Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

“Ek is teen jou, o Gog”

“Ek is teen jou, o Gog”

ESEGIËL 38:3

HOOFPUNT: Die identiteit van “Gog” en “die land” wat hy binneval

1, 2. Watter groot oorlog lê nog voor, en watter vrae ontstaan daaroor? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

OORLOË veroorsaak al duisende jare lank die dood van baie mense. Dink maar net aan die duisende mense wat as gevolg van die twee wêreldoorloë in die 20ste eeu dood is. Maar die grootste oorlog in die geskiedenis lê nog voor. Hierdie oorlog is nie net nog ’n oorlog tussen mense, waar nasies op die aarde vir selfsugtige redes teen mekaar veg nie. Hierdie oorlog sal eerder “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” wees (Op. 16:14). Hierdie oorlog sal begin word deur ’n trotse vyand wat ’n land binneval wat baie kosbaar is vir God. Dit sal veroorsaak dat die Soewereine Heer Jehovah sy vernietigende krag op ’n manier wys wat nog nooit voorheen op die aarde gesien is nie.  

2 Dit laat natuurlik ’n paar belangrike vrae ontstaan: Wie is hierdie vyand? Watter land sal hy binneval? Wanneer, hoekom en hoe sal hy hierdie land binneval? Omdat ons as Jehovah se rein aanbidders op die aarde betrokke sal wees by hierdie dinge wat in die toekoms sal gebeur, moet ons weet wat die antwoorde is. Ons kan die antwoorde kry in ’n opwindende profesie in Esegiël hoofstuk 38 en 39.

Die vyand – Gog van Magog

3. Verduidelik die hoofgedagtes van Esegiël se profesie oor Gog van Magog.

 3 Lees Esegiël 38:1, 2, 8, 18; 39:4, 11. Hier is die hoofgedagtes van die profesie: “Aan die einde van die jare” sal ’n vyand wat “Gog van . . . Magog” genoem word, “die land” van God se volk binneval. Maar daardie wrede aanval laat Jehovah se “groot woede” opvlam, en Jehovah oorwin Gog. * Ná Jehovah se oorwinning gee hy sy vyand en almal wat saam met hom is, “as voedsel . . . aan allerhande soorte roofvoëls en die wilde diere”. Uiteindelik gee Jehovah vir Gog “’n graf”. Om te verstaan hoe hierdie profesie in die toekoms gaan waar word, moet ons eers weet wie Gog is.

4. Wat leer ons in hierdie paragraaf oor Gog van Magog?

4 Nou wie is Gog van Magog? Uit Esegiël se beskrywing kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Gog ’n vyand van rein aanbidders is. Is Gog ’n profetiese naam vir Satan – die grootste vyand van ware aanbidding? Dit is wat ons publikasies jare lank gesê het. Maar ’n verdere studie van Esegiël se profesie het daartoe gelei dat ons dit nou anders verstaan. Die Wagtoring het verduidelik dat die titel Gog van Magog nie na ’n onsigbare geesskepsel verwys nie, maar na ’n sigbare mensevyand – ’n groep nasies wat teen rein aanbidding sal veg. * Voordat ons kyk na die redes hoekom ons tot hierdie gevolgtrekking gekom het, kom ons ondersoek eers twee leidrade in Esegiël se profesie wat wys dat Gog nie ’n geesskepsel is nie.

5, 6. Hoe wys Esegiël se profesie dat Gog van Magog nie ’n geesskepsel is nie?

5 “Ek sal jou as voedsel gee aan allerhande soorte roofvoëls” (Eseg. 39:4). Die Bybel gebruik baie keer die idee van roofvoëls wat ’n karkas opvreet as ’n waarskuwing van God se oordeel. God het sulke waarskuwings aan die nasie Israel en aan ander nasies gegee (Deut. 28:26; Jer. 7:33; Eseg. 29:3, 5). Daardie waarskuwings is nie aan geesskepsele gegee nie, maar aan mense van vlees en bloed. Roofvoëls en wilde diere eet mos vlees, nie geesskepsele nie. So hierdie waarskuwing in Esegiël se profesie wys dat Gog nie ’n geesskepsel is nie.

6 “Ek [sal] vir Gog ’n graf . . . in Israel gee” (Eseg. 39:11). Die Bybel sê nie dat geesskepsele op die aarde begrawe word nie. Satan en sy demone sal eerder vir 1 000 jaar in die afgrond gegooi word, en later sal hulle in die simboliese poel van vuur gegooi word, wat beteken dat hulle vir ewig vernietig sal word (Luk. 8:31; Op. 20:1-3, 10). Daar word gesê dat daar vir Gog “’n graf” op die aarde gegee sal word, en daarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat hy nie ’n geesskepsel is nie.

7, 8. Wanneer sal “die koning van die noorde” vernietig word, en hoe is dit soortgelyk aan wat met Gog van Magog sal gebeur?

7 Ons verstaan nou hoekom Gog, die vyand wat rein aanbidders gaan aanval, nie ’n geesskepsel kan wees nie. Hoekom kan ons dan sê dat Gog van Magog ’n groep nasies is? Kom ons kyk na twee Bybelprofesieë om die antwoord te kry.

8 “Die koning van die noorde.” (Lees Daniël 11:40-45.) Daniël het voorspel dat wêreldmagte van sy dag af tot in ons tyd sou regeer. Die profesie praat ook van politieke magte wat vyande van mekaar is – “die koning van die suide” en “die koning van die noorde”. Elkeen van hulle het oor die jare verskillende nasies op die aarde voorgestel wat baklei het om die magtigste te wees. Daniël het die volgende gesê oor die laaste ding wat die koning van die noorde in “die tyd van die einde” sal doen: “Hy sal met groot woede uitgaan om te verwoes en om baie te vernietig.” Jehovah se aanbidders is die hoofteiken van die koning van die noorde. * Maar soos Gog van Magog, sal die koning van die noorde “aan sy einde kom” nadat sy aanval op God se volk onsuksesvol was.

9. Hoe is dit wat met Gog van Magog gebeur en dit wat met “die konings van die hele aarde” gebeur, dieselfde?

9 “Die konings van die hele aarde.” (Lees Openbaring 16:14, 16; 17:14; 19:19, 20.) Openbaring het voorspel dat “die konings van die aarde” die “Koning van die konings”, dit wil sê Jesus, sal aanval. Maar “die konings van die aarde” kan Jesus nie aanval nie omdat hy in die hemel is, en daarom val hulle sy ondersteuners op die aarde aan. Die konings van die aarde besef dan dat hulle die oorlog van Armageddon gaan verloor. Let op dat hulle vernietig word nadat hulle Jehovah se volk aangeval het. Dieselfde word gesê van Gog van Magog. *

10. Wie is Gog van Magog?

10 So tot watter gevolgtrekking kan ons kom oor wie Gog is? Eerstens, Gog is nie ’n geesskepsel nie. Tweedens, Gog verwys na nasies op die aarde wat God se aanbidders in die toekoms sal aanval. Daardie nasies sal heel moontlik op die een of ander manier as een groep verenig. Hoekom? Omdat God se volk regoor die wêreld gevind kan word, sal die nasies moet saamwerk en dieselfde doel moet hê om God se volk te kan aanval (Matt. 24:9). Al word God se volk deur die nasies aangeval, is Satan die een wat dit beplan en organiseer. Hy beïnvloed die nasies op die aarde al jare lank om ware aanbidding teë te staan (1 Joh. 5:19; Op. 12:17). Maar Esegiël se profesie oor Gog van Magog fokus op die rol van die nasies op die aarde wat Jehovah se volk gaan aanval. *

“Die land” – Wat is dit?

11. Hoe beskryf Esegiël se profesie “die land” wat Gog sal binneval?

11 Ons het in  paragraaf 3 geleer dat Gog van Magog Jehovah woedend sal maak deur ’n land binne te val wat kosbaar is vir Jehovah. Watter land is dit? (Lees Esegiël 38:8-12.) Esegiël se profesie sê dat Gog ‘die land sal binneval van die mense wat herstel is’ en “wat uit die nasies bymekaargemaak is”. Kyk ook na wat dit sê oor die herstelde aanbidders wat in hierdie land woon: Hulle “woon in veiligheid”, hulle dorpies word “nie deur mure, grendels of poorte beskerm” nie en hulle ‘versamel rykdom’. Dit is die land waarin Jehovah se rein aanbidders regoor die aarde woon. Hoe kan ons uitvind wat hierdie land is?

12. Watter herstelling het in Bybeltye in die land van Israel gebeur?

12 Dit sal goed wees as ons kyk na die herstelling wat in eertydse Israel gebeur het, die land waar God se volk honderde jare lank gewoon, gewerk en aanbid het. Toe die Israeliete ongehoorsaam was, het Jehovah deur Esegiël voorspel dat hulle land verwoes sou word en verlate sou wees (Eseg. 33:27-29). Maar Jehovah het ook voorspel dat ’n groep berouvolle Israeliete later uit Babilon na hulle tuisland sou teruggaan en rein aanbidding daar sou herstel. Jehovah sou die land van Israel seën, en dit sou “soos die tuin van Eden” floreer (Eseg. 36:34-36). Daardie herstelling het in 537 VHJ begin toe die Joodse gevangenes teruggegaan het na Jerusalem om ware aanbidding daar te herstel.

13, 14. (a) Wat is die geestelike land? (b) Hoekom is hierdie land kosbaar vir Jehovah?

13 In ons tyd is God se rein aanbidders op dieselfde soort manier herstel. Soos ons in Hoofstuk 9 van hierdie boek geleer het, is God se volk teen 1919 bevry uit die lang gevangenskap in Babilon die Grote. In daardie jaar het Jehovah sy herstelde aanbidders na ’n geestelike land gebring. Daardie land is die geestelike paradys – die veilige, ryk geestelike omgewing, of toestand, waarin ons die ware God aanbid. In hierdie land woon ons saam in veiligheid en sonder enige bekommernis (Spr. 1:33). Ons ontvang oorgenoeg geestelike voedsel, en ons geniet die werk om God se Koninkryk te verkondig. Ons ondervind beslis dat die volgende woorde waar is: “Dit is die seën van Jehovah wat ’n mens ryk maak, en Hy voeg geen pyn daarby nie” (Spr. 10:22). Dit maak nie saak waar ons op hierdie aarde woon nie, ons is in hierdie land – die geestelike paradys – solank ons rein aanbidding heeltemal ondersteun.

14 Hierdie geestelike land is kosbaar vir Jehovah. Hoekom? Vir hom is die mense wat daar woon “die kosbare dinge van al die nasies”, wat hy na rein aanbidding getrek het (Hag. 2:7; Joh. 6:44). Hulle doen hulle bes om ’n nuwe persoonlikheid aan te trek wat God se pragtige eienskappe weerspieël (Ef. 4:23, 24; 5:1, 2). As rein aanbidders doen hulle hulle bes in sy diens, en hulle doen dit op ’n manier wat God eer en wys dat hulle lief is vir hom (Rom. 12:1, 2; 1 Joh. 5:3). Ons kan net dink hoe bly dit Jehovah se hart moet maak wanneer hy sien hoe sy aanbidders hard werk om die geestelike land mooi te maak. Dink net: As jy rein aanbidding eerste in jou lewe stel, maak jy nie net die geestelike paradys mooi nie, maar jy maak ook Jehovah se hart bly! – Spr. 27:11.

Dit maak nie saak waar ons woon nie, ons is in die geestelike land solank ons ons bes doen om rein aanbidding te bevorder (Sien paragraaf 13, 14)

Die land – Wanneer, hoekom en hoe sal Gog dit binneval?

15, 16. Wanneer sal Gog van Magog ons herstelde geestelike land binneval?

15 Ons weet dat ’n groep nasies op die aarde binnekort ons kosbare geestelike land sal binneval. Omdat hierdie aanval ons as Jehovah se rein aanbidders raak, wil ons meer daaroor weet. Kom ons kyk na drie vrae wat nou ontstaan.

16 Wanneer sal Gog van Magog ons herstelde geestelike land binneval? Die profesie sê: “Aan die einde van die jare sal jy die land binneval” (Eseg. 38:8). Dit wys dat hierdie aanval sal gebeur wanneer die einde van hierdie wêreld naby is. Onthou dat die groot verdrukking sal begin wanneer Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, vernietig word. Nadat valse godsdiens vernietig is en voordat Armageddon begin, sal Gog ware aanbidders vir die laaste keer aanval en sy bes probeer om hulle te vernietig.

17, 18. Hoe sal Jehovah gebeure gedurende die groot verdrukking rig?

17 Hoekom sal Gog die herstelde land van Jehovah se rein aanbidders binneval? Esegiël se profesie gee twee redes – eerstens, hoe Jehovah gebeure sal rig en tweedens, Gog se slegte motiewe.

18 Hoe Jehovah gebeure sal rig. (Lees Esegiël 38:4, 16.) Kyk wat Jehovah vir Gog sê: “Ek sal . . . hake in jou kakebene sit”, en “Ek sal jou . . . teen my land bring”. Beteken daardie woorde dat Jehovah die nasies sal dwing om sy eie aanbidders aan te val? Natuurlik nie! Hy sal nooit veroorsaak dat slegte dinge met sy aanbidders gebeur nie (Job 34:12). Maar Jehovah ken sy vyande. Hy weet dat hulle rein aanbidders haat en nie ’n kans sal laat verbygaan om hulle te probeer vernietig nie (1 Joh. 3:13). Jehovah sal gebeure so rig dat dit volgens Sy wil en tydlyn gebeur – dit sal wees asof Hy hake in Gog se kakebene sit en hom lei. Nadat Babilon die Grote vernietig is, sal Jehovah op die een of ander manier die nasies kry om te doen wat reeds in hulle harte is. Op hierdie manier stel Jehovah alles in plek sodat die aanval kan begin wat tot Armageddon, die wêreld se grootste oorlog, sal lei. Dan sal hy sy volk red, homself verheerlik en sy naam heilig. – Eseg. 38:23.

Die nasies sal ons van ons rein aanbidding wil beroof omdat hulle dit en almal wat dit bevorder, haat

19. Wat sal Gog motiveer om ons van ons rein aanbidding te probeer beroof?

19 Gog se slegte motiewe. Die nasies haat rein aanbidders al jare lank en sal “’n goddelose plan uitdink”. Hulle sal wil wys hoe woedend hulle vir Jehovah se aanbidders is. Dit sal lyk asof Jehovah se aanbidders maklik aangeval kan word, asof hulle “in dorpies [woon] wat nie deur mure, grendels of poorte beskerm word nie”. Die nasies sal ook dié “wat rykdom . . . versamel,” van “hulle besittings [wil] beroof” (Eseg. 38:10-12). Watter “rykdom”? Jehovah se aanbidders is geestelik baie ryk. Ons kosbaarste besitting is ons rein aanbidding, wat ons aan Jehovah alleen gee. Die nasies wil ons van ons rein aanbidding beroof, nie omdat dit vir hulle kosbaar is nie, maar omdat hulle dit en almal wat dit bevorder, haat.

Gog sal “’n goddelose plan uitdink” om rein aanbidding te probeer vernietig, maar hy sal dit nie regkry nie (Sien paragraaf 19)

20. Hoe sal Gog die geestelike land, of paradys, binneval?

20 Hoe sal Gog die geestelike land, of paradys, binneval? Die nasies sal dalk ons lewe probeer moeilik maak en probeer keer dat ons Jehovah aanbid. Hulle sal dalk probeer keer dat ons geestelike voedsel ontvang en dat ons vergaderinge hou. Hulle sal dalk ook probeer om ons eenheid te verbreek en ons probeer keer om God se boodskap te verkondig. Al hierdie dinge is deel van die geestelike paradys. Satan sal die nasies aanmoedig om ware aanbidders en rein aanbidding te probeer vernietig.

21. Hoekom is jy dankbaar dat Jehovah ons gewaarsku het oor wat binnekort sal gebeur?

21 Die aanval deur Gog van Magog sal alle ware aanbidders in die geestelike land raak. Ons is so dankbaar dat Jehovah ons gewaarsku het oor wat in die toekoms sal gebeur! Terwyl ons wag vir die groot verdrukking om te begin, moet ons vasbeslote wees om rein aanbidding die belangrikste ding in ons lewe te maak. As ons dit doen, sal ons help om die herstelde land nou nog mooier te maak. En ons sal die kans kry om in die toekoms iets wonderliks te sien: Hoe Jehovah sy volk en sy heilige naam by Armageddon sal verdedig. Dit sal in die volgende hoofstuk verduidelik word.

^ par. 3 In die volgende hoofstuk van hierdie boek sal ons bespreek hoe en wanneer Jehovah se groot woede teen Gog van Magog sal opvlam en wat dit vir rein aanbidders sal beteken.

^ par. 8 Daniël 11:45 wys dat die koning van die noorde God se volk sal aanval, want dit sê dat hierdie koning “sy koninklike tente [sal opslaan] tussen die groot see [die Middellandse See] en die berg van die Pragtige Land [waar God se tempel voorheen was en waar God se volk aanbid het]”.

^ par. 9 Die Bybel praat ook van ’n aanval deur die hedendaagse “Assiriër”, wat God se volk probeer vernietig (Miga 5:5). Dit kan wees dat die vier aanvalle wat voorspel is – deur Gog van Magog, deur die koning van die noorde, deur die konings van die aarde en deur die Assiriër – verskillende name is vir dieselfde aanval.

^ par. 10 Sien Hoofstuk 22 van hierdie boek vir ’n bespreking oor wie “Gog en Magog” is wat in Openbaring 20:7-9 genoem word.