Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

“Dít is die wet van die tempel”

“Dít is die wet van die tempel”

ESEGIËL 43:12

HOOFPUNT: Die tempelvisioen – Praktiese lesse vir mense in Esegiël se dag en wat die visioen vandag vir ons beteken

1, 2. (a) Wat het ons in die vorige hoofstuk oor Esegiël se tempelvisioen geleer? (b) Watter twee vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

IN DIE vorige hoofstuk het ons geleer dat die tempel wat Esegiël in ’n visioen gesien het, nie die groot geestelike tempel was wat die apostel Paulus honderde jare later bespreek het nie. Die doel van die visioen was om God se volk te leer hoe belangrik God se standaarde vir rein aanbidding is. Net as die volk daardie standaarde gevolg het, kon hulle weer ’n sterk verhouding met Jehovah hê. Daarom het Jehovah beklemtoon hoe belangrik sy standaarde is deur die volgende woorde twee keer in een vers te sê: “Dít is die wet van die tempel.” – Lees Esegiël 43:12.

2 Nou moet ons nog twee vrae bespreek. Eerstens: Watter spesifieke lesse oor Jehovah se standaarde vir rein aanbidding het die Jode van Esegiël se dag dalk uit hierdie tempelvisioen geleer? Die antwoord op daardie vraag sal ons help om ons tweede vraag te beantwoord: Wat beteken die visioen vir ons in hierdie moeilike laaste dae?

Watter lesse het mense in die verlede uit die visioen geleer?

3. Hoekom het die feit dat Jehovah se tempel op ’n hoë berg was, die volk dalk skaam laat voel?

3 Om die eerste vraag te beantwoord, kom ons fokus op ’n paar indrukwekkende kenmerke van hierdie tempelvisioen. Die hoë berg. Die volk sou heel moontlik die plek in Esegiël se visioen geassosieer het met Jesaja se aanmoedigende herstellingsprofesie (Jes. 2:2). Maar wat het hulle geleer uit die feit dat Jehovah se huis op so ’n hoë berg was? Dit het hulle geleer dat rein aanbidding verhoog moet word en bo alle ander dinge gestel moet word. Rein aanbidding is beslis verhoog, want hierdie reëling kom van die Een wat “ver bo al die ander gode” is (Ps. 97:9). Maar die volk het nie hulle kant gebring nie. Hulle het rein aanbidding honderde jare lank oor en oor verlaag, besoedel en hulle rug daarop gedraai. Die feit dat God se heilige huis verhoog was en die heerlikheid gehad het wat dit verdien, het opregte mense beslis skaam laat voel.

4, 5. Watter les het die Israeliete moontlik geleer uit die feit dat die poorte van die tempel so hoog was?

4 Die hoë poorte. Vroeg in die visioen het Esegiël gesien hoe die engel die poorte meet. Daardie poorte was ongeveer 30 meter hoog! (Eseg. 40:14). In die poorte was daar kamers vir die wagte. Watter boodskap het al hierdie dinge dalk oorgedra aan almal wat hierdie ontwerp bestudeer het? Jehovah het vir Esegiël gesê: “Skenk goed aandag aan die ingang van die tempel.” Hoekom? Omdat die volk mense “wie se hart en vlees nie besny [was] nie,” in God se heilige huis van aanbidding ingebring het. Wat was die resultaat? “Hulle [ontheilig] my tempel”, het Jehovah gesê. – Eseg. 44:5, 7.

5 Die mense ‘wie se vlees nie besny was nie,’ was ongehoorsaam aan ’n duidelike bevel van God wat al in die dae van Abraham gegee was (Gen. 17:9, 10; Lev. 12:1-3). Maar dié ‘wie se hart nie besny was nie,’ het ’n groter probleem gehad. Hulle was hardkoppig en ongehoorsaam en wou nie luister na Jehovah se raad en leiding nie. Sulke mense moes nooit in Jehovah se heilige huis van aanbidding toegelaat gewees het nie! Jehovah haat skynheiligheid, en sy volk het toegelaat dat skynheiligheid in sy huis floreer. Die poorte en die kamers vir die wagte in die visioen het mense die volgende les geleer: Sulke gedrag sou nie meer toegelaat word nie! As ’n mens by God se huis wou ingaan, moes hy by God se hoë standaarde bly. Net as mense dit gedoen het, sou Jehovah hulle aanbidding seën.

6, 7. (a) Hoe het Jehovah die buitenste muur om die hele tempelgebied gebruik om vir sy volk ’n les te leer? (b) Hoe het Jehovah se volk sy huis in die verlede behandel? (Sien voetnoot.)

6 Die buitenste muur om die hele tempelgebied. Nog ’n indrukwekkende kenmerk van die tempel in die visioen was die muur om die hele tempelgebied. Esegiël sê dat die muur aan elke kant 500 riet lank was, dit wil sê ongeveer 1,6 kilometer! (Eseg. 42:15-20). Maar die tempelgeboue en voorhowe het ’n vierkant gevorm wat aan elke kant net 500 el lank was, dit wil sê 259 meter. So daar was ’n groot gebied tussen die tempel en die buitenste muur. * Wat was die doel daarvan?

7 Jehovah het gesê: “Laat hulle nou hulle ontrouheid en die lyke van hulle konings ver van my af verwyder, en ek sal vir ewig by hulle woon” (Eseg. 43:9). “Die lyke van hulle konings” het moontlik verwys na valse gode. So Jehovah het die groot gebied tussen die tempel en die muur in Esegiël se visioen gebruik om basies te sê: “Hou sulke walglike dinge ver van hier af weg. Moet dit nie eers naby laat kom nie.” As hulle hulle aanbidding rein gehou het, sou Jehovah hulle seën met sy teenwoordigheid.

8, 9. Wat het die volk dalk geleer uit Jehovah se streng raad aan verantwoordelike manne?

8 Streng raad aan verantwoordelike manne. Jehovah het ook streng maar liefdevolle raad gegee aan die manne wat groot verantwoordelikhede onder die volk gehad het. Hy het vir die Leviete wat ver van hom af weggedwaal het, streng raad gegee toe die volk afgode begin aanbid het. Maar hy het die seuns van Sadok geprys, “wat die verantwoordelikhede van [sy] heiligdom nagekom het toe die Israeliete van [hom] af weggedwaal het”. Hy het elke groep regverdig en genadig behandel, volgens wat hulle gedoen het (Eseg. 44:10, 12-16). En hy het ook vir die hoofmanne van Israel streng raad gegee. – Eseg. 45:9.

9 So Jehovah het dit duidelik gemaak dat hy manne in gesagsposisies verantwoordelik sou hou vir hoe hulle hulle verantwoordelikhede nagekom het. Al was hulle in hierdie posisies, het hulle nog steeds raad en dissipline nodig gehad. Hulle moes eintlik die voorbeeld gestel het deur Jehovah se standaarde te gehoorsaam!

10, 11. Watter bewyse is daar dat party van die gevangenes wat teruggegaan het, die lesse toegepas het wat hulle in Esegiël se visioen geleer het?

10 Het die gevangenes wat teruggegaan het, die lesse toegepas wat hulle uit Esegiël se visioen geleer het? Ons weet natuurlik nie presies wat gehoorsame mans en vrouens destyds van hierdie indrukwekkende visioen gedink het nie. Maar God se Woord sê vir ons baie oor wat daardie gevangenes gedoen het en oor hoe hulle oor rein aanbidding begin voel het. Die gevangenes het die lesse wat hulle uit Esegiël se visioen geleer het, tot ’n sekere mate toegepas – veral as ’n mens hulle vergelyk met hulle ongehoorsame voorouers voor die gevangenskap in Babilon.

11 Gehoorsame manne soos die profete Haggai en Sagaria, die priester en kopiis Esra en die goewerneur Nehemia het almal hard gewerk om die volk die lesse te leer wat Esegiël se tempelvisioen oorgedra het (Esra 5:1, 2). Hulle het die volk geleer dat rein aanbidding verhoog moet word en dat dit vir hulle belangriker moet wees as materiële dinge en selfsugtige doelwitte (Hag. 1:3, 4). Hulle het hulle bes gedoen om seker te maak dat die standaarde vir rein aanbidding gerespekteer word. Byvoorbeeld, Esra en Nehemia het die volk streng raad gegee en vir hulle gesê dat hulle hulle buitelandse vrouens, wat besig was om die volk geestelik swak te laat word, moet wegstuur. (Lees Esra 10:10, 11; Neh. 13:23-27, 30.) Wat van afgodediens? In die verlede het die nasie oor en oor by afgodediens betrokke geraak. Maar dit lyk asof hulle afgodediens ná die gevangenskap begin haat het. En wat van die priesters en leiers? Soos Esegiël se visioen gewys het, het hulle ook raad en dissipline van Jehovah ontvang (Neh. 13:22, 28). Baie van hulle was nederig en was gehoorsaam aan daardie raad. – Esra 10:7-9, 12-14; Neh. 9:1-3, 38.

Nehemia het die volk oor rein aanbidding geleer terwyl hy saam met hulle gewerk het (Sien paragraaf 11)

12. Op watter maniere het Jehovah die gevangenes geseën nadat hulle na Jerusalem teruggegaan het?

12 Daarom het Jehovah sy volk geseën. Die volk het weer ’n goeie verhouding met Jehovah, goeie gesondheid en vrede geniet – dinge wat hulle vir ’n lang tyd nie gehad het nie (Esra 6:19-22; Neh. 8:9-12; 12:27-30, 43). Hoekom? Omdat die volk uiteindelik gehoorsaam was aan Jehovah se regverdige standaarde vir rein aanbidding. Baie Israeliete het die lesse verstaan wat hulle uit die tempelvisioen geleer het. So dit is duidelik dat Esegiël se tempelvisioen die gevangenes op twee belangrike maniere gehelp het. (1) Dit het vir hulle praktiese lesse geleer oor die standaarde vir rein aanbidding en oor hoe hulle by daardie standaarde kon bly. (2) Dit het hulle verseker dat rein aanbidding herstel sou word en dat Jehovah hulle sou seën solank hulle hom op ’n rein manier aanbid. Maar het hierdie visioen ’n vervulling in ons dag?

Wat ons uit Esegiël se visioen leer

13, 14. (a) Hoe weet ons dat Esegiël se tempelvisioen ook in ons dag waar geword het? (b) Op watter twee maniere help die visioen ons vandag? (Sien ook die venster 13A, “Verskillende tempels, verskillende lesse”.)

13 Is Esegiël se tempelvisioen vandag op ons van toepassing? Ja! Dink weer aan die volgende ooreenkoms tussen Esegiël se visioen en Jesaja se profesie: Die tempel in Esegiël se visioen was “op ’n baie hoë berg”, en Jesaja het voorspel dat “die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig [sou wees] bo die top van die berge”. Jesaja het spesifiek gesê dat sy profesie “aan die einde van die dae”, of “in die laaste dae”, waar sou word. (Eseg. 40:2; Jes. 2:2-4; vtn.; sien ook Miga 4:1-4.) Hierdie profesieë het in die laaste dae waar geword toe rein aanbidding vanaf 1919 verhoog, of herstel, is. Dit was asof dit op ’n hoë berg geplaas is. *

14 So Esegiël se visioen het beslis te doen met rein aanbidding in ons dag. Net soos die visioen die Joodse gevangenes destyds gehelp het, help dit ons vandag op twee maniere. (1) Dit gee vir ons praktiese lesse oor hoe ons by Jehovah se standaarde vir rein aanbidding kan bly. (2) Dit verseker ons dat rein aanbidding heeltemal herstel sal word en dat Jehovah sy volk sal seën.

Standaarde vir rein aanbidding vandag

15. Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons die lesse in Esegiël se tempelvisioen bespreek?

15 Kom ons kyk nou na ’n paar spesifieke kenmerke van Esegiël se visioen. Verbeel jou dat ons saam met Esegiël op ’n toer gaan deur daardie indrukwekkende tempel. Onthou dat ons nie die groot geestelike tempel sien nie, maar dat ons eerder lesse leer wat op ons aanbidding van toepassing is. Wat is party lesse wat ons kan leer?

16. Wat kan ons leer uit die feit dat die engel in Esegiël se visioen alles gemeet het? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

16 Hoekom het die engel alles gemeet? Esegiël sien hoe die engel wat soos koper geblink het, elke deel van die tempel meet, insluitende die mure, die poorte, die kamers vir die wagte, die voorhowe en die altaar. Om al hierdie details te lees, kan baie oorweldigend wees (Eseg. 40:1–42:20; 43:13, 14). Maar dink aan al die belangrike dinge wat ons hieruit kan leer. Jehovah het deur middel van daardie details beklemtoon hoe belangrik sy standaarde is. Hy is die een wat die standaarde stel, nie mense nie. Mense wat dink dat dit nie saak maak hoe ons God aanbid nie, maak ’n groot fout. Deur die tempel in detail te laat meet, verseker Jehovah ons dat rein aanbidding beslis herstel sal word. Die feit dat die tempel so presies afgemeet was, wys vir ons dat God se beloftes tot in die fynste detail vervul sal word. So Esegiël bevestig dat rein aanbidding beslis in die laaste dae herstel sal word!

Wat leer jy uit die feit dat die tempel so presies afgemeet is? (Sien paragraaf 16)

17. Waaraan laat die buitenste muur om die hele tempelgebied ons vandag dink?

17 Die buitenste muur om die hele tempelgebied. Soos ons bespreek het, het Esegiël ’n muur reg rondom die tempelgebied gesien. Daardie muur was vir God se volk ’n goeie herinnering dat hulle alle onrein godsdiensgebruike ver van rein aanbidding moes hou en nooit God se huis moes besoedel nie. (Lees Esegiël 43:7-9.) Ons het vandag dieselfde raad nodig! Nadat God se volk honderde jare lank in geestelike gevangenskap in Babilon die Grote was, het Jesus sy getroue en verstandige slaaf in 1919 aangestel. God se volk het veral van daardie tyd af hard gewerk om ontslae te raak van valse leringe en gebruike wat met afgodediens en heidense godsdienste te doen gehad het. Ons doen ons bes om geestelike onreinheid ver van rein aanbidding af weg te hou. Ons doen nie eers besigheid in ons Koninkryksale nie, en so maak ons seker dat ons nie ons aanbidding met sulke dinge meng nie. – Mark. 11:15, 16.

18, 19. (a) Wat kan ons leer uit die feit dat die poorte van die tempel so hoog was? (b) Hoe moet ons reageer wanneer mense probeer om Jehovah se hoë standaarde af te water? Gee ’n voorbeeld.

18 Die hoë poorte. Watter lesse kan ons leer wanneer ons dink aan daardie baie hoë poorte wat Esegiël gesien het? Daardie deel van die tempel in die visioen het die Joodse gevangenes beslis geleer dat Jehovah baie hoë sedelike standaarde het. As dit destyds die geval was, wat van vandag? Ons aanbid Jehovah in sy groot geestelike tempel. En dit is nou belangriker as ooit dat ons gedrag nie skynheilig moet wees nie (Rom. 12:9; 1 Pet. 1:14, 15). Gedurende die laaste dae het Jehovah sy volk geleidelik gehelp om gehoorsaam te wees aan sy sedelike standaarde. * Byvoorbeeld, mense wat nie berou toon nadat hulle verkeerde dinge gedoen het nie, word uit die gemeente gesit (1 Kor. 5:11-13). En die kamers vir die wagte in die ingange van daardie poorte herinner ons vandag dat ’n persoon wat nie God se goedkeuring het nie, nie by die geestelike tempel kan ingaan nie. Byvoorbeeld, ’n persoon wat ’n dubbele lewe lei, kan dalk by ’n Koninkryksaal ingaan, maar hy kan nie Jehovah se goedkeuring kry totdat hy doen wat God van hom verwag nie (Jak. 4:8). Dit is so ’n groot beskerming vir rein aanbidding in hierdie slegte, onsedelike wêreld!

19 Die Bybel het voorspel dat hierdie wêreld al hoe slegter sou word voordat die einde kom. Dit sê: “Goddelose mense en bedrieërs sal al hoe slegter word, terwyl hulle ander mislei en self mislei word” (2 Tim. 3:13). Vandag word al hoe meer mense mislei, en hulle dink dat Jehovah se hoë standaarde te streng, outyds of net verkeerd is. Sal jy toelaat dat jy mislei word? Byvoorbeeld, as iemand probeer om jou te oortuig dat God se standaarde oor homoseksuele gedrag verkeerd is, sal jy daarmee saamstem? Of sal jy met Jehovah God saamstem, wat duidelik in sy Woord sê dat sulke dinge ‘skadelik’ is? God waarsku ons dat ons nie onsedelike gedrag moet goedkeur nie (Rom. 1:24-27, 32). Wanneer daar sulke druk op ons geplaas word, sal dit goed wees as ons dink aan daardie hoë poorte van die tempel in Esegiël se visioen. En ons moet onthou dat Jehovah nie sy regverdige standaarde verlaag nie, maak nie saak watter druk daar van hierdie goddelose wêreld af is nie. Stem ons saam met ons hemelse Vader en staan ons op vir wat reg is?

Ons bring “’n lofoffer” wanneer ons aan rein aanbidding deelneem

20. Watter aanmoedigende herinneringe is daar vir die “groot menigte” in Esegiël se visioen?

20 Die voorhowe. Toe Esegiël die tempel se groot buitenste voorhof gesien het, moes dit hom baie bly gemaak het om te dink aan hoe baie aanbidders van Jehovah daar bymekaar kon kom. Vandag aanbid Christene Jehovah in ’n baie groter geestelike tempel. Die “groot menigte” in die buitenste voorhof van Jehovah se geestelike tempel vind aanmoedigende herinneringe in Esegiël se visioen (Op. 7:9, 10, 14, 15). Esegiël het gesien dat daar eetkamers aan die kante van die voorhowe was waar aanbidders die vredeoffers wat hulle gebring het, saam kon eet (Eseg. 40:17). In ’n sekere sin kon hulle ’n maaltyd saam met Jehovah God geniet – ’n teken van ’n goeie vriendskap! Vandag offer ons nie offerandes soos die Jode wat onder die Wet van Moses was nie. Ons bring eerder ’n “lofoffer” wanneer ons aan rein aanbidding deelneem, soos wanneer ons kommentare gee by die vergadering of velddiens doen (Heb. 13:15). Ons geniet ook die geestelike voedsel wat Jehovah voorsien. Daarom voel ons soos die seuns van Korag wat vir Jehovah gesing het: “’n Dag in u voorhowe is beter as ’n duisend op enige ander plek!” – Ps. 84:10.

21. Wat kan gesalfde Christene uit Esegiël se visioen oor die priesterdom leer?

21 Die priesterdom. Esegiël het gesien dat die priesters en Leviete deur poorte gegaan het om by die binneste voorhof in te gaan. Daardie poorte het gelyk soos die poorte waardeur die volk moes gaan om by die buitenste voorhof in te gaan. Dit was ’n goeie manier om daardie priesters en Leviete te herinner dat hulle ook gehoorsaam moes wees aan Jehovah se standaarde vir rein aanbidding. En wat van vandag? Vandag is daar niemand onder God se knegte wat priesterskap erf nie, maar daar word vir gesalfde Christene gesê: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom’” (1 Pet. 2:9). Die priesters van Israel het Jehovah in ’n aparte voorhof aanbid. Vandag aanbid gesalfde Christene Jehovah nie op ’n ander plek as ander Christene nie, maar hulle geniet wel ’n spesiale verhouding met Jehovah omdat hy hulle as kinders aangeneem het (Gal. 4:4-6). Gesalfde Christene kan ook goeie lesse uit Esegiël se visioen leer. Hulle leer byvoorbeeld dat die priesters ook raad en dissipline nodig gehad het. Alle Christene moet onthou dat ons “een kudde” is wat onder “een herder” dien. – Lees Johannes 10:16.

22, 23. (a) Wat kan ouermanne vandag uit die voorbeeld van die hoofman in Esegiël se visioen leer? (b) Wat sal dalk in die toekoms gebeur?

22 Die hoofman. In Esegiël se visioen het die hoofman ’n belangrike rol gespeel. Hy was nie van die stam van die priesters nie, en by die tempel moes hy die leiding van die priesters volg. Maar dit is duidelik dat hy ’n opsiener onder die volk was en dat hy hulle gehelp het deur party van die offerandes te voorsien (Eseg. 44:2, 3; 45:16, 17; 46:2). So hy is ’n voorbeeld vir Christenmans vandag wat ’n mate van verantwoordelikheid in die gemeente het. Ouermanne, insluitende kringopsieners, moet die leiding van die getroue slaaf volg (Heb. 13:17). Hulle werk hard om God se volk te help om hulle lofoffers by vergaderinge en in die bediening te offer (Ef. 4:11, 12). En ouermanne moet in gedagte hou hoe Jehovah Israel se hoofmanne gedissiplineer het omdat hulle hulle gesag misbruik het (Eseg. 45:9). Ouermanne dink nie dat hulle nie raad en dissipline nodig het nie. Hulle wil eintlik hê dat Jehovah hulle moet help om beter herders en opsieners te wees. – Lees 1 Petrus 5:1-3.

23 Jehovah sal aanhou om gekwalifiseerde, liefdevolle opsieners in die Paradys te voorsien. Vandag word baie ouermanne eintlik opgelei om goeie herders in die Paradys te wees (Ps. 45:16). Is dit nie wonderlik om te dink aan hoe hierdie manne ons in die nuwe wêreld gaan help nie? Soos met die ander herstellingsprofesieë, sal ons Esegiël se visioen op Jehovah se vasgestelde tyd dalk beter verstaan. Miskien sal ons in die toekoms nog wonderlike lesse uit hierdie visioen leer en sal dit op ’n manier vervul word wat beter is as enigiets wat ons ons kan voorstel. Ons sal moet wag en sien.

Wat leer die hoë poorte en die voorhowe ons oor ons aanbidding? (Sien paragraaf 18-21)

Jehovah seën rein aanbidding

24, 25. Hoe wys Esegiël se visioen dat Jehovah sy volk sou seën solank hulle hom op ’n rein manier aanbid het?

24 Kom ons bespreek laastens iets belangriks wat in Esegiël se visioen gebeur. Jehovah self gaan by die tempel in die visioen in, en hy belowe sy volk dat hy daar sal bly solank as wat hulle gehoorsaam is aan sy standaarde vir rein aanbidding (Eseg. 43:4-9). Watter effek sou Jehovah se teenwoordigheid op sy volk en op hulle land hê?

25 Jehovah se teenwoordigheid sou vir sy volk groot seëninge bring! Hierdie seëninge word in die visioen beskryf deur twee gerusstellende profetiese beelde: (1) ’n Rivier vloei uit die tempel. Dit maak die land vrugbaar en bring lewe waar dit ook al vloei. (2) Die land word op ’n ordelike manier verdeel, met die tempel in die middel van die land. Hoe moet ons hierdie Bybelgedeelte verstaan? Wel, ons lewe in ’n tyd waar Jehovah ’n baie beter stelsel van aanbidding gesuiwer en goedgekeur het – die groot geestelike tempel (Mal. 3:1-4). Ons sal daardie twee profetiese beelde in Hoofstuk 19 tot 21 van hierdie boek bespreek.

^ par. 6 Dit was baie anders as hoe Jehovah se volk sy heilige huis in die verlede behandel het. Jehovah het gesê: “Hulle het hulle ingang langs my ingang gesit en hulle deurpos langs my deurpos, met net ’n muur tussen my en hulle. So het hulle my heilige naam ontheilig deur die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het” (Eseg. 43:8). In eertydse Jerusalem was daar net ’n muur tussen Jehovah se tempel en die huise van die volk. Toe die volk van Jehovah se regverdige standaarde afgedwaal het, het hulle hulle onreinheid, hulle afgodediens, tot reg by Jehovah se huis gebring. Dit was heeltemal onaanvaarbaar!

^ par. 13 Esegiël se tempelvisioen hou ook verband met ander herstellingsprofesieë wat in die laaste dae waar geword het. Kyk byvoorbeeld na die ooreenkomste tussen Esegiël 43:1-9 en Maleagi 3:1-5 en tussen Esegiël 47:1-12 en Joël 3:18.

^ par. 18 Die geestelike tempel het in 29 HJ begin bestaan toe Jesus gedoop was en sy werk as Hoëpriester begin het. Maar ná die dood van Jesus se apostels was rein aanbidding honderde jare lank afgeskeep. Ware aanbidding was veral vanaf 1919 verhoog.