Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

“My groot woede [sal] opvlam”

“My groot woede [sal] opvlam”

Esegiël 38:18

HOOFPUNT: Gog se aanval maak Jehovah kwaad. Jehovah verdedig sy volk gedurende die oorlog van Armageddon

1-3. (a) Wat sal die resultaat van Jehovah se “groot woede” wees? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat sal ons nou bespreek?

DIE mans, vrouens en kinders staan en sing ’n Koninkryksliedjie. Dan bid ’n ouerman uit die hart uit, en hy smeek Jehovah om hulle te beskerm. Die broers en susters is vol vertroue dat Jehovah vir hulle sal sorg, maar hulle het nog steeds vertroosting en versekering nodig. ’n Mens kan die harde geluid van mense wat buite veg, hoor. Armageddon het begin! – Op. 16:14, 16.  

2 Gedurende die oorlog van Armageddon sal Jehovah mense as gevolg van sy “groot woede” vernietig. (Lees Esegiël 38:18.) Hy sal sy groot woede nie teen een leërmag of een nasie rig nie, maar teen miljoene mense regoor die wêreld. Op daardie dag sal die mense wat deur Jehovah doodgemaak is, “van die een einde van die aarde tot aan die ander einde van die aarde lê”. – Jer. 25:29, 33.

3 Wat laat Jehovah, die God van liefde, die een “wat genadig is en medelye betoon” en “wat nie gou kwaad word nie”, in “groot woede” optree? (Eks. 34:6; 1 Joh. 4:16). Kom ons kyk hoe die antwoord op daardie vraag ons kan vertroos, ons moed kan gee en ons kan motiveer in ons predikingswerk

Wat veroorsaak Jehovah se “groot woede”?

4, 5. Hoe is God se woede anders as dié van onvolmaakte mense?

4 Ons moet eers besef dat Jehovah se woede nie soos die woede van onvolmaakte mense is nie. Wanneer iemand woedend word en dan uiteindelik iets daaromtrent doen, verloor hy baie keer beheer, en die gevolge is amper nooit goed nie. Byvoorbeeld, Kain, die eerste seun van Adam, het “baie kwaad geword” omdat Jehovah nie sy offerande wou aanvaar nie, maar wel Abel se offerande aanvaar het. Wat het toe gebeur? Kain het sy regverdige broer vermoor (Gen. 4:3-8; Heb. 11:4). Dink ook aan Dawid, wat beskryf word as ’n man wat Jehovah se goedkeuring gehad het (Hand. 13:22). Selfs hierdie goeie man het amper iets verskrikliks gedoen toe hy gehoor het dat die ryk grondeienaar Nabal hom en sy manne beledig het. Dawid en sy soldate was woedend, en hulle het “hulle swaarde vasgebind” om nie net die ondankbare Nabal dood te maak nie, maar ook elke man in sy huishouding. Gelukkig kon Nabal se vrou, Abigail, Dawid en sy manne oortuig om nie wraak te neem nie (1 Sam. 25:9-14, 32, 33). Jehovah het Jakobus met goeie rede die volgende woorde laat neerskryf: “’n Mens se woede lei nie tot God se regverdigheid nie.” – Jak. 1:20.

Jehovah het altyd beheer oor sy woede, en dit is altyd duidelik hoekom hy woedend is

5 Anders as mense, het Jehovah altyd beheer oor sy woede, en dit is altyd duidelik hoekom hy woedend is. Selfs wanneer Jehovah baie woedend is, tree hy altyd regverdig op. Wanneer hy teen ’n vyand veg, vernietig hy nooit “die regverdige mense saam met die goddelose mense” nie (Gen. 18:22-25). En Jehovah word net kwaad as daar ’n goeie rede daarvoor is. Kom ons kyk na twee redes en die lesse wat ons daaruit kan leer.

6. Hoe reageer Jehovah wanneer sy naam deur die modder gesleep word?

6 Rede: Jehovah se naam word deur die modder gesleep. Mense wat sê dat hulle Jehovah dien, maar wat slegte dinge doen, beskadig sy reputasie en maak hom kwaad (Eseg. 36:23). Soos ons in die vorige hoofstukke van hierdie boek bespreek het, het die nasie Israel groot oneer op Jehovah se naam gebring. Ons kan verstaan hoekom hulle gesindheid en wat hulle gedoen het, Jehovah kwaad gemaak het. Maar hy was altyd in beheer van sy woede – hy het sy volk altyd in die regte mate gestraf, en hy het nooit te ver gegaan nie (Jer. 30:11). Wanneer Jehovah se woede sy doel bereik het, was hy nie meer kwaad nie en was daar nie meer negatiewe gevoelens nie. – Ps. 103:9.

7, 8. Watter lesse leer ons uit die feit dat Jehovah die Israeliete gestraf het?

7 Lesse: Die feit dat Jehovah die Israeliete gestraf het, is ’n ernstige waarskuwing vir ons. Soos die eertydse Israeliete, het ons die voorreg om Jehovah se naam te dra. Ons is Jehovah se Getuies (Jes. 43:10). Wat ons sê en doen, het ’n uitwerking op wat mense van Jehovah dink. Ons wil nooit aspris verkeerde dinge doen en oneer op Jehovah se naam bring nie. Dit sal Jehovah kwaad maak, en vroeër of later sal hy optree om sy reputasie te beskerm. – Heb. 3:13, 15; 2 Pet. 2:1, 2.

8 Moet die waarskuwing dat Jehovah woedend kan word, ons keer om nader aan hom te kom? Nee. Ons weet dat Jehovah geduldig is en mense vryelik vergewe (Jes. 55:7; Rom. 2:4). Maar ons weet ook dat hy mense dissiplineer wanneer dit nodig is. Ons ontwikkel ’n gesonde vrees vir hom omdat ons weet dat hy kwaad sal word vir dié wat aanhou om verkeerde dinge te doen en dat hy nie sal toelaat dat hulle deel van sy volk bly nie (1 Kor. 5:11-13). Jehovah het duidelik vir ons gesê wat hom kwaad maak. Dit hang van ons af om die gesindhede en dade te vermy wat hom kwaad maak. – Joh. 3:36; Rom. 1:26-32; Jak. 4:8.

9, 10. Hoe reageer Jehovah wanneer sy lojale aanbidders bedreig word? Gee voorbeelde.

9 Rede: Jehovah se lojale volk word bedreig. Jehovah word kwaad wanneer vyande sy lojale aanbidders wat by hom beskerming soek, aanval. Byvoorbeeld, nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het Farao en sy magtige leërmag die volk wat hulpeloos gelyk het, tot by die Rooisee agternagesit. Maar toe daardie magtige leërmag die Israeliete deur die droë bedding agternagesit het, het Jehovah die wiele van hulle strydwaens laat afval en die Egiptenare in die see afgeskud. “Nie eers een van hulle is gespaar nie” (Eks. 14:25-28). Jehovah het gewys dat hy baie kwaad was vir die Egiptenare as gevolg van sy “lojale liefde” vir sy volk. – Lees Eksodus 15:9-13.

Net soos ’n engel God se volk in die dae van Hiskia teen die Assiriërs beskerm het, sal engele ons ook beskerm (Sien paragraaf 10, 23)

10 Jehovah se liefde vir sy volk het hom ook gemotiveer om in die dae van koning Hiskia op te tree. Die Assiriërs, wat die magtigste en wreedste leërmag in daardie tyd gehad het, het in Jerusalem aangekom en was gereed om die stad aan te val. Hulle het die stad beleër, en dit sou dalk vir Jehovah se lojale knegte ’n stadige, verskriklike dood beteken het (2 Kon. 18:27). Toe het Jehovah net een engel gestuur, en hy het 185 000 soldate in net een nag doodgemaak! (2 Kon. 19:34, 35). Dink net hoe die kamp van die Assiriërs die volgende dag gelyk het. Oral het daar spiese, skulde en swaarde gelê. Niemand het op ’n trompet geblaas om die manne wakker te maak nie. Niemand het vir die soldate bevele gegee nie. Daar was ’n doodse stilte in die kamp, en oral was daar lyke.

11. Wat leer ons uit hoe Jehovah reageer wanneer sy volk bedreig word?

11 Lesse: Hierdie voorbeelde van hoe Jehovah reageer wanneer sy volk bedreig word, is ’n ernstige waarskuwing vir ons vyande: “Dit is iets vreesliks om in die hande van die lewende God te val” wanneer hy kwaad is (Heb. 10:31). Hierdie selfde voorbeelde vertroos ons en gee ons moed. Dit vertroos ons om te weet dat ons grootste vyand, Satan, nie suksesvol sal wees nie. Hy het “min tyd” oor, en binnekort sal hy nie meer die wêreld beheer nie! (Op. 12:12). Tot dan kan ons Jehovah dien sonder om bang te wees, en ons kan daarvan seker wees dat geen mens, organisasie of regering ons kan keer om God se wil te doen nie. (Lees Psalm 118:6-9.) Die apostel Paulus het met die volgende woorde beskryf hoe ons voel: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” – Rom. 8:31.

12. Wat sal Jehovah se woede gedurende die groot verdrukking laat opvlam?

12 Gedurende die groot verdrukking sal Jehovah ons beskerm net soos hy die Israeliete beskerm het wat deur die Egiptenare vasgekeer was en soos hy die Jode beskerm het wat deur die Assiriërs in Jerusalem beleër was. Wanneer ons vyande ons probeer vernietig, sal Jehovah se diep liefde vir ons sy woede laat opvlam. Dié wat dom genoeg is om ons aan te val, sal in werklikheid aan Jehovah se oogappel raak. Hy sal vinnig en finaal optree (Sag. 2:8, 9). Miljoene mense sal hulle lewens verloor – dit sal ’n slagting wees soos nog nooit tevore nie. Maar God se vyande sal nie ’n rede hê om verbaas te wees wanneer Jehovah wys hoe woedend hy vir hulle is nie. Hoekom nie?

Watter waarskuwings het Jehovah gegee?

13. Watter waarskuwings het Jehovah gegee?

13 Jehovah ‘word nie gou kwaad nie’, en hy het baie waarskuwings gegee dat hy dié sal vernietig wat hom teëstaan en wat sy volk bedreig (Eks. 34:6, 7). Jehovah het profete soos Jeremia, Esegiël, Daniël, Christus Jesus en die apostels Petrus, Paulus en Johannes gebruik om mense te waarsku oor ’n groot oorlog wat nog kom. – Sien die venster “Jehovah waarsku mense oor ’n groot oorlog wat nog kom”.

14, 15. Watter werk het Jehovah gedoen, en hoekom?

14 Jehovah het hierdie waarskuwings in sy Woord laat neerskryf. Hy het ook seker gemaak dat die Bybel in meer tale vertaal word as enige ander boek in die geskiedenis en dat dit die grootste verspreiding in die wêreld het. Hy het ’n leërmag van vrywilligers regoor die wêreld wat mense help om ’n goeie verhouding met God te hê en wat hulle waarsku oor die “groot dag van Jehovah” wat binnekort sal kom (Sef. 1:14; Ps. 2:10-12; 110:3). Hy het sy volk gemotiveer om Bybelstudiepublikasies in honderde tale te vertaal en om elke jaar miljoene ure te spandeer om met ander oor die beloftes en die waarskuwings in sy Woord te praat.

15 Jehovah het al hierdie werk laat doen “omdat hy nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9). Dit is vir ons ’n voorreg om ons liefdevolle, geduldige God te verteenwoordig en om ’n klein rol te speel in die verkondiging van sy boodskap! Maar binnekort sal die tyd om na hierdie waarskuwings te luister, verby wees.

Wanneer sal Jehovah se woede “opvlam”?

16, 17. Het Jehovah ’n dag gekies vir die finale oorlog? Verduidelik.

16 Jehovah het ’n dag gekies vir die finale oorlog. Hy weet vooraf wanneer sy volk aangeval sal word (Matt. 24:36). Hoe weet Jehovah wanneer sy vyande sy volk sal aanval?

17 Soos ons in die vorige hoofstuk van hierdie boek gesien het, sal Jehovah vir Gog sê: “Ek sal . . . hake in jou kakebene sit.” Hy sal gebeure so rig dat die nasies sy volk sal aanval (Eseg. 38:4). Dit beteken nie dat Jehovah hierdie geveg begin nie. Dit beteken ook nie dat hy die vrye wil van dié wat hom teëstaan, wegvat nie. Dit wys eerder dat Jehovah harte kan lees en weet hoe sy vyande op sekere omstandighede sal reageer. – Ps. 94:11; Jes. 46:9, 10; Jer. 17:10.

18. Hoekom sal mense teen die Almagtige begin veg?

18 So as Jehovah nie die geveg begin nie of sy vyande dwing om te veg nie, hoekom sal mense hulleself in ’n posisie sit waar hulle teen die Almagtige sal veg? Een rede is dat hulle heel moontlik hulleself teen daardie tyd al sou oortuig het dat God nie bestaan nie of dat hy nie betrokke sal raak by wat mense doen nie. Dalk sal hulle so dink omdat hulle alle valse godsdiensorganisasies op die aarde al teen daardie tyd sou vernietig het. Daarom sal hulle dalk sê: ‘As God bestaan het, sou hy mos die organisasies wat sê dat hulle hom verteenwoordig, verdedig het.’ Hulle sal nie besef dat God eintlik die gedagte in hulle harte gesit het om godsdienste te vernietig wat so ’n verkeerde beeld van hom gegee het nie. – Op. 17:16, 17.

19. Wat sal heel moontlik gebeur nadat valse godsdiens vernietig is?

19 Die een of ander tyd nadat valse godsdiens vernietig is, sal Jehovah heel moontlik sy volk ’n kragtige boodskap laat verkondig. Die boek Openbaring vergelyk dit met ’n haelstorm met haelstene wat elkeen ongeveer 20 kg weeg (Op. 16:21, vtn.). Hierdie boodskap sal moontlik bekend maak dat die politieke en kommersiële stelsel binnekort tot ’n einde sal kom. Dit sal die mense so ontstel dat hulle God sal laster. Hierdie boodskap sal heel moontlik veroorsaak dat die nasies God se volk aanval – om ons eens en vir altyd stil te maak. Hulle sal dink dat dit maklik is om ons te vernietig. Dit sal ’n baie groot fout wees!

Hoe sal Jehovah wys dat hy woedend is?

20, 21. Wie is Gog, en wat sal met hom gebeur?

20 Soos ons in Hoofstuk 17 van hierdie boek gesien het, gebruik Esegiël ’n profetiese titel, “Gog van die land Magog,” vir die groep nasies wat ons aanval (Eseg. 38:2). Maar dit sal net lyk asof hierdie groep verenig is. Al lyk dit asof hulle saamwerk, sal hulle nog steeds teen mekaar kompeteer en trots en nasionalisties wees. Dit sal vir Jehovah maklik wees om elkeen se swaard “teen sy eie broer” te draai (Eseg. 38:21). Maar die nasies sal nie deur mense vernietig word nie.

21 Voordat ons vyande vernietig word, sal hulle die teken van die Seun van die mens sien. Dit sal heel moontlik ’n bonatuurlike bewys van Jehovah en Jesus se krag wees. Die teenstanders sal dinge sien wat hulle baie bang sal maak. Soos Jesus voorspel het, sal mense “flou word van vrees en spanning as gevolg van die dinge wat oor die bewoonde aarde kom” (Luk. 21:25-27). Hulle sal baie groot skrik wanneer hulle besef dat hulle ’n fout gemaak het toe hulle Jehovah se volk aangeval het. Hulle sal gedwing word om die Skepper te leer ken in sy rol as militêre bevelvoerder, Jehovah van die leërmagte (Ps. 46:6-11; Eseg. 38:23). Jehovah sal hemelse leërmagte en natuurlike kragte op so ’n manier gebruik dat hy sy lojale aanbidders beskerm, maar sy vyande vernietig. – Lees 2 Petrus 2:9.

Wanneer sy volk bedreig word, sal Jehovah hemelse leërmagte gebruik om te wys hoe woedend hy is (Sien paragraaf 21)

22, 23. Wie sal God se volk beskerm, en hoe sal hulle oor hulle werk voel?

Wat moet die dinge wat ons oor Jehovah se dag weet, ons motiveer om te doen?

22 Dink aan hoe gretig Jesus sal wees om die leiding te neem in die aanval teen God se vyande en om die mense te beskerm wat vir sy Vader lief is en Hom dien. Dink ook aan hoe die gesalfdes sal voel. Op die een of ander stadium voordat Armageddon begin, sal die gesalfdes wat nog op die aarde is, hemel toe gaan sodat al 144 000 saam met Jesus kan veg (Op. 17:12-14). Baie van die gesalfdes het goeie vriendskappe met lede van die ander skape ontwikkel terwyl hulle saam met hulle gedurende die laaste dae gewerk het. By Armageddon sal die gesalfdes die gesag en die krag hê om dié te verdedig wat hulle so lojaal ondersteun het gedurende moeilike tye. – Matt. 25:31-40.

23 Engele sal ook deel wees van Jesus se hemelse leërmag (2 Tess. 1:7; Op. 19:14). Hulle het hom alreeds gehelp om Satan en die demone uit die hemel te gooi (Op. 12:7-9). En hulle het gehelp om dié wat Jehovah wil dien, op die aarde bymekaar te maak (Op. 14:6, 7). Dit is gepas dat Jehovah die engele sal toelaat om hierdie lojale aanbidders te beskerm! Die belangrikste is dat almal in Jehovah se leërmag dit as ’n voorreg sal beskou om sy naam, of reputasie, te heilig en te regverdig deur te help om sy vyande te vernietig. – Matt. 6:9, 10.

24. Hoe sal die groot menigte ander skape reageer?

24 Omdat die groot menigte ander skape deur so ’n magtige, gemotiveerde leërmag beskerm word, sal hulle geen rede hê om bang te wees nie. Om die waarheid te sê, hulle sal ‘regop staan en hulle koppe oplig, want hulle verlossing kom nader’ (Luk. 21:28). Jehovah is so ’n genadige Vader, en hy wil ons graag beskerm! Dit is baie belangrik dat ons soveel mense as moontlik help om Jehovah te leer ken en hom lief te kry, voordat sy dag kom. – Lees Sefanja 2:2, 3.

Gedurende Armageddon sal Jehovah se volk nie veg nie. Engele sal hulle beskerm terwyl die vyande teen mekaar draai. – Eseg. 38:21 (Sien paragraaf 22-24)

25. Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

25 Ná ’n oorlog is daar gewoonlik chaos en baie hartseer. Maar ná Armageddon sal daar orde en geluk wees. Hoe sal dit wees wanneer Jehovah se woede tot ’n einde kom, sy soldate hulle swaarde wegsit en die laaste geluide van die groot oorlog heeltemal stil word? In die volgende hoofstuk sal ons daardie wonderlike toekoms bespreek.