Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 4

Wie is “die lewende wesens met vier gesigte”?

Wie is “die lewende wesens met vier gesigte”?

ESEGIËL 1:15

HOOFPUNT: Die lewende wesens en wat ons by hulle kan leer

1, 2. Hoekom het Jehovah soms visuele hulpmiddele gebruik om waarhede aan sy knegte op aarde oor te dra?

DINK aan ’n gesin met klein kinders wat om die kombuistafel sit en die Bybel studeer. Die pa wys vir die kinders ’n paar eenvoudige tekeninge om hulle te help om ’n Bybelwaarheid te verstaan. Die kinders glimlag opgewonde, en hulle kommentare wys dat die pa dit regkry. Deur prente te gebruik, help hy sy kinders om waarhede oor Jehovah te verstaan wat hulle andersins nie sou kon verstaan nie.

2 Net so het Jehovah visuele hulpmiddele gebruik om sy mensekinders te help om onsigbare dinge te verstaan wat hulle andersins nie sou kon verstaan nie. Byvoorbeeld, Jehovah het vir Esegiël ’n visioen vol treffende beelde gegee om diep waarhede oor homself te verduidelik. In die vorige hoofstuk van hierdie boek het ons een van hierdie beelde bespreek. Kom ons fokus nou op een spesifieke deel van daardie indrukwekkende visioen. En kom ons kyk hoe dit ons kan help om nader aan Jehovah te kom as ons verstaan wat dit beteken.

“Iets wat soos vier lewende wesens gelyk het”

3. (a) Wat het Esegiël in ’n visioen gesien volgens Esegiël 1:4, 5? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat is interessant omtrent die manier hoe Esegiël beskryf wat hy sien?

3 Lees Esegiël 1:4, 5Esegiël beskryf “iets wat soos vier lewende wesens gelyk het” en wat kenmerke van engele, mense en diere het. Esegiël het presies beskryf wat hy gesien het en gesê dat hy iets gesien het ‘wat gelyk het soos’ lewende wesens. Terwyl jy die hele visioen in Esegiël hoofstuk 1 lees, sal jy sien dat die profeet baie keer uitdrukkings gebruik soos: ‘gelyk het soos’, ‘geklink het soos’, ensovoorts (Eseg. 1:13, 24, 26). Dit is duidelik dat Esegiël besef het dat die dinge wat hy gesien het, onsigbare dinge voorstel wat in die hemel bestaan.

4. (a) Watter uitwerking het die visioen op Esegiël gehad? (b) Wat het Esegiël beslis oor gerubs geweet?

4 Esegiël moes verstom gewees het deur die dinge wat hy in die visioen gesien en gehoor het. Die vier lewende wesens het gegloei soos “brandende kole”. Wanneer hulle beweeg het, het dit soos “weerligstrale” gelyk. Die geluid van hulle vlerke het “soos die geluid van stormwaters” geklink, en wanneer hulle beweeg het, het dit “soos ’n leërmag geklink”. (Eseg. 1:13, 14, 24-28; sien die venster “Ek [het] die lewende wesens dopgehou”.) In ’n latere visioen het Esegiël hierdie vier lewende wesens as “gerubs,” of magtige engele, geïdentifiseer (Eseg. 10:2). Omdat Esegiël in ’n gesin van priesters grootgeword het, het hy beslis geweet dat gerubs baie nou verbind is met God se teenwoordigheid en dat hulle Hom dien. – 1 Kron. 28:18; Ps. 18:10.

“Elkeen het vier gesigte . . . gehad”

5. (a) Hoe wys die gerubs en hulle vier gesigte hoe magtig en indrukwekkend Jehovah is? (b) Hoekom laat hierdie deel van die visioen ons aan die betekenis van God se naam dink? (Sien voetnoot.)

5 Lees Esegiël 1:6, 10. Esegiël het ook gesien dat elke gerub vier gesigte gehad het – ’n gesig van ’n mens, ’n leeu, ’n bul en ’n arend. Toe Esegiël hierdie vier gesigte gesien het, moes dit ’n diep indruk op hom gemaak het omdat dit hom laat besef het hoe sterk en indrukwekkend Jehovah is. Hoe so? Want elke gesig behoort aan ’n skepsel wat indrukwekkend, sterk en magtig is. Die leeu is ’n magtige wilde dier, die bul is ’n indrukwekkende mak dier, die arend is ’n sterk voël en die mens is die kroon van God se aardse skepping, die heerser van alle ander skepsele op aarde (Ps. 8:4-6). Maar in hierdie visioen het Esegiël gesien dat al vier magtige skepsele, wat deur die vier gesigte van elke gerub afgebeeld word, onder die troon van Jehovah was, wat die Allerhoogste Heerser oor alles is. Wat ’n gepaste manier om te illustreer dat Jehovah sy skepping kan gebruik om sy wil te laat plaasvind! * Dit is beslis soos die psalmis oor Jehovah sê: “Sy majesteit is bo die aarde en die hemel.” – Ps. 148:13.

Wat leer die vier lewende wesens en hulle vier gesigte ons oor Jehovah se krag en ander eienskappe? (Sien paragraaf 5, 13)

6. Wat het Esegiël dalk gehelp om te verstaan wat die vier gesigte nog afbeeld?

6 Nadat Esegiël tyd gehad het om na te dink oor wat hy gesien het, het hy dalk onthou dat God se knegte wat voor sy tyd gelewe het, diere in vergelykings gebruik het. Die lojale man Jakob het byvoorbeeld sy seun Juda met ’n leeu vergelyk, en sy seun Benjamin met ’n wolf (Gen. 49:9, 27). Hoekom? Omdat die leeu en die wolf eienskappe het wat sou uitstaan in hierdie mans se persoonlikhede. As Esegiël aan sulke voorbeelde uit Moses se geïnspireerde geskrifte gedink het, het hy heel moontlik tot die gevolgtrekking gekom dat die gerubs se gesigte ook besondere eienskappe afgebeeld het. Maar watter eienskappe?

Eienskappe van Jehovah en Sy hemelse gesin

7, 8. Watter eienskappe word baie keer met die vier gesigte van die gerubs geassosieer?

7 Met watter eienskappe het Bybelskrywers wat voor Esegiël se tyd gelewe het die leeu, die arend en die bul geassosieer? Kyk na die volgende Bybeltekste: “Die man wat so moedig soos ’n leeu is” (2 Sam. 17:10; Spr. 28:1). ‘’n Arend vlieg op’, en “sy oë kyk in die verte” (Job 39:27, 29). “Die krag van ’n bul lewer ’n groot oes op” (Spr. 14:4). Uit sulke tekste kan ons sien dat die leeu se gesig moedige geregtigheid afbeeld en die arend se gesig vêrsiende wysheid afbeeld en die bul se gesig groot krag afbeeld, soos ons publikasies al baie keer gesê het.

8 Maar wat van “die gesig van ’n mens”? (Eseg. 10:14). Dit moet verwys na ’n eienskap wat diere nie het nie, maar wat net betoon kan word deur mense, wat in God se beeld geskep is (Gen. 1:27). Op die aarde kan net mense hierdie eienskap betoon, en hierdie eienskap word beklemtoon in God se bevele: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart” en “jy moet jou medemens liefhê soos jouself” (Deut. 6:5; Lev. 19:18). Wanneer ons hierdie bevele gehoorsaam deur onselfsugtige liefde te betoon, weerspieël ons Jehovah se liefde. Soos die apostel Johannes geskryf het: “Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:8, 19). “Die gesig van ’n mens” stel dus liefde voor.

9. Wie se eienskappe word deur die gerubs se gesigte voorgestel?

9 Wie se eienskappe word voorgestel? Die gerubs stel Jehovah se hemelse gesin van lojale geesskepsele voor. Daarom stel die gerubs se gesigte die eienskappe voor van almal wat deel is van Jehovah se hemelse gesin (Op. 5:11). En omdat Jehovah die Bron van die gerubs se lewe is, is hy ook die Bron van hulle eienskappe (Ps. 36:9). Daarom stel die gerubs se gesigte ook Jehovah se eienskappe voor (Job 37:23; Ps. 99:4; Spr. 2:6; Miga 7:18). Wat is ’n paar maniere waarop Jehovah hierdie wonderlike eienskappe betoon?

10, 11. Wat is ’n paar maniere waarop ons baat vind by Jehovah se vier hoofeienskappe?

10 Geregtigheid. Jehovah ‘behandel niemand partydig nie’, want hy is “lief vir geregtigheid” (Ps. 37:28; Deut. 10:17). Daarom het ons almal die geleentheid om sy knegte te word en te bly en om vir ewig seëninge te ontvang, maak nie saak wat ons sosiale status of agtergrond is nie. Wysheid. Jehovah God “is baie wys”, en hy het ’n boek vol “praktiese wysheid” voorsien (Job 9:4; Spr. 2:7). As ons die Bybel se wyse raad toepas, help dit ons om ons daaglikse uitdagings te hanteer en om gelukkige lewens te lei. Krag. Jehovah “het groot krag,” en hy gebruik sy heilige gees om ons “krag wat bo die normale is,” te gee. Dit help ons om enige ernstige en moeilike probleme te hanteer. – Nah. 1:3; 2 Kor. 4:7; Ps. 46:1.

11 Liefde. Jehovah God is “vol lojale liefde”, en hy verlaat nooit sy lojale aanbidders nie (Ps. 103:8; 2 Sam. 22:26). Dalk voel ons hartseer omdat swak gesondheid of die ouderdom ons keer om soveel in Jehovah se diens te doen as voorheen. Maar dit vertroos ons om te weet dat Jehovah alles onthou wat ons uit liefde vir hom in die verlede gedoen het (Heb. 6:10). Dit is duidelik dat ons alreeds baie baat vind by Jehovah se geregtigheid, wysheid, krag en liefde, en ons sal aanhou om in die toekoms baat te vind by hierdie vier hoofeienskappe van Jehovah.

12. Wat moet ons in gedagte hou oor ons vermoë om Jehovah se eienskappe te verstaan?

12 Ons moet natuurlik onthou dat wat ons as mense oor Jehovah se eienskappe kan verstaan, “maar net ’n klein deeltjie van sy werke” is (Job 26:14). “Om die Almagtige te verstaan, is buite ons bereik”, want “sy grootheid kan nie ten volle begryp word nie” (Job 37:23; Ps. 145:3). En daarom besef ons dat Jehovah se eienskappe nie getel kan word of beperk is nie en dat dit nie in kategorieë gesit kan word nie. (Ps. 139:17, 18; lees Romeine 11:33, 34.) Esegiël se visioen beklemtoon hierdie feit. Watter deel van die visioen beklemtoon hierdie belangrike waarheid?

“Vier gesigte . . . vier vlerke . . . vier kante”

13, 14. Wat stel die vier gesigte van die gerubs voor, en hoekom kan ons tot daardie gevolgtrekking kom?

13 Esegiël het in ’n visioen gesien dat die gerubs nie een gesig gehad het nie, maar vier gesigte. Wat wys dit vir ons? Onthou dat die nommer vier baie in God se Woord gebruik word om te verwys na iets wat alles insluit of wat volledig is (Matt. 24:31; Op. 7:1). Dit is interessant dat Esegiël die nommer vier 11 keer in hierdie spesifieke visioen noem (Eseg. 1:5-18). Tot watter gevolgtrekking kan ons dan kom? Net soos die vier gerubs alle ander lojale geesskepsele voorstel, stel die vier gesigte van die gerubs saam, al Jehovah se eienskappe voor. *

14 Die vier gesigte van die gerubs kan meer as net vier eienskappe voorstel. Kom ons kyk na die vier wiele in hierdie visioen om ons te help om dit te verstaan. Elke wiel is indrukwekkend, maar wanneer ons na al vier wiele saam kyk, is hulle meer as net vier indrukwekkende wiele. Hulle vorm die fondasie waarop die strydwa rus. Dit is ook die geval met die vier gesigte: Wanneer ons na al vier gesigte saam kyk, stel dit meer as net vier indrukwekkende eienskappe voor. Hulle vorm die fondasie van Jehovah se pragtige persoonlikheid.

Jehovah is naby al sy lojale knegte

15. Watter aanmoedigende waarheid het Esegiël in sy eerste visioen geleer?

15 In hierdie eerste visioen het Esegiël ’n baie belangrike en aanmoedigende waarheid geleer oor sy verhouding met Jehovah. Wat was dit? Ons vind dit in die eerste woorde van die profeet se boek. Nadat Esegiël gesê het dat hy “in die land van die Galdeërs” was, het hy oor sy eie ondervinding gepraat en gesê: “Die hand van Jehovah was daar op hom” (Eseg. 1:3). Let op dat Esegiël gesê het dat hy die visioen, nie in Jerusalem gekry het nie, maar daar – in Babilon. * So wat het Esegiël daaruit geleer? Die volgende: Al was hy ver van Jerusalem en die tempel, was hy nie ver van Jehovah en Sy aanbidding nie. Die feit dat Jehovah aan Esegiël in Babilon verskyn het, het gewys dat ons Jehovah rein aanbidding kan gee, maak nie saak waar ons is of wat ons situasie is nie. Wat saak gemaak het, was Esegiël se hartstoestand en sy begeerte om Jehovah te dien.

16. (a) Watter vertroostende versekering kry ons in Esegiël se visioen? (b) Wat motiveer jou om Jehovah met jou hele hart te dien?

16 Hoekom is daardie waarheid wat Esegiël geleer het vir ons vertroostend vandag? Dit verseker ons van die volgende: As ons Jehovah met ons hele hart dien, sal hy na aan ons bly, maak nie saak waar ons bly, hoe angstig ons is of wat ons omstandighede is nie (Ps. 25:14; Hand. 17:27). Omdat Jehovah soveel lojale liefde vir elkeen van sy aanbidders het, gooi hy nie vinnig tou op met ons nie (Eks. 34:6). Daarom kan ons altyd verseker wees van Jehovah se lojale liefde (Ps. 100:5; Rom. 8:35-39). En hierdie indrukwekkende visioen van Jehovah se heiligheid en sy ongelooflike krag herinner ons dat Jehovah ons aanbidding verdien (Op. 4:9-11). Ons is baie dankbaar dat Jehovah sulke visioene gebruik het om ons te help om belangrike waarhede oor hom en sy eienskappe te verstaan! Hoe beter ons Jehovah se pragtige eienskappe verstaan, hoe nader sal ons aan hom kom en hoe meer sal ons hom met ons hele hart en al ons krag wil prys en dien. – Luk. 10:27.

Ons kan altyd verseker wees van Jehovah se lojale liefde, maak nie saak waar ons is of wat ons omstandighede is nie (Sien paragraaf 16)

17. Watter vrae sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

17 Ongelukkig het rein aanbidding in Esegiël se dag besoedel geraak. Hoe het dit gebeur? Hoe het Jehovah gereageer? En hoekom is hierdie dinge vandag vir ons belangrik? Hierdie vrae sal in die volgende hoofstukke bespreek word.

^ par. 5 Esegiël se beskrywing van hierdie wesens laat ons dink aan God se naam, Jehovah, wat volgens ons begrip “Hy laat word” beteken. Jehovah se naam sluit die idee in dat hy sy skepping kan laat word wat ook al nodig is om sy wil te laat plaasvind. – Sien Aanhangsel A4 in die Nuwe Wêreld-vertaling.

^ par. 13 Oor die jare het ons publikasies ongeveer 50 verskillende eienskappe van Jehovah bespreek. – Kyk in die Watch Tower Publications Index onder “Jehovah”, en gaan dan na die onderhofie “Qualities by Name”.

^ par. 15 Een Bybelgeleerde sê: “Die woord ‘daar’ is die beste woord om [Esegiël se] verbasing oor te dra . . . God is daar in Babilon! Hoe vertroostend!”