Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Opsomming van nuwe verduidelikings

’n Opsomming van nuwe verduidelikings

Oor die jare het Die Wagtoring ons gehelp om sekere aspekte van Esegiël se profesieë beter te verstaan. En hierdie boek, Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!, verduidelik nog ’n paar aspekte. Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord.

Wat stel die vier gesigte van die lewende wesens voor?

Vorige verduideliking: Elkeen van die vier gesigte van die lewende wesens, of gerubs, stel een van Jehovah se vier hoofeienskappe voor.

Nuwe verduideliking: Elkeen van die vier gesigte van die lewende wesens stel een van Jehovah se vier hoofeienskappe voor, maar wanneer ons na al vier gesigte saam kyk, stel dit al die eienskappe van Jehovah voor. En die vier gesigte beklemtoon hoe magtig en indrukwekkend Jehovah is.

Rede vir die verandering: In God se Woord word die nommer vier baie keer gebruik om te verwys na iets wat alles insluit of wat volledig is. So wanneer ons na die vier gesigte saam kyk, stel dit meer as vier eienskappe voor – hulle vorm die fondasie van Jehovah se pragtige persoonlikheid. En elke gesig behoort aan ’n skepsel wat indrukwekkend, sterk en magtig is. Maar al vier magtige skepsele, wat deur die vier gesigte van elke gerub afgebeeld word, was onder die troon van Jehovah. Dit beklemtoon dat Jehovah die Allerhoogste Heerser oor alles is.

Wie word voorgestel deur die man met die sekretaris se inkhoring?

Vorige verduideliking: Die man met die inkhoring stel die gesalfdes voor wat nog op die aarde is. Deur middel van die predikings- en dissipelmaakwerk maak die gesalfdes nou ’n simboliese merk op die voorkoppe van die mense wat deel word van die “groot menigte”. – Op. 7:9.

Nuwe verduideliking: Die man met die sekretaris se inkhoring stel Jesus Christus voor. Hy sal die groot menigte merk wanneer hulle gedurende die “groot verdrukking” as skape geoordeel word. – Matt. 24:21.

Rede vir die verandering: Jehovah het sy Seun aangestel om te oordeel (Joh. 5:22, 23). Volgens Matteus 25:31-33 sal Jesus mense as “skape” of “bokke” oordeel.

Beeld die onsedelike susters, Ohola en Oholiba, die Christendom af, wat hoofsaaklik uit die Katolieke Kerk en die Protestantse Kerk bestaan?

Vorige verduideliking: Die ouer suster, Ohola (Samaria, die hoofstad van Israel), beeld die Katolieke Kerk af. Die jonger suster, Oholiba (Jerusalem, die hoofstad van Juda), beeld die Protestantse Kerk af.

Nuwe verduideliking: Hierdie onsedelike susters is nie profetiese tipes van enige deel van die Christendom nie. Hulle verslag leer ons eerder hoe Jehovah voel wanneer dié wat eers aan hom lojaal was, geestelike prostitusie pleeg. Hy voel dieselfde oor alle valse godsdienste.

Rede vir die verandering: Die Bybel sê nêrens dat Ohola en Oholiba profetiese tipes van die Christendom is nie. Israel en Juda was voorheen soos lojale vrouens vir Jehovah, maar die Christendom het nog nooit so ’n verhouding met Jehovah gehad nie. En hoofstuk 16 en 23 van Esegiël vergelyk God se dislojale volk met prostitute, maar dit het hulle ook die hoop gegee dat Jehovah hulle sal herstel. Vir die Christendom, wat deel is van Babilon die Grote, is daar glad nie sulke hoop nie.

Stel die Christendom afvallige Jerusalem voor?

Vorige verduideliking: Dislojale Jerusalem stel die Christendom voor. So die vernietiging van Jerusalem in die verlede het gewys dat die Christendom ook vernietig sal word.

Nuwe verduideliking: Toestande in dislojale Jerusalem – soos afgodediens en die slegtheid wat so algemeen was – herinner ons aan die Christendom, maar ons sê nie meer dat die Christendom Jerusalem voorstel nie.

Rede vir die verandering: Die Bybel gee ons nie ’n rede om te sê dat Jerusalem die Christendom voorstel nie. Anders as eertydse Jerusalem, het die Christendom Jehovah nog nooit op ’n rein manier aanbid nie. En al het Jehovah Jerusalem ’n tyd lank vergewe, het die Christendom nie die hoop dat Jehovah hulle sal vergewe nie.

Hoe het die visioen van die vallei vol droë beendere waar geword?

Vorige verduideliking: In 1918 het die gesalfdes gevangenes van Babilon die Grote geword. As gevolg hiervan was dit asof hulle geestelik dood was, en hulle werk het so te sê tot stilstand gekom. Daardie kort gevangenskap het in 1919 geëindig toe Jehovah hulle weer lewend gemaak het as Koninkryksverkondigers.

Nuwe verduideliking: Die gesalfdes was vir ’n baie lang tyd in geestelike gevangenskap, en dit het baie vroeër as 1918 begin. Die geestelike gevangenskap het in die tweede eeu HJ begin en in 1919 HJ geëindig. Hierdie tydperk stem ooreen met die lang groeiseisoen in Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid.

Rede vir die verandering: Israel was vir ’n lang tyd in gevangenskap, en dit het in 740 VHJ begin en in 537 VHJ geëindig. Esegiël se profesie sê dat die beendere ‘droog’ of “baie droog” was, en dit wys dat dié wat deur die beendere voorgestel word, vir ’n baie lang tyd dood was. En die herstelling van die beendere word beskryf as ’n geleidelike proses wat tyd sou neem.

Wat beteken die twee stokke wat een word?

Vorige verduideliking: Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was daar vir ’n kort tydjie nie eenheid nie, maar in 1919 was daar weer eenheid onder getroue lede van die gesalfdes wat nog op die aarde was.

Nuwe verduideliking: Die profesie beklemtoon dat Jehovah sy aanbidders sal verenig. Ná 1919 het al hoe meer mense wat die hoop het om op die aarde te lewe, aangesluit by die gesalfdes wat nog op die aarde is. Albei groepe aanbid Jehovah saam as een volk.

Rede vir die verandering: Die profesie praat nie van een stok wat eers in twee verdeel word en dan later weer een word nie. So die profesie beskryf nie een groep wat verdeel sou word en dan later weer verenig sou word nie. Dit praat eerder van hoe twee verskillende groepe verenig sou word.

Wie is Gog van Magog?

Vorige verduideliking: Gog van Magog is die naam wat aan Satan gegee is nadat hy uit die hemel gegooi is.

Nuwe verduideliking: Gog van Magog verwys na ’n groep nasies op die aarde wat rein aanbidders gedurende die groot verdrukking sal aanval.

Rede vir die verandering: Die Bybel sê dat Gog as voedsel aan roofvoëls gegee sal word en op die aarde begrawe sal word, en dit wys dat Gog nie ’n geesskepsel is nie. En die aanval deur Gog stem ooreen met wat Daniël en Openbaring sê oor die nasies se aanval op God se volk. – Dan. 11:40, 44, 45; Op. 17:14; 19:19.

Het Esegiël die groot geestelike tempel gesien wat die apostel Paulus later verduidelik het?

Vorige verduideliking: Die tempel in Esegiël se visioen is dieselfde as die geestelike tempel wat die apostel Paulus verduidelik het.

Nuwe verduideliking: Esegiël het nie die geestelike tempel gesien wat in 29 HJ begin bestaan het nie. Wat hy gesien het, was ’n volmaakte voorbeeld van hoe die rein aanbidding wat in die Wet van Moses beskryf word, ná die gevangenskap herstel sou word. Paulus se verduideliking van die geestelike tempel fokus op die werk wat Jesus, as die Groter Hoëpriester, vanaf 29 tot 33 HJ gedoen het. Esegiël se tempelvisioen sê niks van die hoëpriester nie, maar dit fokus eerder op die geestelike herstelling wat in 1919 HJ begin het. Daarom soek ons nie ’n simboliese betekenis in elke kenmerk en afmeting van die tempel in Esegiël se visioen nie. Ons moet eerder fokus op die lesse wat Esegiël se visioen ons leer oor Jehovah se standaarde vir rein aanbidding.

Rede vir die verandering: Daar is belangrike verskille tussen die tempel in Esegiël se visioen en die geestelike tempel. Byvoorbeeld, by Esegiël se tempel was daar baie diere geoffer, maar by die geestelike tempel was daar net een offerande, “eens en vir altyd”, geoffer (Heb. 9:11, 12). In die jare voordat Jesus na die aarde toe gekom het, was dit nog nie Jehovah se tyd om diep waarhede oor die geestelike tempel te openbaar nie.