Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERRIGTINGSVENSTER 19A

Riviere vol seëninge van Jehovah af

Riviere vol seëninge van Jehovah af

Hier is ’n paar Bybelgedeeltes wat die woorde “rivier” en “water” gebruik om seëninge af te beeld wat van Jehovah af kom. Wanneer ons al hierdie verslae lees, sien ons hoe Jehovah ons seën, en dit moedig ons baie aan. Hoe so?

JOËL 3:18 Hierdie profesie praat van ’n fontein wat uit die tempelheiligdom vloei. Dit maak die droë “Vallei van die Akasiabome” nat. So Joël en Esegiël sien altwee ’n rivier wat lewe bring aan ’n droë plek. In albei gevalle kom die rivier uit Jehovah se huis, of tempel.

SAGARIA 14:8 Die profeet Sagaria sien “lewende waters” wat uit Jerusalem vloei. Die helfte van die water vloei na die oostelike see, of Dooie See, en die ander helfte na die westelike see, of Middellandse See. Jerusalem was “die stad van die groot Koning”, Jehovah God (Matt. 5:35). Die feit dat Sagaria daardie stad noem, laat ons dink aan die tyd wanneer Jehovah in die toekoms oor die hele aarde sal regeer. Ons verstaan al vir ’n lang tyd dat die water in hierdie profesie wys dat Jehovah twee groepe gehoorsame mense in die Paradys sal seën – dié wat deur die groot verdrukking lewe en dié wat daarna opgewek sal word.

OPENBARING 22:1, 2 Die apostel Johannes sien ’n simboliese rivier wat baie lyk soos die een wat Esegiël gesien het. Dit vloei nie uit ’n tempel uit nie, maar uit Jehovah se troon uit. Dit lyk asof hierdie visioen, soos Sagaria se visioen, ook die seëninge beklemtoon wat daar sal wees wanneer Jesus gedurende die duisend jaar regeer.

Maar daar is net ’n klein verskil tussen die seëninge wat daar sal wees wanneer Jehovah regeer en die seëninge wat deur die rivier in Esegiël se visioen afgebeeld word. Al hierdie seëninge kom van Jehovah, en alle gehoorsame mense sal dit ontvang.

PSALM 46:4 Dit lyk asof hierdie een vers albei aspekte insluit – aanbidding en heerskappy. Hier sien ons ’n rivier wat vreugde bring in “die stad van God”, wat verwys na koningskap en heerskappy, en in “die heilige, groot tabernakel van die Allerhoogste”, wat verwys na rein aanbidding.

Hierdie Bybelgedeeltes verseker ons dat Jehovah gehoorsame mense op twee maniere sal seën. Eerstens sal ons vir ewig baat vind by sy heerskappy, en tweedens sal ons vir ewig baat vind by sy reëling vir rein aanbidding. So laat ons nou vasbeslote wees om te bly drink van die “lewende water” wat Jehovah God en sy Seun vir ons gee – dit wil sê hulle liefdevolle voorsienings vir die ewige lewe! – Jer. 2:13; Joh. 4:10.