Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 15

“Ek sal ’n einde aan jou prostitusie maak”

“Ek sal ’n einde aan jou prostitusie maak”

ESEGIËL 16:41

HOOFPUNT: Wat ons leer uit die beskrywings van die prostitute in Esegiël en in Openbaring

1, 2. Watter soort prostituut vind ons dalk veral walglik?

DIT is baie hartseer om ’n persoon te sien wat ’n prostituut geword het. Ons wonder dalk wat veroorsaak het dat sy so ’n slegte lewe lei. Het sy miskien op ’n jong ouderdom ’n prostituut geword omdat iemand by die huis haar mishandel het? Of was sy so arm dat sy prostitusie as die enigste uitweg gesien het? Of het sy gevlug van haar man wat haar mishandel het? Sulke hartseer stories is so algemeen in hierdie goddelose wêreld. Dit is geen wonder dat Jesus Christus party prostitute liefdevol behandel het nie. Hy het dit duidelik gemaak dat mense wat berou toon en hulle lewe verander, ’n beter lewe kan hê. – Matt. 21:28-32; Luk. 7:36-50.

2 Maar kom ons dink aan ’n ander soort prostituut. Dink aan ’n vrou wat kies om ’n prostituut te word. Sy sien dit nie as iets vernederends nie, maar as iets wat haar mag gee! Sy geniet die geld en mag wat sy as gevolg van hierdie werk kry. Om dit nog erger te maak, het hierdie vrou ’n goeie, lojale man gehad, maar sy het gekies om dislojaal aan hom te wees sodat sy ’n prostituut kan word. So ’n vrou en haar lewenswyse sal seker vir jou walglik wees. Daarom gebruik Jehovah God oor en oor die beeld van ’n prostituut om te wys hoe hy oor valse godsdiens voel.

3. Watter Bybelverslae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

3 In die boek Esegiël is daar twee baie interessante Bybelverslae waarin die verskriklike dislojaliteit van God se volk in Israel en Juda met prostitusie vergelyk word (Eseg., hfst. 16 en 23). Maar voordat ons na hierdie verslae kyk, sal dit goed wees as ons ’n ander simboliese prostituut bespreek. Haar prostitusie het lank voor Esegiël se tyd begin, selfs voordat Israel bestaan het, en hierdie soort prostitusie kan vandag nog oral gesien word. Hierdie prostituut word in Openbaring, die laaste boek van die Bybel, geïdentifiseer.

“Die moeder van die prostitute”

4, 5. Wat is “Babilon die Grote”, en hoe weet ons dit? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

4 Aan die einde van die eerste eeu HJ het Jesus vir die apostel Johannes ’n visioen gegee. In hierdie visioen het Johannes ’n vrou gesien wat “die groot prostituut” en “Babilon die Grote, die moeder van die prostitute”, genoem word (Op. 17:1, 5). Vir honderde jare was haar ware identiteit vir godsdiensleiers en Bybelgeleerdes ’n groot raaisel. Party het gesê dat sy Babilon, Rome of die Rooms-Katolieke Kerk voorstel. Maar Jehovah se Getuies weet al baie jare lank wie hierdie “groot prostituut” regtig is. Sy stel die wêreldryk van valse godsdiens voor. Hoe weet ons dit?

5 Hierdie prostituut word veroordeel omdat sy seksuele onsedelikheid gepleeg het met “die konings van die aarde”, dit wil sê die politieke magte. So dit is duidelik dat sy nie ’n politieke mag voorstel nie. En Openbaring wys ook dat “die handelaars van die aarde”, of die kommersiële en besigheidstelsels van hierdie wêreld, sal treur omdat Babilon die Grote vernietig is. So Babilon die Grote kan nie die kommersiële en besigheidstelsels voorstel nie. So wat stel sy dan voor? Sy beoefen “spiritistiese gebruike” en is skuldig aan afgodediens en bedrog. Pas hierdie beskrywings nie perfek by die korrupte godsdiensorganisasies van hierdie wêreld nie? En daar word ook gesê dat hierdie prostituut op die politieke stelsels van hierdie wêreld sit. Dit beteken dat sy ’n sekere mate van invloed op hulle het. Sy vervolg ook lojale aanbidders van Jehovah God (Op. 17:2, 3; 18:11, 23, 24). Is dit nie presies wat valse godsdiens tot vandag toe gedoen het nie?

Baie valse godsdiensgebruike, -leringe en -organisasies het ontstaan in eertydse Babel, wat later Babilon genoem is (Sien paragraaf 6)

6. In watter sin is Babilon die Grote die “moeder van die prostitute”?

6 Maar hoekom word Babilon die Grote nie net “die groot prostituut” genoem nie, maar ook “die moeder van die prostitute”? Valse godsdiens bestaan uit baie verskillende godsdienste en sektes. Vanaf die tyd toe die tale in eertydse Babel, of Babilon, verwar is, het verskillende valse godsdiensleringe regoor die wêreld versprei, en dit het gelei tot baie verskillende godsdienste. Dit is gepas dat “Babilon die Grote” vernoem is na Babilon, die stad waar baie valse godsdienste begin het (Gen. 11:1-9). So al hierdie godsdienste kan gesien word as “dogters” van een organisasie, dit wil sê van een groot prostituut. Baie keer gebruik Satan sulke godsdienste om mense te kry om by spiritisme betrokke te raak, om afgode te aanbid en om ander dinge te glo en te doen wat oneer oor God bring. Dit is geen wonder dat God se volk teen hierdie korrupte, wêreldwye organisasie gewaarsku word nie. Die waarskuwing is: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie”! – Lees Openbaring 18:4, 5.

7. Hoekom luister ons na die waarskuwing om uit Babilon die Grote uit te gaan?

7 Het jy na daardie waarskuwing geluister? Onthou dat mense “God nodig het” omdat Jehovah hulle met daardie behoefte gemaak het (Matt. 5:3). Die enigste manier om daardie behoefte te bevredig, is deur Jehovah op ’n rein manier te aanbid. Aanbidders van Jehovah wil natuurlik so ver as moontlik van valse aanbidding af wegbly. Maar Satan die Duiwel hou daarvan om God se volk betrokke te kry by hierdie soort prostitusie. En hy het dit al baie reggekry. Teen Esegiël se dag het God se volk al ’n lang geskiedenis van geestelike prostitusie gehad. Dit sal goed wees as ons hierdie geskiedenis ken, want dit kan ons baie leer oor Jehovah se standaarde, sy geregtigheid en sy genade.

“Jy het ’n prostituut geword”

8-10. (a) Wat is ’n belangrike vereiste vir rein aanbidding? (b) Hoe voel Jehovah wanneer iemand betrokke raak by valse godsdiens? Verduidelik.

8 In die boek Esegiël gebruik Jehovah die illustrasie van ’n prostituut om te wys hoe die dislojaliteit van sy volk hom persoonlik geraak het. Esegiël was geïnspireer om twee baie interessante verslae neer te skryf wat wys hoe hartseer en seergemaak Jehovah gevoel het omdat sy volk so dislojaal en onsedelik was. Hoekom sou hy hulle met prostitute vergelyk?

9 Om die antwoord te kry, moet ons eers dink aan ’n belangrike vereiste vir rein aanbidding wat ons in Hoofstuk 5 van hierdie boek bespreek het. In die Wet wat Jehovah vir die Israeliete gegee het, het hy gesê: “Jy mag geen ander gode buiten my [of “in verset teen my”, vtn.] hê nie. . . . Ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Eks. 20:3, 5). Later het hy dieselfde waarheid beklemtoon deur te sê: “Julle mag nie voor ’n ander god neerbuig nie, want Jehovah is daarvoor bekend dat hy uitsluitlike toegewydheid vereis. Ja, hy is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Eks. 34:14). Jehovah kon dit nie nog duideliker gemaak het nie. Jehovah sal nie ons aanbidding aanvaar as ons hom nie alleen aanbid nie.

10 Ons kan dit vergelyk met ’n huwelik. ’n Man en vrou het die reg om te verwag dat hulle huweliksmaat lojaal aan hulle moet wees. As een van hulle romantiese belangstelling in iemand anders toon of seksuele omgang met iemand anders het, sou die ander maat die reg hê om jaloers te wees en om te voel dat sy huweliksmaat hom verraai het. (Lees Hebreërs 13:4.) Net so voel Jehovah ook verraai wanneer sy eie volk, wat net aan hom toegewyd is, valse gode aanbid. In Esegiël hoofstuk 16 maak Jehovah dit duidelik dat hulle dislojaliteit hom diep seergemaak het.

11. Wat het Jehovah gesê oor Jerusalem en waar sy vandaan kom?

11 Esegiël hoofstuk 16 bevat die langste aanhaling van Jehovah se woorde in die hele boek, en dit is een van sy langste profesieë in die Hebreeuse Geskrifte. Jehovah gebruik die stad Jerusalem om dislojale Juda voor te stel. Hy vertel die hartseer en skokkende storie van waar sy vandaan kom en van hoe sy hom verraai het. Jehovah het haar as ’n hulpelose baba gevind. Sy was vuil, en sy het niemand gehad om vir haar te sorg nie. Haar ouers was die heidense Kanaäniete van die land. Ja, Jerusalem was lank onder die beheer van ’n Kanaänitiese stam, die Jebusiete, totdat Dawid die stad oorwin het. Jehovah het vir haar jammer gevoel en het haar skoongemaak en vir haar gesorg. Later het sy vir hom soos ’n vrou geword. Die Israeliete, wat uiteindelik in die stad gaan woon het, het al in Moses se tyd gewillig met Jehovah ’n verbond gemaak om lojaal aan hom te wees (Eks. 24:7, 8). Nadat Jerusalem die hoofstad van die land geword het, het Jehovah haar geseën, haar ryk gemaak en haar mooi gemaak, net soos ’n ryk en magtige man vir sy vrou pragtige geskenke sal gee. – Eseg. 16:1-14.

Salomo se uitlandse vrouens het druk op hom geplaas om Jerusalem met afgodediens te besoedel (Sien paragraaf 12)

12. Hoe het mense in Jerusalem dislojaal geword?

12 Kyk wat volgende gebeur het. Jehovah het gesê: “Jy het op jou skoonheid begin vertrou, en jy het ’n prostituut geword omdat jy so beroemd was. Jy het prostitusie gepleeg met elke verbyganger, en jy het jou skoonheid aan elkeen van hulle gegee” (Eseg. 16:15). In Salomo se tyd het Jehovah sy volk so geseën en ryk gemaak dat Jerusalem een van die mooiste stede geword het van die wêreld van daardie tyd (1 Kon. 10:23, 27). Maar die volk het stadig maar seker dislojaal begin word. Omdat Salomo sy baie uitlandse vrouens tevrede wou stel, het hy Jerusalem met afgodediens begin besoedel (1 Kon. 11:1-8). En party van die konings ná hom, het selfs erger dinge gedoen. Hulle het die hele land met valse aanbidding besoedel. Hoe het Jehovah gevoel oor hierdie prostitusie en dislojaliteit? Hy het gesê: “Sulke dinge moenie plaasvind nie en moet nooit gebeur nie” (Eseg. 16:16). Maar Jehovah se hardkoppige volk het al hoe slegter geword!

Party Israeliete het hulle kinders aan valse gode, soos Molog, geoffer

13. Watter goddelose dinge het God se volk in Jerusalem gedoen?

13 Die slegtheid van Jehovah se volk was vir hom walglik en het hom baie seergemaak. En daarom het hy gesê: “Jy het jou seuns en jou dogters waaraan jy vir my geboorte geskenk het, geneem en hulle aan afgode geoffer om verteer te word. Was jou dade van prostitusie nie genoeg nie? Jy het my kinders geslag en hulle as offerandes in die vuur verbrand” (Eseg. 16:20, 21). Die verskriklike dinge wat die mense van Jerusalem gedoen het, wys vir ons hoe goddeloos Satan is. Hy hou daarvan om Jehovah se volk te kry om sulke walglike dinge te doen! Maar Jehovah sien alles. God kan selfs die ergste dinge wat Satan gedoen het, regmaak – dit sal wees asof dit nooit gebeur het nie. En Hy sal die skuldiges straf. – Lees Job 34:24.

14. Wie was Jerusalem se twee susters in Jehovah se illustrasie, en wie was die slegste van die drie?

14 Maar Jerusalem het nie skaam gevoel oor die slegte dinge wat sy gedoen het nie. Sy het aangehou met haar prostitusie. Jehovah het gesê dat sy selfs nog slegter was as ander prostitute, want sy het ander eintlik betaal om seksuele omgang met haar te hê! (Eseg. 16:34). God het gesê dat Jerusalem net soos haar “ma” was, dit wil sê die heidense stamme wat vroeër oor die land regeer het (Eseg. 16:44, 45). Hy het hierdie illustrasie verder gevat en gesê dat Samaria Jerusalem se ouer suster was. Samaria het nog voor Jerusalem godsdiensprostitusie gepleeg. God praat ook van ’n tweede suster, Sodom. Dit laat ’n mens dink aan die eertydse stad Sodom, wat vernietig was omdat die mense daar so trots en goddeloos was. Jehovah se punt was dat Jerusalem nog slegter was as haar susters, Samaria en selfs Sodom! (Eseg. 16:46-50). God se volk het baie waarskuwings geïgnoreer en het aangehou om walglike dinge te doen.

15. Hoekom sou Jehovah Jerusalem straf, en watter hoop het Jehovah gegee?

15 Wat sou Jehovah doen? Hy het vir Jerusalem gesê: “Ek [bring] almal bymekaar met wie jy ’n seksuele verhouding het en aan wie jy genot verskaf het,” en “ek sal jou in hulle hand gee”. Die heidense nasies op wie sy volk voorheen vertrou het, sou haar vernietig en haar skoonheid en waardevolle dinge wegvat. Hy het gesê: “Hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde doodmaak.” Hoekom sou Jehovah sy volk straf? Hy wou hulle nie vernietig nie. Hy wou eerder “’n einde aan [hulle] prostitusie maak”. God het verder gesê: “Dan sal ek my woede teen jou laat bedaar, en dit sal van jou af wegdraai, en ek sal kalm wees en nie meer aanstoot neem nie.” Soos ons in Hoofstuk 9 van hierdie boek bespreek het, was dit Jehovah se langtermyn doel om sy volk ná hulle gevangenskap te herstel. Hoekom? Hy het gesê: “Ek sal self die verbond onthou wat ek met jou in jou jong dae gemaak het” (Eseg. 16:37-42, 60). Anders as sy volk, sou Jehovah bewys dat hy heeltemal lojaal is! – Lees Openbaring 15:4.

16, 17. (a) Hoekom sê ons nie meer dat Ohola en Oholiba die Christendom afbeeld nie? (Sien die venster “Twee onsedelike susters”.) (b) Watter praktiese lesse kan ons leer uit Esegiël hoofstuk 16 en 23?

16 Jehovah se kragtige woorde in Esegiël hoofstuk 16 en hoofstuk 23 leer ons baie oor sy regverdige standaarde, sy geregtigheid en sy groot genade. Ware Christene van vandag neem Jehovah se duidelike boodskappe oor die prostitusie van sy volk ernstig op. Ons wil niks doen wat Jehovah kan seermaak, soos Juda en Jerusalem gedoen het nie! Daarom wil ons afgodediens heeltemal vermy. Dit sluit gierigheid en materialisme in, wat vorme van afgodediens kan wees (Matt. 6:24; Kol. 3:5). Ons wil altyd dankbaar wees dat Jehovah rein aanbidding in hierdie laaste dae as gevolg van sy groot genade herstel het en dat hy nooit weer sal toelaat dat dit besoedel word nie! Hy het “’n permanente verbond” met geestelike Israel gemaak, ’n verbond wat nooit as gevolg van dislojaliteit of prostitusie gebreek sal word nie (Eseg. 16:60). So laat ons die voorreg waardeer om deel te kan wees van Jehovah se rein volk van vandag.

17 Maar wat leer Jehovah se woorde oor die prostitute in Esegiël ons oor “die groot prostituut”, Babilon die Grote? Kom ons kyk.

“Sy sal nooit weer gevind word nie”

18, 19. Hoe was die prostitute in Esegiël en die prostituut in Openbaring gestraf?

18 Jehovah verander nie (Jak. 1:17). Sy gevoelens oor valse godsdiens het regdeur die geskiedenis van Babilon die Grote dieselfde gebly. So dit verbaas ons nie om te sien dat die prostitute in die boek Esegiël en “die groot prostituut” in die boek Openbaring op dieselfde manier gestraf word nie.

19 Byvoorbeeld, die prostitute in Esegiël se profesieë was nie direk deur Jehovah gestraf nie. Hy het eerder die nasies gebruik met wie God se dislojale volk geestelike onsedelikheid gepleeg het. Net so word die wêreldryk van valse godsdiens veroordeel omdat sy sulke onsedelikheid pleeg met “die konings van die aarde”. En wie gebruik Jehovah om haar te straf? Ons lees dat hierdie politieke stelsels “die prostituut [sal] haat en . . . haar [sal] verwoes en kaal maak, en hulle sal haar vlees opvreet en haar heeltemal met vuur verbrand”. Hoekom sal die regerings van hierdie wêreld iets so onverwags doen? Want God sal “dit in hulle harte [sit] om sy gedagte uit te voer”. – Op. 17:1-3, 15-17.

20. Hoe weet ons dat die oordeel teen Babilon finaal sal wees?

20 So Jehovah sal die nasies van hierdie wêreld gebruik om alle valse godsdiens te vernietig, insluitende die baie godsdienste van die Christendom. Hierdie oordeel sal finaal wees. Daar sal geen vergifnis wees nie, en godsdienste sal nie meer die kans hê om hulle gedrag te verander nie. Openbaring sê dat Babilon “nooit weer gevind [sal] word nie” (Op. 18:21). God se engele sal bly wees oor haar vernietiging en sal sê: “Loof Jah! En die rook wat uit haar kom, bly vir ewig en altyd opgaan” (Op. 19:3). Hierdie oordeel sal vir ewig geld. Jehovah sal nooit weer toelaat dat enige valse godsdiens ontstaan en dat dit rein aanbidding besoedel nie. Ná Babilon se oordeel en vernietiging sal rook in ’n figuurlike sin vir ewig uit Babilon opgaan.

Die nasies wat al lank deur Babilon die Grote verlei en beïnvloed is, sal teen haar draai en haar vernietig (Sien paragraaf 19, 20)

21. Wat sal begin wanneer valse godsdiens vernietig word, en hoe sal daardie tydperk eindig?

21 Wanneer die regerings van hierdie wêreld teen Babilon die Grote draai, sal hulle God se oordeel uitvoer, ’n belangrike stap in die vervulling van Jehovah se wil. Dit sal die begin van die groot verdrukking wees, ’n baie moeilike tyd soos daar nog nooit voorheen was nie en ook nooit weer sal wees nie (Matt. 24:21). Die groot verdrukking sal eindig met Armageddon, Jehovah se oorlog teen hierdie goddelose wêreld (Op. 16:14, 16). In die volgende hoofstukke van hierdie boek sal ons sien dat die boek Esegiël baie inligting het oor wat gedurende die groot verdrukking sal gebeur. Maar watter praktiese lesse uit Esegiël hoofstuk 16 en 23 wil ons onthou en toepas?

Die regerings van hierdie wêreld sal teen Babilon die Grote draai en God se oordeel uitvoer (Sien paragraaf 21)

22, 23. Watter uitwerking kan dit op ons aanbidding hê as ons die beskrywings van die prostitute in Esegiël en Openbaring bestudeer?

22 Satan hou daarvan om Jehovah se aanbidders te mislei sodat hulle Hom nie op ’n rein manier aanbid nie. Dit sal Satan baie bly maak as ons ons rug op rein aanbidding draai en ons gedra soos die prostitute wat in die boek Esegiël beskryf word. Maar ons moet onthou dat Jehovah nie ons aanbidding sal aanvaar as ons nie heeltemal lojaal aan hom bly nie! (Num. 25:11). Ons maak seker dat ons ver weg bly van valse godsdiens en dat ons “aan niks raak wat onrein is” in God se oë nie (Jes. 52:11). En ons bly neutraal wanneer dit kom by die politieke konflikte van hierdie verdeelde wêreld (Joh. 15:19). Vir ons is nasionalisme net nog ’n valse godsdiens wat deur Satan bevorder word, en ons het niks daarmee te doen nie.

23 Ons moet veral onthou dat dit ’n groot voorreg is om Jehovah in sy skoon, rein geestelike tempel te aanbid. Ons wil daardie wonderlike voorreg waardeer en vasbeslote wees om ver weg te bly van valse godsdiens en haar prostitusie!