Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

“Ek sal hulle een nasie . . . maak”

“Ek sal hulle een nasie . . . maak”

ESEGIËL 37:22

HOOFPUNT: Jehovah se belofte om sy volk bymekaar te maak – Die profesie oor die twee stokke

1, 2. (a) Hoekom is die gevangenes dalk bekommerd? (b) Watter verrassing wag op hulle? (c) Watter vrae sal ons bespreek?

ONDER God se leiding het Esegiël ’n hele paar profesieë aan die gevangenes in Babilon oorgedra deur middel van uitbeeldings. Die eerste profesie wat Esegiël uitgebeeld het, het ’n oordeelsboodskap bevat, en die tweede een, en die derde een, ensovoorts (Eseg. 3:24-26; 4:1-7; 5:1; 12:3-6). Om die waarheid te sê, al die profesieë wat hy uitgebeeld het, het sterk oordeelsboodskappe teen die Jode bevat.

2 Dink net hoe bekommerd die gevangenes moet wees toe Esegiël weer voor hulle gaan staan om nog ’n profesie uit te beeld. Hulle wonder seker: ‘Watter ontstellende boodskap gaan ons nou weer hoor?’ Maar hierdie keer gaan hulle verras word. Die profesie wat Esegiël nou begin uitbeeld, is baie anders. Dit bevat nie ’n donker oordeelsboodskap nie, maar ’n pragtige belofte (Eseg. 37:23). Watter boodskap dra Esegiël aan die gevangenes oor? Wat beteken dit? Hoe raak dit God se aanbidders vandag? Kom ons kyk.

“Hulle sal een in my hand word”

3. (a) Wat het die stok “vir Juda” voorgestel? (b) Hoe weet ons dat “die stok van Efraim” die tienstammeryk voorgestel het?

3 Jehovah het vir Esegiël gesê om twee stokke te vat en om op die een “vir Juda” te skryf en op die ander een “vir Josef, die stok van Efraim” te skryf. (Lees Esegiël 37:15, 16.) Wat het hierdie twee stokke voorgestel? Die stok wat “vir Juda” was, het die tweestammeryk van Juda en Benjamin voorgestel. Konings in die geslagslyn van Juda het oor die tweestammeryk regeer. En die priesterdom was met daardie konings verbind, want die priesters het by die tempel in Jerusalem gedien (2 Kron. 11:13, 14; 34:30). So die koninkryk van Juda het die konings in Dawid se geslagslyn en die priesters uit die stam van Levi ingesluit. “Die stok van Efraim” het die tienstammeryk van Israel voorgestel. Hoekom sê ons so? Die eerste koning van die tienstammeryk was Jerobeam, wat uit die stam van Efraim gekom het. Later het Efraim die belangrikste stam in Israel geword (Deut. 33:17; 1 Kon. 11:26). So die tienstammeryk van Israel het nie die konings in Dawid se geslagslyn of die priesters uit die stam van Levi ingesluit nie.

4. Wat het Esegiël se uitbeelding met die twee stokke gewys? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

4 Jehovah het ook vir Esegiël gesê om die twee stokke teen mekaar te hou “sodat hulle net een stok . . . word”. Die gevangenes was bekommerd, en hulle het vir Esegiël gevra: “Gaan jy nie vir ons sê wat hierdie dinge beteken nie?” Hy het vir hulle gesê dat hy besig was om uit te beeld wat Jehovah self sou doen. Jehovah het die volgende oor die twee stokke gesê: “Ek sal hulle een stok maak, en hulle sal een in my hand word.” – Eseg. 37:17-19.

5. Wat beteken Esegiël se uitbeelding? (Sien die venster “Die twee stokke word een”.)

5 Daarna het Jehovah verduidelik wat die uitbeelding van die twee stokke beteken. (Lees Esegiël 37:21, 22.) Gevangenes uit die tweestammeryk van Juda en gevangenes uit die tienstammeryk van Israel (dit wil sê Efraim) sou na die land van Israel gebring word, waar hulle “een nasie” sou word. – Jer. 30:1-3; 31:2-9; 33:7.

6. Watter twee profesieë in Esegiël hoofstuk 37 komplimenteer mekaar?

6 Esegiël hoofstuk 37 bevat twee wonderlike herstellingsprofesieë wat mekaar komplimenteer – die profesie oor die droë beendere en die profesie oor die twee stokke. Jehovah sal bewys dat hy die God is wat nie net lewe herstel nie (vers 1-14), maar ook eenheid (vers 15-28). Die aanmoedigende boodskap in hierdie twee profesieë is: Lewe kan herstel word, en eenheid kan ook herstel word.

Hoe het Jehovah ‘hulle bymekaargemaak’?

7. Hoe bevestig 1 Kronieke 9:2, 3 dat ‘alles vir God moontlik is’?

7 Vanuit ’n menslike oogpunt het dit heeltemal onmoontlik gelyk dat die gevangenes bevry en verenig sou word. * Maar “vir God is alles moontlik” (Matt. 19:26). Jehovah het sy profesie laat waar word. Die gevangenskap in Babilon het in 537 VHJ geëindig, en daarna het mense uit die tweestammeryk en mense uit die tienstammeryk in Jerusalem aangekom om te help om ware aanbidding te herstel. Die Bybel bevestig dit, want dit sê: “Party van die nakomelinge van Juda, Benjamin, Efraim en Manasse het in Jerusalem gaan woon” (1 Kron. 9:2, 3; Esra 6:17). Ja, net soos Jehovah voorspel het, is mense van die tienstammeryk van Israel verenig met mense van die tweestammeryk van Juda.

8. (a) Wat het Jesaja geprofeteer? (b) Watter twee belangrike dinge staan in Esegiël 37:21 uit?

8 Ongeveer 200 jaar vroeër het die profeet Jesaja voorspel wat ná die gevangenskap met Israel en Juda sou gebeur. Hy het voorspel dat Jehovah sou begin om “dié van Israel wat verstrooi is,” bymekaar te maak, en Jehovah sou “dié van Juda wat verstrooi is, uit die uithoeke van die aarde bymekaarmaak”, insluitende dié van “Assirië” (Jes. 11:12, 13, 16). En soos Jehovah voorspel het, het hy “die Israeliete uit die nasies” gebring (Eseg. 37:21). Daar is twee belangrike dinge wat hier uitstaan: Nou verwys Jehovah nie meer na die gevangenes as “Juda” en “Efraim” nie, maar hy noem hulle “die Israeliete” – een groep. En daar word gesê dat die Israeliete nie net uit een nasie, Babilon, kom nie, maar uit verskillende nasies – “uit alle rigtings”.

9. Hoe het Jehovah die gevangenes wat na hulle tuisland teruggegaan het, gehelp om verenig te word?

9 Hoe het Jehovah die gevangenes gehelp om verenig te word nadat hulle na Israel teruggegaan het? Hy het vir die Israeliete geestelike herders gegee, soos Serubbabel, die hoëpriester Josua, Esra en Nehemia. God het ook die profete Haggai, Sagaria en Maleagi aangestel. Al hierdie lojale manne het hard gewerk om die nasie aan te moedig om God se instruksies te volg (Neh. 8:2, 3). En Jehovah het die Israeliete beskerm deur te keer dat die planne van die vyande van God se volk suksesvol is. – Est. 9:24, 25; Sag. 4:6.

Jehovah het geestelike herders voorsien om sy volk te help om verenig te word (Sien paragraaf 9)

10. Wat het Satan uiteindelik reggekry?

10 Maar al het Jehovah so baie goeie dinge vir die Israeliete gedoen, het die meeste van hulle nie by rein aanbidding gebly nie. Ons lees van alles wat hulle gedoen het in die Bybelboeke wat geskryf is nadat die gevangenes na Jerusalem teruggegaan het (Esra 9:1-3; Neh. 13:1, 2, 15). Om die waarheid te sê, minder as 100 jaar nadat hulle teruggegaan het, het die Israeliete so ver van rein aanbidding afgedwaal dat Jehovah vir hulle moes sê: “Keer terug na my” (Mal. 3:7). Teen die tyd dat Jesus aarde toe gekom het, was die Joodse godsdiens in verskillende sektes verdeel, en dislojale herders het die leiding geneem (Matt. 16:6; Mark. 7:5-8). Satan het dit reggekry om te keer dat die Jode heeltemal verenig was. Maar Jehovah se profesie dat daar eenheid sou wees, sou beslis waar word. Hoe?

“My kneg Dawid sal hulle koning wees”

11. (a) Wat het Jehovah geopenbaar oor sy profesie oor eenheid? (b) Wat het Satan weer probeer doen nadat hy uit die hemel gegooi is?

11 Lees Esegiël 37:24. Jehovah het geopenbaar dat sy profesie oor eenheid eers heeltemal waar sou word nadat sy “kneg Dawid”, dit wil sê Jesus, as Koning begin regeer het, en dit het in 1914 gebeur * (2 Sam. 7:16; Luk. 1:32). Teen daardie tyd was natuurlike Israel vervang deur geestelike Israel, die gesalfdes (Jer. 31:33; Gal. 3:29). Satan het, veral nadat hy uit die hemel gegooi is, weer die eenheid van God se volk probeer vernietig (Op. 12:7-10). Byvoorbeeld, ná broer Russell se dood in 1916, het Satan afvalliges gebruik om verdeeldheid onder die gesalfdes te probeer veroorsaak. Maar kort daarna het daardie afvalliges die organisasie verlaat. Satan het dit ook reggekry om die broers wat in daardie tyd die leiding geneem het, in die tronk te laat gooi, maar selfs dít het nie die einde van Jehovah se volk beteken nie. Die gesalfde broers wat lojaal aan Jehovah was, het verenig gebly.

12. Hoekom het Satan dit nie reggekry om geestelike Israel te verdeel nie?

12 Satan het dit nie reggekry om geestelike Israel te verdeel soos hy natuurlike Israel verdeel het nie. Hoekom het Satan dit nie reggekry nie? Omdat die gesalfdes hulle bes gedoen het om Jehovah se standaarde te volg. Daarom word hulle beskerm deur hulle Koning, Jesus Christus, wat besig is om sy oorwinning oor Satan te voltooi. – Op. 6:2.

Jehovah sal sy aanbidders ‘een laat word’

13. Watter belangrike waarheid leer ons uit die profesie oor die twee stokke?

13 Hoekom is die profesie oor die twee stokke vandag vir ons belangrik? Onthou dat die punt van die profesie was om te wys hoe twee groepe verenig sou word. En hierdie profesie beklemtoon veral dat Jehovah die rede is vir hierdie eenheid. So watter belangrike waarheid oor rein aanbidding word beklemtoon in hierdie profesie oor die twee stokke wat een word? Dat Jehovah self sy aanbidders ‘een sal laat word’. – Eseg. 37:19.

14. Hoe het die profesie oor die twee stokke vanaf 1919 ’n groter vervulling gehad?

14 Vanaf 1919, nadat God se volk geestelik gereinig was en in die geestelike paradys begin ingaan het, het die groter vervulling van die profesie oor die twee stokke begin. Op daardie stadium het die meeste van die mense wat in eenheid bymekaargebring is, die hoop gehad om konings en priesters in die hemel te word (Op. 20:6). In ’n simboliese sin was daardie gesalfdes soos die stok “vir Juda” – ’n nasie wat die konings in Dawid se geslagslyn en die priesters uit die stam van Levi ingesluit het. Maar later het al hoe meer mense wat die hoop het om op die aarde te lewe, aangesluit by hierdie gesalfde Christene. Hulle was soos “die stok van Efraim” – ’n nasie wat nie die konings in Dawid se geslagslyn en die priesters uit die stam van Levi ingesluit het nie. Al twee groepe dien Jehovah in eenheid onder hulle een Koning, Jesus Christus. – Eseg. 37:24.

“Hulle sal my volk wees”

15. Hoe het die profesie in Esegiël 37:26, 27 vandag waar geword?

15 Esegiël se profesie wys dat baie mense by die gesalfdes sou aansluit om Jehovah op ’n rein manier te aanbid. Jehovah het die volgende oor sy volk gesê: “Ek sal . . . hulle vermeerder”, en “my tent sal oor hulle wees” (Eseg. 37:26, 27; vtn.). Hierdie woorde laat ’n mens dink aan die profesie wat die apostel Johannes ongeveer 700 jaar ná Esegiël se tyd ontvang het. Die profesie het gesê dat “die Een wat op die troon sit, . . . sy tent [sou] uitsprei” oor “’n groot menigte” (Op. 7:9, 15). Vandag is die gesalfdes en die groot menigte een nasie, God se volk, en hulle is onder sy beskermende tent.

16. Hoe het Sagaria voorspel dat daar eenheid sou wees tussen geestelike Israel en dié wat die hoop het om op die aarde te lewe?

16 Sagaria het voorspel dat daar eenheid sou wees tussen geestelike Jode en dié wat die hoop het om op die aarde te lewe. Hierdie profeet was ook ’n gevangene wat na Jerusalem teruggegaan het, en hy het gesê dat “tien manne uit . . . die nasies die kleed van ’n Jood [sou] vasgryp” en sou sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). Die woorde “’n Jood” verwys nie na een persoon nie, maar na ’n groep mense, want die vers gebruik die woord “julle”. In ons tyd stel die Jood die gesalfdes voor wat nog op die aarde is, dit wil sê geestelike Jode (Rom. 2:28, 29). Die “tien manne” stel dié voor wat die hoop het om op die aarde te lewe. Hulle ‘gryp die kleed’ van die gesalfdes vas en ‘gaan saam met’ hulle (Jes. 2:2, 3; Matt. 25:40). Die woorde “vasgryp” en ‘gaan saam met julle’ beklemtoon dat hierdie twee groepe heeltemal verenig is.

17. Hoe het Jesus die eenheid beskryf wat ons vandag geniet?

17 Jesus het dalk gedink aan Esegiël se profesie oor eenheid toe hy homself beskryf het as ’n herder onder wie se leiding sy skape (dit wil sê die gesalfdes) en die “ander skape” (dit wil sê dié wat die hoop het om op die aarde te lewe) “een kudde” sou word (Joh. 10:16; Eseg. 34:23; 37:24, 25). Hierdie woorde van Jesus en die woorde van die profete van die ou tyd is ’n goeie beskrywing van die wonderlike geestelike eenheid wat ons vandag geniet, maak nie saak watter hoop ons vir die toekoms het nie! Terwyl valse godsdiens verdeeld is en uit baie verskillende groepe bestaan, geniet ons ’n wonderlike eenheid.

Vandag aanbid die gesalfdes en die “ander skape” Jehovah saam as “een kudde” (Sien paragraaf 17)

“My heiligdom [is] vir ewig onder hulle”

18. Hoe wys Esegiël 37:28 hoe belangrik dit is dat God se volk “geen deel van die wêreld” moet wees nie?

18 Die laaste woorde van Esegiël se profesie oor eenheid wys vir ons hoekom ons kan seker wees dat ons eenheid nooit gebreek sal word nie. (Lees Esegiël 37:28.) Jehovah se volk is verenig omdat sy heiligdom, of rein aanbidding, “onder hulle is”. En sy heiligdom bly onder hulle solank hulle heilig bly en nie deel word van Satan se wêreld nie (1 Kor. 6:11; Op. 7:14). Jesus het gewys hoe belangrik dit is om nie deel van die wêreld te wees nie. Hy het uit sy hart vir sy dissipels gebid en het gesê: “Heilige Vader, waak oor hulle . . . sodat hulle een kan wees . . . Hulle is geen deel van die wêreld nie . . . Maak hulle heilig deur middel van die waarheid” (Joh. 17:11, 16, 17). Jesus het gewys dat ons net “een” kan wees as ons “geen deel van die wêreld” is nie.

19. (a) Hoe wys ons dat ons “navolgers van God” is? (b) Watter belangrike waarheid oor eenheid het Jesus op die laaste aand voor sy dood beklemtoon?

19 Dit is die enigste keer in die Bybel waar Jesus God “Heilige Vader” noem. Jehovah is heeltemal rein en regverdig. Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (Lev. 11:45). As “navolgers van God” wil ons daardie opdrag gehoorsaam in alles wat ons doen (Ef. 5:1; 1 Pet. 1:14, 15). Wanneer die woord “heilig” in verband met mense gebruik word, beteken dit “om afgesonder te wees”. Jesus het op die laaste aand voor sy dood beklemtoon dat sy dissipels verenig sou bly solank hulle geen deel van hierdie verdeelde wêreld word nie.

‘Beskerm hulle teen die Duiwel’

20, 21. (a) Wat versterk ons vertroue in Jehovah se beskerming? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Die wonderlike eenheid wat wêreldwyd duidelik onder Jehovah se Getuies gesien kan word, bewys dat Jehovah Jesus se gebed beantwoord het: ‘Beskerm hulle teen die Duiwel.’ (Lees Johannes 17:14, 15.) Die feit dat Satan dit nie reggekry het om die eenheid van God se volk te breek nie, versterk ons vertroue in God se beskerming. In Esegiël se profesie sê Jehovah dat die twee stokke een in sy hand geword het. So Jehovah was die een wat sy volk op ’n wonderlike manier verenig het onder sy beskermende hand – waar Satan niks aan hulle kan doen nie.

21 Wat moet ons dan vasbeslote wees om te doen? Ons moet aanhou om ons bes te doen om by te dra tot die wonderlike eenheid wat ons nou geniet. Hoe kan elkeen van ons dit doen? Deur Jehovah gereeld op ’n rein manier te aanbid by sy geestelike tempel. Ons sal in die volgende hoofstukke bespreek hoe ons dit kan doen.

^ par. 7 Ongeveer 200 jaar voordat Esegiël hierdie profesie ontvang het, het die Assiriërs die mense van die tienstammeryk (“die stok van Efraim”) gevange geneem. – 2 Kon. 17:23.

^ par. 11 Hierdie profesie word in detail bespreek in Hoofstuk 8 van hierdie boek.