Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 13

“Beskryf die tempel”

“Beskryf die tempel”

ESEGIËL 43:10

HOOFPUNT: Wat Esegiël se indrukwekkende tempelvisioen beteken

1-3. (a) Hoekom het die visioen van ’n indrukwekkende tempelgebied Esegiël dalk vertroos? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

ESEGIËL is nou 50 jaar oud. Hy is nou al 25 jaar lank in gevangenskap. Die tempel in Jerusalem is lankal vernietig. As Esegiël ooit gehoop het om daar as ’n priester te dien, het hy nou besef dat daardie droom seker nooit sal waar word nie. Die gevangenskap sou eers oor omtrent 56 jaar eindig. So Esegiël het geweet dat hy seker nie lank genoeg sou lewe om te sien hoe Jehovah se volk na hulle tuisland teruggaan nie, en die kanse was nog minder dat hy sou sien hoe die tempel herbou word (Jer. 25:11). Voel hy miskien hartseer hieroor?

2 Uit liefde gee Jehovah vir Esegiël nou ’n visioen met baie details wat hom baie sou vertroos en vir hom hoop sou gee! In daardie visioen word die profeet na sy tuisland teruggebring en op ’n baie hoë berg neergesit. Op hierdie hoë berg het hy “’n man gesien wat soos koper geblink het”. Daardie engel het hom ’n toer gegee van ’n indrukwekkende tempelgebied. (Lees Esegiël 40:1-4.) Dit voel asof hy regtig daar is! Daardie ondervinding het Esegiël se geloof seker versterk, maar dit het hom dalk ook oorweldig laat voel en vrae by hom laat ontstaan. Daardie tempel het baie soos die tempel in Jerusalem gelyk, maar daar was ook groot verskille.

3 Hierdie interessante visioen word gevind in die laaste nege hoofstukke van Esegiël. Ons gaan nou bespreek wat ons in gedagte moet hou as ons hierdie visioen wil verstaan. Dan sal ons bespreek of die tempel wat Esegiël gesien het, die groot geestelike tempel was waarvan die apostel Paulus honderde jare later gepraat het. En ons sal bespreek hoekom hierdie visioen vir Esegiël en die ander gevangenes belangrik was.

Wat ons in gedagte moet hou

4. Wat het ons publikasies in die verlede oor die tempelvisioen gesê, maar wat weet ons nou?

4 In die verlede het ons publikasies gesê dat Esegiël Jehovah se groot geestelike tempel gesien het, die een waaroor die apostel Paulus in sy brief aan die Hebreërs geskryf het. * Daarom het dit sin gemaak om ’n simboliese betekenis te gee aan baie van die kenmerke van die tempel in Esegiël se visioen op grond van Paulus se verduideliking van die tabernakel. Maar ná diep studie en gebed het dit duidelik geword dat Esegiël se tempelvisioen ’n baie eenvoudiger verduideliking het.

5, 6. (a) Wat het die apostel Paulus oor party details van die tabernakel gesê, en hoe het hy gewys dat hy nederig is? (b) Hoe kan ons die apostel Paulus navolg as ons Esegiël se tempelvisioen wil verstaan?

5 Ons moenie ’n profetiese of ’n simboliese betekenis vir elke kenmerk van die tempel in Esegiël se visioen soek nie. Hoekom nie? Kom ons kyk na ’n interessante voorbeeld. Toe Paulus die tabernakel en die geestelike tempel bespreek het, het hy details van die tabernakel genoem, soos die goue vuurbak, die deksel van die ark en die goue houer waarin die manna was. Het hy gesê dat elkeen van daardie dinge ’n profetiese betekenis het? Die heilige gees het hom nie beweeg om dit te doen nie. Paulus het eerder geskryf: “Dit is nie nou die tyd om in besonderhede oor hierdie dinge te praat nie” (Heb. 9:4, 5). Paulus was bereid om die leiding van die heilige gees te volg en om nederig op Jehovah te wag. – Heb. 9:8.

6 Ons moet dieselfde doen wanneer dit kom by Esegiël se tempelvisioen. Dit bevat ook baie details. En dit is beter om op Jehovah te wag vir verdere verduidelikings, as dit nodig is. (Lees Miga 7:7.) Maar het Jehovah se heilige gees ons gehelp om hierdie visioen beter te verstaan? Dit het beslis!

Het Esegiël die groot geestelike tempel gesien?

7, 8. (a) Wat het verdere studie ons gehelp om te verstaan? (b) Hoe het die tempel wat Esegiël gesien het, verskil van die geestelike tempel wat Paulus beskryf het?

7 Soos ons vroeër genoem het, het ons publikasies jare lank verduidelik dat Esegiël Jehovah se groot geestelike tempel gesien het, die een waaroor Paulus in sy brief aan die Hebreërs geskryf het. Maar verdere studie het ons tot die gevolgtrekking laat kom dat die tempel wat Esegiël gesien het, nie die groot geestelike tempel kon gewees het nie. Hoekom nie?

8 Eerstens, die tempel wat Esegiël gesien het, pas nie by Paulus se verduideliking nie. Hoekom sê ons so? Die apostel Paulus het duidelik gesê dat die tabernakel van Moses se dag ’n skaduwee en ’n voorbeeld van iets groters was. Die tabernakel en die tempels van Salomo en Serubbabel, wat min of meer dieselfde ontwerp gehad het, het ’n afdeling gehad wat die “Allerheiligste” genoem was. Paulus het na daardie afdeling verwys as “’n heiligdom . . . wat met hande gemaak is” en het verduidelik dat dit net “’n kopie van die werklikheid is”. Paulus het verduidelik dat die werklikheid “die hemel self” was (Heb. 9:3, 24). Het Esegiël die hemel gesien? Nee. Niks in Esegiël se visioen laat ons dink dat hy hemelse dinge gesien het nie. – Vergelyk Daniël 7:9, 10, 13, 14.

9, 10. Wanneer dit by offerandes kom, hoe het die tempel in Esegiël se visioen verskil van die groot geestelike tempel wat Paulus beskryf het?

9 Nog ’n groot verskil tussen Esegiël se visioen en Paulus se verduideliking het te doen met offerandes. Esegiël het gehoor hoe die volk, die hoofmanne en die priesters baie instruksies oor offerandes ontvang het. Hulle moes offerandes vir hulle eie sondes offer. Hulle moes ook vredeoffers offer, wat hulle heel moontlik saam in die tempel se eetkamer kon eet (Eseg. 43:18, 19; 44:11, 15, 27; 45:15-20, 22-25). Word sulke offerandes in die groot geestelike tempel geoffer?

Die tempel in Esegiël se visioen is nie die groot geestelike tempel nie

10 Ons vind die antwoord in Paulus se verduideliking: “Toe Christus gekom het as ’n hoëpriester van die goeie dinge wat alreeds gebeur het, het hy deur die groter en volmaakter tent gegaan wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê wat nie van hierdie skepping is nie. Hy het eens en vir altyd in die heiligdom ingegaan, nie met die bloed van bokke en jong bulle nie, maar met sy eie bloed, en hy het ’n ewige verlossing vir ons verkry” (Heb. 9:11, 12). So daar was net een offer wat eens en vir altyd in die groot geestelike tempel geoffer was. Dit was die losprysoffer, en die Groter Hoëpriester, Jesus Christus, het dit self geoffer. Dit is duidelik dat die tempel in Esegiël se visioen, waar baie bokke en bulle geoffer was, nie die groot geestelike tempel was nie.

11. Hoekom was dit nie in Esegiël se dag God se tyd om waarhede oor die groot geestelike tempel te openbaar nie?

11 ’n Tweede rede hoekom Esegiël nie die groot geestelike tempel kon gesien het nie, was dat dit nog nie God se tyd was om sulke waarhede te openbaar nie. Onthou dat Esegiël se visioen eers vir die Joodse gevangenes in Babilon bedoel was. Hulle was onder die Wet van Moses. Ná die gevangenskap moes hulle na Jerusalem teruggaan en gehoorsaam wees aan wat daardie Wet oor rein aanbidding gesê het deur die tempel en die altaar te herbou. Dan sou hulle aanhou om offerandes daar offer, en hulle het dit nog amper 600 jaar lank gedoen. Dink net aan wat kon gebeur het as Esegiël se visioen wel vir die Jode die geestelike tempel gewys het – ’n tempel waarin die Hoëpriester sy eie lewe as ’n offerande sou offer, waarna alle ander offerandes tot ’n einde sou kom! Hoe sou hulle so ’n visioen verstaan? Sou dit hulle minder vasbeslote maak om die Wet van Moses te gehoorsaam? Soos gewoonlik, openbaar Jehovah waarhede net op die regte tyd en net wanneer sy volk gereed is daarvoor.

12-14. Wat is die verband tussen die tempel wat Esegiël gesien het en Paulus se verduideliking van die geestelike tempel? (Sien die venster “Verskillende tempels, verskillende lesse”.)

12 Wat is dan die verband tussen Esegiël se tempelvisioen en Paulus se verduideliking van die geestelike tempel? Hou in gedagte dat Paulus nie sy bespreking gebaseer het op Esegiël se tempelvisioen nie. Hy het dit eerder gebaseer op die tabernakel van Moses se dag. Paulus het wel ’n hele paar kenmerke genoem van die tempels van Salomo en Serubbabel, wat ook in Esegiël se tempelvisioen genoem word. Maar oor die algemeen het Esegiël en Paulus op verskillende dinge gefokus. * Hulle beskrywings is nie dieselfde nie, maar dit komplimenteer mekaar. Hoe?

13 Ons kan die verband tussen die twee Bybelverslae so beskryf: Paulus leer ons oor Jehovah se reëling vir aanbidding, maar Esegiël leer ons oor Jehovah se standaarde vir aanbidding. Om ons oor Jehovah se reëling vir rein aanbidding te leer, sê Paulus wat sekere kenmerke van die geestelike tempel beteken, soos die hoëpriester, die offerandes, die altaar en die Allerheiligste. Maar om Jehovah se hoë standaarde vir rein aanbidding te beklemtoon, gee Esegiël se tempelvisioen ons ’n baie goeie beskrywing wat ons help om baie lesse oor Jehovah se standaarde te leer.

14 Beteken dit dat Esegiël se visioen minder belangrik is vir ons vandag? Beslis nie. Om te sien hoe die visioen ons kan help, kom ons kyk na hoe dit die lojale Jode in Esegiël se dag en daarna heel moontlik gehelp het.

Wat het die visioen vir die Joodse gevangenes beteken?

15. (a) Wat was die tema van Esegiël se visioen? (b) Watter verskil is daar tussen Esegiël hoofstuk 8 en Esegiël hoofstuk 40 tot 48?

15 Om die Bybel se antwoord op daardie vraag te kry, kom ons bespreek drie vrae wat ons sal help om die volle prentjie te kry. Eerstens, wat was die tema van die visioen? Die tema was dat rein aanbidding herstel sou word! En Esegiël het beslis geweet dat rein aanbidding herstel sou word. Teen daardie tyd het hy alreeds die inligting van Esegiël hoofstuk 8 geskryf, waarin Jehovah deeglik beskryf het in watter slegte toestand die tempel in Jerusalem was. En Esegiël moes seker baie bly gewees het om oor iets heeltemal anders te skryf, wat ons nou in hoofstuk 40 tot 48 kan lees. Hier sien ons nie hoe rein aanbidding besoedel is nie, maar ons sien rein aanbidding soos dit moes wees – die perfekte voorbeeld van hoe Jehovah volgens die Wet van Moses aanbid moes word.

16. Hoe het Esegiël se tempelvisioen bevestig wat Jesaja meer as 100 jaar vroeër voorspel het?

16 Voordat die aanbidding van Jehovah herstel kon word, moes dit eers verhoog word. Die profeet Jesaja was meer as 100 jaar vroeër geïnspireer om te skryf: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal bo die heuwels uitstaan” (Jes. 2:2). Jesaja het duidelik voorspel dat Jehovah se rein aanbidding herstel en verhoog sou word, asof dit op die hoogste berg geplaas word. En waar was die huis van Jehovah in Esegiël se visioen? Dit was “op ’n baie hoë berg”! (Eseg. 40:2). So Esegiël se visioen het bevestig dat rein aanbidding herstel sou word.

Die tempel wat Esegiël gesien het, was op ’n baie hoë berg (Sien paragraaf 16)

17. Gee ’n oorsig van Esegiël hoofstuk 40 tot 48.

17 Kom ons kyk na ’n kort oorsig van wat Esegiël gesien en gehoor het volgens Esegiël hoofstuk 40 tot 48. Hy het gesien hoe die engel die poorte, die muur, die voorhowe en die heiligdom van die tempel meet (Eseg. 40–42). Toe het iets wonderliks gebeur: Die heerlikheid van Jehovah het in die tempel ingegaan! Jehovah het vir sy ongehoorsame volk, die priesters en die hoofmanne raad gegee (Eseg. 43:1-12; 44:10-31; 45:9-12). Esegiël het ’n rivier uit die heiligdom na die Dooie See sien vloei, en dit het lewe en seëninge gebring (Eseg. 47:1-12). En hy het gesien dat die land verdeel was in dele wat presies afgemeet was en dat die sentrum vir rein aanbidding naby die middel van die land was (Eseg. 45:1-8; 47:13–48:35). Wat het dit alles beteken? Dit is duidelik dat Jehovah sy volk verseker het dat rein aanbidding herstel en verhoog sou word. Hy sou sy huis van aanbidding met sy teenwoordigheid seën, en hy sou seëninge uit daardie tempel laat vloei, wat tot genesing, lewe en orde in die herstelde land sou lei.

Die tempel wat Esegiël gesien het, het op ’n indrukwekkende manier gewys hoe Jehovah rein aanbidding sou herstel (Sien paragraaf 17)

18. Moes die tempelvisioen letterlik opgeneem word? Verduidelik.

18 Tweedens, moes die visioen letterlik opgeneem word? Nee. Esegiël en die ander gevangenes aan wie hy sy visioen beskryf het, het heel moontlik onmiddellik besef dat die visioen nie letterlik opgeneem moes word nie. Hoekom nie? Onthou dat Esegiël hierdie tempel op “’n baie hoë berg” gesien het. Al het hierdie beskrywing mooi gepas by Jesaja se profesie, het dit niks te doen gehad met die eintlike plek waar die tempel was nie. Salomo se tempel was voorheen op die berg Moria in Jerusalem, en die tempel sou eendag daar herbou word. Maar was dit “’n baie hoë berg”? Nee. Om die waarheid te sê, die berg Moria is omring deur ander berge wat net so hoog of selfs hoër is. En die tempelgebied wat Esegiël gesien het, was massief. Daardie massiewe tempelgebied en sy mure was te groot om bo-op die berg Moria te pas. Dit was selfs groter as die hele stad Jerusalem van Salomo se dag! Die gevangenes het seker ook nie verwag dat ’n letterlike rivier uit die tempel in die Dooie See sou vloei en dat dit daardie lewelose water sou genees nie. En omdat daar so baie berge in die Beloofde Land was, kon daar nie reguit, parallelle grense tussen die stamme wees, soos in die visioen beskryf was nie. So die visioen moes nie letterlik opgeneem word nie.

19-21. Watter uitwerking wou Jehovah hê moes Esegiël se visioen op die Israeliete hê, en hoekom sou dit hulle dalk so laat voel het?

19 Derdens, watter uitwerking moes die visioen op die Israeliete gehad het? Wanneer die Israeliete nagedink het oor Jehovah se hoë standaarde vir rein aanbidding, moes dit hulle skaam laat voel het. Jehovah het vir Esegiël gesê: “Beskryf die tempel aan die huis van Israel.” Esegiël moes hierdie tempel so goed beskryf dat die Israeliete so te sê “die ontwerp daarvan [kon] bestudeer”. Hoekom moes die Israeliete oor daardie tempel nadink? Soos ons gesien het, was dit nie omdat hulle die tempel moes bou nie. Dit was eerder “sodat hulle skaam [kon] kry weens hulle sondes,” soos Jehovah gesê het. – Lees Esegiël 43:10-12.

20 Hoekom sou hierdie visioen die harte van opregte mense raak en hulle skaam laat kry? Jehovah het vir Esegiël gesê: “Mensekind, skenk aandag, kyk, en luister mooi na alles wat ek vir jou sê oor die wetsbepalings en die wette van die tempel van Jehovah” (Eseg. 44:5). Esegiël het oor en oor van wetsbepalings en wette gehoor (Eseg. 43:11, 12; 44:24; 46:14). Esegiël was ook baie keer herinner aan Jehovah se standaarde – selfs die standaard vir die lengte van ’n el en die standaard vir akkurate gewigte (Eseg. 40:5; 45:10-12; vergelyk Spreuke 16:11). In die oorspronklike taal het Esegiël woorde soos “meet” en “afmeet” meer as 50 keer in hierdie visioen alleen gebruik!

21 Mates, gewigte, wette, wetsbepalings – wat wou Jehovah vir sy volk sê? Dit lyk asof hy hulle op ’n kragtige manier aan die volgende belangrike waarheid herinner het: Jehovah is die enigste een wat die standaarde stel vir rein aanbidding. Die mense wat nie by daardie standaarde gebly het nie, moes skaam kry! Maar hoe het die visioen vir die Jode sulke lesse geleer? In die volgende hoofstuk sal ons ’n paar spesifieke voorbeelde bespreek. Dit sal ons help om beter te verstaan wat hierdie wonderlike visioen vandag vir ons beteken.

Hoekom sou die tempelvisioen opregte mense laat skaam kry? (Sien paragraaf 19-21)

^ par. 4 Die geestelike tempel is Jehovah se reëling vir rein aanbidding wat gebaseer is op die losprysoffer van Jesus Christus. Ons verstaan dat dit in 29 HJ begin bestaan het.

^ par. 12 Byvoorbeeld, Paulus het gefokus op die hoëpriester en sy rol op die jaarlikse Versoendag (Heb. 2:17; 3:1; 4:14-16; 5:1-10; 7:1-17, 26-28; 8:1-6; 9:6-28). Maar in Esegiël se visioen word niks gesê van die hoëpriester of die Versoendag nie.