Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERRIGTINGSVENSTER 15A

Twee onsedelike susters

Twee onsedelike susters

In Esegiël hoofstuk 23 word God se volk sterk veroordeel omdat hulle so dislojaal was. Hierdie hoofstuk stem op baie maniere ooreen met hoofstuk 16. Hoofstuk 23 gebruik ook die beeld van ’n prostituut. Daar word gesê dat Jerusalem die jonger suster is, en Samaria haar ouer suster. Albei hoofstukke wys hoe die jonger suster, net soos die ouer suster, ’n prostituut geword het, maar dat sy dan goddeloser en onsedeliker as haar ouer suster word. In hoofstuk 23 gee Jehovah die twee susters name: Ohola is die ouer suster, Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk van Israel, en Oholiba is die jonger suster, Jerusalem, die hoofstad van Juda. * – Eseg. 23:1-4.

Die twee hoofstukke het nog ooreenkomste. Die volgende is dalk die belangrikstes: Die prostitute was eers Jehovah se vrouens, en toe het hulle hom verraai. Albei hoofstukke gee ook hoop. In hoofstuk 23 sê Jehovah nie reguit dat hy sy volk sal red nie, maar sy woorde: “Ek sal ’n einde maak aan jou afstootlike gedrag en prostitusie,” stem wel ooreen met hoofstuk 16. – Eseg. 16:16, 20, 21, 37, 38, 41, 42; 23:4, 11, 22, 23, 27, 37.

Beeld hulle die Christendom af?

In die verlede het ons publikasies gesê dat die twee susters, Ohola en Oholiba, die Christendom afbeeld, wat hoofsaaklik bestaan uit die Katolieke Kerk en die Protestantse Kerk. Maar ná deeglike studie en gebed, het sekere vrae ontstaan. Was die Christendom al ooit Jehovah se vrou? Het Jehovah al ooit ’n verbond met haar gemaak? Nee. Die Christendom het nie eers bestaan toe Jesus die “nuwe verbond” met geestelike Israel gemaak het nie, en die Christendom was nooit ’n deel van daardie geestelike nasie van gesalfde Christene nie (Jer. 31:31; Luk. 22:20). Die Christendom het eers in die vierde eeu HJ, lank ná die dood van die apostels, begin bestaan. Hierdie afvallige, korrupte organisasie het bestaan uit valse Christene, dit wil sê “die onkruid” in Jesus se profesie oor die koring en die onkruid. – Matt. 13:24-30.

Nog ’n belangrike verskil is dat Jehovah vir die dislojale Jerusalem en Samaria die hoop gegee het dat hy hulle sou herstel (Eseg. 16:41, 42, 53-55). Gee die Bybel ook sulke hoop vir die Christendom? Nee! Sy het net so min hoop soos die res van Babilon die Grote.

So Ohola en Oholiba beeld nie die Christendom af nie, maar hulle help ons om iets belangriks te verstaan: Hoe Jehovah voel oor dié wat sê dat hulle hom aanbid, maar wat sy heilige naam ontheilig en wat nie gehoorsaam is aan sy standaarde vir rein aanbidding nie. Die Christendom is veral skuldig hieraan omdat baie kerke sê dat hulle die God van die Bybel verteenwoordig. En hulle sê dat Jehovah se geliefde Seun, Jesus Christus, hulle leier is. Maar hulle wys dat dit nie waar is nie deur te sê dat Jesus deel is van ’n drie-eenheid en deur nie sy duidelike gebod te gehoorsaam om “geen deel van die wêreld” te wees nie (Joh. 15:19). Omdat die Christendom al so lank betrokke is by afgodediens en die politiek, het sy bewys dat sy beslis deel is van “die groot prostituut” (Op. 17:1). Net soos die wêreldryk van valse godsdiens sal sy ook beslis vernietig word!

^ par. 3 Die betekenis van die name is belangrik. Ohola beteken “haar tent [van aanbidding]” – blykbaar verwys dit na die feit dat Israel hulle eie sentrums van aanbidding gebou het in plaas daarvan om Jehovah se tempel in Jerusalem te gebruik. Oholiba beteken “my tent [van aanbidding] is in haar”. Jerusalem was die plek waar Jehovah se huis van aanbidding was.