Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 5

Sê nou ek word by die skool geboelie?

Sê nou ek word by die skool geboelie?

WAAROM DIT SAAK MAAK

Jou reaksie kan dinge verbeter—of vererger.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou hierdie toneel voor: Thomas wil nie vandag skool toe gaan nie. Ook nie môre nie. Of ooit weer nie. Dit het alles drie maande gelede begin toe sy skoolmaats lelike stories oor hom versprei het. Toe gee hulle hom byname. Soms sal iemand Thomas se boeke uit sy hande stamp en maak asof dit ’n ongeluk was. Of een persoon uit ’n groep sal hom van agter af stoot, en wanneer Thomas omdraai, weet hy nie wie dit gedoen het nie. Gister het dinge nog erger geword toe hy aanlyn gedreig is . . . 

Wat sou jy doen as jy Thomas was?

STOP EN DINK!

Jy is nie heeltemal magteloos nie! Trouens, jy kan ’n boelie op sy plek sit sonder om te baklei. Hoe?

  • MOENIE REAGEER NIE. Die Bybel sê: “’n Sot laat al sy gees uit, maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm” (Spreuke 29:11). As jy so kalm as moontlik bly—of ten minste lyk asof jy kalm is—sal diegene wat jou boelie, dalk belangstelling verloor.

  • MOENIE MET GELYKE MUNT TERUGBETAAL NIE. Die Bybel sê: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17). Om wraak te neem, sal die situasie net vererger.

  • VERMY MOEILIKHEID. Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Vermy mense wat moeilikheid kan veroorsaak en vermy situasies waarin jy geboelie kan word.

  • REAGEER OP ONVERWAGTE WYSE. Die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer woede af” (Spreuke 15:1). Jy kan selfs humor gebruik. As ’n boelie byvoorbeeld sê dat jy vet is, kan jy eenvoudig jou skouers optrek en sê: “Ek kan seker ’n paar kilogram verloor!”

  • LOOP WEG. “As jy stilbly, wys jy dat jy volwasse is en sterker is as die persoon wat jou lastig val,” sê die 19-jarige Nora. “Dit openbaar selfbeheersing—iets wat die boelie nie het nie.”—2 Timoteus 2:24.

  • WERK AAN JOU SELFVERTROUE. Boelies kan dikwels sien wanneer iemand min van homself dink en waarskynlik nie sal terug baklei nie. Maar as jy vir hulle wys dat hulle geen mag oor jou het nie, is baie boelies geneig om op te hou.

  • VERTEL IEMAND DAARVAN. ’n Voormalige onderwyseres sê: “Ek sal enigiemand wat geboelie word, aanraai om iemand te vertel. Dit is die regte ding om te doen, en dit kan voorkom dat iemand anders geboelie word.”

As jy selfvertroue het, het jy iets wat die boelie nie het nie