Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 4

Hoe kan ek my foute regstel?

Hoe kan ek my foute regstel?

WAAROM DIT SAAK MAAK

As jy jou foute erken, sal dit jou verantwoordeliker en betroubaarder maak.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou hierdie toneel voor: Terwyl Tim met sy vriende speel, gooi hy ’n bal en breek ’n buurman se venster.

Wat sou jy doen as jy Tim was?

STOP EN DINK!

JY HET DRIE OPSIES:

  1. Hardloop weg.

  2. Blameer iemand anders.

  3. Vertel die buurman wat gebeur het en bied aan om vir die skade te betaal.

Jy wil dalk graag Opsie A kies. Maar daar is altyd goeie redes waarom jy jou foute moet erken—of dit nou met ’n gebreekte venster of met iets anders te doen het.

DRIE REDES WAAROM JY JOU FOUTE MOET ERKEN

  1. Dit is die regte ding om te doen.

    Die Bybel sê: “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.

  2. Mense is meer geneig om diegene te vergewe wat hulle foute erken.

    Die Bybel sê: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word.”—Spreuke 28:13.

  3. Bowenal maak dit Jehovah bly.

    Die Bybel sê: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.”—Spreuke 3:32.

Karina, 20, het ’n boete gekry omdat sy te vinnig gery het, en sy het dit vir haar pa probeer wegsteek. Maar sy kon dit nie vir altyd wegsteek nie. “Omtrent ’n jaar later”, sê Karina, “het my pa gesien dat daar ’n boete onder my naam is. Ek het in groot moeilikheid beland!”

Die les? Karina sê: “Om foute geheim te hou, maak dinge net erger. Jy betaal later daarvoor!”

HOE OM UIT JOU FOUTE TE LEER

Die Bybel sê: “Ons almal maak dikwels foute” (Jakobus 3:2, voetnoot in NW.) En soos ons gesien het, is dit ’n teken van nederigheid en volwassenheid om jou foute te erken—en om dit dadelik te doen.

Die volgende stap is om uit jou foute te leer. ’n Meisie met die naam Vera sê: “Ek probeer elke fout as ’n leersame ondervinding beskou en laat dit ’n les wees wat my sal help om ’n beter mens te wees en die situasie die volgende keer anders te hanteer.” Kom ons kyk hoe jy dit kan doen.

Jy leen jou pa se fiets en beskadig dit. Wat sal jy volgende doen?

  • Sê niks en hoop jou pa kom niks agter nie.

  • Vertel jou pa presies wat gebeur het.

  • Vertel jou pa wat gebeur het, maar blameer iemand anders.

Jy druip ’n toets omdat jy nie daarvoor geleer het nie. Wat sal jy volgende doen?

  • Blameer die toets.

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir die feit dat jy gedruip het.

  • Sê dat die onderwyser iets teen jou het.

Om oor foute van die verlede te tob, is soos om heeltyd in die truspieël te kyk terwyl jy ’n motor bestuur

Kyk nou weer na die scenario’s wat vroeër genoem is en stel jou voor jy is (1) jou pa en (2) jou onderwyser. Wat sou jou pa en jou onderwyser van jou dink as jy jou foute geredelik erken? Wat sou hulle van jou dink as jy jou foute wegsteek?

Dink nou aan ’n fout wat jy gedurende die afgelope jaar gemaak het en beantwoord die volgende vrae.

Watter fout het jy gemaak? Hoe het jy dit hanteer?

  • Ek het dit weggesteek.

  • Ek het iemand anders daarvoor blameer.

  • Ek het dit erken.

Sê nou jy het nie jou fout erken nie. Hoe het jy agterna gevoel?

  • Wonderlik—Ek het daarmee weggekom!

  • Skuldig—Ek moes die waarheid gepraat het.

Hoe kon jy die situasie beter hanteer het?

Wat het jy uit jou fout geleer?

WAT DINK JY?

Waarom huiwer party mense om hulle foute te erken?

Wat sal mense van jou dink as jy jou foute altyd probeer wegsteek, maar wat sal hulle van jou dink as jy jou foute erken?—Lukas 16:10.