Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

“Ek sal hulle ’n verenigde hart gee”

“Ek sal hulle ’n verenigde hart gee”

ESEGIËL 11:19

HOOFPUNT: Die tema van herstelling en hoe dit in Esegiël se profesieë ontwikkel word

1-3. Hoe bespot die Babiloniërs aanbidders van Jehovah, en hoekom?

VERBEEL jou jy is ’n lojale Jood wat in Babilon woon. Jy en die ander Jode is al vir meer as 50 jaar in gevangenskap. Jy is op pad om Jehovah saam met ander Jode te gaan aanbid, soos jy gewoonlik op die Sabbatdag doen. Terwyl jy deur die besige strate loop, stap jy verby indrukwekkende tempels en baie ander plekke van aanbidding. Die mense stroom na daardie plekke toe, en hulle maak offerandes en sing liedjies vir afgode, soos Mardoek.

2 Jy en ’n klein groep ware aanbidders ontmoet by ’n stil plek, weg van die skares af. * Daar, langs een van die stad se kanale, bid julle, sing julle psalms en dink julle na oor God se Woord. Terwyl julle bid, hoor julle die sagte gekraak van die houtbootjies wat al langs die kanaal vasgemaak is. Julle is bly dat julle darem hier ’n bietjie vrede kan hê. Julle hoop dat die plaaslike mense nie sal kom om julle vergadering te onderbreek, soos hulle baie keer doen nie. Hoekom doen hulle dit?

3 Babilon het in die verlede baie oorloë gewen, en die Babiloniërs het geglo dat dit hulle valse gode was wat die stad so sterk gemaak het. Die feit dat Jerusalem heeltemal vernietig is, het die Babiloniërs laat glo dat hulle god Mardoek sterker as Jehovah is. Daarom spot hulle jou God en sy volk. Soms spot hulle julle deur te sê: “Sing vir ons een van die liedere van Sion” (Ps. 137:3). Baie psalms gaan oor hoe Sion, of Jerusalem, Jehovah se vyande oorwin het. Miskien het die Babiloniërs veral daarvan gehou om die Jode oor daardie psalms te spot. Maar daar is ook psalms wat oor die Babiloniërs self gaan. Een van hulle sê byvoorbeeld: “Hulle het Jerusalem verwoes. . . . Mense om ons spot met ons en lag ons uit.” – Ps. 79:1, 3, 4.

4, 5. Watter hoop het Esegiël se profesie gegee, en wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

4 Daar is ook afvallige Jode wat julle spot oor julle geloof in Jehovah en sy profete. Al word julle so gespot, bring rein aanbidding vir jou en jou gesin vertroosting. Dit voel goed om saam te bid en te sing. Dit is kalmerend om God se Woord te lees (Ps. 94:19; Rom. 15:4). Verbeel jou dat een van die ander aanbidders iets spesiaals na die vergadering toe gebring het – ’n boekrol met Esegiël se profesieë. Jy geniet dit om te luister na Jehovah se belofte dat hy sy volk na hulle tuisland sal terugbring. Wanneer hierdie profesieë gelees word, maak dit jou hart baie bly, en jy dink aan hoe dit sal wees om met jou gesin terug te gaan na julle tuisland en te help om rein aanbidding te herstel.

5 Esegiël se profesieë is vol beloftes van herstelling. Kom ons bespreek nou daardie boodskap van hoop. Hoe het daardie beloftes vir die Joodse gevangenes waar geword? Hoe het daardie profesieë in moderne tye waar geword? En hoe sal party van daardie profesieë in die toekoms waar word?

“Hulle sal in ballingskap gaan, in gevangenskap”

6. Hoe het God sy ongehoorsame volk oor en oor gewaarsku?

6 Deur middel van Esegiël het Jehovah reguit vir sy volk gesê hoe hy hulle sal straf vir hulle ongehoorsaamheid. Jehovah het gesê: “Hulle sal in ballingskap gaan, in gevangenskap” (Eseg. 12:11). Soos ons in Hoofstuk 6 van hierdie boek gesien het, het Esegiël selfs die straf uitgebeeld. Maar dit was nie die eerste waarskuwing wat die Israeliete gekry het nie. Amper 1 000 jaar vroeër, in Moses se tyd, het Jehovah sy volk gewaarsku dat hulle in gevangenskap sou gaan as hulle weier om aan hom gehoorsaam te wees (Deut. 28:36, 37). Profete soos Jesaja en Jeremia het dieselfde soort waarskuwings gegee. – Jes. 39:5-7; Jer. 20:3-6.

7. Hoe het Jehovah sy volk gestraf?

7 Ongelukkig het baie mense nie na daardie waarskuwings geluister nie. Jehovah was baie hartseer omdat sy volk sleg, opstandig en ongehoorsaam geword het en afgode aanbid het as gevolg van die invloed van slegte herders. Daarom het Jehovah toegelaat dat hulle honger ly. Dit was ’n groot vernedering omdat hulle land voorheen ‘oorgeloop het van melk en heuning’ (Eseg. 20:6, 7). Daarna het Jehovah sy volk gestraf deur toe te laat dat hulle in gevangenskap gaan, soos hy lank tevore voorspel het. En toe, in 607 VHJ, het Nebukadnesar, die koning van Babilon, Jerusalem en die tempel vernietig. Duisende Jode wat oorleef het, was as gevangenes na Babilon geneem. Daar het mense hulle gespot en hulle teëgestaan, soos daar aan die begin van die hoofstuk genoem is.

8, 9. Hoe het God die Christengemeente teen afvalligheid gewaarsku?

8 Het die Christengemeente ook iets deurgemaak wat soos die gevangenskap in Babilon was? Ja! Soos die Jode van daardie tyd, is Christus se volgelinge ook voor die tyd gewaarsku. Vroeg in Jesus se bediening het hy gesê: “Pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom maar wat in werklikheid wolwe is wat julle wil verskeur” (Matt. 7:15). Jare later het die apostel Paulus ook so ’n waarskuwing gegee. Hy het gesê: “Ek weet dat wrede wolwe onder julle sal inkom nadat ek weggegaan het en die kudde sal mishandel, en onder julle sal manne opstaan wat die waarheid sal verdraai om die dissipels agter hulle aan weg te trek.” – Hand. 20:29, 30.

9 Christene is geleer hoe om sulke gevaarlike manne te identifiseer en te vermy. Christenouermanne het die opdrag gekry om afvalliges uit die gemeente te verwyder (1 Tim. 1:19; 2 Tim. 2:16-19; 2 Pet. 2:1-3; 2 Joh. 10). Maar soos in die geval van Israel en Juda, het baie Christene later hierdie liefdevolle waarskuwings geïgnoreer. Teen die einde van die eerste eeu was die gemeente deur afvalliges beïnvloed. Johannes, die laaste apostel wat nog teen die einde van die eerste eeu HJ gelewe het, het gesien dat die gemeente besoedel was deur afvalligheid en opstandigheid. Hy was die enigste een wat gekeer het dat die gemeente heeltemal besoedel raak (2 Tess. 2:6-8; 1 Joh. 2:18). Wat het gebeur nadat Johannes gesterf het?

10, 11. Hoe het Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid vanaf die tweede eeu HJ waar geword?

10 Ná Johannes se dood het Jesus se illustrasie oor die koring en die onkruid begin waar word. (Lees Matteus 13:24-30.) Soos Jesus voorspel het, het Satan “onkruid”, of valse Christene, in die gemeentes gesaai, en die gemeentes het al hoe meer besoedel geraak. Dink net hoe hartseer Jehovah moes gewees het. Die gemeente wat deur sy Seun gestig is, het besoedel geraak as gevolg van afgodediens, heidense vakansiedae en gebruike en valse leringe van ongelowige filosowe en valse godsdienste. Wat het Jehovah gedoen? Net soos hy gedoen het met die ongehoorsame Israeliete, het hy sy volk in gevangenskap laat gaan. Vanaf die een of ander tyd in die tweede eeu HJ was dit moeilik om te sien wie die ware Christene was omdat daar so baie valse Christene was. Ware Christene was in ’n sekere sin gevangenes van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, maar valse Christene was alreeds deel van daardie goddelose ryk. Valse Christene het al hoe meer geword – dit was die begin van die Christendom.

11 As gevolg van die Christendom was daar honderde jare lank nie geestelike lig nie. Maar regdeur daardie tyd was daar ’n paar ware Christene, wat deur die “koring” in Jesus se illustrasie voorgestel word. Net soos die Joodse gevangenes in Esegiël 6:9, het hulle aan die ware God gedink. Van hulle was nie bang om teen die Christendom op te staan en te sê dat party van hulle leringe vals is nie. Hulle is gespot en vervolg. Sou Jehovah sy volk vir ewig sonder geestelike lig los? Nee! Soos in die geval van die Israeliete, het Jehovah sy volk in die regte mate gestraf en vir so lank as wat dit nodig was (Jer. 46:28). En Jehovah het sy volk hoop gegee. Nou gaan ons bespreek hoe Jehovah vir die Joodse gevangenes in Babilon hoop gegee het dat hulle gevangenskap tot ’n einde sou kom.

Ware Christene was honderde jare lank deur Babilon die Grote vervolg (Sien paragraaf 10, 11)

“My woede [sal] tot ’n einde kom”

12, 13. Hoekom sou Jehovah nie vir ewig kwaad bly vir sy volk in Esegiël se dag nie?

12 Jehovah het dit duidelik gemaak dat hy baie kwaad was vir sy volk, maar hy het hulle ook verseker dat hy nie vir ewig kwaad sou bly nie. Hy het byvoorbeeld gesê: “My woede [sal] tot ’n einde kom en my woede teen hulle sal bedaar, en ek sal tevrede wees. Nadat my woede teen hulle bedaar het, sal hulle moet weet dat ek, Jehovah, gepraat het omdat ek aandring op uitsluitlike toegewydheid” (Eseg. 5:13). Maar hoekom sou Jehovah nie vir ewig kwaad bly nie?

13 Onder die ongehoorsame Jode wat as gevangenes na Babilon geneem is, was daar ook lojale Jode. En Jehovah het deur middel van Esegiël voorspel dat van die Jode berou sou toon terwyl hulle in gevangenskap was. Daardie berouvolle Jode sou dink aan al die slegte dinge wat hulle gedoen het, en hulle sou Jehovah smeek om hulle te vergewe (Eseg. 6:8-10; 12:16). Esegiël was een van daardie lojale Jode, asook die profeet Daniël en sy drie vriende. Daniël het lank genoeg gelewe om die begin en die einde van die gevangenskap te sien. In Daniël hoofstuk 9 vind ons Daniël se opregte gebed waarin hy God vra om Israel se sondes te vergewe. Sy woorde was ’n goeie beskrywing van hoe duisende gevangenes gevoel het wat graag wou hê dat Jehovah hulle moes vergewe en moes seën. Dink aan hoe opwindend Esegiël se geïnspireerde beloftes van bevryding en herstelling vir hulle moes gewees het!

14. Hoekom sou Jehovah sy volk in hulle tuisland herstel?

14 Maar daar was ’n belangrike rede hoekom Jehovah sy volk vrygelaat het en rein aanbidding herstel het. Hulle lang gevangenskap sou eindig, nie omdat hulle verdien het om bevry te word nie, maar omdat dit weer Jehovah se tyd was om sy naam voor al die nasies te heilig (Eseg. 36:22). Daardie Babiloniërs sou eens en vir altyd weet dat hulle demoniese gode, soos Mardoek, niks was in vergelyking met die Soewereine Heer Jehovah nie! Kom ons bespreek vyf van Jehovah se beloftes wat Esegiël aan die ander gevangenes oorgedra het. Ons gaan eers kyk na wat elkeen van daardie beloftes vir daardie gehoorsame Jode beteken het. Dan gaan ons sien hoe daardie beloftes ’n groter vervulling gehad het.

15. Watter verandering sou daar wees in die aanbidding van die Jode wat na hulle tuisland teruggegaan het?

15 BELOFTE 1. Daar sou nie meer afgodediens of ander walglike gebruike wees wat met valse godsdiens te doen het nie. (Lees Esegiël 11:18; 12:24.) In Hoofstuk 5 van hierdie boek het ons gesien dat Jerusalem en die tempel besoedel geraak het deur gebruike van valse godsdienste, soos afgodediens. Die mense was in ’n slegte geestelike toestand en het nie ’n goeie verhouding met Jehovah gehad nie. Jehovah het deur middel van Esegiël voorspel dat die gevangenes kon uitsien na ’n tyd wanneer hulle hom weer op ’n rein manier kon aanbid. Al die ander seëninge sou afhang van die herstelling van God se reëling vir rein aanbidding.

16. Watter belofte het Jehovah oor sy volk se tuisland gemaak?

16 BELOFTE 2. Die volk sou na hulle tuisland teruggaan. Jehovah het vir die gevangenes gesê: “Ek sal die land van Israel aan julle gee” (Eseg. 11:17). Dit was ’n wonderlike belofte, want die Babiloniërs, wat God se volk gespot het, het hulle nooit enige hoop gegee om na hulle tuisland terug te gaan nie (Jes. 14:4, 17). En die land sou vrugbaar wees, en hulle sou genoeg kos en goeie werk hê. Solank hulle gehoorsaam gebly het, sou hulle nooit weer gespot word omdat hulle honger ly nie. – Lees Esegiël 36:30.

17. Wat sou gebeur in verband met offerandes aan Jehovah?

17 BELOFTE 3. Daar sou weer offerandes op Jehovah se altaar aangebied word. Soos ons in Hoofstuk 2 van hierdie boek gesien het, was offerandes onder die Wet ’n belangrike deel van rein aanbidding. Solank die Jode wat teruggegaan het, gehoorsaam gebly het en Jehovah alleen aanbid het, sou hulle offerandes aanvaarbaar gewees het vir Jehovah. Die volk sou dan vir hulle sondes vergewe kon word en na aan hulle God kon bly. Jehovah het belowe: “Die hele huis van Israel, hulle almal, [sal] my in die land dien. Daar sal hulle my goedkeuring hê, en ek sal verwag dat julle julle bydraes en julle beste offers, al julle heilige dinge, moet gee” (Eseg. 20:40). Rein aanbidding sou heeltemal herstel wees, en dit sou seëninge vir God se volk bring.

18. Hoe sou Jehovah vir sy volk sorg?

18 BELOFTE 4. Daar sou nie meer slegte herders wees nie. Die invloed van slegte manne wat die leiding geneem het, was een van die hoofredes hoekom God se volk sulke ernstige foute gemaak het. Jehovah het belowe om dit te verander. Jehovah het die volgende belofte gemaak: “Ek sal hulle nie meer toelaat om vir my skape te sorg nie . . . Ek sal my skape uit hulle mond red.” Maar Jehovah het sy lojale volk verseker: “Ek sal vir my skape sorg” (Eseg. 34:10, 12). Hoe sou hy dit doen? Hy sou gehoorsame, lojale manne as herders gebruik.

19. Wat het Jehovah oor eenheid belowe?

19 BELOFTE 5. Daar sou eenheid wees onder Jehovah se aanbidders. Dink net hoe dit lojale aanbidders ontstel het toe hulle gesien het dat daar nie eenheid onder God se volk was voordat hulle in gevangenskap gegaan het nie. Onder die invloed van valse profete en slegte herders het die volk gerebelleer teen die lojale profete wat Jehovah verteenwoordig het. Die volk het selfs in groepe verdeel wat gekant was teen mekaar. Daarom was die volgende belofte vir die Jode baie aanmoedigend: “Ek sal hulle ’n verenigde hart gee, en ek sal ’n nuwe gees in hulle sit” (Eseg. 11:19). Solank die Jode wat teruggegaan het, in eenheid met Jehovah God en met mekaar gebly het, sou niemand hulle kon oorwin nie. As ’n nasie kon hulle Jehovah weer eer gee in plaas daarvan om skande en oneer op sy naam te bring.

20, 21. Hoe het die Jode wat na hulle tuisland teruggegaan het, gesien hoe God se beloftes waar geword het?

20 Het die Jode wat van die gevangenskap af teruggegaan het, gesien hoe daardie vyf beloftes waar geword het? Dink aan wat die lojale man Josua gesê het: “Nie een woord van al die goeie beloftes wat Jehovah julle God aan julle gemaak het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles het vir julle waar geword. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Jos. 23:14). Dit was so in Josua se tyd en dit was ook so in die tyd van die gevangenes wat na hulle tuisland teruggegaan het.

21 Die Jode het opgehou om dinge te doen wat gekeer het dat hulle na aan Jehovah kon kom, soos afgodediens en ander walglike gebruike wat met valse godsdiens te doen het. Iets wat onmoontlik gelyk het, het toe gebeur – hulle het weer in hulle tuisland gaan woon, dit bewerk en ’n gelukkige lewe gehad. Een van die eerste dinge wat hulle gedoen het, was om Jehovah se altaar in Jerusalem te herbou en om aanvaarbare offerandes aan te bied (Esra 3:2-6). Jehovah het hulle geseën met goeie geestelike herders, soos die lojale priester en kopiis Esra, die goewerneurs Nehemia en Serubbabel, die hoëpriester Josua en die moedige profete Haggai, Sagaria en Maleagi. Solank as wat die volk Jehovah se leiding gevolg het, het hulle die soort eenheid ondervind wat hulle vir ’n lang tyd nie gehad het nie. – Jes. 61:1-4; lees Jeremia 3:15.

22. Hoe weet ons dat die eerste vervulling van die herstellingsprofesieë maar net ’n voorsmakie van iets baie groters was?

22 Die eerste vervulling van Jehovah se herstellingsprofesieë moes vir die Jode baie aanmoedigend gewees het! Maar dit was maar net ’n voorsmakie van iets baie groters wat nog in die toekoms sou gebeur. Hoe weet ons dit? Wel, Jehovah sou daardie beloftes net laat waar word as die volk aan hom gehoorsaam gebly het. Later het die Jode weer ongehoorsaam geword en teen Jehovah gerebelleer. Maar soos Josua gesê het, hou Jehovah altyd sy beloftes. So die beloftes sou ’n groter en permanenter vervulling hê. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

“Julle [sal] my goedkeuring hê”

23, 24. Wanneer en hoe het “die tyd wanneer alle dinge herstel word,” begin?

23 As studente van die Bybel weet ons dat die laaste dae van hierdie goddelose wêreld in 1914 begin het. Maar dit is nie iets wat Jehovah se aanbidders hartseer maak nie. Die Bybel wys dat 1914 die begin van iets baie opwindends was – “die tyd wanneer alle dinge herstel word” (Hand. 3:21). Hoe weet ons dit? Wel, wat het in 1914 in die hemel gebeur? Jesus Christus was as Koning aangestel! Hoe was dit ’n herstelling? Onthou dat Jehovah vir koning Dawid belowe het dat die koningskap vir ewig in sy geslagslyn sou wees (1 Kron. 17:11-14). Daardie koningskap was onderbreek in 607 VHJ toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het en ’n einde gemaak het aan die heerskappy van die konings in Dawid se geslagslyn.

24 Jesus, “die Seun van die mens”, was ’n nakomeling van Dawid. En daarom het hy die wetlike reg gehad om die troon van Dawid te erf (Matt. 1:1; 16:13-16; Luk. 1:32, 33). In 1914, toe Jehovah Jesus as Koning aangestel het, het “die tyd wanneer alle dinge herstel word,” begin! Nou kon Jehovah daardie perfekte Koning gebruik om die herstellingswerk voort te sit.

25, 26. (a) Wanneer het die lang gevangenskap in Babilon die Grote geëindig, en hoe weet ons dit? (Sien ook die venster “Hoekom 1919?”) (b) Watter profesieë het begin waar word vanaf 1919?

25 Een van die eerste dinge wat Christus as Koning gedoen het, was om saam met sy Vader die reëling vir rein aanbidding op die aarde te inspekteer (Mal. 3:1-5). Soos Jesus in sy illustrasie van die koring en die onkruid voorspel het, was dit vir ’n lang tyd onmoontlik om te weet wie die koring (ware gesalfde Christene) is en wie die onkruid (valse Christene) is. * Maar in 1914 het die oestyd begin, en ’n mens kon baie duidelik sien wie die onkruid en wie die koring is. In die jare voor 1914 het lojale Bybelstudente die ernstige foute van die Christendom bekendgemaak, en hulle het hulleself van daardie goddelose organisasie begin onttrek. Dit was Jehovah se tyd om hulle heeltemal te herstel. So vroeg in 1919, net ’n paar jaar nadat “die oestyd” begin het, was God se volk heeltemal bevry uit Babilon die Grote (Matt. 13:30). Die gevangenskap was verby!

26 Die herstellingsprofesieë van Esegiël het op ’n baie groter skaal begin waar word as wat God se volk in die verlede ondervind het. Kom ons kyk nou na hoe die vyf beloftes wat ons alreeds bespreek het, in moderne tye waar geword het.

27. Hoe het God sy volk gehelp om op te hou met afgodediens?

27 BELOFTE 1. Daar sou nie meer afgodediens of ander walglike gebruike wees wat met valse godsdiens te doen het nie. In die laat 1800’s en vroeë 1900’s het lojale Christene vergaderinge begin hou en gebruike begin verwerp wat met valse godsdiens te doen het. Hulle het die leringe van die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en die helse vuur verwerp omdat hierdie leringe nie uit die Bybel kom nie en hulle oorsprong in valse godsdiens het. Die gebruik van beelde in aanbidding was duidelik geïdentifiseer as afgodediens. God se volk het ook begin besef dat dit ’n vorm van afgodediens is om die kruis in aanbidding te gebruik. – Eseg. 14:6.

28. In watter sin het Jehovah se volk na hulle land teruggegaan?

28 BELOFTE 2. God se volk sou na hulle geestelike land teruggaan. Toe lojale Christene valse godsdiens agtergelaat het, het hulle in ’n geestelike land begin woon, ’n geseënde toestand, of omgewing, waar hulle nooit weer geestelik honger sou ly nie. (Lees Esegiël 34:13, 14.) Soos ons in Hoofstuk 19 van hierdie boek sal sien, het Jehovah daardie land met ’n oorvloed geestelike voedsel geseën, soos nog nooit tevore nie. – Eseg. 11:17.

29. Wat het van 1919 af met die predikingswerk gebeur?

29 BELOFTE 3. Daar sou weer offerandes op Jehovah se altaar aangebied word. In die eerste eeu HJ het Christene geleer dat hulle nie meer vir God diere-offers hoef te offer nie. Hulle moes vir hom iets gee wat baie meer waarde gehad het – hulle moes hom met hulle woorde loof en vir ander van hom vertel (Heb. 13:15). Gedurende die honderde jare van gevangenskap was daar geen georganiseerde reëling om sulke offerandes te bring nie. Maar teen die einde van die gevangenskap het God se volk al begin om sulke lofoffers te bring. Hulle was besig in die predikingswerk en het God vreugdevol by hulle vergaderinge geloof. Vanaf 1919 het “die getroue en verstandige slaaf” meer gefokus op die belangrikheid van die predikingswerk, en hulle het dit beter georganiseer (Matt. 24:45-47). Jehovah se altaar het oorgeloop van die offerandes van sy volk, wat aanhou groei het!

30. Wat het Jesus gedoen om vir sy volk goeie herders te voorsien?

30 BELOFTE 4. Daar sou nie meer slegte herders wees nie. Christus het God se volk bevry van die gewetenlose, selfsugtige valse herders van die Christendom. Herders in die Christengemeente wat soos daardie valse herders opgetree het, was uit hulle posisies verwyder (Eseg. 20:38). Jesus, die goeie herder, het seker gemaak dat daar goed vir sy skape gesorg word. In 1919 het hy die getroue en verstandige slaaf aangestel. Daardie klein groepie lojale gesalfde Christene het die leiding geneem om goed vir God se volk te sorg en om geestelike voedsel vir hulle te voorsien. Later is ouermanne opgelei om te help om vir “die kudde van God” te sorg (1 Pet. 5:1, 2). Die woorde in Esegiël 34:15, 16 is al baie keer gebruik om Christenherders te herinner aan hoe Jehovah God en Jesus Christus wil hê die skape behandel moet word.

31. Hoe het Jehovah die profesie in Esegiël 11:19 laat waar word?

31 BELOFTE 5. Daar sou eenheid wees onder Jehovah se aanbidders. Deur die geskiedenis het die Christendom in duisende godsdiensgroepe verdeel, insluitende baie sektes en kleiner groepies, wat glad nie eenheid onder mekaar het nie. Maar Jehovah het iets wonderliks gedoen – hy het sy volk verenig. Jehovah het deur middel van Esegiël belowe: “Ek sal hulle ’n verenigde hart gee.” En hierdie belofte het op ’n wonderlike manier waar geword (Eseg. 11:19). Daar is regoor die wêreld miljoene volgelinge van Christus van verskillende rasse en uit verskillende godsdienstige, ekonomiese en sosiale agtergronde, en tog sien ons ’n wonderlike eenheid onder God se volk. Hulle almal leer dieselfde Bybelwaarhede en doen dieselfde werk. Op die laaste nag van Jesus se lewe op aarde het hy gebid dat sy volgelinge verenig moet wees. (Lees Johannes 17:11, 20-23.) In ons dag het Jehovah Jesus se gebed op ’n wonderlike manier beantwoord.

32. Hoe voel jy oor die feit dat die herstellingsprofesieë waar geword het? (Sien ook die venster “Profesieë oor gevangenskap en herstelling”.)

32 Is jy nie bly om te lewe gedurende hierdie opwindende tyd wanneer rein aanbidding herstel word nie? Ons sien hoe Esegiël se profesieë vandag in elke aspek van ons aanbidding waar word. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah se volk nou sy goedkeuring het, net soos hy deur middel van Esegiël voorspel het: “Julle [sal] my goedkeuring hê” (Eseg. 20:41). Besef jy wat ’n groot voorreg jy het om deel te wees van die verenigde, goed versorgde volk wat Jehovah regoor die wêreld prys – ’n volk wat ná honderde jare van geestelike gevangenskap bevry is? Maar party van Esegiël se herstellingsprofesieë sal in die toekoms ’n groter vervulling hê.

“Soos die tuin van Eden”

33-35. (a) Wat het die profesie in Esegiël 36:35 vir die Joodse gevangenes beteken? (b) Wat beteken daardie profesie vir Jehovah se volk vandag? (Sien ook die venster “Die tyd wanneer alle dinge herstel word”.)

33 Soos ons gesien het, het “die tyd wanneer alle dinge herstel word,” in 1914 begin. Dit was toe Jesus, die erfgenaam van Dawid, op die troon van Dawid gaan sit het (Eseg. 37:24). Toe het Jehovah Christus gebruik om rein aanbidding onder sy volk te herstel ná honderde jare van geestelike gevangenskap. Maar het Christus se herstellingswerk daar opgehou? Glad nie! Daardie werk sal in die toekoms op ’n wonderlike manier voortgaan soos Esegiël se profesieë vir ons wys.

34 Dink byvoorbeeld aan hierdie geïnspireerde woorde: “Mense sal sê: ‘Die verwoeste land het soos die tuin van Eden geword’” (Eseg. 36:35). Wat het daardie belofte vir Esegiël en die ander gevangenes beteken? Hulle het sekerlik nie verwag dat die profesie ten volle en letterlik vervul sou word nie. Hulle het nie gedink dat die land sou wees soos die oorspronklike tuin, of Paradys, wat Jehovah self geplant het nie (Gen. 2:8). Hulle het eerder verstaan dat Jehovah hulle verseker het dat hulle land pragtig en vrugbaar sou wees.

35 Wat beteken hierdie belofte vir ons vandag? Ons verwag nie nou ’n letterlike vervulling in hierdie goddelose wêreld wat deur Satan die Duiwel beheer word nie. Ons besef eerder dat daardie woorde vandag in ’n geestelike sin waar word. As Jehovah se knegte is ons in ’n herstelde geestelike land, of omgewing, waar ons hom dien en waar heilige diens die belangrikste ding in ons lewe is. Hierdie geestelike land word geleidelik al hoe meer soos ’n paradys. Maar wat van die toekoms?

36, 37. Watter beloftes sal in die toekoms in die Paradys waar word?

36 Ná die groot oorlog van Armageddon sal Jesus selfs die fisiese aarde herstel. Wanneer Jesus vir ’n duisend jaar regeer, sal hy mense help om die aarde in ’n wêreldwye tuin van Eden, ’n paradys, te verander, net soos Jehovah altyd wou hê (Luk. 23:43). Dan sal alle mense in vrede met mekaar lewe en vir die aarde sorg. Daar sal nêrens enige gevaar wees nie. Dink aan die tyd wanneer hierdie belofte waar sal word: “Ek sal ’n vredesverbond met hulle maak, en ek sal die gevaarlike wilde diere uit die land laat verdwyn, sodat hulle veilig in die wildernis kan woon en in die woude kan slaap.” – Eseg. 34:25.

37 Kan jy dink hoe dit sal wees? Jy sal na enige plek op hierdie aarde kan gaan, sonder om bang te wees. Diere sal niks aan jou doen nie. Daar sal geen gevaar wees nie. Jy sal alleen diep in die woud kan loop en die pragtige natuur kan geniet. Jy sal selfs daar kan slaap omdat jy weet dat jy veilig en uitgerus wakker sal word!

Dink aan ’n tyd wanneer dit selfs veilig sal wees om “in die woude [te] slaap” (Sien paragraaf 36, 37)

38. Hoekom sien jy uit na die tyd wanneer die belofte in Esegiël 28:26 waar sal word?

38 Hierdie belofte sal ook waar word: “Hulle sal in veiligheid [in die land] woon en huise bou en wingerde plant, en hulle sal in veiligheid woon wanneer ek almal rondom hulle wat hulle sonder respek behandel, oordeel en straf, en hulle sal moet weet dat ek Jehovah hulle God is” (Eseg. 28:26). Wanneer al Jehovah se vyande nie meer daar is nie, sal ons vrede en veiligheid regoor die aarde geniet. Ons sal vir die aarde sorg en ons sal ook vir onsself en vir ons familie kan sorg deur gerieflike huise te bou en wingerde te plant.

39. Hoekom kan jy seker wees dat profesieë wat Esegiël oor die Paradys neergeskryf het, waar sal word?

39 Klink hierdie beloftes vir jou te goed om waar te wees? As dit die geval is, moet jy dink aan alles wat jy alreeds gesien het gedurende hierdie tyd “wanneer alle dinge herstel word”. Al het Satan God se volk erg teëgestaan, het Jehovah Jesus gebruik om rein aanbidding te herstel gedurende hierdie wêreld se donkerste tyd. Dit is ’n kragtige bewys dat al God se beloftes in die boek Esegiël waar sal word!

^ par. 2 Die meeste van die Joodse gevangenes het in dorpies buite Babilon gebly. Esegiël het byvoorbeeld onder die Jode by die Kebar-rivier gebly (Eseg. 3:15). Maar daar was ’n paar Joodse gevangenes wat in die stad Babilon gebly het. Van hulle was “dié uit die koninklike familie en uit ander belangrike families”. – Dan. 1:3, 6; 2 Kon. 24:15.

^ par. 25 Byvoorbeeld, ons kan nie bevestig watter Protestantse Hervormers van die 16de eeu dalk gesalfde Christene was nie.