Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

“Ek het jou as ’n wag . . . aangestel”

“Ek het jou as ’n wag . . . aangestel”

ESEGIËL 33:7

HOOFPUNT: Jehovah stel wagte aan en sê wat hulle verantwoordelikhede is

1. Wat het Jehovah se wagte, of profete, gedoen, en wat het daarna gebeur?

’N WAG staan op die muur van Jerusalem terwyl die son ondergaan. Terwyl hy in die verte kyk, hou hy sy hand oor sy voorkop om sy oë teen die son te beskerm. Skielik lig hy sy horing op, haal hy diep asem en blaas hy op sy horing om ’n waarskuwing te gee – die leërmag van Babilon is op pad! Maar dit is te laat vir die mense van die stad om te reageer op die wag se waarskuwing. Vir meer as ’n honderd jaar het Jehovah se aangestelde wagte, of profete, gewaarsku dat hierdie dag sou kom, maar die mense het geweier om te luister. Nou omring die leërmag van Babilon die stad. Nadat die soldate die stad maande lank beleër het, breek hulle deur die stad se muur. Hulle vernietig die tempel, en hulle maak party van die mense van Jerusalem dood en neem ander gevange.

2, 3. (a) In watter situasie is die mense op die aarde vandag? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

2 Vandag staan Jehovah se hemelse leërmag gereed om oorlog te voer teen almal op die aarde wat God nie wil dien nie (Op. 17:12-14). Daardie oorlog sal die hoogtepunt wees van die grootste verdrukking in die geskiedenis (Matt. 24:21). Maar dit is nie te laat vir mense om te reageer op die waarskuwing wat Jehovah deur middel van sy wagte gee nie.

3 Wat het Jehovah gemotiveer om wagte aan te stel? Watter soort boodskap word deur wagte bekend gemaak? Wie het Jehovah as wagte aangestel, en watter rol speel ons vandag? Kom ons bespreek die antwoorde op hierdie vrae.

“Jy [moet] hulle namens my waarsku”

4. Hoekom het Jehovah wagte aangestel? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

4 Lees Esegiël 33:7. In Bybeltye het wagte baie keer op die mure van ’n stad gestaan om die mense van die stad te beskerm. Hulle was sigbare bewyse dat die heerser vir die mense van die stad omgegee het. Wanneer ’n wag op sy horing geblaas het, het dit dalk die mense wat geslaap het, laat skrik, maar dieselfde geluid kon die lewens red van dié wat daarop gereageer het. Net so het Jehovah wagte aangestel, nie omdat hy die Israeliete met oordeelsboodskappe wou bang maak nie, maar omdat hy vir hulle omgegee het en hulle lewens wou red.

5, 6. Wat is een manier hoe ons Jehovah se geregtigheid kan sien?

5 Toe Jehovah Esegiël as ’n wag aangestel het, het Hy aspekte van Sy persoonlikheid geopenbaar wat ons baie gerusstel. Kom ons kyk na twee van hierdie eienskappe.

6 Geregtigheid: Jehovah se geregtigheid kan duidelik gesien word in die manier waarop hy ons behandel – hy oordeel ons as individue. Byvoorbeeld, al het groot groepe mense Esegiël se boodskap gehoor en geïgnoreer, het Jehovah nie die Israeliete as ’n opstandige groep behandel nie. Hy wou eerder sien hoe elke persoon reageer. Hy het oor en oor gesê dat hy praat met die “goddelose mens” en met “iemand wat regverdig is”. So Jehovah oordeel elke persoon volgens hoe hy op die boodskap reageer. – Eseg. 33:8, 18-20.

7. Waarna kyk Jehovah wanneer hy mense oordeel?

7 Ons kan Jehovah se geregtigheid ook sien in die manier waarop hy mense oordeel. Mense word nie geoordeel op grond van wat hulle in die verlede gedoen het nie, maar eerder op grond van hoe hulle reageer op ’n waarskuwing. Jehovah het vir Esegiël gesê: “Wanneer ek vir die goddelose sê: ‘Jy sal beslis sterf,’ en hy van sy sonde wegdraai en doen wat reg en regverdig is, . . . sal hy beslis bly lewe.” Toe het Jehovah iets gesê wat baie interessant is: “Nie een van die sondes wat hy gepleeg het, sal teen hom gehou word nie” (Eseg. 33:14-16). Aan die ander kant moet niemand dink dat regverdige dade van die verlede ’n verskoning is om te doen wat verkeerd is nie. Jehovah het gesê dat as ’n man “op sy regverdigheid vertrou en doen wat verkeerd is, . . . nie een van sy regverdige dade onthou [sal] word nie, maar hy sal sterf vir die verkeerde dade wat hy gedoen het”. – Eseg. 33:13.

8. Wat leer Jehovah se waarskuwings ons oor sy geregtigheid?

8 Die feit dat Jehovah vir mense genoeg tyd gee om te reageer op sy waarskuwings, is ook ’n bewys van sy geregtigheid. Ongeveer ses jaar voordat die leërmag van Babilon Jerusalem vernietig het, het Esegiël met sy werk begin. Maar Esegiël was nie die eerste een wat God se volk gewaarsku het dat hulle vir hulle dade verantwoordelik gehou sou word nie. Meer as ’n honderd jaar voor Jerusalem se vernietiging het Jehovah die profete Hosea, Jesaja, Miga, Oded en Jeremia as wagte gebruik. Deur middel van Jeremia het Jehovah die Israeliete herinner: “Ek het wagte aangestel wat gesê het: ‘Skenk aandag aan die geluid van die horing!’” (Jer. 6:17). Toe Jehovah die Babiloniërs gebruik het om sy oordeel oor Jerusalem uit te voer, kon nie Hy of daardie wagte verantwoordelik gehou word vir die dood van die ongehoorsame mense daar nie.

9. Hoe kon Jehovah se lojale liefde gesien word?

9 Liefde: Ons kan Jehovah se lojale liefde duidelik sien uit die feit dat hy sy wagte gestuur het om nie net die regverdiges te waarsku nie, maar ook die goddeloses – die einste mense wat sy hart gebreek het en sy naam deur die modder gesleep het. Mense het geweet dat die Israeliete Jehovah se volk was, maar die Israeliete het oor en oor hulle rug op hom gedraai en valse gode aanbid! Hulle het Jehovah so diep seergemaak dat hy hulle vergelyk het met ’n vrou wat egbreuk gepleeg het (Eseg. 16:32). Maar Jehovah het nie gou moed opgegee met hulle nie. Hy wou sy verhouding met hulle herstel. Hy wou hulle nie terugkry vir wat hulle gedoen het nie. Om sy volk te straf, was nie sy eerste opsie nie, dit was sy laaste uitweg. Hoe weet ons dit? Hy het vir Esegiël gesê: “Dit is nie die dood van die goddeloses wat my vreugde gee nie. Dit is eerder wanneer iemand wat goddeloos is, van sy verkeerde dade wegdraai en bly lewe” (Eseg. 33:11). Dit is hoe Jehovah toe gevoel het, en dit is ook hoe Jehovah vandag voel. – Mal. 3:6.

10, 11. Watter lesse kan ons leer uit hoe Jehovah sy volk behandel het?

10 Wat kan ons leer uit die regverdige en liefdevolle manier waarop Jehovah die Israeliete behandel het? Een les is dat ons elke persoon vir wie ons preek, as ’n unieke individu moet beskou. Dit sou verkeerd wees om te dink dat iemand nie verdien om ons boodskap te hoor net as gevolg van sy verlede, sy ras, sy kultuur, sy taal of as gevolg van hoe ryk of arm hy is nie! Jehovah het die apostel Petrus ’n les geleer wat ons vandag nog raak. Petrus het geleer dat “God nie partydig is nie. In elke nasie is die mens wat hom vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar.” – Hand. 10:34, 35.

Sien jy mense soos Jehovah hulle sien? (Sien paragraaf 10)

11 Nog ’n belangrike les is dat ons nooit moet dink dat ons regverdige dade van die verlede ’n verskoning is om te doen wat verkeerd is nie. Ons moet onthou dat ons dieselfde sondige neigings het as die mense vir wie ons preek. Die raad wat die apostel Paulus vir die gemeente in Korinte gegee het, is ook op ons van toepassing: “Die een wat dink dat hy staan, moet . . . oppas dat hy nie val nie. Die versoekings wat julle deurmaak, is iets wat ander mense ook deurmaak” (1 Kor. 10:12, 13). Ons moet nooit “op [ons] regverdigheid vertrou” en dink dat ons kan doen wat verkeerd is en wegkom daarmee omdat ons ook goeie dinge doen nie (Eseg. 33:13). Maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie, dit is baie belangrik dat ons nederig en gehoorsaam bly.

12. Wat moet ons onthou as ons in die verlede ernstig gesondig het?

12 Maar sê nou ons het in die verlede ernstig gesondig en voel nou baie spyt daaroor. Ons leer uit Esegiël se boodskap dat Jehovah onberouvolle sondaars sal straf. Maar ons leer ook dat Jehovah hoofsaaklik ’n God van liefde is en nie van wraak nie (1 Joh. 4:8). As ons deur ons dade wys dat ons berouvol is, moet ons nooit voel dat ons sondes so erg is dat God dit nie kan vergewe nie (Jak. 5:14, 15). Jehovah was bereid om die dislojale Israeliete te vergewe, en hy is ook bereid om ons te vergewe. – Ps. 86:5.

“Praat met die kinders van jou volk”

13, 14. (a) Watter soort boodskap het die wagte bekend gemaak? (b) Watter boodskap het Jesaja bekend gemaak?

13 Lees Esegiël 33:2, 3Watter soort boodskap moes Jehovah se wagte bekend maak? ’n Belangrike deel van hulle werk was om mense te waarsku, maar hulle het ook goeie nuus bekend gemaak. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

14 Jesaja, wat vanaf omtrent 778 tot 732 VHJ as ’n profeet gedien het, het die Israeliete gewaarsku dat die Babiloniërs Jerusalem sou oorwin en dat hulle die mense gevange sou neem (Jes. 39:5-7). Maar Jehovah het hom ook die volgende woorde laat neerskryf: “Luister! Jou wagte roep uit. Hulle roep saam van vreugde uit, want hulle sal duidelik sien wanneer Jehovah Sion laat terugkeer” (Jes. 52:8). Jesaja het die beste nuus verkondig – ware aanbidding sou herstel word!

15. Watter boodskap het Jeremia bekend gemaak?

15 Die profeet Jeremia het vanaf 647 tot 580 VHJ as ’n profeet gedien, en hy was ’n uitstekende wag, wat die goddelose Israeliete gewaarsku het oor die rampspoed, of die verskriklike dinge, wat Jehovah oor hulle sou bring. * Baie mense sê dat hy net oor “rampspoed” gepraat het, maar hy het ook goeie nuus bekend gemaak en voorspel dat God se volk na hulle land sou teruggaan en dat rein aanbidding daar herstel sou word. – Jer. 29:10-14; 33:10, 11.

16. Hoe het Esegiël se boodskap die gevangenes in Babilon gehelp?

16 Esegiël is in 613 VHJ as ’n wag aangestel, en hy het sy toewysing tot omtrent 591 VHJ uitgevoer. Soos ons in Hoofstuk 5 en 6 van hierdie boek gesien het, het Esegiël hard gewerk om die Israeliete te waarsku dat hulle vernietig sou word, en daarom sou hy nie verantwoordelik gehou kon word as hulle hulle lewens verloor nie. Hy het nie net die gevangenes in Babilon gewaarsku dat Jehovah die afvalliges in Jerusalem sou straf nie, maar hy het hulle ook gehelp om hulle verhouding met Jehovah sterk te hou sodat Jehovah hulle in die toekoms kon gebruik. Aan die einde van die 70 jaar van gevangenskap sou Jehovah party van die Jode na die herstelde land van Israel laat teruggaan (Eseg. 36:7-11). Daardie groep Jode sou hoofsaaklik bestaan uit die kinders en kleinkinders van die mense wat na Esegiël geluister het. Soos die ander hoofstukke in Deel 3 van hierdie boek wys, het Esegiël baie goeie nuus gehad om bekend te maak. Hy het bevestig dat rein aanbidding in Jerusalem herstel sou word.

17. Wanneer het Jehovah wagte aangestel?

17 Was hierdie profete wat God se volk voor die vernietiging van Jerusalem in 607 VHJ gewaarsku het, die enigste profete wat Jehovah as wagte gebruik het? Nee. Elke keer wanneer iets belangriks sou gebeur wat met God se doel vir die mensdom te doen het, het Jehovah wagte aangestel om die goddeloses te waarsku en om goeie nuus bekend te maak.

Wagte in die eerste eeu

18. Watter werk het Johannes die Doper gedoen?

18 In die eerste eeu HJ het Johannes die Doper as ’n wag gedien. Hy het die Israeliete gewaarsku dat God hulle binnekort sou verwerp (Matt. 3:1, 2, 9-11). Maar dit was nie al nie. Jesus het gesê dat Johannes die voorspelde “boodskapper” was wat die weg vir die Messias voorberei het (Mal. 3:1; Matt. 11:7-10). Hy het ook die goeie nuus bekend gemaak dat Jesus, “die Lam van God”, gekom het en dat hy “die sonde van die wêreld [sou] wegneem”. – Joh. 1:29, 30.

19, 20. Hoe het Jesus en sy dissipels as wagte gedien?

19 Van al die wagte was Jesus die belangrikste. Soos Esegiël was hy deur Jehovah gestuur na “die huis van Israel” (Eseg. 3:17; Matt. 15:24). Jesus het die Israeliete gewaarsku dat God hulle binnekort sou verwerp en dat Jerusalem vernietig sou word (Matt. 23:37, 38; 24:1, 2; Luk. 21:20-24). Maar sy belangrikste werk was om goeie nuus bekend te maak. – Luk. 4:17-21.

20 Toe Jesus op die aarde was, het hy vir sy dissipels gesê: “Hou . . . aan waak” (Matt. 24:42). Hulle was gehoorsaam en het as wagte gedien deur mense te waarsku dat Jehovah die Israeliete en Jerusalem verwerp het (Rom. 9:6-8; Gal. 4:25, 26). Soos die wagte voor hulle, het hulle ook goeie nuus gehad om bekend te maak. Hulle boodskap het die wonderlike nuus ingesluit dat nie-Jode nou deel kon wees van geestelike Israel en dat hulle die voorreg kon hê om Christus te help om rein aanbidding op die aarde te herstel. – Hand. 15:14; Gal. 6:15, 16; Op. 5:9, 10.

21. Watter voorbeeld het Paulus gestel?

21 Die apostel Paulus was ’n wag in die eerste eeu, en hy het ’n uitstekende voorbeeld gestel. Hy het sy verantwoordelikheid ernstig opgeneem. Soos Esegiël, het hy geweet dat hy bloedskuldig sou wees as hy nie sy toewysing uitvoer nie (Hand. 20:26, 27). En net soos die ander wagte, het Paulus mense gewaarsku en goeie nuus verkondig (Hand. 15:35; Rom. 1:1-4). Onder die leiding van die heilige gees het Paulus Jesaja se profesie aangehaal toe hy gesê het: “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring,” en hy het hierdie woorde toegepas op die predikingswerk wat Christus se volgelinge doen. – Jes. 52:7, 8; Rom. 10:13-15.

22. Wat het ná die dood van die apostels gebeur?

22 Ná die dood van die apostels het die voorspelde afvalligheid die Christengemeente oorgeneem (Hand. 20:29, 30; 2 Tess. 2:3-8). Vir ’n lang tyd was daar baie meer valse Christene (“onkruid”) as lojale volgelinge van Christus (“koring”), en as gevolg van valse leringe was die boodskap oor God se Koninkryk nie meer so duidelik nie (Matt. 13:36-43). Maar toe die tyd kom vir Jehovah om op te tree, het sy liefde en geregtigheid hom weer gemotiveer om wagte aan te stel om ’n duidelike waarskuwing te gee en om goeie nuus bekend te maak. Wie was hierdie wagte?

Jehovah stel weer wagte aan om die goddeloses te waarsku

23. Watter rol het C. T. Russell en dié wat saam met hom gewerk het, gespeel?

23 Gedurende die jare voor 1914 het Charles Taze Russell en die mense wat saam met hom gewerk het, as die “boodskapper” opgetree wat ‘’n weg sou voorberei’ voordat die Messias as Koning begin regeer * (Mal. 3:1). Daardie groep het ook as ’n wag gedien deur die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence te gebruik om mense te waarsku oor God se oordeel en om die goeie nuus oor God se Koninkryk te verkondig.

24. (a) Hoe het die getroue slaaf as ’n wag gedien? (b) Wat het jy geleer uit die voorbeeld van wagte van die verlede? (Sien die venster “’n Paar voorbeeldige wagte”.)

24 Nadat Jesus as Koning begin regeer het, het hy ’n klein groepie mans aangestel om as die getroue slaaf te dien (Matt. 24:45-47). Van toe af het die getroue slaaf, wat nou die Bestuursliggaam genoem word, as ’n wag gedien. Hulle neem die leiding in die werk om mense te waarsku oor “die dag van die wraak” en om “die jaar van Jehovah se genade” te verkondig. – Jes. 61:2; sien ook 2 Korintiërs 6:1, 2.

25, 26. (a) Watter werk moet al Christus se volgelinge doen, en hoe word hierdie werk gedoen? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

25 Al neem die getroue slaaf die leiding as ’n wag, het Jesus vir al sy volgelinge gesê: “Hou aan waak” (Mark. 13:33-37). Ons wys dat ons gehoorsaam is aan daardie bevel deur geestelik wakker te bly en deur die wag van ons tyd lojaal te ondersteun. En ons wys dat ons wakker is deur ons verantwoordelikheid om te preek, na te kom (2 Tim. 4:2). Hoekom doen ons dit? Een rede is dat ons lewens wil red (1 Tim. 4:16). Binnekort gaan baie mense hulle lewens verloor omdat hulle die waarskuwings van die wag van ons tyd geïgnoreer het (Eseg. 3:19). Maar die belangrikste rede is dat ons graag die beste nuus met ander wil deel – rein aanbidding is herstel! Nou, gedurende “die jaar van Jehovah se genade”, het baie die geleentheid om ons regverdige en liefdevolle God, Jehovah, saam met ons te aanbid. Binnekort sal almal op die aarde wat die einde van hierdie goddelose wêreld oorleef, seëninge ontvang wanneer sy Seun, Jesus Christus, regeer. Dit is beslis ’n groot voorreg om die wag van ons tyd te help om sulke goeie nuus bekend te maak! – Matt. 24:14.

Ons is bly om die wag van ons tyd te ondersteun deur die goeie nuus bekend te maak (Sien paragraaf 25)

26 Selfs voor die einde van hierdie goddelose wêreld het Jehovah sy volk op ’n wonderlike manier verenig. Die volgende hoofstuk sal ’n profesie oor twee stokke bespreek, en daardie profesie sal ons help om te verstaan hoe God sy volk verenig het.

^ par. 15 Die woord “rampspoed” kom amper 70 keer in die boek Jeremia voor.

^ par. 23 Vir ’n bespreking van hierdie profesie en hoe dit waar geword het, sien die boek God se Koninkryk regeer!, Hoofstuk 2,Die Koninkryk word in die hemel gebore”.