Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 8

“Ek sal een herder . . . aanstel”

“Ek sal een herder . . . aanstel”

ESEGIËL 34:23

HOOFPUNT: Vier profesieë oor die Messias en hoe dit deur middel van Christus waar geword het

1-3. Hoekom is Esegiël hartseer, en wat skryf hy nou neer?

ESEGIËL is al ses jaar lank ’n gevangene in Babilon. * Sy tuisland, Juda, is honderde kilometers daarvandaan. Die profeet is baie hartseer terwyl hy dink aan die slegte manier waarop daar oor Juda regeer word. Hy het al baie konings sien kom en gaan.

2 Esegiël was gebore toe die lojale koning Josia regeer het. Esegiël was seker baie bly toe hy gehoor het van al die dinge wat Josia gedoen het om afgodsbeelde in Juda te vernietig en om rein aanbidding daar te herstel (2 Kron. 34:1-8). Maar die dinge wat Josia gedoen het, het nie tot ’n permanente verandering gelei nie, want die meeste van die konings ná hom het aangehou om afgode te aanbid. Dit verbaas ons nie dat die nasie gedurende die tyd van hierdie slegte konings baie onsedelik geword het en besig was om hulle verhouding met Jehovah te verloor nie. Was hierdie nasie heeltemal verlore? Glad nie!

3 Jehovah laat nou sy lojale profeet ’n profesie neerskryf – die eerste van ’n paar profesieë oor die Messias. Hierdie toekomstige Heerser en Herder sal rein aanbidding permanent herstel en liefdevol vir Jehovah se skape sorg. Dit sal goed wees as ons daardie profesieë bestudeer, want die vervulling daarvan raak ons toekoms. Kom ons kyk na vier profesieë oor die Messias in die boek Esegiël.

“’n Sagte takkie” word “’n indrukwekkende sederboom”

4. Watter profesie het Esegiël vertel, en hoe het Jehovah daardie profesie ingelei?

4 In ongeveer 612 VHJ het Jehovah met Esegiël gepraat en vir hom ’n profesie vertel wat wys hoe die Messias se heerskappy gaan wees en hoe belangrik dit is om op sy Koninkryk te vertrou. Jehovah het die profesie ingelei deur vir Esegiël te sê om vir die ander gevangenes ’n profetiese raaisel te vertel. Die raaisel het gewys dat Juda se konings dislojaal was en dat die nasie ’n regverdige heerser, die Messias, nodig gehad het. – Eseg. 17:1, 2.

5. Waaroor gaan die raaisel?

5 Lees Esegiël 17:3-10. Waaroor gaan die raaisel? ’n “Groot arend” het die heel boonste takkie van ’n sederboom afgepluk en dit “in ’n stad van handelaars” neergesit. Toe het die arend “van die saad van die land” geneem en dit geplant in ’n vrugbare stuk grond “by baie waters”. Die saad het gegroei en ’n “welige wingerdstok” geword. Toe het daar nog ’n “groot arend” verskyn. Die wingerdstok het toe sy wortels “gretig na” die tweede arend toe uitgestrek omdat dit oorgeplant wou word op ’n ander plek met baie waters. Jehovah het die wingerdstok daarvoor veroordeel en het gesê dat sy wortels uitgeruk sal word en dat dit “heeltemal [sal] uitdroog”.

Die eerste groot arend het koning Nebukadnesar van Babilon afgebeeld (Sien paragraaf 6)

6. Verduidelik wat die raaisel beteken.

6 Wat het die raaisel beteken? (Lees Esegiël 17:11-15.) In 617 VHJ het koning Nebukadnesar van Babilon (die eerste “groot arend”) Jerusalem beleër. Hy het koning Jojagin van Juda (die “heel boonste takkie”) uit sy posisie as koning verwyder en hom na Babilon (“’n stad van handelaars”) gebring. Nebukadnesar het Sedekia (“die saad van die land”, dit wil sê iemand uit die koninklike geslagslyn) op die troon in Jerusalem gesit. En Nebukadnesar het die nuwe koning van Juda voor God laat sweer dat hy lojaal aan hom sal bly (2 Kron. 36:13). Maar Sedekia het nie by sy woord gebly nie. Hy het teen Babilon gerebelleer en die Farao van Egipte (die tweede “groot arend”) vir militêre hulp gevra, maar dit was heeltemal verniet. Jehovah het Sedekia veroordeel omdat hy so dislojaal was (Eseg. 17:16-21). Op die ou end was Sedekia uit sy posisie as koning verwyder, en hy het in ’n tronk in Babilon gesterf. – Jer. 52:6-11.

7. Watter lesse kan ons uit die profetiese raaisel leer?

7 Watter lesse kan ons uit die profetiese raaisel leer? Eerstens, as ware aanbidders moet ons by ons woord bly. Jesus het gesê: “Laat julle ‘ja’ net ja wees en julle ‘nee’, nee” (Matt. 5:37). As dit vir ons nodig is om voor God te sweer om die waarheid te praat – soos wanneer ons in ’n hof moet getuig – beskou ons dit as ’n ernstige saak. Tweedens, ons moet versigtig wees wie ons vertrou. Die Bybel waarsku ons: “Moenie julle vertroue in magtiges stel nie. Moenie vertrou op mense, wat nie redding kan bring nie.” – Ps. 146:3.

8-10. Hoe het Jehovah die toekomstige Heerser, die Messias, beskryf, en hoe het die profesie waar geword? (Sien ook die venster “’n Profesie oor die Messias – Die indrukwekkende sederboom”.)

8 Maar daar is ’n heerser wat ons heeltemal kan vertrou. Nadat Jehovah die profetiese raaisel oor die oorgeplante takkie gegee het, het hy dieselfde poëtiese beeld gebruik om die toekomstige Heerser, die Messias, te beskryf.

9 Wat die profesie sê. (Lees Esegiël 17:22-24.) Nou fokus die profesie nie meer op die groot arende nie, maar op wat Jehovah gaan doen. Hy sal ’n sagte takkie “van die top van die hoë sederboom vat en dit plant . . . op ’n hoë en verhewe berg”. Hierdie takkie sal groei en “’n indrukwekkende sederboom” word, en “elke soort voël sal daaronder woon”. Dan sal “al die bome van die veld” weet dat dit Jehovah was wat hierdie indrukwekkende boom laat groei het.

10 Hoe die profesie waar geword het. Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, wat uit die koninklike geslagslyn van Dawid gekom het (dit wil sê “die hoë sederboom”) geneem en hom op die hemelse berg Sion (die “hoë en verhewe berg”) geplant (Ps. 2:6; Jer. 23:5; Op. 14:1). Jehovah het vir sy Seun, wat deur sy vyande as “die laagste van die mensdom” beskou is, ’n hoë posisie gegee, dit wil sê “die troon van sy vader Dawid” (Dan. 4:17; Luk. 1:32, 33). Die Koning, Jesus Christus, sal soos ’n indrukwekkende sederboom wees en sal oor die hele aarde regeer, en hy sal seëninge bring vir al die mense oor wie die Koninkryk regeer. Ons kan hierdie Heerser beslis vertrou. Wanneer Jesus in die Koninkryk regeer, sal alle gehoorsame mense op die aarde “in veiligheid woon en . . . nie vir rampspoed bang wees nie”. – Spr. 1:33.

11. Watter belangrike les kan ons leer uit die profesie oor die “sagte takkie” wat “’n indrukwekkende sederboom” word?

11 Wat ons uit die profesie kan leer. Die opwindende profesie oor die “sagte takkie” wat “’n indrukwekkende sederboom” word, help ons om ’n baie belangrike vraag te beantwoord: Op wie moet ons vertrou? Dit is baie dom om op die regerings en hulle militêre mag te vertrou. As ons ware veiligheid wil hê, moet ons heeltemal vertrou op God se aangestelde Koning, Jesus Christus. Die hemelse regering onder sy beheer, is die enigste hoop vir die mensdom. – Op. 11:15.

“Die een . . . wat die wetlike reg het”

12. Hoe het Jehovah dit duidelik gemaak dat hy nie sy verbond met Dawid gebreek het nie?

12 Toe Jehovah verduidelik het wat die profetiese raaisel oor die twee arende beteken, het Esegiël verstaan dat Sedekia, ’n dislojale koning in die koninklike geslagslyn van Dawid, uit sy posisie as koning verwyder sou word en as ’n gevangene na Babilon geneem sou word. Dalk het die profeet gewonder: ‘Wat van die verbond wat God met Dawid gemaak het dat ’n koning uit Dawid se geslagslyn vir ewig sou regeer?’ (2 Sam. 7:12, 16). As Esegiël oor so iets gewonder het, het hy nie lank vir ’n antwoord gewag nie. In ongeveer 611 VHJ, toe die Jode al sewe jaar in gevangenskap was en Sedekia nog koning in Juda was, het ‘Jehovah met Esegiël gepraat’ (Eseg. 20:2). Jehovah het hom nog ’n profesie oor die Messias laat vertel, en daardie profesie het dit duidelik gemaak dat God nie sy verbond met Dawid gebreek het nie. Om die waarheid te sê, die profesie het gewys dat die toekomstige Heerser die wetlike reg sou hê om as Dawid se erfgenaam te regeer.

13, 14. Waaroor gaan die profesie in Esegiël 21:25-27, en hoe het die profesie waar geword?

13 Wat die profesie sê. (Lees Esegiël 21:25-27.) Jehovah het deur Esegiël met die “goddelose hoofman van Israel” gepraat en dit duidelik gemaak dat hy nou gestraf gaan word. Jehovah het vir hierdie goddelose heerser gesê dat sy “tulband” en “kroon” (wat koninklike mag voorstel) van hom af weggeneem sou word. Dan sou heersers wat “laag” was, verhoog word en dié wat “hoog” was, verlaag word. Die heersers wat verhoog is, sou aanhou regeer, maar net totdat “die een kom wat die wetlike reg het,” en dan sou Jehovah die Koninkryk aan daardie een gee.

14 Hoe die profesie waar geword het. In 607 VHJ is die ‘hoë’ koninkryk van Juda verlaag toe die Babiloniërs Jerusalem, die hoofstad van Juda, vernietig het, koning Sedekia uit sy posisie as koning verwyder het en hom gevange geneem het. Toe daar nie meer ’n koning in Dawid se geslagslyn in Jerusalem was nie, was die ‘lae’ heidense heersers verhoog, en toe was hulle in beheer van die aarde – maar net vir ’n beperkte tyd. Die Heidense Tye, of “die vasgestelde tye van die nasies”, het in 1914 geëindig toe Jehovah Jesus Christus as Koning aangestel het (Luk. 21:24). As ’n nakomeling van koning Dawid het Jesus beslis “die wetlike reg” gehad om die Koning van God se Koninkryk te wees * (Gen. 49:10). Jehovah het belowe om vir Dawid ’n permanente erfgenaam te gee van ’n Koninkryk wat vir ewig sou bestaan, en Hy het hierdie belofte deur middel van Jesus nagekom. – Luk. 1:32, 33.

Jesus het die wetlike reg om Koning van God se Koninkryk te wees (Sien paragraaf 15)

15. Hoekom kan ons die Koning, Jesus Christus, heeltemal vertrou?

15 Wat ons uit die profesie kan leer. Ons kan die Koning, Jesus Christus, heeltemal vertrou. Hoekom? Wêreldheersers word dalk deur mense gekies of neem dalk ’n regering onwettig oor, maar Jesus is deur Jehovah gekies en is “’n koninkryk gegee” waarop hy die wetlike reg het (Dan. 7:13, 14). Ons kan die Koning wat deur Jehovah self aangestel is, beslis vertrou!

“My kneg Dawid” sal “hulle herder word”

16. Hoe voel Jehovah oor sy skape, en hoe het “die herders van Israel” die skape in Esegiël se dag behandel?

16 Jehovah, die Hoofherder, gee baie om vir sy skape – sy aanbidders op die aarde (Ps. 100:3). Hy stel mense as onderherders aan om vir sy skape te sorg, en hy stel baie belang in hoe hulle sy skape behandel. Dink net hoe Jehovah moes gevoel het oor “die herders van Israel” in Esegiël se dag. Daardie leiers het die volk openlik “hard en wreed” behandel. As gevolg daarvan het die volk gely, en baie het rein aanbidding verlaat. – Eseg. 34:1-6.

17. Hoe het Jehovah sy skape gered?

17 Wat sou Jehovah doen? Jehovah het vir die wrede heersers van Israel gesê: “Ek sal [julle] verantwoordelik hou vir my skape.” Hy het verder belowe: “Ek sal my skape . . . red” (Eseg. 34:10). Jehovah hou altyd sy beloftes (Jos. 21:45). In 607 VHJ het hy sy skape gered deur die Babiloniërs te gebruik om daardie selfsugtige herders uit hulle posisies te verwyder. Sewentig jaar later het hy sy aanbidders uit Babilon gered en hulle teruggebring na hulle tuisland sodat hulle ware aanbidding daar kon herstel. Maar Jehovah se skape was nog nie heeltemal veilig nie, want hulle was nog steeds onder die beheer van wêreldse magte. “Die vasgestelde tye van die nasies” sou nog honderde jare lank aanhou. – Luk. 21:24.

18, 19. Watter profesie het Esegiël in 606 VHJ vertel? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

18 In 606 VHJ, omtrent ’n jaar nadat Jerusalem vernietig is en jare voordat die Israeliete uit Babilon vrygelaat is, het Jehovah Esegiël geïnspireer om ’n profesie te vertel wat wys dat die Hoofherder baie vir sy skape omgee en wil hê dat hulle vir ewig moet lewe. Die profesie beskryf hoe die aangestelde Heerser vir Jehovah se skape sal sorg.

19 Wat die profesie sê. (Lees Esegiël 34:22-24.) God “sal een herder . . . aanstel,” wat hy “my kneg Dawid” noem. Die woorde “een herder” saam met die woord “kneg”, wat in die enkelvoud is, impliseer dat die Heerser nie een van ’n reeks konings uit Dawid se geslagslyn sou wees nie, maar dat hy die enigste permanente erfgenaam van Dawid sou wees. Hierdie Herder en Heerser sal vir God se skape sorg en “’n hoofman onder hulle” word. Jehovah sal “’n vredesverbond” met sy skape maak. Hulle sal “soveel seëninge soos die reën” kry, en hulle sal heeltemal veilig wees en ’n wonderlike lewe geniet. Daar sal nie net vrede onder die mense wees nie, maar ook tussen mense en diere! – Eseg. 34:25-28.

20, 21. (a) Hoe het die profesie oor “my kneg Dawid” waar geword? (b) Hoe gaan Esegiël se woorde oor “’n vredesverbond” in die toekoms waar word?

20 Hoe die profesie waar geword het. Toe Jehovah hierdie Heerser “my kneg Dawid” genoem het, het Hy profeties na Jesus verwys as die nakomeling van Dawid wat die wetlike reg het om te regeer (Ps. 89:35, 36). Toe Jesus op die aarde was, het hy bewys dat hy “die goeie herder” is deur sy lewe “vir die skape” te gee (Joh. 10:14, 15). Maar nou is hy ’n herder vanuit die hemel (Heb. 13:20). In 1914 het God Jesus as Koning aangestel en hom die verantwoordelikheid gegee om vir God se skape op die aarde te sorg. Kort daarna, in 1919, het die nuwe Koning “die getroue en verstandige slaaf” aangestel. Daardie slaaf moes vir die “huisknegte”, dit wil sê God se lojale aanbidders wat die hoop het om in die hemel of op die aarde te lewe, geestelike voedsel gee (Matt. 24:45-47). Onder Christus se leiding sorg die getroue slaaf goed vir God se skape deur vir hulle geestelike voedsel te gee. Hierdie voedsel het hulle gehelp om eienskappe te ontwikkel wat bydra tot die vrede en veiligheid in die geestelike paradys wat ons nou geniet.

21 Hoe sal Esegiël se woorde oor “’n vredesverbond” en seëninge soos die reën in die toekoms waar word? In die nuwe wêreld sal Jehovah se ware aanbidders op die aarde die seëninge van die “vredesverbond” ten volle geniet. In ’n letterlike wêreldwye paradys sal lojale mense nooit weer deur oorlog, misdaad, hongersnood, siekte of wilde diere bedreig word nie (Jes. 11:6-9; 35:5, 6; 65:21-23). Sien jy nie uit na die tyd wanneer jy vir ewig op ’n paradysaarde sal lewe waar God se skape ‘in veiligheid sal woon en daar niemand sal wees wat hulle bang maak nie’? – Eseg. 34:28.

Jesus is ’n herder vanuit die hemel, en hy stel baie belang in hoe God se skape behandel word (Sien paragraaf 22)

22. Hoe voel Jesus oor die skape, en hoe kan dié wat as onderherders dien, wys dat hulle soos hy voel?

22 Wat ons uit die profesie kan leer. Net soos sy Vader, gee Jesus baie om vir die skape. Die Herder en Koning sorg dat sy Vader se skape genoeg geestelike voedsel het en dat hulle vrede en veiligheid geniet in die geestelike paradys. Ons is so bly dat ons so ’n wonderlike Heerser het! Dié wat as onderherders dien, moet net soos Jesus vir die skape omgee. Ouermanne moet “gewillig” en “gretig” vir die skape sorg, en hulle moet voorbeelde wees wat die skape kan navolg (1 Pet. 5:2, 3). ’n Ouerman moet nooit een van Jehovah se skape sleg behandel nie! Onthou wat Jehovah vir die wrede herders van Israel in Esegiël se dag gesê het: “Ek sal [julle] verantwoordelik hou vir my skape” (Eseg. 34:10). Die Hoofherder stel baie belang in hoe sy skape behandel word – en sy Seun voel dieselfde.

“My kneg Dawid sal vir ewig hulle hoofman wees”

23. Watter belofte het Jehovah gemaak oor hoe hy die nasie Israel sou verenig, en hoe het hy sy belofte nagekom?

23 Jehovah wil hê dat sy aanbidders hom in eenheid moet dien. In ’n profesie oor hoe God sy volk sou verenig, het God belowe dat hy sy volk bymekaar sou maak. Hy sou mense uit die tweestammeryk van Juda en die tienstammeryk van Israel as “een nasie” verenig, soos twee “stokke” wat “een in [sy] hand word” (Eseg. 37:15-23). God het die profesie laat waar word toe hy die Israeliete as ’n verenigde nasie in 537 VHJ na die Beloofde Land gebring het. * Maar daardie eenheid was net ’n voorsmakie van die baie groter en permanenter eenheid wat hulle in die toekoms sou geniet. Nadat Jehovah belowe het om Israel te verenig, het hy vir Esegiël ’n profesie gegee oor hoe die toekomstige Heerser ware aanbidders regoor die aarde bymekaar sou maak en hoe hy hulle vir ewig sou verenig.

24. Hoe beskryf Jehovah die aangestelde Heerser, en wat weet ons oor hierdie Koning se regering?

24 Wat die profesie sê. (Lees Esegiël 37:24-28.) Jehovah verwys weer na die aangestelde Heerser as “my kneg Dawid”, as ’n “herder” en as ’n “hoofman”, maar nou noem Jehovah hom ook ’n “koning” (Eseg. 37:22). Wat weet ons oor hierdie Koning se heerskappy? Hy sal vir ewig regeer. Die gebruik van die woorde “vir ewig” en “ewige” wys dat die seëninge van hierdie Koning se Koninkryk nooit tot ’n einde sal kom nie. * Wanneer hy regeer, sal daar eenheid wees. Lojale aanbidders sal “een koning” hê, en hulle sal dieselfde “regterlike bevele”, of wette, volg en hulle sal saam ‘in die land woon’. Wanneer hy regeer, sal hy mense help om nader aan Jehovah God te kom. Jehovah sal “’n vredesverbond” met hierdie mense maak. Jehovah sal hulle God wees, en hulle sal sy volk wees. En sy heiligdom sal “vir ewig onder hulle” wees.

25. Hoe het die profesie oor die aangestelde Koning waar geword?

25 Hoe die profesie waar geword het. In 1919 is getroue gesalfdes verenig onder hulle “een herder”, die aangestelde Koning, Jesus Christus. Later is “’n groot menigte” uit “alle nasies en stamme en volke en tale” met die gesalfdes verenig (Op. 7:9). Saam het hulle “een kudde onder een herder” geword (Joh. 10:16). Of hulle nou hoop om in die hemel of op die aarde te woon, hulle is almal gehoorsaam aan Jehovah se wette. As gevolg hiervan is hulle in ’n geestelike paradys en is hulle verenig as ’n wêreldwye familie. Jehovah het hulle met vrede geseën en sy heiligdom, wat rein aanbidding afbeeld, is onder hulle. Jehovah is hulle God, en hulle is trots daarop om sy aanbidders te wees – nou en vir ewig!

26. Hoe kan jy bydra tot die eenheid in die geestelike paradys?

26 Wat ons uit die profesie kan leer. Ons is bevoorreg om deel te wees van ’n wêreldwye familie wat Jehovah saam op ’n rein manier aanbid. Maar saam met daardie voorreg kom ’n verantwoordelikheid – ons moet bydra tot die eenheid. Ons moet almal ons bes doen om verenig te wees in die dinge wat ons glo en in wat ons doen (1 Kor. 1:10). Daarom bestudeer ons dieselfde geestelike voedsel, volg ons dieselfde Bybelstandaarde wanneer dit kom by gedrag en doen ons dieselfde belangrike werk – om te preek en dissipels te maak. Maar wat ons regtig verenig, is liefde. Liefde het baie verskillende aspekte – soos om meegevoel te betoon en ander te vergewe. As ons liefde op hierdie maniere betoon, dra ons by tot ons eenheid. Die Bybel sê: “Liefde . . . is ’n volmaakte band van eenheid.” – Kol. 3:12-14; 1 Kor. 13:4-7.

Jehovah seën die liefdevolle wêreldwye familie van sy aanbidders (Sien paragraaf 26)

27. (a) Hoe voel jy oor die profesieë oor die Messias in die boek Esegiël? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstukke bespreek?

27 Ons is so dankbaar vir die profesieë oor die Messias in die boek Esegiël! Wanneer ons hierdie profesieë lees en daaroor nadink, leer ons dat ons ons geliefde Koning, Jesus Christus, kan vertrou en dat hy die wetlike reg het om te regeer. Ons leer ook dat hy ’n liefdevolle herder vir ons is en dat hy sal seker maak dat ons eenheid vir ewig bestaan. Dit is vir ons ’n groot voorreg om die Messias as ons Koning te hê! Ons moet onthou dat hierdie profesieë oor die Messias deel is van die tema van herstelling in die boek Esegiël. Jehovah gebruik Jesus om sy volk bymekaar te maak en om rein aanbidding onder hulle te herstel (Eseg. 20:41). In die volgende hoofstukke sal ons daardie opwindende tema van herstelling bespreek en sien hoe dit in die boek Esegiël ontwikkel word.

^ par. 1 Die gevangenskap het in 617 VHJ begin toe die eerste Joodse gevangenes Babilon toe geneem is. So die sesde jaar het in 612 VHJ begin.

^ par. 14 Die Evangelies maak dit baie duidelik dat Jesus ’n nakomeling van Dawid was. – Matt. 1:1-16; Luk. 3:23-31.

^ par. 23 In hoofstuk 12 van hierdie boek sal ons Esegiël se profesie oor die twee stokke bespreek, en hoe dit waar geword het.

^ par. 24 Een naslaanwerk sê dat die Hebreeuse woorde wat vertaal word as “vir ewig” en “ewig” na iets kan verwys wat lank hou, permanent is en wat nie kan verander nie.