abraham bereid was om sy geliefde seun, Isak, te offer. By hierdie geleentheid het Jehovah vir Abraham presies gesê hoe hy die offerande moet offer (Gen. 22:1, 2). En Abraham was bereid om dit tot in die fynste detail te doen. Maar Jehovah het Abraham gekeer om sy seun dood te maak (Gen. 22:9-12). Jehovah het Abraham se offers aanvaar omdat hy dit vir die regte rede geoffer het. Paulus het geskryf: “Abraham het geloof in Jehovah gestel, en daarom is hy as regverdig beskou.” – Rom. 4:3.

Jakob het ’n goeie voorbeeld vir sy huishouding gestel (Sien paragraaf 19, 20)

19, 20. Hoekom het Jehovah Jakob se aanbidding aanvaar?

19 Jakob het ’n groot deel van sy lewe in Kanaän gewoon, die land wat Jehovah aan Abraham en sy nakomelinge belowe het (Gen. 17:1, 8). Die mense daar was so betrokke by valse aanbidding dat Jehovah gesê het dat die land “sy inwoners [sal] uitbraak” (Lev. 18:24, 25). Toe Jakob 77 jaar oud was, het hy Kanaän verlaat, getrou en later met ’n groot huishouding teruggekom (Gen. 28:1, 2; 33:18). Party van dié in sy huishouding is deur valse aanbidding beïnvloed. Maar toe Jehovah vir Jakob sê om na Bet-El te gaan en ’n altaar te bou, het Jakob onmiddellik opgetree. Hy het eers vir sy huishouding gesê: “Raak ontslae van die vreemde gode wat julle by julle het en reinig julle.” Toe het hy die instruksies wat hy ontvang het, lojaal uitgevoer. – Gen. 35:1-7.

20 Jakob het ’n hele paar altare in die Beloofde Land gebou, maar Jakob het Jehovah alleen aanbid (Gen. 35:14; 46:1). Omdat hy altyd die beste offers geoffer het, God op die regte manier en vir die regte rede aanbid het, sê die Bybel dat Jakob “onberispelik” is, ’n woord wat dié beskryf wat deur God goedgekeur is (Gen. 25:27, vtn.). Deur die manier waarop Jakob sy hele lewe gelei het, het hy ’n uitstekende voorbeeld gestel vir die nasie Israel, wat van hom sou afstam. – Gen. 35:9-12.

21. Wat kan ons leer oor rein aanbidding uit die voorbeelde van Noag, Abraham en Jakob?

21 Wat kan ons oor rein aanbidding leer uit die voorbeelde van hierdie drie lojale manne? Soos hulle, is ons omring deur mense, dalk selfs familielede, wat kan veroorsaak dat ons nie heeltemal aan Jehovah toegewyd is nie. Om sulke druk te weerstaan, moet ons sterk geloof in Jehovah opbou en oortuig wees dat sy regverdige standaarde die beste is. Ons wys dat ons hierdie geloof het deur gehoorsaam te wees aan Jehovah en deur ons tyd, energie en middele te gebruik om hom te dien (Matt. 22:37-40; 1 Kor. 10:31). Dit is so aanmoedigend om te weet dat Jehovah ons as regverdig beskou wanneer ons hom ons beste gee en hom op die regte manier en vir die regte rede aanbid! – Lees Jakobus 2:18-24.

’n Nasie wat Jehovah op ’n rein manier aanbid het

22-24. Watter riglyne het die Wet vir die Israeliete gegee oor (a) wie hulle moet aanbid (b) wat die kwaliteit van hulle offers moet wees en (c) die manier waarop hulle hulle offers moes aanbied?

22 Jehovah het die Wet vir Jakob se nakomelinge gegee, en daarom het hulle presies geweet wat hy van hulle verwag. As hulle gehoorsaam was aan Jehovah, sou hulle sy “spesiale eiendom” en ’n “heilige nasie” word (Eks. 19:5, 6). Kom ons kyk hoe die Wet die vier belangrikste vereistes vir rein aanbidding beklemtoon het.

23 Jehovah het dit duidelik gemaak dat die Israeliete hom alleen moet aanbid. “Jy mag geen ander gode buiten my hê nie”, het Jehovah gesê (Eks. 20:3-5). Hulle moes vir Jehovah hulle heel beste offers gee. Diere-offers moes byvoorbeeld sonder gebrek wees. (Lev. 1:3; Deut. 15:21; vergelyk Maleagi 1:6-8.) Die Leviete het baat gevind by die gawes wat aan Jehovah gegee is, maar hulle het self ook offerandes aangebied. Wat hulle gegee het, moes “die allerbeste deel van elke geskenk” wees wat hulle ontvang het (Num. 18:29). Wanneer dit gekom het by die manier waarop hulle aanbid het, het die Israeliete spesifieke riglyne ontvang oor watter offers hulle vir Jehovah moes aanbied en oor waar en hoe hulle dit moes doen. Hulle het altesaam meer as 600 wette ontvang waarvolgens hulle moes lewe, en daar is vir hulle gesê: “Julle moet sorg dat julle presies doen wat Jehovah julle God julle beveel het. Julle mag nie links of regs afwyk nie.” – Deut. 5:32.

24 Het dit regtig saak gemaak waar die Israeliete hulle offers geoffer het? Ja. Jehovah het sy volk beveel om ’n tabernakel te bou, en dit het die sentrum vir ware aanbidding geword (Eks. 40:1-3, 29, 34). As die Israeliete in daardie tyd wou hê dat God hulle offers moes goedkeur, moes hulle dit na die tabernakel toe bring. * – Deut. 12:17, 18.

25. Wat was vir Jehovah die heel belangrikste wanneer ’n Israeliet ’n offer gebring het? Verduidelik.

25 Maar die rede hoekom ’n Israeliet sy gawe geoffer het, was selfs belangriker! Hy moes dit doen omdat hy lief was vir Jehovah en vir sy standaarde. (Lees Deuteronomium 6:4-6.) Toe die Israeliete Jehovah net aanbid het omdat hulle moes, het Jehovah nie hulle offers aanvaar nie (Jes. 1:10-13). Jehovah het deur die profeet Jesaja gewys dat hy nie bedrieg was toe hulle gemaak het asof hulle toegewyd is aan hom nie, en hy het gesê: “Hierdie volk . . . eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my af.” – Jes. 29:13.

Aanbidding by die tempel

26. Watter rol het die tempel wat Salomo gebou het eers in rein aanbidding gespeel?

26 Die Israeliete het al eeue lank in die Beloofde Land gewoon toe koning Salomo ’n sentrum vir rein aanbidding gebou het wat baie indrukwekkender was as die tabernakel (1 Kon. 7:51; 2 Kron. 3:1, 6, 7). Aan die begin was die offerandes wat by hierdie tempel geoffer is, aan Jehovah alleen geoffer. Salomo en die res van die volk het verskriklik baie offerandes van die beste kwaliteit geoffer op die manier wat in God se Wet uiteengesit is (1 Kon. 8:63). Maar dit was nie die feit dat die gebou so duur was en dat hulle so baie offerandes aangebied het, wat aanbidding by die tempel vir Jehovah aanvaarbaar gemaak het nie. Wat saak gemaak het, was die rede hoekom hulle die gawes geoffer het. Salomo het hierdie punt by die toewyding van die tempel beklemtoon. Hy het gesê: “Julle moet Jehovah ons God met julle hele hart dien en sy wetsvoorskrifte volg en sy gebooie onderhou, soos vandag die geval is.” – 1 Kon. 8:57-61.

27. Wat het die konings van Israel en die volk gedoen, en hoe het Jehovah gereageer?

27 Ongelukkig het die Israeliete opgehou om die koning se wyse raad te volg. Hulle het opgehou om een of meer van die belangrikste dinge te doen wat nodig is om Jehovah op ’n rein manier te aanbid. Die konings van Israel en die volk het toegelaat dat hulle harte sleg word. Hulle het geloof in Jehovah verloor en hulle het opgehou om sy regverdige standaarde te volg. Uit liefde het Jehovah oor en oor profete gestuur om hulle reg te help en om hulle te waarsku teen die gevolge van hulle dade (Jer. 7:13-15, 23-26). Een van hulle was die lojale man Esegiël. Hy het in ’n moeilike tyd in die geskiedenis van rein aanbidding gelewe.

Esegiël sien hoe rein aanbidding besoedel word

28, 29. Wat weet ons omtrent Esegiël? (Sien die venster “Esegiël se lewe”.)

28 Esegiël was goed bekend met aanbidding by die tempel wat Salomo gebou het. Sy pa was ’n priester en sou by die tempel gedien het wanneer dit sy beurt was (Eseg. 1:3). Esegiël het seker ’n gelukkige kinderlewe gehad. Sy pa het hom beslis oor Jehovah en die Wet geleer. Esegiël was dalk een jaar oud toe “die Wetboek” in die tempel gevind is. * Die goeie man Josia, wat toe koning was, was so geraak deur wat hy gehoor het dat hy meer gedoen het om rein aanbidding te bevorder. – 2 Kon. 22:8-13.

Esegiël se pa het hom beslis oor Jehovah en die Wet geleer (Sien paragraaf 28)

29 Soos die lojale manne voor hom, het Esegiël die vier belangrikste dinge gedoen wat nodig is om Jehovah op ’n rein manier te aanbid. Wanneer ons die boek Esegiël studeer, leer ons dat hy Jehovah alleen gedien het, altyd sy beste gegee het en gedoen het wat Jehovah van hom gevra het op die manier wat Hy verwag het. Esegiël het al hierdie dinge gedoen omdat hy opregte geloof gehad het. Maar dit was nie die geval met die meeste van die mense wat in sy tyd gelewe het nie. Esegiël het grootgeword met die profesieë van Jeremia, wat sy werk in 647 VHJ begin het en wat mense ywerig gewaarsku het oor Jehovah se komende oordeel.

30. (a) Wat leer ons uit die profesieë wat Esegiël neergeskryf het? (b) Wat is ’n profesie, en hoe moet Esegiël se profesieë verstaan word? (Sien die venster “Hoe om Esegiël se profesieë te verstaan”.)

30 Esegiël se geïnspireerde woorde wys hoe ver God se volk van rein aanbidding afgedwaal het. (Lees Esegiël 8:6.) Toe Jehovah Juda begin dissiplineer het, was Esegiël onder dié wat as gevangenes na Babilon geneem is (2 Kon. 24:11-17). Al was Esegiël ’n gevangene, was God nie besig om hom te straf nie. Jehovah het werk gehad wat hy moes doen onder Sy volk wat in gevangenskap was. Die asemrowende visioene en profesieë wat Esegiël neergeskryf het, wys hoe rein aanbidding in Jerusalem herstel sou word. Maar dit doen ook baie meer – dit help ons om te verstaan hoe rein aanbidding uiteindelik heeltemal herstel sal word vir almal wat lief is vir Jehovah.

31. Wat sal hierdie boek ons help om te doen?

31 Hierdie boek sal ons ’n kykie gee in Jehovah se woonplek en ons laat besef hoe erg rein aanbidding besoedel was. Ons sal ook leer hoe Jehovah rein aanbidding herstel het en sy volk verdedig het, en ons sal ’n voorsmakie kry van die toekoms wanneer alle mense Jehovah sal aanbid. In die volgende hoofstuk sal ons die eerste visioen bespreek wat Esegiël opgeteken het. Dit sal ons help om Jehovah se grootheid en die hemelse deel van sy organisasie voor te stel, en dit sal beklemtoon hoekom hy alleen rein aanbidding verdien.

^ par. 4 Abel is blykbaar gebore kort nadat Adam en Eva uit Eden gesit is (Gen. 4:1, 2). Genesis 4:25 sê dat God Set “in Abel se plek gegee” het. Set is gebore nadat Abel wreed vermoor is en toe Adam 130 jaar oud was (Gen. 5:3). So Abel was miskien sowat 100 jaar oud toe Kain hom doodgemaak het.

^ par. 15 Genesis 4:26 sê dat “mense die naam van Jehovah begin aanroep” het in die tyd van Enos, Adam se kleinseun. Maar hulle het dit blykbaar op ’n disrespekvolle manier gedoen deur Jehovah se naam moontlik aan hulle afgode te gee.

^ par. 17 Die god Nanna het ook die naam Sin gehad. Al het die inwoners van Ur baie gode aanbid, was die tempels en altare in daardie stad hoofsaaklik aan hom toegewy.

^ par. 24 Nadat die heilige Ark uit die tabernakel verwyder is, het Jehovah blykbaar toegelaat dat offers op ander plekke as die tabernakel geoffer word. – 1 Sam. 4:3, 11; 7:7-9; 10:8; 11:14, 15; 16:4, 5; 1 Kron. 21:26-30.

^ par. 28 Dit lyk asof Esegiël 30 jaar oud was toe hy in die jaar 613 VHJ begin profeteer het. So hy was blykbaar omtrent 643 VHJ gebore (Eseg. 1:1). Josia het in 659 VHJ begin regeer, en die Wetboek, heel moontlik die oorspronklike, is om en by die 18de jaar van sy heerskappy gevind, dit wil sê omtrent die jaar 642-641 VHJ.